Oupa Eben’s Boerewors

My Oupa Eben was a formidable man.  This is seen in his life and how he made his Boerewors.  Here are the recipe and his story.  I use Kobus’ general production method with Oupa Eben’s recipe.  Anneliese, my cousin, found it and sent it to me.

Meat:  20kg meat in proportion: 8, 8, 4 fat (spek).  8 pork en 8 beef.  800mL grape vinegar. Not spiced vinegar.  Run the mix through the kidney plate or 13 mm. Meat and vinegar.

Then add spices.

Spice mix:
8 tablespoons salt
6 heaped tablespoons coriander
6 teaspoons pepper
1/2 cup vinegar
2 tablespoons brown sugar
1 teaspoon cloves
(2 tablespoons thyme) – optional
(2 teaspoons nutmeg) – optional
(100g MSG) – optional

Sprinkle evenly over meat pieces. Mince and mix immediately without kneeing meat. Do NOT form into balls. The casings must be soaked in luke warm water overnight. Run water through each casing to ensure it is wet on the inside.

After mixing it all in by hand, run through 4.5 plate and stuff.

Use sheep casings.

For commercial sales, add sodium sulfite, 1g per kg FP.

My Uncle, Oom Jan Kok, sent me the following on his dad, and my grandfather, Oupa Eben:

Ebenhaezer Kok: Seun, Eggenoot, Pa, Oupa, Boer, Kerkmens en gemeenskapsmens.

Eben Kok
Pa, Oupa en Oupagrootjie.

Enenhaezer Kok is gebore op 18 Junie 1911 in Heilbron in die Vrystaat.

Agtergrondgeskiedenis en Familieherkoms

Hy was die tweede seun van Johannes Wilem Kok (Gebore 04 April 1880 te Winburg in die Vrystaat) en Maria Margaretha Klingbiel (Gebore op 17 Oktober 1879).Oupa Jan neem as 19 jarige deel aan die Anglo Boereoorlog en word as krygsgevangene na Dyatalawakamp op Ceylon gestuur waar hy op 1 Augustus 1901 in hut 54 intrek. Hier op die eiland, as krygsgevangene, kry hy die roeping om hom as Sendeling te laat oplei en na die vredesluiting in 1902 skryf hy in as student aan die Sendinginstituut te Wellington. Hy voltooi sy studies en begin sy bediening in Heilbron se Sendinggemeente op 7 April 1906. Hy werk aanvanklik vir ‘n jaar op proefbasis en word daarna permanent in die gemeente bevestig. Dit was ‘n groot, uitgestrekte gemeente wat die dorpe Petrus Steyn, Edenville, Koppies, Oranjeville, Viljoensdrif en Heilbron ingesluit het.

Oupa Jan is op 08 Julie 1907 getroud met met Maria Margaretha Klingbiel (gebore op 17 Oktober 1879 en oorlede op 27 Augustus 1942. Hy trou weer op 4 Julie 1944 met ouma Hannie wat eintlik maar die enigste Ouma was wat ek geken het. Dit was haar derde huwelik.

Aanvanklik het hy sy werk in hierdie uitgestrekte gebied met ‘n trapfiets gedoen. Na die trapfiets kon hy darem ‘n perd aanskaf en het later ‘n perdekar gehad en kon uiteindelik in 1933 sy eerste motor koop.

Na dertig jaar in die bedienig (1936), word ‘n gesamentlike diens van die blanke gemeente en die Sendinggemeente gehou om die geleentheid feestelik gevier. As blyk van waardering word aan hom ‘n toga geskenk. Hierdie diens is gehou op 29 Maaart 1936. Op 26 April 1936 word ‘n soortgelyke Feesdiens in die Sendinggemeente gehou en by die geleentheid het Oupa Jan se broer, Hendrik, wat ook ‘n sendeling was op Marquard woon die geleentheid by. Eerwaarde Hendrik Kok preek op hierdie besondere dag uit Josua 4: 5, 6 – “ . . .en Josua het vir hulle gesê: Trek uit voor die ark van die Here julle God tot binne in die Jordaan , en tel vir julle klippe op, elke man een op sy skouer volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel sodat dit ‘n teken onder julle kan wees. As julle kinders later vra en sê: Wat beteken hierdie klippe vir julle? Die tema van sy preek handel oor die gedenkklippe op ons lewenspaaie wat ons herinner aan die groot dinge wat die Here in ons lewens laat gebeur.

(Die inligting in hierdie berig kom uit Die Kerkbode van 27 Mei 1936)
Oupa Jan tree af op 27 April 1947 en is oorlede op Heilbron op 26 Junie 1950.
Eben was die tweede oudste van 5 Kinders. Hulle was:

1. Johannes Willem Kok (Johan, gebore 02 Mei 1908). Hy trou met Doreen Uckerman en hulle het vier kinders: Gill, (Gebore 18 Oktober 1934), Myra (Gebore op 07 Julie 1937), Leon (Gebore op ) en Helen (Gebore op 10 Desember 1950)

2. Frederick Gustaff Klingbiel Kok (Gustaf, gebore 12 Mei 1910. Gustaff is jonk dood. Ek kry egter nie die datum en die ouderdom waarop hy dood is nie.

3. Ebenhaezer (Eben, ook latter Kokkie of Kok genoem) Kok, is gebore op 18 Junie 1911en oorlede op 21 Februarie 1981 op Vredefort. Hy trou op 07 Augustus 1939 met Susanna Maria Uys (Gebore 23 April 1911 op Vredefort en oorlede op 04 Januarie 1993 te Warmbad).

Hulle het drie kinders: Susanna Maria (Sannie, ook bekend as Santjie. Gebore op 26 Julie 1940), Johannes Willem (Jan en later Kokkie genoem. Gebore op 03 Mei 1942) en Michiel Eksteen Uys Kok (Uysie, gebore op 28 Februarie 1945)

4. Maria Margaretha KOK (Miempie), gebore op 23 November 1913 en oorlede op 02 April 1956. Sy trou met Adolf Samuel Bosman (Dolf). Hulle het drie dogters: Mariet (Gebore 27 Mei 1935), Ronnie (Gebore 26 November 1936) en Jantjie (Gebore 28 Februarie 1941)

5. Timotius Kok (Timo) KOK, gebore op 05 Augustus 1917. Hy is getroud met Thelma Berriman en hulle het geen kinders gehad nie. Toe die tweede wêreldoorlog uitgebreek het, het Timo by die lugmag aangesluit en is hy , soos hulle daardie jare gesê het, na die Noorde gestuur. Daar was hy betrokke in die oorlog in Egipte en is later na Italië om die stryd daar voort te sit.

Oupa Eben as Boer

Oupa Eben matrikuleer aan die plaaslike skool op Heilbron in 1929 en na skool gaan werk hy by Standardbank. Hy voltooi enkele bankeksamens en werk onder andere op Vrede, Vredefort en Koppies. Om hom te help met sy studies koop hy in 1934 vir hom ‘n Kings English Dictionary wat vandag nog in my besit is. Terwyl hy op Vredefort gewerk het, het hy ouma Susan ontmoet en hulle is op 07 Augustus 1939 getroud. Pa het net ‘n fiets gehad om mee te ry en as hy gaan opsit het, het hy met die fiets Leeuspruit toe gery. Dit was 7 myl van die dorp af. Daar word vertel dat hy een aand baie laat – dit was donkermaan – terug is dorp toe. Hy het nie ‘n bees gesien wat in pad gelê het nie en hy is fiets en al bo-oor die slapende bees. Die storie wil ook dat ouma Susan haar oupa, Piet Rademan, moes help versorg. Hy het op daardie stadium by Oupa Giel en Ouma Santjie gebly en Ma was verantwoordelik vir sy versorging en daarom kon hulle eers trou na sy dood op 99 jarige ouderdom in 1937. Hulle was alby 28 toe hulle getroud is.

Ma se suster, Meraai, was 11 jaar jonger as sy en Eben en Susan wou op ‘n keer vir sy ouers op Heilbron gaan kuier. Op pad na Heilbron, naby Greenlands, het dit vreeslik gereën en hulle kon nie verder op die turfpad ry nie. Meraai was saam in die motor en toe ‘n vriendelike boer hulle nooi om vir die nag by hulle oor te bly het hy gesê: “Ek hoop nie julle gee om dat julle dogter vanaand by julle in die kamer slaap nie, want ons net een kamer beskikbaar”. In daardie jare was so iets ondenkbaar en Pa moes toe maar ewe gedweë die nag op die bank in die sitkamer slaap.

Van Vredefort af is Eben verplaas Koppies toe. Omdat hy in sy hart ‘n boer was het hulle op ‘n plot in die omgewing van Weltevrede net buite die dorp gaan woon. Ons drie kinders is al drie gebore terwyl hulle op die plot gewoon het. Daar was koeie, donkies skape, hoenders en kalkoene op die plot en hoewel ek maar net drie jaar oud was toe ons van daar af plaas toe getrek het,, kan ek vandag nog die reuk van die voerkamer onthou waar al die beeste en ander diere se kos gebêre is.

Terwyl hy op Koppies gewerk het, word hy verplaas na Natal. Ek kan ongelukkig nie die naam van die dorp onthou waarheen hy verplaas is nie. Oupa Giel en ouma Santjie was baie ontsteld omdat hulle kind so ver van hulle af moes weggaan en oupa Giel maak aan pa die aanbod om plaas toe te kom om saam met hom te boer. Hierdie groot skuif Leeuspruit toe vind in 1945 plaas net na Uysie se geboorte.

Pa was vasbeslote om van die boerdery ‘n sukses te maak. Die plaas was selfversorgend. Een keer per jaar in die winter is ‘n bees en ‘n vark geslag en wors en biltong en pekelvleis is gemaak. Daar was nognie yskaste of vrieskaste nie en die nodige verkoeling is gedoen met koelers wat deur middel van water wat verdamp het verkoel is. Verder was daar ‘n sifkas waarin vleis gehang is. Die sifkas (‘n “safe” genoem) is van gaas gemaak om vlieë en brommers uit te hou. ‘n Skaap is elke tweede of derde week geslag, daar was hoenders, eende en makoue wat eiers voorsien het en botter is gemaak van die room van die paar melkkoeie wat gemelk is. Rieme is van die beesvelle gebrei wat gebruik is om die osse in te span. Die hoenders, die eiers, die room en die botter was inkomste om die kruideniersware te koop as daar dorp toe gegaan is.

Daar is net met osse geploeg en geplant en geskoffel. Kunsmis was ‘n luukse en ‘n onnodige uitgawe want voor planttyd is die mis uit die bees- en skaapkrale op die lande gegooi as bemesting

Pa was nie bang vir harde werk nie. Oupa het drie plase gehad: Leeuspruit, Stillehoogte en Christina. Laasgenoemde 2 plase was ongeveer 25 Km van Leeuspruit af waar ons gewoon het. As daar op dié twee plase geploeg en geplant is, het hy daar oorgebly van Sondagaand af tot Saterdagmiddag. Daar was geen gebou hier nie en hy het van plastiek kunsmissakke wat hy aanmekaar gewerk het, afskortings gemaak wat om die sleepwa vasgemaak is en daar het hy op ‘n kampbedjie geslaap en sy kos op ‘n oop vuur gemaak. Later is die stoor op Stillehoogte gebou en was dit sy blyplek as die lande daar bewerk is.
Uiteindelik het Pa vir Oupa oortuig dat hulle ‘n trekker moet koop. Oupa was nie baie inskiklik nie, maar uiteindelik is daar ‘n Fordsontrekker gekoop. So ‘n mooi bloue.

Soos dit moes gebeur was daar die eerste jaar wat die trekker gebruik is, ‘n totale misoes en Pa en die trekker het die skuld gekry vir die misoes.

Op die plaas was alles nie maanskyn en rose nie. Oupa was ‘n moeilike mens en vir alles wat verkeerd gegaan het het Pa die skuld gekry. Die woordewisselings wat hierop gevolg het was heftig en die enigste ontvlugting was om die vlakte in te loop en daar te gaaan huil.

Ek was nooit bewus van wat die ooreenkoms tussen Pa en Oupa was oor vergoeding nie. Daar is nooit met kinders oor sulke goed gepraat nie. Pa het sy eie beeste en skape gehad en Ma het, so ver as wat ek kan terug onthou met hoenders en kalkoene geboer. Hoedereiers is Vrydae, wat dorpdag was, verkoop en die geld gebruik vir kruideniersware en om ons drie Kokkies se basse toe te hou.
Omdat dit twee huishoudings was, is die kruideniersware se uitgawe tot op die laaste pennie tussen Ma en Ouma gedeel.

Pa was ‘n perdeman en het altyd perde gehad. Op Leeuspruit was dit twee blou skimmelperde met die name Moskou en Breker. Oupa het ook ‘n perekar gehad en die twee skimmels is dikwels voor die kar gespan en dan het ons daarmee by die bure gaan kuier.

Geld vir luukses was daar nooit. Selfs ons kerk en skoolbroekies wat ek en Uysie gedra het, en Sannie se rokkies is deur een of ander “Naaldwerkster” gemaak. Gekoopte klere was ‘n luukse. Een maal per jaar, kort voor Kersfees is ons Potchefstroom toe vir Kersinkopies en dan is daar net by Die Indiërs gekoop, want hulle was die goedkoopste. In daardie jare was dit ‘n vernedering en ‘n skande vir ‘n “Afrikaner” om met ‘n “Koelie” besigheid te doen. My eerste pak klere het ek in 1959 gekry toe ek belydenis van geloof moes aflê. Die pak, ‘n dubbelborspak, is deur ‘n kleremaker op Parys gemaak.

Na ouma Santjie se dood het oom Sypie besluit om af te tree as skoolhoof en het hulle van Welkom af verhuis plaas toe omdat tannie Meraai eendag Leeuspruit sou erf (Leeuspruit was Uysgrond en omdat sy haar ouma Uys se naam gehad het, moes sy Leeuspruit erf). Pa en Ma moes Stillehoogte toe trek. Stillehoogte was Rademangrond en Ma het haar ouma Rademan se naam gehad.

Op Stillehoogte was daar net ‘n stoor en voor hulle kon trek moes daar eers ‘n huis gebou word. Ek onthou nie die jaartal nie, maar dit moes in die omgewing van 1960 gewees het.

Van toe af het dit met die Kokke finasiëel begin beter gaan, want Oupa kon op sy eie manier boer sonder Oupa Giel se inmenging. Uysie skryf in 1963 matriek en vir hom was daar net een ding en dit was “Boer”. Hy doen sy diploma aan die landboukollege op Potchefstroom en na hy daar klaar was, het hy plaas toe gekom en saam met Oupa geboer tot en met Oupa se dood op 21 Februarie 1981. Uysie het natuurlik die plaas Christina ge-erf na oupa Giel se dood omdat hy die eerste naamgenoot van oupa Giel was.

Oupa Eben as gesinsman

Alhoewel geld skaars was, het ons nooit honger gaan slaap nie, maar daar was nooit geld vir luukses nie. Ek wou bitter graag op skool klavierlesse geneem het, maar daar was net nie geld nie.

Op ‘n dag het ek op ‘n brief afgekom wat die bank vir Pa geskryf het om hom te waarsku dat hy baie diep in die skuld is by die bank en hy word gewaarsku om die Bankbestuurder te kom sien in die verband met sy skuld.

As kinders het ons net liefde geken en ek dink nie ek het een dag gehoor dat daar harde woorde tussen my pa en my ma gesê is nie. Saans net voor sononder het ons gaan stap en dan gewedywer om te kyk wie die eerste ‘n aandblom kon sien. Dit was ‘n klein struikie wat net in die nag geblom het en die volgende oggend as die son opgekom het is die blommetjie weer dood.

Saans het ons radio geluister en speletjies gespeel. Pa het ons gereeld laat somme doen en ek en Sannie moes altyd met mekaar meeding om te sien wie die meeste somme reg het. Ons moes ook skrif oefen. Pa het die mooiste handskrif gehad en was baie teleurgesteld dat nie een van ons drie kinders sy mooi handskrif ge-erf het nie. Hy het geglo jy skryf met ‘n vulpen en die balpuntpenne wat toe net in die mode gekom het, was volgens hom die einde van mooi en netjies skryf.

Pa het ook geglo dat ‘n man nie kan trou voor hy nie ‘n skaapboud oordentlik kon sny nie of ‘n hoender kon opsny sonder dat die verskillende dele van hoender stukkend of onherkaanbaar was.

Hy het ook daarvan gehou om party aande kos te maak – dit was wel baie selde. Tamatiebredie was sy forte. Sondae was dit sy werk om die groente uit sy tuin te skil en skoon te maak vir die Sondagmaal.

Sondagaande moes ons na die kerkdiens oor die radio luister en dan het Pa en Ma langs mekaar gesit en hande vasgehou.

Pa was ook ‘n harde man wat nie twee keer gepraat het nie. Ek kan nie een pak slae onthou wat hy een van sy kinders gegee het nie, maar as hy gepraat het, het jy geluister. Ouma was die een wat altyd met die slipper of die hareborsel die slaanwerk moes doen.

Pa was ook, soos dit daardie dae maar die gebruik was, baie hard en kwaai met die swart werkers wat op die plaas gewerk het en hy het baie graag sy vuiste gebruik om gesag af te dwing. Hy was self ‘n harde werker, maar het ook van diegene wat vir hom gewerk het dieselfde verwag.

Oupa Eben as familieman

Omdat Pa, nadat hy plaas toe gekom het, baie min kontak met sy eie familie gehad het wat almal baie ver was, het hy vervreemd geraak van baie van hulle. Al kuiers by familie wat ek onthou was by Ouma en Oupa op Heilbron en dan het ons en die Bosmans gereeld oor en weer gekuier. Vakansies het die drie niggies plaas toe gekom en dit was een groot fees en daar moes in elke vakansie wat hulle daar was, ten minste een “middernagfees” gehou word. Lekkers vir die middernagfees is gekoop met geld wat ons weke voor die tyd begin bymekaar maak het. Die kuiers by sy broer Johan in Pretoria kan ek seker op die vingers van my een hand tele en kuiers van hulle op die plaas onthou ek glad nie. Ook ons en Oom Timo en tannie Thelma het selde oor en weer gekuier. Pa, oom Johan en oom Timo het mekaar net oor en weer gebel as hulle verjaar het.

Op Vredefort het ons tussen Ma se baie ooms en tantes en neefs en niggies gewoon, en hulle het uiteindelik Pa se familie geword. In daardie dae het neefs en niggies mekaar nog as neef en niggie aangespreek en Pa en Ma was Neef Kok en nig Susan.

Onder die neefs en niggis met wie daar ‘n besondere band was, tel Rademan en Kitty Marx. Piet en Paula du Plooy, Piet en Baby Dannhauser, Hannes en Janie Goosen, Piet en Chrissie Rademan en Paul en Sannie Zietsman. Ek weet dat toe die berig deurgekom het van die motorongeluk waarin Paul en Sannie en hulle kinders betrokke was, Pa in die nag in sy kar geklim het en deurgery het Kroonstad toe om te gaan hulp verleen.

Oupa Eben en die Politiek

Pa was van huis uit ‘n Sap – Lid van die Verenigde Party – Oupa Jan was ‘n Smuts aanganger as gevolg van sy deelname aan diie Boereoorlog en Oupa Giel en Ouma Santjie was ook Sappe. Toe ek skool toe is in 1949 was dit net ‘n jaar Nadat die Nasinale Party aan bewind gekom het en as ‘n Sap was jy nêrens welkom nie en nêrens gereken nie. Maatjies wie se ouers Nasionaliste was, het nie graag met jou gespeel nie, want jy is beskou as ‘n Volksverraier.

Oupa het ‘n Sap gebly tot die dag van sy dood en was oortuig daarvan dat die Nasionale party met sy Apartheidsbeleid, die ondergang van Suid Afrika sou beteken. Die dag met Gen. Smuts se begrafnis in Pretoria, is Pa en oupa Giel dou voor dag op die plaas weg om in Pretoria te gaan eer betoon aan die Generaal as sy lykstoet verby gekom het waar hulle langs die straat gestaan het.

Oupa Eben as Kerkmens

Gegewe die huis waarin hy groot geword het, was Pa ‘n baie getroue Kerkmens. Vandat ek my verstand gekry het, het ek geweet Sondag gaan jy kerk toe en na kerk gaan jy Sondagskool toe. Dit het die gronslag vir my eie geloof gelê en van kleins af het ek geweet ek wil soos Oupa Jan ook eendag ‘n predikant word.

Die predikante van Vredefort was huisvriende en veral hy en Dr AMH Koornof was baie goeie vriende en ons het baie oor en weer gekuier.

Pa het baie termyne as diaken in die gemeente op Vredefort gedien en later ook as ouderling. Dit was ‘n voorreg om hom, toe hy ouderling was, ‘n wyksbiduur te hoor lei waar die preek wat in Die Kerkbode gepubliseer is, voorgelees is. Veral was dit mooi om te luister hoe hy die liedere wat gesing is, ingesit het, Hy het ‘n pragtige tenoorstem gehad en het graag gesing terwyl hy gewerk het. As kerkraadslid was Pa baie betrokke by die Sendingkommissie van die kerkraad en die blanke Sendelinge wat in Vredefort gewerk het was ook huisvriende en het gereeld buitedienste op die plaas kom hou. Hier dink ek aan mense soos Eerwaarde Breedt, Eerwaarde Smit en Eerwaarde Haasbroek.

Oupa Eben as Gemeenskapsmens

Eben Kok het die gemeenskap van Vredefort op baie maniere gedien. Daar is jaarliks ‘n landbouskou op Vredefort gehou. Hier rondom die jare 1958 – 1960 was Oupa die president van die Skoukomitee en het ook hierdie rol met onderskeiding vervul.

Oupa Eben, die einde van ‘n era

Pa sterf op 21 Februarie 1981 aan ‘n hartaanval – ‘n hartblok, soos dit op sy doodsertifikaat geskryf is – in die spreekkamer van hulle huisdokter, Wilby Turten op Vredefort.

Hy was relatief ‘n gesonde mens maar enkele jare voor sy dood het hy geweldig las gehad van nierstene. So beland hy omtrent ‘n jaar voor sy dood in Die Zuid Afrikaanse Hospitaal in Pretoria met ‘n niersteen wat hulle nie kon uitkry nie. In daardie dae was daar nognie die moderne tegnieke van vandag nie en hulle besluit uiteindelik om die niersteen deur middel van ‘n operasie te verwyder. Toe hy in die teater op die operasietafel lê, kry hy sy eerste hartaanval.

Ek het deurgery van Warmbad af om hom te gaan besoek. Hy het altyd, as hy oor die politeik gepraat het gesê dat hy hoop as die anderskleuriges die beheer in die land oorneem moet hy al liewer by die groot klomp in die hemel wees. Toe ek hom daarna vra in die hospitaal was sy eerlike antwoord: “As ‘n mens daar kom, dink jy anders daaroor”.

Ek was bevoorreg om sy begrafnisdiens te hou met Openbaring 14: 13 teks – “Geseënd is die wat van nou af in die Here sterwe. Ja sê die Gees: Hulle sal rus van hulle arbeid, want alles wat hulle gedoen het, volg hulle”.

In honour of him, I will continue to make it with his recipe.

(c)  Eben van Tonder en JW Kok

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s