9 May 2022

Witkop
Oom Jan word 80!
Oom Jan het laas week 80 geword. Ons het dit Saterdag aand op Warmbad gevier. Die volgende dag het ek Paul Roux toe gery.
Hy is gedoop Johannes Willem Kok, na sy oupa vernoem wie ook Johannes Willem Kok was en wie op sy beurt na sy pa vernoem was, ook Johannes Willem Kok. Die laasgenoemde JW Kok was een van die kommandante van die Winburg kommando. Oom Jan het die Anglo Boereoorlogsdagboeke van Kommandant Kok en Oupa Jan uit Nederlands in Afrikaans vertaal tesame met Kommandant Kok se herinneringe van die Basotho oorloë waaraan hy ook deelgeneem het.
Dit is hier waar hy onder Marthinus Prinsloo geveg het. Die bejaarde Marthinus Prinsloo was ‘n sleutel figuur in die gebeure rondom die Brandwater Kom waar Kommandant Kok se seun langs die Generaal geveg het tot met die oorgawe. In Fouriesburg waar Prinsloo en sy gesin oornag het, het Jan en ‘n klein groepie hulle bewaak. Dit vind plaas ongeveer op 25 Julie 1900. Die aanloop na hierdie aand wat die rede hoekom ek na Oom Jan se funksie in Warmbad deurgery het Paul Roux toe. Een kop naby Paul Roux het ‘n prominente rol gespeel in die aanloop na die gebeure in Julie naamlik Witkop.
Joretha het die heildronk ingestel op haar pa, oom Jan en sy het verwys na gevalle uit die bybel waar herhinneringsklippe of mure van herinnering gebou is. Die vieringe in die kerksaal in Bela Bela was een so ‘n herhinneringsmuur waar ons Oom Jan se lewe saam met hom gevier het en ons klippe van onthou gebruik het om die denkbeeldige muur te bou. Min het ek geweet dat Joretha se woorde letterlik vervul sou word na die naweek in my besoek aan Witkop.
Witkop
Jan Kok beskryf verskeie besoeke aan Witkop in sy dagboek. Omdat hy Oom Jan se oupa was verwys ek na hom as Oupa Jan. Die drie JW Kokke is dus Kommandant Kok, Oupa Jan, sy seun en Oom Jan of Kokkie, soos hy bekend staan, Oupa Jan se kleinseun.

Witkop word so genoem omdat dit omring is deur enorme wit sandsteen hange. Vandat ek en Elmar een aand tydens Kersfees ‘n paar jaar terug die kop se ligging opgesoek het, het ek geweet dat dit die hoogste kop in die area is en ek het aangeneem dat dit die rede vir sy prominente plek is in Oupa Jan se dagboek. Min het ek geweet dat dit net die helfte van die storie is. Elmar het die huidige eienaars van die plaas opgespoor en ons het daai aand al ‘n boodskap vir Jess de Klerk gestuur en gevra of hy sal omgee as ons kom kuier om die kop uit te klim. Jess het ons dadelik uitgenooi om dit te doen en ons aangemoedig omdat hy self ‘n groot liefde het vir Afrikaner geskiedenis en veral vir die geskiedenis van die Anglo Boereoorlog. Dit was dus ‘n gebeurtenis, soos mens in Engels sê, “years in the making” toe ek Sondagoggend deur ry na die Oos Vrystaat.
Pink Tricycle en Oom Nico Moolman
Jess se lodge was vol bespreek vir die naweek en hy stel voor dat ek by Theuns oornag wie The Pink Bicycle gastehuis en teekamer het. Hier aangekom vertel Theuns en sy vrou my hoe hulle op die naam gekom het. Dit is ‘n inspirasie van ‘n boekie wat hy op een van sy reise gekoop het, “Die Pink Traaisiekel.” Die naam is vir my onmiddellik bekend. Dis geskryf deur niemand anders as Oom Nico Moolman nie. Ek het Oom Nico leer ken toe ek en Lauren een aand in Bloemfontein oorgeslaap het op ‘n plaas wat behoort het aan Adam Kok. Die chef was Nico se dogter. Nico kom ook van Vandebijlpark af waar ek grootgeword het en is een van Suid Afrika se mees kleurrykste geskiedskrywers en kenners van die Anglo Boereoorlog. Ek gebruik Oom Nico se werk gereeld in my eie werk oor die Anglo Boereoorlog en oor die ontwikkeling van die vleisbedryf in Suid Afrika.
Geskenk aan Oom Jan
Die hele tog hierheen was my eie verjaarsdag geskenk aan een van die mees merkwaardigste mense wie ek ken, my Oom Jan Kok en om hulde te bring aan sy oupa en sy oupa grootjie, Kommandant Kok van Winburg waar hulle op Kranskop geboer het. Die feit dat ek oor slaap vanaand in ‘n gastehuis wat vernoem is na die werk van Nico Moolman (sonder dat die eienaars geweet het presies wie Nico is), is vir my van die grootste betekenis. Ek deel die res van die verhaal met julle nadat ek môre op Witkop was.
Oupa Jan se Inskrywings
Oupa Jan skryf op 9 Mei 1900 in sy dagboek:
9 Mei 1900 – “Oom Koos se eintlike plan was om na Witkop te gaan. . . . Christiaan het oom Koos aangeraai om terug te draai na Ficksburg. 12 uur het ons daarvandaan vertrek. 100 manskappe is gevra om as vrywilligers na Ficksburg te vertrek. Ek was een van hulle. Ek en oom Nic het toestemming van die veldkornet gekry om vooruit te ry.”
Hy skryf op 18 Mei 1900,
Die kommando het die oggend 8 uur uit Ficksburg vertrek.
Op Sondag, 19 Mei skryf hy verder, “Ons was net klaar geëet toe die berig kom dat ons weer moet terugkeer na Witkop. Dit is te verstane dat ons nie op ons gemak gevoel het om weer terug te gaan nie. Dit was ‘n lang rit en dit was tevergeefs, maar ons geen ander keuse gehad as om die bevel te gehoorsaam nie.
29 Mei
“Op die dag vind die geveg te Biddulphsberg plaas en die vyand word verslaan. Baie van die weiveld is deur vuur verwoes.” Die dag wat ek op Witkop was stel Jess de Klerk voor dat ek vir Oom Borrie Erasmus op Biddulphsberg gaan kuier. Die grond waar die veldslag plaasgevind het is al vir jare in sy gesin se besit. By die huis het hy ‘n museum wat hyself saamstel en onderhou. Hy was ook die bevelvoerder van die Senekal kommando wat in Januarie 1900 gestig is. Dit verklaar dadelik vir my waarom Oupa Jan en Kommandant Kok in Natal geveg het onder Winburg Kommando en nadat Oupa Jan huis toe is vir ‘n rukkie na Ladysmith terug gekeer het na die oorlog en by die Senekal kommando aangesluit het terwyl Kommandant Kok saam met Cronje geveg het en by Paardenberg oorgegee het. Hy wys my die foto hieronder wat deur die Engelse geneem is tydens die veldslag. Mens kan die Engelse se stellings mooi sien en in die verte woed die vuur waarvan Oupa Jan geskryf het.

Oupa Jan skryf verder in sy dagboek, “Kommandant De Villiers is gewond.” Hierdie gebeurtenis sou later baie belangrik word in wat in die Brandwater Kom gebeur het. Dit gee Fanie Vilonel kans om met die Engelse te onderhandel vir sy persoonlike oorgawe toe hy De Villiers af te voer hospitaal toe. De Villiers sterf.
Jan is gestuur om te gaan help in Biddulphsberg, maar op pad daarheen word hy teruggeroep. Hy skryf, “Terwyl ons van die Ficksburg laer vertrek het, het die Laerkommandant van plan verander en Petrus Fourie agter ons aangestuur om ons terug te roep. Toe hy by ons kom was ons omtrent nog ‘n halfuur van die slagveld af. Ons was baie ontevrede omdat ons so ‘n lang rit moes aflê en toe weer moes omdraai. Ons het besef dat ons ons perde ooreis het. Schalk se perd het kruppel geraak, maar ons het geen ander keuse gehad as om om te draai en terug te keer na die laer nie. Dit was omtrent 4 uur toe ons weer by die laer kom. Ons het ons perde voer gegee.
Dit is hier waar Witkop weer in die prentjie kom. Hy skryf, “Die aand toe dit begin donker word, het die kommandant weer ‘n patrollie uitgestuur na Witkop om te gaan verken. Dit was nie lekker nie, want ek was moeg van die rit na Biddulphsberg. Gelukkig het ek my een perd by die laer laat agterbly en dus het ek nie nodig gehad om weer met Holie te ry nie. Toe dit donker word is ons uit die laer uit. Ons het gery tot omtrent 10 uur die nag en het onder Witkop afgesaal. Ons het ons perde gespan en ‘n paar wagte uitgesit. Dit was ‘n baie koue nag. Ek het nooit van ek van die huis af weg is so koud gekry as die nag nie. . .Toe dit dag word, het ons ons perde opgesaal en teen die kop uitgery totdat ons nie meer verder kon nie. Vyf mans het teen die kop opgeklim en ons het by die perde agtergebly. Die 5 mans het gegaan om te spioeneer. ‘n Rukkie na sonop is ons na die plaas van ‘n mnr. Smit wat teen Witkop geleë was. Daar het ons afgesaal om vir die spioene te wag. Oom Smit het vir ons lemoene gegee om te eet. Teen 11 uur het die spioene teruggekom maar, hulle het niks gesien nie. Toe het ons weer opgesaal en na die laer gery. . . .Die vorige aand is gesê dat die Engelse optrek na Ficksburg, maar ons kom niks sien nie.”
Die Engelse se plan was om die Boere in die Brandwater Kom teen die Lesotho berge vas te druk en ‘n doodslag toe te dien. Amper die hele OVS mag was op hierdie stadium in die Kom onder direkte bevel van Generaal de Wet. Saam met hom was JBM Hertzog, Pres Steyn en die hele kabinet van die Vrystaat asook die gevangene, Vilonel wie, nadat hy oorgegee het en andere probeer oortuig het om dieselfde te doen gevangene geneem is en deur Hertzog verhoor was.
Sy verwysing na Smith wie die plaas besit het is interessant omdat ek die naam Smit baie op Witkop gesien het. Jan skryf, “Ek het my naam op een van die klippe daar uitgekerf en myself afgesonder in eensame gebed.”
Dit is hier waar Joretha se verwysing op Oom Jan se verjaarsdag van mure of klippe van herinnering vir my baie betekenisvol word. Wat ek kom doen het is om te soek na ‘n letterlike klip. Ek wou as’t ware in Oupa Jan se voetspore loop en self die kop uit klim en miskien, net miskien kry ek die klip waar hy sy naam op uitgegrafeer het. Dis oor ‘n honderd jaar gerug en ek was skepties, maar skon ek die klip kan kry?

Ek met Witkop en die ou skuur in die agtergrond.

Ek en Petrus.
Jess de Klerk het my toestemming gegee om die Kop die Maandag uit te klim. Hy self het ‘n afspraak in Betlehem gehad en ek het gehoop om later in die dag met hom te ontmoet en hom persoonlik te bedank vir die geweldige voorreg wat hy my (ons) gegee het om dit namens ons hele familie te doen. Ek is as’t ware net die voorspan in hierdie saak en hoop om Oom Jan self deur te bring een van die dae.
Witkop
‘n Bietjie agtergrond aangaande Witkop is in orde. Die ou opstal het onder teen die kop gestaan. Oupa Jan skryf dat hulle hulle perde hier afgesaal het.

Wanneer hy skryf, “Ons het gery tot omtrent 10 uur die nag en het onder Witkop afgesaal. Ons het ons perde gespan en ‘n paar wagte uitgesit. . . .Toe dit dag word, het ons ons perde opgesaal en teen die kop uitgery. . .” praat hy van hierdie opstal. Het hy miskien selfs in die ou skuur geslaap wat nog daar staan?
Jess het gereël dat Petrus my teen die kop uit vat. Dit het my baie loopwerk gespaar!
Ek saam met Petrus oppad teen die kop uit. Hierdie is die pad wat die Boere gevat het om by die spelonk uit te kom.
Die terrein lyk nog nes dit jaar gelede gelyk het. Dis nie moeilik om tye sien wat Oupa Jan van gepraat het nie. Die wie teen die kop uitgery het sou hulle perde gelos het waar die pad eindig. Na die nag wat hy van skryf dat hy in gebed deurgebring het, skryf hy, “Teen 4 uur is ons weer van die kop af en het op die plaas weer iets gekry om te eet. Vandaar is ons terug na die laer en het teen skemer daar aangekom. Die korporaal het my vrygestel van wagdiens en ek het ‘n heerlike nagrus gehad. Dit het my verveel om by die laer te bly. Die Ficksburgers was toe naby Kalkoenkrans. Vandaar het daar op 31 Mei ‘n berig van die kommandant gekom dat ons na die kommando moes gaan. Vir my was dit ‘n vreugde. Ons het begin gereed maak. Ook Koos was ongelukkig omdat ons van hom af weggaan, maar ek wou nie langer by die laer bly en niks doen nie. Ons het 11 uur van die laer af vertrek en oom Koos is toe na die laer van Ladybrand wat op pad was na Zuringkrans. Toe ons ‘n entjie van die laer af weg was het ons teenspoed gekry. Schalk se perd het siek geword en hy kon niks anders doen as om terug te gaan na die laer toe nie. Piet Naude is saam met hom terug. Ons is toe verder en het onder Witkop afgesaal in ‘n vlei. Daar het ons iets geëet. Ek was bekommerd oor Schalk en was van plan om weer terug te ry na die laer. Die ander manne het my moed ingepraat en ek het besluit om verder saam te gaan. Vandaar af het ons Morgezon toe gery waar 100 burgers reeds in posisie was. Veldkornet Von Maltitz het toe net van die krygsraad by Biddulphsberg af gekom waar daar besluit is om ‘n generaal aan te wys in die plek van Gen. De Villiers.”
Aangaande die nodigheid om iemand in De Villiers se plek aan te stel het ons reeds iets gesê omdat hy aan sy wonde beswyk het. Daar is twee roettes op teen Witkop. Die een vat jou na ‘n enorme oorhang en die ander ene tot bo op die kop. Dat Oupa Jan van die spelonk of groot oorhang praat is duidelik as mens weet hoe dit lyk.
Sodra mens die plek sien weet jy dadelik dat dit ‘n plek is van groot strategiese belang en ek is seker dat dit van tyd tot tyd bewoon was deur die San wie waarskynlik die eerste mense was wie in die area gewoon het nog voor die Sotho’s daar aangekom het. Van die enorme oorhang het mens ‘n baie duidelike blik op die hele vlakte. Dit is ideaal om te sien of daar beweging van die Engelse was van Betlehem af. Ek kan my net voorstel hoe dit moes gelyk het om troppe diere in die vlakte te sien en vir die jagters moes dit van groot waarde gewees het om hulle beplanning te doen. Dat daar baie mense oor die jare onder die oorhang geslaap het is verseker en talle het hulle name op die kante van die oorhang ingekerf en op die klippe wat van die oorhang se dak afval.
Die foto hieronder is die hoogste wat mens met ‘n voertuig of met ‘n perd kan op ry oppad na die oorhang. Daarna word dit baie gevaarlik vir perde. Die vlei is net links van waar die trekker staan.

In die foto hieronder staan Petrus aan die vlei se kant.

In die video hieronder stap julle saam met my en Petrus teen die kop af. Julle sal sien dat dit nie ‘n goeie plan sal wees om daar met ‘n perd op te ry nie. Dit kan gedoen word, maar sal nie ‘n goeie plan wees nie!
Stap teen die kop af saam met my en Petrus.
Hier is nog ‘n paar fotos wat wys hoe dit lyk oppad op teen die kop uit. Waarom dit Witkop genoem is word duidelik.


Jan se Inskripsie
Die soektog was om te kyk of ons oupa Jan se voorletters en van kon opspoor. Ek en Petrus het van een kant af begin en baie noukeurig na elke inskripsie gekyk wat ons kon kry teen die kante van die oorhang en op elke klip. Soos die sandsteen los kom teen die dak van die oorhang val enorme klippe in die middel van die oorhang. Ons het elke individuele klip baie mooi ondersoek en kon niks kry nie. Ek vermoet dat die Engelse ook daar oorgebly het want ek het talle Engelse vanne gekry. Die sandsteen klip is baie sag en daar is baie water wat deur die oorhang vloei. Ek het my alie lekker gesien. Ek deel die video met julle.
Hier het ek Lekker geval, maar dit gee julle ‘n mooi prentjie van hoe dit lyk in die Oorhang.
Oupa Jan se voorletters is JW Kok. Aan die einde van die dag, ongeag die feit dat ek en Petrus elke inskripsie wat nog leesbaar is baie noukeurig nagegaan het kon ons net een kry met die letter W in. Gelukkig is baie gedateer. Ek het opgelet hoe die name lyk wat van 1900 daar is. Mens kan daai name amper glad nie uitmaak nie. Dit het my gehelp om meeste name te ignoreer wat nie gedateer is nie. Die proses het toe baie interessant begin word.
Ek het geen naam gekry van voor 1900 nie en die rede is baie eenvoudig – aan die een kant, erosie, en aan die ander kant, geletterdheid! Vergelyk Oupa Jan en sy pa se handskrif en geletterdheid! Dis nag en dag wat ek vermoed die algemene situasie was met die ouer mense.
Toe ons niks kry nie het ek besef ons moet ons strategie verander. Ek het na Oupa Jan se karakter gekyk en sy handskrif. Wat weet ek van hom? Wat was sy persoonlikheid? Ek het besef dat wat ek na soek nie groot en op die mees prominente plek gaan wees nie. Dit pas nie sy karakter nie. Wat ek na soek sal eenkant op ‘n spesiale plek wees en nie baie groot nie.
Minette het my eintlik die antwoord gegee die Sondag toe ons gepraat het. Sy het vir my gesê om my instink te volg. Dink ek dat daar enigiets van hom in my is? Wat weet ek van hom? Wat weet ek van Oom Jan? Waar sou ek my naam gegraveer het. Selfde vraag: waar sou Oom Jan sy naam gegraveer het?
Na ek geval het ek het heel voor in die opening gaan staan en na die kompleks gekyk. “Luister na jou instink!” “Dink aan sy persoonlikheid.” ‘n Sendeling. ‘n Leier maar nie iemand wie enigiets op homself sou fokus nie. Hy sou nederig gebly het.” Ek het aan Oom Jan gedink – baie dieselfde persoonlikheid.
Links was daar ‘n lysie. Dit was bietjie moeilik om op te klim en daar was plek vir een mens om lekker te sit. Van daar het mens die hele oorhang gesien. Ek het dit uitgeklim onder protes van Petrus. Ek het ‘n paar name dadelik daar raakgesien. Dit was baie vaag wat vir my gesê het dat dit tien teen een vroeë 1900s is. Die plek is amper weggesteek. Vir baie lank was daar geen water nie. As mens egter aan die rots raak skilfer dit dadelik af en die name sal verdwyn.
Reg voor my het ek skielik die onmiskenbare lyne van ‘n W gesien. Hieronder gee ek die video wat ek daar geneem het ook met julle deel en mens kan net op die einde van die video die hele W mooi sien, so, kyk tot op die einde. Net links van dit het dit vir my gelyk of daar ‘n J kon gewees het en aan die linkerkant is daar net genoeg plek vir ‘n kort woord soos Kok. Oor die jare het erosie als rondom dit amper heeltemal verwyder behalwe die W wat baie vaag sigbaar is.
Die moontlike JW Kok inskripsie.
Terug by die gastehuis het ek fotos gevat om vir julle mooi te wys wat ek sien.
Hieronder is die foto van die W. Kyk of julle dit kan raaksien!

Ek het die lyne duideliker gemaak dat julle dit kan sien.

-> Swart: Duidelike lyne. Al wat duidelik is die W met ‘n moontlike J aan die linkerkant. ‘n Moontlike klein “o” is sigbaar, maar dit kan ook die resultaat wees van erosie wat sulke sirkels maak. Dit kan miskien daar wees binne die swart “o” wat ek gemaak het. Die W se swart lyne is onder die duidelike lyne wat op die klip sigbaar is. Die horisontale streep van die “J” is duidelik, maar kan net ‘n vlek wees. Die regaf streep van die J, dieselfde. Dit is duidelik, maar kan ‘n normale deel van die rots wees. Die gedeelte van die K wat ek met swart merk is verseker daar, maar kan weereens net deel van die rots wees. Die laaste K is nie daar nie. As dit daar was is dit deur erosie uitgevee.
-> Blou: Wat heeltemal nie daar is nie. Miskien was dit daar, maar erosie het dit uitgevee.
-> Oranje: Mens kan sien waar die rots geskilfer het. Dit is baie duidelik en indien JW Kok geskryf was soos ek hier voorstel sou al wat oorgebly het die gedeeltes wees wat ek aandui.
So, hierdie is wat ons het:
– die duidelike W. Die moontlike J.
– Dis kleiner geskryf as meeste van die ander geskryf. Daar is een plek waar iemand in die 1920s kleiner geskryf het. Indien Oupa Jan hierdie geskryf het is dit mooi leesbaar geskryf. Prakties. Niks oordadig nie. Pas sy karakter.
– Die plek is uniek! Net ‘n jonger man sou teen ide muur uitgeklim het maar van daar kry jy ‘n baie mooi gesig van die hele grot. Maar is eenkant. Dis hoe ek hom sien en Oom Jan en wat ek self van hou. Hou mense dop. Dink oor wat jy sien. Dis wat ek sou gekies het as ek alleen wou wees en bid.
– Die plek waar hy dit gedoen het moet oorweeg word en hoe hy dit beskryf het. Hy skryf, “Ek het my naam op een van die klippe daar uitgekerf.” As hy dit so stel, bestaan die moontlikheid dat hy bedoel dat hy dit teen die mure sou uitgekerf het of bedoel hy dat hy dit gedoen het op een van die talle groot rotse (klippe) wat in die oorhang lê? Die laasgenoemde is in my opinie die mees logiese manier om sy woorde te interpreteer. Ek het egter baie gewonder oor wat mens die kante van die oorhang sou noem as “een van die klippe.” As mens sou sê dat jy dit op die “muur” van die grot uitgekerf het – in my mening is die woord “muur” eerder gebruik vir iets wat deur die mens gebou is. As ek Oupa Jan se dagboek lees is daar talle kere wat hy onvolledige beskrywings gee en hierdie kan een van daardie kere wees. Ek lees baie maal wat hy skryf en dink – “Vandag sal ons dit nie so stel nie!”
Dat mens die moontlikheid baie goed moet behou dat sy woorde letterlik gevat moet word dat hy dit nie op die kant uitgekerf het nie, maar op een van die klippe wat meer na die middel van die oorhang lê, is gewis. Ons sal altyd daardie moontlikheid moet oorweeg en dit sal beteken dat in toekomstige besoeke ons ‘n baie ernstige poging moet aanwend om daardie rotse weer baie goed na te gaan en seker te maak dat daar geen kans is dat dit die interpretasie van sy woorde kan wees nie.
In die algemeen is daar in elk geval net drie opsies:
1. Dit is moontlik reeds deur die water vir altyd uitgevee is.
2. Van als wat in die grot is, is die opsie wat ek hier gee die mees moontlike inskripsie en by verre die enigste wat perfek die vereistes pas.
3. Dat dit wel nog leesbaar is en ek en Petrus het dit gemis en die W wat ek gekry het is deel van heeltemal ‘n ander woord of voorletters.
Soos dinge tans staan, tensy meer informasie aan die lig kom, is die opsie wat die W wat ek ontdek het die mees moontlike opsie dat dit wel die inskripsie is wat deur JW Kok gedoen is soos hy dit beskryf in sy dagboek.
Indien wat ek gekry het die regte opsie is, dan moet ons onthou dat dit nie baie lank nog sal bestaan nie. Selfs wat ek gekry het is geweldig “broos.” As jy daaraan raak is dit weg.
Die laaste punt is tweeledig. Aan die een kant is die form van die W. Dit is nie geskryf soos die W lyk op die rekenaar nie. Kyk hoe hy die W ‘n brief uit natal aan sy ma afsluit. Hy teken dit as JW Kok. Van groter belang, kyk hoe hy die W skryf. Die middelste gedeelte is kleiner as die res.

Die tweede ding is of hy “Jan Jok” of “JW Kok” sou gebruik het. Ek verwys weer na die feit dat hy die brief aan sy ma teken as “JW Kok” en nie “Jan Kok” nie.
Oor die jare in die Kaap het ek baie gewerk aan ou inskripsies op Tafelberg en het seker gemaak dat ek die foute wat ek oor die jare met dit gemaak het nie herhaal nie. Ek dink ek was versigtig genoeg. Verseker, behalwe die twee plekke waar ek ‘n W gekry het is hierdie ene loshande die ene wat al die vereistes aan voldoen. Die J is moontlik maak kan nie 100% verseker gesê word nie. Dat na die moontlike J en besliste W daar iets was is verseker. Dit was kort. Nie v d Merwe of Van Rensburg of so iets nie.
Laaste ding. Dat ek verseker op die presiese plek gestaan het waar Oupa Jan gestaan is absoluut 100% verseker! Hoekom? Want ek het op elke vierkante mm in die grot gestaan!!!
Ek is baie gemaklik met die resultaat. Ek is eintlik bly dis nie blatant voor die hand liggend nie want dis nie hoe hierdie goed ooit in realiteit is nie. Veral nie 120 jaar na dit gebeur het nie. Eks bly dit berus op waarskynlikhede en dat ek als wat ek van hom en Oom Jan af weet moes gebruik. Hulle geloof. Hulle nederigheid! Dat hulle altwee gebedsreuse is en was! En dat ek moes soek! Baie soek! Dit het my ‘n ongelooflike ervaring gegee dat hy en Oom Jan daar saam met my was. Ek sê dit nie net nie. Ek het op ‘n stadium gedink dis crazy hoe sterk ek dit voel want ek dink nie so nie! En ek kon die “teenwoordigheid” wat ek gevoel het nie weg kry nie. Joretha se gedenkklippe! Gedenkmure! Hoekom het sy daai gekies. Een van die filosowe, ek vergeet wie, het gepraat van “personally significant coincidences!”
Ons is almal aan mekaar gebind op maniere wat ons nie heeltemal verstaan nie. Ook met ons voorouers. Dis verseker!
Hieronder wys ek waar die plek is waar ek dit gekry het.
Dan is daar natuurlik die kans dat ek en Petrus dit gemis het en dat dit wel iewers anders is en mooi sigbaar is en dat die W wat ek gekry het te doen het met iemand anders. Die area is groot. Ek twyfel dat die letters JW Kok iewers anders in die oorhang is en dat ons dit heeltemaal gemis het omdat ons baie noukeurig was, maar die moontlikheid is natuurlik daar. Wanneer ek terugkom sal daar nuwe oë wees om weer te kyk. Vir nou is ek baie gemaklik met wat ons gekry het en die resultate is darrem goed deurdink. Ek dink dat alle toepaslike faktore in ag geneem is in die evaluasie.
Meer van die Oorhang op Witkop









Ek beplan om terug te kom en elke grafeering af te neem om dit te bewaar vir die geskiedenis. Ek sal die videos wat ek daar gevat het gebruik om fotos te maak van als wat ek afgeneem het en sal dit hieronder sit.
Hoe Eindig dit?
Om die storie klaar te maak. Op 25 Julie skryf Jan oor die gebeure waar hy een van die manne was wie Generaal Prinsloo opgepas het. Dis aangrypend om te dink dat Prinsloo en Jan se Pa mekaar goed geken het. Sy pa skryf in sy dagboek oor die Basotho oorlog dat hulle een keer vinnig opgeroep was op Kommando en hy het nie tyd gehad om sy jas te vat nie.
Dit het bitter koud geword en begin reën en hy het koud die aand voor sy perd in die reën gesit toe iemand skielik ‘n jas oor sy kop en skouers hang om hom teen die koue en reën te beskerm. Hy was nog ‘n jong man en toe hy opkyk was dit Kommandant Prinsloo. Prinsloo sou Jan en sy seun geken het en geweet het wie die Jan Kok was wie een van sy lyfwagte was in Ficksburg.
Hewige Geveg en Oorgawe
Jan skryf in sy dagboek oor die oggend in Ficksburg, “Ons het ons ketel in die huis gekook en 2 uur het die generaal ons wakker gemaak om op te saal en ons het vertrek na ‘n rantjie wat in die rigting van die sonsopkoms geleë was. Ons het weer afgesaal by die meule van Le Harp. Ons het ons perde voer gegee en vir onsself iets gemaak om te eet. Soos ek verstaan was die Engelse in Fouriesburg toe dit begin lig word.”
Anders as wat baie geskiedskrywers wil vertel het daar ‘n “running battle” gevolg waar Jan en sy makkers die Generaal en die Boere leiers probeer beskerm het. Die geveg het lank geduur maar op die einde was hulle so vasgekeer dat dit of oorgawe was of die Engelse sou Prinsloos en die leiers almal doodgeskiet het.
Meer word beplan.
Ek en Minette beplan om terug te kom en die hele verhaal stap vir stap na te volg en in Jan se voetspore te volg tot waar hy vasgekeer is en saam met Prinsloo oorgee waarna hy na Ceylon gestuur is as krygsgevangene.
Fotos van Oom Jan se naweek









