‘n Mens is ‘n mens deur mense . . . . .
“It’s never too late to have a happy childhood”
‘n Mens is ‘n mens deur mense. So lui ‘n spreekwoord van die Noord-Sothos. Geen mens word groot sonder dat daar mense rondom hom is wat deel het aan sy vorming nie. Almal wat die een of ander tyd ‘n mens se lewenspad kruis, het ‘n invloed op jou denke en jou karakter. Sommige mense se invloed is groter as dié van ander. Party mense se invloed is positief en ander s’n is negatief. Party maak jou slimmer en ander maak jou dommer, maar of dit nou groot of klein, positief of negatief is, almal vorm aan jou persoon en aan jou karakter en uiteindelik is jy die produk van jou omgewing en van jou ervaringslewe.
Die plek waar jy lewe en grootword dra by tot hierdie groei en ontwikkeling en vorming. Selfs die tyd in die geskiedenis waarin jy opgroei speel ‘n belangrike rol. In my eie grootword was dit nie anders nie.
My Geboorte
My eerste herinneringe aan menswees strek so ver terug as Koppies in die Vrystaat – 1945. Pa, Eben Kok, het as ‘n klerk in Standardbank op die dorp gewerk en Ma, Susan, was ‘n huisvrou. Pa was ‘n tipiese Suid-Afrikaanse man met ‘n hunkering na die grond en om boer te wees en daarom bring ek my eerste drie lewensjare op die Weltevredeplotte net buite Koppies deur waar Pa ‘n paar melkkoeie en skape en Ma ‘n paar hoenders aanhou. My eerste onthou is die buitekamer waar die meel gebêre is wat die koeie gekry het as hulle gemelk word en waar die mielies gebêre is wat Ma se hoenders gevreet het. As ek vandag nog die reuk van mielies ruik, is die buitekamer buite Koppies die beeld wat in my kop kom.
Pa en Ma het mekaar ontmoet terwyl Pa ‘n klerk in Standardbank op Vredefort was en Ma by haar ouers, Michiel en Santjie Uys, op die plaas Leeuspruit buite die dorp gebly het. Ma was daarvoor verantwoordelik om Ouma Santjie te help met versorging van haar Pa, Oupa Piet Rademan wat op 28 Desember 1937 in die ouderdom van 99 jaar oorlede is.

My Oupagrootjie, Piet Rademan, op sy 95 ste verjaarsdag in 1933
Van Oupa Piet word die storie vertel dat hy al diep in die 90 was toe hy eendag besluit het dat sy leraar, Ds van Vuuren, hom verwaarloos. Hy span toe sy perdekar in en ry al die pad Vredefort toe en stop in die straat voor die pastorie. Op die uitnodiging van Ds Van Vuuren, weier hy om van die kar af te klim en die volgende word hard en duidelik aan die leraar gesê: “Ds Van Vuuren, ek is ‘n ou man en ek weet ek het nie meer lank om te lewe nie. Verlede nag kon ek nie slaap nie en ek het gelê en dink oor die dood. Toe dink ek by myself, sê nou ek gaan vannag dood en ek kom in die hemel en die Here vra vir my, “Piet Rademan, hoe gaan dit met my dienskneg, Ds Van Vuuren, daar op Vredefort?” Dan sal ek met skaamte vir die Here moet sê dat ek nie weet nie, want hy kom my nooit besoek nie.” Wat ‘n manier om vir ‘n Ds te sê dat hy die pastorale versorging van sy bejaardes verwaarloos !
In daardie jare was dit nog die gebruik dat dogters ná skool by hulle ouers gaan bly het om die huishouding waar te neem. Ma het op Reitzburg skoolgegaan waar sy by tant Kowa Marx, Ouma Santjie se suster, loseer het. Nadat sy haar laerskoolloopbaan op Reitzburg voltooi het, is sy Potchefstroom toe waar sy in die koshuis was. As ek reg onthou het sy hier skoolgegaan tot en met st 7.
In hierdie tyd skryf Ouma Santjie die volgende brief aan Ma in Potchefstroom :
Liefste Susan,
Ons het gister jou brief gekry baja dankie, ek was spyt om te sien dat jy so virkoude is, ek hoop darem dit gaan beter, met ons gaan dit goed ons is nou weer baja gesond. Pappie se oor is ook heel te maal gesond. Jy het seker nog nie gehoor dat Aunt Chathrina weer ?n seuntjie het nie, hy is die 23 ste gebore, hy is vndag 8 dae oud, laaste Dinsdag was sy net baja siek toe was ou Green daarheen hy sê dit is ook die griep wat sy het, maar nou gaan dit weer beter. Oom Freek was gister hier, Pieter was ook hier, ons vra vir hom wat is daar hy se daar is ?n bobbejaan ek vra wat is sy naam hy se Fransie
Hendrik van aunt Kotie was mos ook so baja siek, laats Sondag was ou Green daar en Maandag was Dr Heyns weer daar hy het glo Inflamatie, gister het oom Freek gese was hy bietjie beter maar vandag het ek nog nie weer gehoor nie, ek dink die dag met die Vandiesie het hy seker koue gekry want dit was mos so?n nare dag gewees.
Die ou Klein Kaffertjie van ou Viljoen het laaste Vrydag vir Brand, dit was mos so vreeslik koud daardie dag, en die meid het glo buite kant vuur gemaak en toe gaan sy mis optel toe sy sien toe was die ou kaffertjie in die volle vlam, Pappie het toe nog dieselfde middag die dokter daarheen laat gaan maar nog die selfde nag is hy dood.
Dina is vanaand hier, ons was vanmiddag daar en Maria het so aangehou laat sy moet saam kom.
Pappie het daarom die jaard vir die huis Klaar dit lyk net ewe gaaf.
Die hoenders by die windpomp le nog nie eers nie hier by die huis begin hulle nou net tamenlik te le
Oom Attie hulle het Saterdag nag hier geslaap en Miss Boshoff ook sy was saam met oom Attie hulle.
Hoe gaan dit met aunt Miem? Word sy nou al beter en wat se sy sal die dokter haar kan help ?
Mariaatjie was tog te hoog oor die brief wat sy van jou gekry het. Ek het nog nie eers aunt Cathrina se seun gesien nie.
Pappie had mos so ‘n skade met sy skape die Honde was daar onder, en hulle het 9 doodgebyt en nog ‘n hele paar stukkend gebyt. Die arme ou Bok het hulle net so verniel hy sal ook seker nog dood gaan, nou weet hulle nog nie eers wie se honde dit was nie, dis daarom ‘n vreeslike skade.
Nou liewe Susan die nieuws is nou op en ek is al vaak baja groete van Dina, Pappie, Mariaatjie en van mammie.
Jou liefhebbende moeder,
Sannie Uys

Die eerste bladsy van die brief wat Ouma aan Ma geskryf het in die koshuis op Potchefstroom.
Pa en Ma was nie meer jonk toe hulle op 7 Augustus 1939 op Vredefort in die huwelik bevestig is nie. Albei van hulle was reeds 29 jaar oud. Oupa Jan Kok, wat sendeling van die Ned Geref Kerk op Heilbron was, het Pa en Ma in die huwelik bevestig in die mooi ou sandsteenkerk op die dorp. Die onthaal na die troue is op die plaas gegee. Kol Nussey, ‘n vriend van Oupa Giel en Ouma Santjie het ‘n heildronk op hulle ingestel as die ouers van die bruid. Ds Naude van Heilbron het die heildronk op Oupa Jan en Ouma Magrietha ingestel en Ds Lubbe, die leraar van Vredefort het die tafelgebed by die onthaal gedoen. Die storie word vertel dat hulle so lekker gedans het dat die een balk van die sitkamervloer geknak het. Tant Cathriena Rademan het die bruidskoek gebak en versier. Mariet Bosman was die blommemeisie.
Ek het die eerste lewenslig aanskou as die tweede oudste in die gesin. Sannie, my suster, was op twee jaar oud toe ek gebore is. Ek is op die plaas Leeuspruit in die distrik Vredefort in die Vrystaat gebore. Dis natuurlik die rede waarom ek vandag nog ‘n fanatiese ondersteuner van die Vrystaat se sportspanne is en ek beskou die Vrystaat steeds as my Heimat. Leeuspruit was geleë op die pad tussen Viljoenskroon en Vredefort ongeveer 7 myl buite die dorp. Dit was nog voor daar kilometers en kilogramme en Rand en sent was. Afstand is gemeet in myle, die grootte van plase in morge, gewig is gemeet in ponde en onse, vloeistowwe is afgemeet in gellings en pinte en ons het betaal met ponde sjieling en pennies.
“Nurse” Vorster was die vroedvrou wat my op die plaas in die lewe gehelp het. Dit was bitter koud die oggend toe ek op 3 Mei 1942 gebore is. Die waterpype was toegevries en hulle moes eers die pype ontdooi voordat hulle water kon warm maak om die nuwe aankomeling mee te bad. Sou dit dalk die rede wees waarom ek vandag nog liewer is vir die winter as vir die somer?
My ander oupa, Jan Kok, was die sendeling op Heilbron (buurdorp van Koppies). Hy was een van baie boere wat in die Anglo Boere-oorlog krygsgevange geneem is en na Ceylon gestuur is om daar aangehou te word totdat die oorlog verby was. In die krygsgevangekampe het baie jong boere tot bekering gekom en ‘n sendingroeping ontvang. Na die vredessluiting en terug in hulle Vaderland, was daar so baie van hulle dat die kerk ‘n sendinginstituut in Wellington in die Boland moes begin sodat hulle opgelei kon word en vir die sending beskikbaar gestel word.
Oupa Jan was eers getroud met ouma Magrietha. Sy is oorlede kort na my geboorte en toe is hy getroud met ouma Hannie, ‘n weduwee Roos. Ek het haar nooit geken nie. Ek was oupa Jan se eerste manlike naamgenoot. Daar was 6 kleindogters voor ek gebore is. Ek is in die Sendingkerk op Heilbron gedoop. Vir daardie jare was dit sekerlik ‘n vreemde situasie. Afrikanernasionalisme was aan die ontwaak. Dit was ses jaar voordat die Nasionale Party met sy apartheidsbeleid aan bewind gekom het. Synde ‘n blanke, mog my doop nie in die Sendingkerk geregistreer word nie en my naam is plegtig in die boeke van die Ned Geref Gemeente, Heilbron-Suid ingeskryf asof die doop in die Sendingkerk nooit plaasgevind het nie. Dit het ‘n groot soektog na my doopseël opgelewer toe ek dit nodig gehad het toe ek belydenis van geloof moes aflê. Vir die geleentheid van my doop het Oupa ‘n dooprokkie gekoop waarin ek, en later baie ander familiekleintjies gedoop is. In 2005 het ek die voorreg gehad om Frané, my vierde kleinkind in dieselfde rokkie te doop. Paula Rademan (later du Plooy) het my in die kerk ingebring vir die doop.
Dit is so ver terug as wat my verbintenis met die sending, as ‘n aksie van die Ned Geref Kerk teruggaan. Deur my hele lewe het ek ‘n spesiale belangstelling gehad in sendingwerk en het baie drome gedroom om eendag self, soos Oupa, ‘n sendeling te word. Ek het nooit self sendeling in die ware sin van die woord geword nie, maar dwarsdeur my bediening as predikant van die Ned Geref Kerk, was daar altyd ‘n baie mooi verhouding met die gemeentes en die leraars van die NG Kerk in Afrika (later die Verenigende Gereformeerde Kerk) met wie ek saam gewerk het. In Pretoria was dit Ds Phatudi van die gemeente Saulsville en in Warmbad Ds Philimon Masenya.
Koppies
Op die turfgrond van die plot buite Koppies bring ek my eerste drie jaar deur. Van die min duidelike herinnering uit hierdie eerste drie jaar van my lewe is die bure, Oom en Tannie Pienaar. Ek kan onthou hoe ons saam met die huishulp (daardie jare nog ‘n kombuismeid genoem) na die Pienaars op die plot langs ons s’n gestap het om die meelsif te gaan leen. Dit was oorlogsjare en die gebruik van gesifte meel is deur die wet verbied. Maar watter Afrikaner steur hom nou aan ‘n wet wat hom die lekker van vars tuisgebakte witbrood verbied? Agter toe deure en met toegetrekte gordyne is die bruin meel gesif en wit brood gebak. Natuurlik moes niemand weet jy loop met ‘n meelsif in jou hand nie en daarom is die meelsif plegtig in ‘n meelsakkie gesit en toegebind. Ek onthou die meelsif baie goed. Dit het ‘n houtraanwerk gehad met ‘n fyn sif, amper soos ‘n sykous, aan die onderkant. Die sif het ‘n slinger gehad wat gedraai is en so is die semels van die fyn meel geskei. Mense wat as gevolg van gesondheidsredes nie bruin brood kon eet nie, kon spesiale permitte kry om meel te sif en wit brood te bak. ‘n Buurvrou van oupa Giel-hulle, tant Miem Rooikoos (Uys) het ‘n permit gehad om witbrood te bak omdat oom Koos ‘n swak maag gehad het. As ons daar gaan kuier het, het ons skaars gesit of ons het gesê ons is honger, net om ‘n sny witbrood en plaasbotter te kon eet.

Die enigste foto van my as baba geneem op die dag van my doop.
Agter : Oom Dolfie Bosman met Jantjie, Tannie Meraai Strauss, Ouma Santjie, Ouma Magrietha Kok, Pa Eben met Sannie. Middel: Oupa Giel Uys. Ma Susan met my op haar skoot, Oupa Jan Kok. Voor: Ronnie en Mariet Bosman
Die feit dat ek in die oorlogstyd (Tweede Wêreldoorlog) gebore is, beteken dat daar feitlik geen fotos van my uit my kinderjare bestaan nie. Films was onverkrygbaar. Ek het net een foto van my as baba en dit is een wat geneem is die dag toe ek gedoop is. Dis ‘n familiefoto van al die familie wat by die doop teenwoordig was. Eie aan die hantering van babatjies in daardie jare is ek so toegedraai in ‘n kombersie dat daar van my gesig niks te sien was nie.
Ek was maar drie jaar oud toe ons van die plot af weg is en herinnering is maar baie vaag. Ek weet net dat Pa sy eie koeie op die plot gehad het. Ek onthou die stal waar hulle gemelk is. Ek onthou toe Uysie op 28 Februarie 1945 gebore is hoedat ek en Sannie op ons tone in die kamer ingesluip het om na die nuwe babatjie te gaan kyk wat in die gevlegte rottangwiegie gelê het. Vaagweg herinner ek my daaraan dat in een van die vertrekke in die huis ‘n kelder in die vloer was wat met ‘n valdeur toegemaak is. Ons was baie bang vir daardie donker gat en ons is seker maar gedreig dat ons daar toegesluit sou word as ons stout is.
Vredefort
In 1945 verander ons lewens totaal toe die bank Pa verplaas na Natal. Oupa Giel en Ouma Santjie het nie kans gesien dat hulle oudste dogter na die Engelse Natal moes verhuis nie en Pa neem die drastiese besluit om sy werk in die bank te bedank en saam met oupa te gaan boer. Dit sou beteken dat ons vir die volgende 16 jaar ‘n Oupa en ‘n Ouma in die huis sou hê. Dit sou uit die aard van die saak ‘n baie groot invloed op al drie ons kinders en op Pa en Ma hê.

Die huis op Leeuspruit waarin ek gebore is op 03 Mei 1942
Vredefort was ‘n tipiese plattelandse dorpie met al die nodige besighede. Joe Muller, Orkin en Teddie Tanchel was Joodse winkeleienaars terwyl daar ook ‘n Afrikaanse Handelshuis was. Die boere het hulle ko-operasie gehad (‘n tak van Sentraal Wes Ko-operasie) en verder was daar Bolnick Broers wat handelaars in plaasprodukte was. Daar was ‘n tak van elk van die bekende banke, Standard en Barclays, ‘n apteek en ‘n kafee of twee met ‘n paar motorhawens en ‘n slaghuis. Leo en Joss Boer was twee Hollanders wat ‘n kafee, Die Windmeul Kafee, op die dorp gehad het. Leo het die lekkerste vleispasteitjies gebak wat ons vir ‘n sikspens (5 sent) kon koop. Hulle Kafee en bakkery was die bymekaarkomplek en kuierplek van die boere van die distrik.
Vrydagmiddae het ons na skool daar gaan wag terwyl Pa of Ma vir Sannie op Parys by die koshuis gaan haal het. Terwyl ons daar gewag het kon ons ‘n vleispasteitjie eet en ‘n koeldrank drink.
Verder was daar ook die Springbok Kafee wat in die hoofstraat geleë was. Die Ottens het ‘n boekwinkel gehad en oom Thys de Wit, ‘n ingenieursbesigheid. Dan was daar natuurlik die spoorwegstasie wat die verbintenis met die buitewêreld was vir diegene wat oor geen ander vervoer beskik het nie. Die pragtige sandsteenkerkgebou van die Ned Geref Kerk was ‘n landmerk in my kleinkinderdae. die enigste kerkgebou op die dorp. Hervormers, Doppers en Apostolies moes Parys toe ry vir kerk. Die skool was die Chris van Niekerk skool en was ‘n gekombineerde laer- en hoërskool met ‘n gemengde koshuis wat deur die kerk opgerig en bestuur is.
‘n Oupa en ‘n Ouma in die huis
Om ‘n Oupa en ‘n Ouma elke dag in die huis te hê maak ‘n nuwe wêreld vir ‘n mens oop. Stories wat vertel word en dinge wat vir jou geleer word, maak ‘n onuitwisbare indruk. Ouma Santjie was ongemaklik groot en nie baie mobiel nie. Dit was my taak om elke aand as Ouma kamer toe gaan, haar skoene en kouse te help uittrek omdat sy dit nie meer self kon doen nie. Sy het ‘n stoel in die eetkamer gehad waar sy heel dag gesit het. Soggens as sy uit die kamer gekom het, het sy daar gaan sit. Smiddae na ete is sy kamer toe vir haar middagslapie daarna het sy weer haar plek kom inneem totdat sy na die aandete kamer toe is om te gaan slaap. Sy het nie meer baie uit die huis gegaan nie. As gevolg van haar groot gewig was dit baie moeilik vir haar om in ‘n motor te klim. Sy het ‘n spesiale kassie gehad waarmee sy in die kar in- en uitgeklim het. Op ‘n dag het sy ‘n operasie aan haar been gehad wat die dokter in die huis op die plaas kom doen het en daarna het sy nooit weer uit die huis gegaan nie. Die operasiewond aan die been het nooit genees nie en het bly dreineer tot en met haar dood. Waar sy gesit het, het daar altyd ‘n leë politoerblikkie onder haar been gestaan waarin die vog wat uit die wond gedrup het opgevang is. Die gevolg hiervan was dat een van ons kleinkinders altyd by die huis moes bly as Pa en Ma iewers heen gegaan het om vir Ouma te kon help. Die verbittering was darem baie groot as dit jou beurt was om Ouma en Oupa op te pas en jy sien hoe die motor met Pa en Ma en die ander twee kinders van die huis af wegry en jy bly droëbek alleen agter.
Hulle taalgebruik en stories het groot indruk gemaak. Die deel van die Vrystaat waar ons gewoon het, is die Riemland genoem. Heel moontlik was dit as gevolg van die baie wild wat daar in die vroeë jare in die gebied voorgekom het. Jagters het van oral gekom om te kom skiet. Van die vleis is biltong gemaak en die rieme is gebrei van die velle wat weer op die plaas gebruik kon word. Vandaar die naam Riemland. As dit lekker gereën het, het oupa altyd met sy hande agter sy rug op die stoep gestaan en met groot behae gesê : “Die Riemland kry reën. Die Riemland kry reën.”
In daardie jare het die boere, as dit so ‘n paar dae aanmekaar gereën het, gepraat van die drie-ag-dae reën of die geelperskereën. Dit was gewoonlik die tyd wat die geelperskes ryp geword het. Naby die huis was ‘n groot vrugteboord met perskes, appelkose, okkerneute, amandels en turksvye. In die somer, as die vrugte ryp geword het is daar perskes gedroog, konfyt gekook, smeerperskes gemaak en ook vrugte ingelê. Die geskilde perskes is op groot stellasies in die son gesit om droog te word. As die drie-ag-dae-reën geval het was dit ‘n groot kuns om die vrugte op die stellasies droog te hou en te keer dat dit nie muf nie.
Oupa het ook, as dinge soms vir hom verkeerd geloop het, met groot oortuiging gesê : “Voor in die wapad brand ‘n lig.”
Oupa was die een wat ons geleer het van Ou Sus Tolie se huis. Tant Kato Uys was ‘n tante van Oupa wat naby ons gewoon het en sy is deur familie en vriede as Sus Tolie aangespreek. Hulle huis kon van ons voorstoep af gesien word. In die aande as jy by die kombuisvenster uitgekyk het en die weerkaatsing van die kombuis met die lamp of kersligte in die venster gesien het, het Oupa altyd spottend gesê : “Kom kyk hoe lyk ou Sus Tolie se huis.” In ons onskuld was ons nogal bang vir die mense wat net soos ons gelyk het wat aan die ander kant van die venster gewoon het.
Uysie, die jongste van ons drie kinders, was oupa se eerste naamgenoot en dit het aan het hom ‘n baie gunstige posisie in die huishouding gegee. As ons stout was, was hy altyd die onskuldige een en ek en Sannie die skuldiges. Die ouer geslag was baie naamsiek. Na oupa Giel se dood het Uysie ‘n plaas geërf terwyl nie een van die ses ander kleinkinders iets gekry het nie. Daar was nog ‘n nefie wat ook ‘n naamgenoot van Oupa was, maar hy het een naam minder van Oupa gehad as Uysie. Oupa was Michiel Casparus Eksteen Uys. Uysie is gedoop Michiel Eksteen Uys Kok en Giel is gedoop Michiel Uys Strauss. Dat een naam nou tussen jou en ‘n erfporsie kon staan!
Een dag het ek en Uysie rusie gehad met mekaar. Die enigste verdedigingsmiddel wat ek in die hande kon kry, was die draadtang waarmee ons besig was om ons speel-plase te omhein. In my woede het ek hom met die draadtang in sy binneboud geknyp waar hy op sy knieë gestaan het om paaie op sy plaas te maak. Hy het sy toevlug tot Ouma geneem, ek dink Pa en Ma was nie by die huis nie. Ouma het my plegtig ingeroep en voor haar staan gemaak en amptelik die voorspelling gemaak dat ek nog eendag ‘n moordenaar sal word!
Ouma Santjie was ‘n nooi Rademan met die name Susanna Maria.

Ek en Sannie en Uysie saam met Oupa Giel en Ouma Santjie. Ek vermoed die Baba by Ouma is Sybrand Strauss
Hoewel niemand dit ooit gesê het nie, dink ek Oupa was ‘n redelike vermoënde man. So elke paar jaar het hy ‘n splinternuwe Ford gekoop om mee te ry. Oupa het net Fordkarre gery. Toe ons op die plaas gekom het was dit so ‘n swart Ford waarvan ek die model nie kan onthou nie. Ek vermoed dat dit so om en by ‘n 1944 model moes wees. In 1951 het hy so ‘n ligte groene aangeskaf en in 1959 so ‘n pragtige silwergryse.
Ouma kon die mooiste en die fynste hekelwerk en breiwerk doen. Min babatjies is in die familie gebore wat nie uit ouma se hand ‘n gebreide bababaadjie ontvang het nie. Sy het die fynste doilies gebrei en gehekel en ook ‘n paar tafeldoeke en teelappe. Ek self is in besit van so ‘n gehekelde teelap. As dit soms gebeur het dat haar wol of haar hekelgare gekoek het, kon sy met eindelose geduld die knope sit en loswoel. Ek dink nie ek het haar een keer wol of hekelgare sien afsny omdat sy ‘n koek nie kon loskry nie.
Ouma was maar redelik suinig en volgens haar sou dit geld mors gewees het om die gare af te sny. Sy het ons altyd vermaan om nie te mors nie. Haar lewensleuse was dat as jy ‘n vuurhoutjie spaar, jy eendag jou eie plaas kon koop. Lekkergoed wat sy persent gekry het, het sy nie maklik gedeel nie. Ook die biltong wat gemaak is as daar in die winter bees geslag is, het sy met groot sorgsaamheid opgepas dat dit nie te gou opgeëet moes word nie. Die gevolg was dat die lekkers, veral sjokolade naderhand kliphard was van ouderdom en die biltong was naderhand so droog dat dit nie meer met ‘n mes gesny kon word nie. Al hierdie lekkernye het sy onder in haar hangkas toegesluit waar ons dit nie kon in die hande kry nie.
Vir Ouma Santjie was uitdeel so swaar.
Op alles het sy altyd bespaar.
Sy’t een ding vergeet
dat haar kleinkinders weet
waar sy haar hangkas se sleutel bewaar.
Ons grootste plesier was om die sleutel van haar kas te steel en weg te lê aan die lekkers en biltong wat tussen die klere weggesteek is.
In die hangkas was so baie eetgoed,
weggesteek tot in die bol van die kerkhoed
Wie daar sou gaan soek
was ‘n uiterste kroek,
maar uiteindelik proe ons die heerlike soetgoed.
Ouma was ook bekend daarvoor dat sy alles en almal met ‘n ysterhand wou regeer. Sy was veral baie hard op die bediendes wat in die huis gewerk het. Daar waar sy in haar stoel in die eetkamer gesit het kon sy hoor as hulle te hardhandig in die kombuis met die skottelgoed gewerk het as dit gewas word. Die manier waarop sy haar stem verhef het om hulle te vermaan, was genoeg om enigeen tot orde te roep. Die storie word vertel dat sy eendag ‘n stoofyster op die kombuiswerker se kop krom geslaan het. ‘n Stoofyster was ‘n metaalstaaf waarmee die kole in die stoof geroer is.
Ouma Santjie moet jy nie liggies takseer nie.
Van geen duiwel het sy haar laat keer nie.
Slaan ‘n stoofyster krom
dat die meidjie net brom :
Oumiesies, sowaar, ek sal nie weer nie !
Ma en Ouma het elkeen hulle eie hoederboerdery gehad. Ouma het swart Austerlops gehad en Ma bruin New Hampshires. Vrydae is die eiers dorp toe geneem en by Bolnick’s verkoop. Met die geld is die week se kruideniersware by Joe Muller se winkel gekoop. By die huis gekom moes die koste van die inkopies tussen die twee huishoudings gedeel word. Tot op ‘n kwart pennie moes die geld verdeel word en dan het ouma natuurlik geweier om vir goed soos marmite te betaal, want sy en Oupa het nie marmite geëet nie. Uysie was versot op marmite. Dit was al wat hy ooit op brood geëet het. Joe Miller, die Joodse kruidenier, het gewoonlik die lysie van alles wat gekoop is agter op ‘n gebruikte koevert neergeskryf. Hy het een van die mees onleesbare handskrifte gehad en baie keer kon hulle nie uitmaak wat gekoop is nie. In so ‘n geval het Ouma geweier om haar deel te betaal, want sy betaal nie as sy nie weet waarvoor sy betaal nie. As die eiers op Vrydae verkoop moes word, is jy hoederhok toe gestuur om die laaste eiers te gaan uithaal sodat die eierkaste so vol as moontlik kon wees. Op ‘n dag het Ma vier eiers gekort om ‘n kas 9 (12 Dosyn) vol te maak. Ek is gestuur om die vier ontbrekende eiers te gaan soek. Ek was ‘n dromer. Ek het die verlangde aantal eiers in die neste gekry, maar op pad huis toe het ek geloop en sing en het die mandjie op die maat van my lied rondgeswaai. Nodeloos om te sê dat die vier eiers almal gebreek was toe ek by die huis aankom. Dit was die eerste keer wat ek my ma in trane gesien het oor vier gebreekte hoendereiers. Die feit dat die kas nie vol gemaak kon word nie, het beteken dat al die nodige kruideniersware nie die dag gekoop sou kon word nie.
Die verhouding tussen skoonouers en skoonseun was nie altyd van die wonderlikste nie. Pa was ‘n gereelde leser van Die Landbouweekblad en hy wou graag die kennis wat hy sodoende opgedoen het op die plaas gebruik. Hy het probeer om ‘n bietjie meer moderne landboumetodes toe te pas. Waar Oupa die mis uit die krale laat ry het om die lande te bemes, wou Pa kunsmis gebruik. Waar Oupa nog met osse gewerk het, wou Pa ‘n trekker koop. Dit het soms aanleiding gegee tot heftige rusies. Die rusies was baie ontstellend vir ‘n jong kindergemoed. Daar is baie hard met mekaar gepraat en Ma het gewoonlik midde in die rusie gestaan. Aan die een kant was dit haar ouers, maar aan die ander kant was dit haar man wat betrokke was.
So van osse gepraat. Ek onthou hoedat die afrikanerosse ingespan is. Hulle was so geleer dat elkeen by sy eie juk gaan staan en wag het dat die riem oor sy horings vasgemaak moet word en die juk op sy skof gesit moet word. Om jongosse te leer was geen maklike taak nie. ‘n Jong os is aan ‘n ou geleerde os gekoppel en hulle het vir dae so aan mekaar gekoppel in die veld rondgeloop. Sodra hulle ingebreek was is die jongosse vir die eerste keer ingespan. Vir so ‘n eerste rit met ‘n span jongosse is die slee gewoonlik ingespan sodat daar nie skade kon wees as die span ossies op loop sou sit nie.
Een dag was Pa behulpsaam met die inspan van die osse. Terwyl Pa besig was om die strop om die keel van die os vas te maak, het die os sy kop geskud en Pa met die punt van sy horing op die slaap getref. Toe Pa laatmiddag by die huis kom was hy heel deurmekaar en het die grootste twak gepraat. Toe hy vir ‘n stuk papier en potlood gevra het sodat hy kon skryf wat hy wou hê, het hy gevra vir pier en papotlood.
Rieme wat gebruik is, is op die plaas self gesny en gebrei. Hiervoor is die velle van die beeste wat elke winter geslag is gewoonlik gebêre. Vooraf is die vel eers vir ‘n paar dae in die sinkdam gegooi totdat die hare begin losgaan het. Dan is die hare sorgvuldig afgemaak en die vel al in die rondte in rieme gesny. Dan het die brei van die rieme begin. Oor ‘n stomp tussen twee bome is die rieme gedraai sodat daar lusse gevorm is tussen die stomp en die breiklip. Die breiklip was ‘n groot vierkantige klip waaraan daar ‘n gebuigde houtstomp (gewoonlik ‘n wag-‘n-bietjie stomp) met draad vasgebind is sodat dit ‘n soort van ‘n lus gevorm het. Die breipaal is dan deur die oog van die breiklip gesteek en die breier het die rieme opgewen deur al in die rondte te loop. Wanneer die rieme styf opgedraai was, is die breipaal uitgetrek en die rieme het teen ‘n hoë spoed afgewen. Die breipaal is dan weer ingesteek en die rieme in die teenoorgestelde rigting opgewen. So het dit vir dae aangehou totdat die rieme sag en buigbaar was. Intussen is die rieme met tussenposes met vet gesmeer om hulle sag en elasties te maak.
Die feit dat ons by Ouma en Oupa in die huis gebly het, het ook beteken dat hulle familie, waarvan baie in die distrik gewoon het aa ons baie bekend was. Oupa Giel en Ouma Santjie het albei uit gesinne van tien kinders gekom. Oupa se broers en susters was Org, Jim, Jan, Piet, Koos, Sankie, Nelie, Dina en Miem. Ouma se gesin het bestaan uit Kowa, Nelie, Annie, Sarah, Freek, Lourens, Chrisjan, Boy en Attie. Van Oupa se broers het oom Jan, oom Piet en oom Koos in die distrik op buurplase gebly terwyl oom Jim en oom Org al twee naby Parys gewoon het. Oupa se jongste suster, Tant Dina, getroud met Andries (Paaltjies) Wessels het naby Edenville gewoon. Tant Nelie was getroud met oom Isak Cronjé van Reismierbult naby Ventersdorp en tant Sankie was getroud met oom Ben Vermaas van Fochville.
Oom Ben Vermaas was een van die karakters van die familie. In die dae toe almal nog tradisioneel aan een van die drie susterskerke behoort het, was dit ongehoord om aan ‘n Pinksterkerk te behoort. En as jy dan van die een kerk na die ander geswerf het en uiteindelik jou eie huiskerk gestig het, kon jy maar weet hy en tant Sankie was die onderwerp van menige gesprekke aan etenstafels en waar die familie by mekaar gekuier het. Die storie word vertel dat hy pynlik netjies was en elke keer as hy sy motor in die motorhuis ingetrek het, hy die vloer deeglik gevee het om al die sand en stof wat ingetrap is deur die wiele, uit te vee en skoon te maak.
Daar word ook vertel dat hy eendag ‘n openbaring van die Here ontvang het dat hy soos Elia van die Bybel lewendig sou opvaar na die hemel. Oom Ben het met perde geboer en hy span toe die perde voor die kar, neem plegtig afskeid van sy familie en toe steek hy die perde onder die sambok. Toe hulle vol spoed was, het hy gespring met die idee om dan op te vaar na die hemel. Nodeloos om te sê dat oom Ben se hemelvaart in die hospitaal geëindig het. Pa het ewe droogweg daarop kommentaar gelewer en gesê as oom Ben liewer op die windpomp geklim en gespring het, sou hy dalk in die hemel gekom het.
‘n Ander storie is dat hy eendag op die stoep gestaan het. Dit was bitter droog en in die verte was daar ‘n wolk wat baie belowend gelyk het vir reën. Oom Ben het met groot gebaar en swaai van sy arms uitgeroep, “Kom hiernatoe! Kom hiernatoe!” Die wolk het inderdaad in die rigting van sy plaas begin trek, maar toe sien oom Ben dat dit lyk of daar hael in die wolk kan wees en sy koringoes was gereed om gestroop te word. Met ewe veel entoesiasme en dringendheid het hy toe begin skree: “Trek verby! Trek verby!”

My fris boerevoorste. Oupagrootjie Piet Rademan met sy vyf dogters. Voor: Annie (Crause) en Santjie (Uys). Agter: Sarah (Smit), Kowa (Marx) en Nelie (Schoeman).
Van ouma Santjie se familie het oom Freek, oom Lourens, Oom Attie, tant Kowa en tant Nelie in die omgewing gewoon. Tant Sarah is met oom Ben Smit getroud en hulle het in die distrik van Piketberg in die Boland geboer. Oom Chrisjan was met oupa Giel se suster, Miem, getroud en hulle het op die plaas Blouwildebeesput in die Sannieshofdistrik geboer. Oom Boy was ‘n amptenaar van die poskantoor en het in Grahamstad gewoon en was eintlik vir ons ‘n onbekende. Die ooms en tantes met hulle gesinne wat so na aan ons gewoon het, was ons geselskap en speelmaats. Pa het geen familie in die distrik gehad nie en sy mense was eintlik vir my vreemdelinge. Eintlik was Pa geen familiemens wat behoefte gehad het om met sy mense kontak te behou nie. In my matriekjaar het Oupa Giel en Ouma Santjie hulle gouebruilof gevier. Dit was ‘n familiefees en ‘n jolige affêre. Hettie Rademan het die troukoek gemaak. Bo-op die koek was ‘n bruid en bruidegom uit versiersuiker gemodelleer. Sy het meesterlik daarin geslaag om Ouma en Oupa getrou na te boots. Dit was die eerste en die enigste keer wat ek gesien het dat Pa so ‘n bietjie te lekker saam met die skoonfamilie se neefs gekuier het.
Kind wees op die plaas.
Dat Leeuspruit en Vredefort my grootwordplekke geword het, was vir my net goed. Eintlik sou ek dit vir niks anders in die lewe wou verruil nie. Ek het grootgeword in die tyd toe dit nog gebruiklik was dat daar vir jou van tyd tot tyd ‘n kalf of ‘n lam ge-oormerk is. Die aanteel van so ‘n dier was joune en as so ‘n dier geslag of verkoop is was die geld daarvan joune. Sou die dier vrek en die vel word later verkoop, is die geld ook vir jou gegee. Die merk om my vee van ander uit te ken was ‘n regteroor swaelstert en linkeroor halfmaantjie van agter. Hoe trots was jy nie as jy tussen die beeste of skape geloop het en jy die diere met jou merk aan hulle ore gesien het nie.

Linkeroor swaelstert en regteroor halfmaantjie van agter. Die merk wat jou beeste en skape jou eie gemaak het
Kinderlewe op die plaas was ongekompliseerd. Ek dink nie geld was baie volop nie, maar ons het nooit enige gebrek gely nie. Vars vleis, melk, eiers, botter, room, groente en vrugte was ons daaglikse voedsel. Is dit dalk hoekom dit deesdae so moeilik is om die cholesterol in toom te hou. Ek kan onthou dat ons party oggende voor skool room in plaas van melk oor ons pap geëet het. Die plaas was ons speelplek. Die bloekombos naby die huis het gevoel soos ‘n ontsaglike woud waar drake en baie ander gevare geskuil het. Die hoop mielieblaar waar die mielies gedors is, het gesorg vir baie vermaak. Wanneer die hoop blare nadat die mielies gedors is, so ‘n bietjie vasgesak het, het ons tonnels in die hoop gegrawe waarin ons kon wegkruip. Niemand het ooit gedink aan die gevaar van ?n tonnel wat op jou kon inval en dat jy onder die blare kon versmoor nie. Na so ‘n paar uur se speel in die mielieblare was dit ‘n pyniging om saans in ‘n bad water te klim. Dit het gebrand soos vuur. Daarvoor was daar ook raad. Gesmelte kersvet en paraffien is op die brandplekke gesmeer om die brand uit te trek. Die hele nag het jy die gerusstellende reuk van kersvet en paraffien geruik en geweet môre is nog ‘n dag van pret in die mieliehoop.
Mielies dors was ‘n heel ander proses as die hedendaagse stroop van lande. Elke mieliekop is met die hand in sakke met die hand gepluk. Die vol sakke is in rye in die land gelaat en dan met die trekker of die osse en sleepwa aangery na die dorsplek naby die bloekombos. Om so ‘n wa met gevulde sakke mieliekoppe te pak, was nogal ‘n ingewikkelde saak. Die sakke moes in verband gepak word om te verhoed dat die vrag afval as die wa om ‘n draai gaan. Op die dorsvloer is die mieliekoppe in ‘n hoop uit die sakke geskud. As al die mielies uitgery was, het Salmon Rautenbach met sy dorsmasjien gekom en is die mielies in die dorsmasjien gegooi. By die bek van die dorsmasjien is die streepsakke met die mieliepitte volgemaak en geweeg en in rye gepak vanwaar dit weggery is na die ko-operasie om verkoop te word.
Om met so ‘n dorsgeleentheid te help was enige plaaskind se droom. Daar was verskillende takies wat jy kon verrig. Jy kon by die skaal help om die sakkie mielies op die regte gewig te kry. Elke sak moes 203 lb geweeg het. Die inhoud van die sak was 200 lb en die sak het 3 lb geweeg.

Oupa Giel en Ouma Santjie saam met hulle 7 Kleinkinders. Sannie, Sybrand, Uysie, ek, Santjie, Giel en Marietjie.
‘n Ander lekker werkie was om te help om die sakke wat klaar geweeg is weg te sleep na die plek waar hulle toegewerk is. Daarvoor is ‘n stok gebruik waaraan daar twee hake was. Die stok is dan in die streepsak gehak. Twee persone het dan weerskante van die stok getrek tot op die bepaalde plek. En bewaar jou siel as daar van die mielies uit die sak gemors is wat klaar geweeg was. ‘n Ander lekker werk was om sakke toe te werk. Met ‘n seilnaald en seilgare is die sak netjies toegewerk. Dit was nogal ‘n groot kuns, want aan die punte moes die sak twee oortjies soos ‘n vark hê en die steke moes nie te groot gewees het nie, anders het die mielies uitgeloop as die sakke opgestapel is.
Daar was twee damme op die plaas. Die een naaste aan die huis was die gewilde speelplek. Naby die dam was daar taamlike diep erosieslote. Daar het ons met ons visblikwaentjies soos die Voortrekkers van ouds oor die Drakensberge getrek na ?n nuwe onbekende land. Daar het ons krappe in die wal uitgegrawe en die wyfiekrappe se beursies onder hulle pense oopgemaak om te sien hoe die klein krappies wemel en krioel. Daar het ons ook met ‘n riet en ‘n stukkie lyn en ‘n gebuigde kopspeld probeer visvang.
In die dam verste van die huis af, die nuwe dam – het Pa ons geleer swem. Met ‘n 5-gallon paraffienblik onder die ken vasgeknyp, moes ons swem dat dit bars om aan die ander kant van die dam uit te kom. Swemklere was daar nie – dalk was daar nie geld voor nie. Ons seuns en Sannie kon dus nooit saam swem nie, want dit sou alle grense van welvoeglikheid oorskry het.
Baie naby aan die huis was ‘n rietbos wat vir baie vermaak gesorg het. Die swart seuns het ons geleer om rietpype te maak en omdat Pa altyd perde gehad het, was dit ons bron van rookgoed – rietpyp en perdemis. Geen wonder dat ek nooit geleer rook het nie, want dit was darem nie lekker nie! Die rietbos en die bloekombos was ook van die plekke waar oupa Giel saans sy laaste draai gaan loop het voor hy gaan slaap het. Ek was al in st 4 toe ons eers ‘n spoeltoilet in die huis gekry het, maar Oupa het tot sy dood toe verkies om sy dinge liewers buite die huis as in die huis te doen.
Oupa Giel piepie graag in die rietbos.
Dié gewoonte sou hom amper ‘n broek kos,
want die hen op haar nes
skrik haar uit haar gewes
toe hy naby haar ‘n klipharde poep los.
Die plaashuis het net drie slaapkamers gehad. Oupa en Ouma het die een kamer beset, Pa en Ma die tweede kamer en ek en Sannie moes aanvanklik ‘n kamer deel. Uysie het tot op ‘n redelike groot ouderdom by Pa en Ma in die kamer geslaap. Toe ek die jaar skool toe is, is ek na die stoepkamer uitgeskuif, want ons was toe te groot om ‘n kamer te deel. Oor die kwessie van seuns en meisies en verskillend geslagte het ons ouers baie streng beginsels gehad hoewel hulle nooit met ons daaroor gepraat het nie. Ons is onder andere geleer dat seuns nooit by dogters in hulle kamers kom nie, en ook andersom. Selfs toe ek as jong man later in Pretoria in die Jeugsentrum gebly het, het die meisies op die eerste drie vloere gebly en die mans op die boonste drie vloere. Ons was nie toegelaat om in die meisies se kamers te kuier tensy die deure oopgestaan het nie. Het hulle jou gevang dat jy by ‘n meisie in ‘n kamer kuier agter ‘n toe deur, het hulle nie geskroom om jou onmiddellik kennis te gee om die Jeugsentrum te verlaat nie.
Die skuif na die stoepkamer was vir my jong gemoed ‘n geweldige probleem. Ek was doodbang vir die alleen slaap in die stoepkamer en as die wind snags deur die bloekombos gewaai het, het ek allerhande spoke gesien en gehoor en het dan sommer ‘n tandpyn ontwikkel net om by Ma en Pa in die kamer te gaan slaap.
Die Boskamp, soos die stuk weiding aan die ander kant van die Viljoenskroonpad bekend gestaan het, het aan ons verbeeldings vrye teuels gegee. Daar was die graf van die Engelsman. As ek reg onthou was dit ‘n ou rondloper wat daar oorlede is en daar in ‘n vlak graf begrawe is. Vir baie jare was die vlak graf nog sigbaar aan die kant van ‘n spoelsloot. Toe sy graf deur die reën oop gespoel is, is daar silwer eetgerei by hom in die graf gekry.
Die boskamp was ook die plek waar ons met jakkalsjag kennis gemaak het. Jakkalse was ‘n groot pes vir die skaapboere en van tyd tot tyd is daar ‘n jakkalsjag gehou. Op so ‘n dag het al die boere met hulle gewere en hulle swart werkers en die honde bymekaar gekom. Die boere het teen die rant stelling ingeneem en die swart mense en hulle honde is so ‘n paar kilometer van daar af afgelaai waar hulle in ‘n linie uitgesprei het en dan die honde losgelaat het. So ver as wat die werkers geloop het, het hulle geskreeu en lawaai om die jakkalse uit hulle skuilplekke te verdryf en soos wat die jakkalse dan voor die lawaai gevlug het, het die boere hulle afgemaai. Ek onthou nou nog die aardige reuk van ‘n jakkals wat vir sy vel afgeslag is. Dit is ‘n stank wat ek nog nooit weer in my lewe geruik het nie. ‘n Knipmes wat gebruik is om ‘n jakkals mee af te slag kon jy nooit weer vir iets anders gebruik nie, want jy kon nooit van die reuk van die jakkals aan die mes ontslae raak nie.
Speel was ‘n baie belangrike deel van ons grootword. In die agterplaas het ons plase uitgelê waar ons met ons karretjies gespeel het en waar ons geboer het. Ons karretjies was ons kosbaarste besittings. Op die plase is huisies gebou en drade gespan. Ou stukke draad is gebruik om hekke te maak. Jy was nooit toegelaat om nuwe draad uit die skuur te gebruik nie, want dit was geldmors.
Ons was nog baie jonk toe Pa eendag ‘n klein springbokkie op Stillehoogte gevang het. Die bokkie het die naam van Pietman gekry en is met ‘n bottel hans grootgemaak. Pietman was soos ‘n kind in die huis, maar nie baie lief vir die grootmense op die werf nie. Om sy eie domein af te baken het hy astrant begin word en as ‘n volwassene dit buite gewaag het, het hy met sy horings probeer om sy gesag af te dwing. Terwyl ons eendag dorp toe is, het hy vir Ma in die hoenderhok vasgekeer toe sy gaan eiers uithaal. Sy moes op ‘n nes in die hoenderhok bly sit totdat ons van die dorp af teruggekom het en een van ons kinders Pietman kon oorreed om Ma met rus te laat. Eers is Pietman se horings afgesaag om te kyk of dit nie sy aggressie sou in toom hou nie. Pietman se uiteinde was die slagmes. Groot was ons kinders se ontsteltenis toe ons eendag van die skool af kom en Pietman se karkas hang by die slagplek onder die boom. Seker nie nodig om te sê dat ons nie van daardie biltong geëet het nie.
Omdat die boerdery ‘n gemengde boerdery was, het ons met diere en dieremaats grootgeword. Beeste, skape, perde, varke hoenders, kalkoene, eende en makoue was nie vreemd nie. Op ‘n stadium het ‘n varksog kleintjies gehad, maar vir die een of ander rede wou sy nie haar kleintjies laat drink nie. Die drie varkies is met die bottel op die werf grootgemaak. So ‘n hans varkie word baie mak, maar ook baie stout. Hulle neem hulle mense-ma aan wat verantwoordelik is vir hulle kos en as ons op die plaas rondgeloop het, het die drie varkies oral agter ons aangeloop. Die hartseer was groot as so ‘n mak vark te groot geword het om in die agterplaas te bly, dan moes hy terug na die varkhokke om dalk eendag geslag te word of aan die slagter verkoop te word.
In daardie dae was dit nie ongewoon dat beeste in die winter so maer geword het dat hulle later nie meer kon loop nie. So ‘n maer bees is dan na die werf toe gebring waar die dier elke dag opgetel moes word om te staan om te kan vreet. Dit was nogal ‘n kuns om so ‘n maer, verswakte bees op te tel. Sakke is onder die dier ingeskuif en ses mans het aan die sakke opgetel totdat die dier op sy eie bene gestaan het. As so ‘n bees nie meer op sy eie bene kon staan nie, is vier pale ingeplant en die sakke aan die pale vasgemaak om dan soos in ‘n hangmat te hang en te staan.
‘n Wees- eendjie wat ook by die kombuis grootgemaak is, het soos ‘n kind in die huis ingeloop en hom baie maklik in die potterak tuis gemaak. Ek het ‘n visblikwaentjie gehad met ‘n stuk tou aan en aan die punt van die tou was ‘n houttolletjie vasgebind. Die eendjie het gedink die tolletjie is ‘n lekker pit om te eet en die tolletjie met die tou ingesluk. Dit was nogal ‘n vreemde gesig om die eendjie te sien loop met die tou wat by sy bek uithang en sodoende het hy die waentjie al agter hom aangesleep. Die enigste uitweg was om die toutjie by sy bek af te knip sodat hy dit kon insluk.
Wintertyd was die lamtyd van die skape. In droogtejare het dit baie gebeur dat die ooie nie melk gehad het vir hulle lammers nie. Sulke lammers is dan as hanslammers by die kombuisdeur grootgemaak. As ‘n ooi nie melk gehad het nie, wou hulle nie hulle lammers toelaat om aan hulle te drink nie. So ‘n ooi is dan vasgemaak aan ‘n paal en ek het baie gesien hoedat oupa Giel die ooi met ‘n stok geslaan het totdat sy stilgestaan het sodat haar lammetjie kon drink.
As ‘n lammetjie vir die een of ander rede gevrek het en die ooi het baie melk gehad, het sy ‘n ander lammetjie gekry om groot te maak. Die dooie lammetjie is afgeslag en sy vel is oor die ander lammetjie getrek en vasgebind. Die geloof was dat die ooi dan haar eie lammetjie se reuk aan sy velletjie geruik het en die vreemde lam toegelaat het om te drink

Sannie as klein dogtertjie met ‘n hanslam wat aan ‘n bottel drink
Ek was van kleins-af ‘n dromer wat kon wegraak in my eie wêreld van drome en fantasieë. Toe daar ‘n spoeltoilet in die huis ingesit is, is die put van die buite-toilet opgevul en is die geboutjie ingerig as ‘n gereedskapkamer vir Pa. Daar is al sy gereedskap mooi ordelik in rakke gepak en teen die mure gehang. Die kamertjie was nie baie naby aan die huis nie en as Pa in die motorhuis by die huis gewerk het, het hy jou gewoonlik gestuur om die stuk gereedskap wat hy nodig gehad het te gaan haal. As ek die slag gestuur is, het ek op pad na die kamertjie so my eie drome geloop en droom dat ek, teen die tyd wat ek daar gekom het, nie meer geweet het wat ek moes gaan haal nie. Die enigste uitweg was dan maar om terug te loop en te sê dis nie daar nie. Pa het hom gruwelik vererg en het dan kruppel-kruppel gestap na die kamertjie en sy hand onmiddellik gelê op die stuk wat jy moes gaan haal het.
Omdat daar nie sulke moderne tegnologiesse wonders soos TV was nie, was saans kuiertyd. In die somer het ons teen sononder in die aande gaan stap, Pa, Ma en ons drie kinders. Ons grootste pret was om te kyk wie die eerste aandblommetjie kon sien en pluk. Aandblommetjies was ‘n klein struikie wat ongeveer 15 cm hoog gegroei het en wat ‘n spierwit bommetjie van ongeveer 5 cm gedra het wat eers oopgegaan het as die son onder gaan. In die vlei onderkant die huis het ook vingerpolle gegroei. Dit was ‘n tipe van vetplant wat in ‘n sirkel op die grond gegroei het, niks meer as 1 tot 2 cm hoog nie. Die pret het daaruit bestaan om met ‘n skerp voorwerp oor die vingerpol te trek en dan het die spierwit sap van die plant in die vorm van die patroon wat jy geteken het, te voorskyn gekom. In die veld het ook klappers gegroei. As die klappers ryp geword het, het jy die pit uitgehaal en die droë pit onder jou tong gesit. Na enkele sekondes het die pit onder jou tong met ‘n taamlike knal ontplof.
Die lekkerste was natuurlik as dit gereën het en jy gaan stap na die reën in die veld. Omdat ons nooit skoene gedra het nie, was dit lekker om in die voetpaadjies wat die beeste in die veld getrap het te stap en die milddadigheid van die lewegewende water onder en oor jou voete te voel spoel.
Spaar ‘n vuurhoutjie en koop ‘n plaas
Soos enige ander kind het ons ook behoefte gehad aan ?n ou sakgeldjie. Om dit te verdien het ek Ma se hoederhokke skoongemaak. Dit het beteken dat al die mis van die sementvloere met ‘n graaf afgespit moes word en dan moes dit met ‘n besem gevee word en daar moes nuwe gras in die neste gesit word. Die gras vir die neste moes in die veld bymekaar gemaak word. Met’ ‘n hark moes die graspolle in die veld gehark word en die gras dan in die neste geplaas word. Van tyd tot tyd moes die stellasies geverf word om die hoenderluise weg te hou. Vir hierdie werk het ek die reuse bedrag van 1 sjieling (10 sent) in ‘n maand gekry.
‘n Ander manier waarop ons geld bymekaar gemaak het, was om wol en bene te verkoop. Ons het ons omtrent moeg geloop agter die skaaptrop aan waar hulle tussen die doringbome gewei het. Ons het elke pluisie wol wat aan ‘n doringtak of ‘n doringdraad bly sit het, afgehaal. As die suikersakkie vol was, is dit Vrydae op die dorp by Bolnick’s verkoop saam met die week se eiers. Ek kan nie onthou wat ons vir so ‘n sakkie wol gekry het nie, ook nie wat ons vir ‘n emmertjie bene gekry het nie. Dit is alles per gewig verkoop. Elke been waarop ons ons hande kon lê is bymekaargemaak. Die arme plaashonde het nooit die voorreg gehad om aan ‘n been te kou nie, want dit is voor hulle neuse weggeraap om verkoop te word.
Toe Pa begin grondboontjies plant het, het hy elke jaar vir ons kinders van die sakke “splits” gegee. Dit was van die swak gehalte boontjies wat uit die grondboontjiedopper gekom het. Hierdie splits het ons dan sorgvuldig met die hand uitgesoek om hoë gehalte grondboontjies te kry wat dan vir ons verkoop is.
Vakansies weg van die huis af
Die kere wat ons van die huis af weg is om vakansie te gaan hou, kan ek op die vingers van een hand tel.
Die jaar voor ek skool toe is, 1948, is ons as gesin almal saam Kaap toe. Dit was die eerste keer in my kort lewetjie wat ek so ver van die huis af was. Ons het eers by oom Ben en Tannie Sarah Smit (Ouma Santjie se suster) in Piketberg gekuier en toe by Oom Johnny en Tannie Lulu Theart in Rondebosch in Kaapstad self. Tannie Lulu was pa se niggie wie se ouers dood is toe sy nog baie klein was en sy en haar broer, John, het toe by oupa Jan en ouma Magrietha in die huis groot geword. Hier in die Kaap was ek op sesjarige ouderdom vir die eerste keer in ‘n bioskoop. Al wat ek kan onthou was dat daar iewers in die fliek ‘n trein aangejaag gekom het en ek het met groot vrees gesit en wag het dat die trein bo-oor ons moet ry.

Sannie, Uysie en ek by die Vuurtoring by Kaappunt met ons besoek in 1948.
In 1952 het ons vyf vir die heel eerste keer in my lewe alleen as gesin gaan vakansie hou. Pa het ‘n karavaan by Oom Thys de Wit gehuur. Oom Thys was die eienaar van die ingenieurswerke op Vredefort en hy het die karavaan self gebou. Met die karavaan en die blou Chef is ons na Winklespruit aan die Natalse Suidkus. Dit was die eerste keer dat ek regtig bewus geword het van die reuk van die see. Vandag nog as ek daardie reuk kry, word ek weer die st 2 seuntjie wat vir die eerste keer by die see vakansie hou. Tydens ons verblyf by Winklespruit het Pa twee handgemaakte stoele gekoop wat vandag nog op my stoep staan. Hy het ‘n hele halfkroon (25 sent) vir elke stoel betaal. Ek het ook vir myself ‘n kierie vir een en ses (15 sent) gekoop wat vandag nog in my besit is. In Daardie jaar by die see het ons ‘n sjieling (10 sent) vir ‘n dosyn piesangs betaal. Toe ons terugkom van die see af, het die donker ons die aand naby Volksrust gevang net toe ons oor die berg was. Woonwaparke was in daardie jare nog ‘n onbekende, en pa het die karavaan net daar langs die nasionale pad van die pad af getrek en daar het ons geslaap. Pa, Ma en Sannie in die karavaan en ek en Uysie in die motor. Daardie nag het die wind gewaai soos ek nog nooit die wind gehoor waai het nie. Die wind het die motor en die karavaan geruk asof hy dit wou omgooi. Ek dink nie die vrees wat ek vir die wind gehad het toe ek uitgeskuif is om in die buitekamer te gaan slaap, kon ooit by die vrees kom wat ek daardie nag vir die elemente gevoel het nie.
Die volgend vakansie sou eers in my st 9 jaar wees. Ons is weer Suidkus toe maar hierdie keer het ons in ‘n Chalet tuisgegaan by Banana Beach. Ma se niggie, Myra en haar man Cecil Webb en hulle twee kinders Mike en Miemie het saam met ons vakansie gaan hou.
Die feit dat ons so selde van die huis af weg gegaan het, was as gevolg van Ouma en Oupa in die huis wat nie alleen kon bly nie.

Die Blou Chef waarmee ons in 1952 die woonwa Winklespruit toe gesleep het.

Met vakansie by Bananabeach. VLNR : Cecil, Miemie, Myra en Mike Webb, Sannie, Ma het ek en Pa. Ek vermoed Uysie het die foto geneem. Let tog op die das van Cecil op vakansie geddra het. Ek en Uysie roei saam met maats op ‘n boot in die Riviermond. Ek dink hulle was Opperman.
Politiek en Rasseverhoudinge
In 1947, twee jaar voor ek skool toe is het die Britse Koningsgesin Suid Afrika besoek op uitnodiging van die Eerste Minister, Genl Jannie Smuts. So klein soos ek was, het ek ‘n groot belangstelling in dié koninklikes gehad en het elke foto wat in tydskrifte en koerante verskyn het sorgvuldig uitgesny en gebêre. My hart was baie seer toe die Strausse met ‘n skoolvakansie op die plaas kom kuier het en oom Sypie my baie duidelik laat verstaan het dat ‘n ware Afrikaner nie foto’s van die Engelse koningsgesin bymekaarmaak nie. Op daardie stadium het ek niks verstaan van die haat teenoor die Engelse en van die gevoel van verontregting oor wat die Engelse die Boere aangedoen het in die Anglo Boereoorlog nie. Ek was baie ontsteld toe hy my foto’s in die stoof gedruk het om te verbrand.
Ek het reeds gesê dat ek gebore en grootgeword het in die tyd dat die Nasionale Party met sy Apartheidsbeleid aan bewind was in ons land. Ek is skool toe die jaar nadat die Nasionale party aan bewind gekom het. Swart mense het hulle eie plek gehad. Die lone waarvoor hulle gewerk het was karig en as hulle oortree het, is daar op ‘n harde manier teenoor hulle opgetree. Slae was nie uitgesluit nie. Ek onthou hoedat pa een aand by die melkstal een van ou Maarman se jong seuns met die vuis bygekom het omdat hy dronk opgedaag het om te kom melk. Terug by die huis het hy met ‘n groot klip in die hand die huis ingestorm om pa met die klip te kom doodslaan.
Swart mense was nie toegelaat om sonder ‘n pas êrens heen te gaan nie. As hulle die plaas verlaat het, moes hulle in besit wees van ‘n skriftelike toestemming van die boer. Ek het baie sulke passe moes uitskryf : “Hiermee gee ek toestemming aan Elias om dorp toe te gaan.” Sou hulle ‘n bees of ‘n skaap of ‘n bok êrens heen neem, moes dit op die pas vermeld word. Ook as hulle enige landbouprodukte by hulle gehad het of selfs net die vel van ‘n bees of skaap by hulle gehad het, moes dit op die pas vermeld word. Sonder so ‘n pas kon hulle deur die polisie gevang word en in die tronk gestop word.
Oor naweke was dit gebruiklik dat die swart mense vir hulle bier gestook het uit ‘n brousel van suurdeeg en uitloop. Om bier te maak moes hulle die skriftelike toestemming van die eienaar van die plaas hê. Ook hierdie toestemmings het ek baie geskryf : “Hiermee gee ek toestemming vir Sara om 5 gallon bier te maak.” Hulle was toegelaat om 5 gallon bier per huishouding te maak. Van tyd tot tyd het die polisie oor naweke van plaas tot plaas gery om patrollie te ry en klopjagte te doen. Die swartmense het die bier wat te veel was op die onmoontlikste plekke weggesteek. Hulle het selfs die kanne gebroude bier in erdvarkgate weggesteek. Gebrek aan toestemming om bier te maak, was ook strafbaar met tronkstraf of ‘n boete.
Ons is nooit toegelaat om in die huise (strooise soos dit in daardie jare genoem is) van die swart mense te kom nie. Dit was verbode terrein.
Twee swart mense het veral op my ‘n baie groot indruk gemaak. Ou Maarman het saam met pa van Koppies af verhuis plaas toe. Hy was die enigste van die swart werkers wat donkies aangehou het en met ‘n donkiekar gery het. Hy was ook die enigste een wat boerbokke aangehou het. Die donkies en die boerbokke was dikwels die bron van rusie tussen hom en Pa. Sy kinders was ons ouderdom en ons speelmaats.
Op Stillehoogte het Willemiena gebly. Sy het van tyd tot tyd in die kombuis kom werk op Leeuspruit. Haar huis was skitterskoon en dit was ook die enigste stroois waar ons toegelaat was om in te gaan en te gaan water drink as ons op Stillehoogte was.
Plaashekke
Plaashekke is deel van enige plaaskind se grootword ervaring. Hekke wat oop gelê het, het tot baie kwaaivriendskappe en onenighede tussen bure aanleiding gegee. Plaashekke was nie altyd van die mooiste en beste nie. In die meeste gevalle was dit draadhekke wat in die volkstaal bekend was as bekslaners of smoelneukers. So ‘n bekslaner was van draad gemaak met vertikale sparre oor die lengte van die hek gespasiëer. Aan die toemaakkant van die hek wa ‘n hout aan ‘n ketting wat jy om die eindspar van die hek geswaai het en dan het jy ‘n draadlus oor die hout gehak om te verseker dat die hek toe bly. Glip die lus oor die hout los moes jy weet so jy ‘n harde hou op jou smoel gekry het! As iewers heen gery is, moes iemand die hekke oopmaak. Hek oopmaak is as ‘n vreeslike harde werk deur ons kinders beskou en daar was altyd ‘n bakleiery oor wie se beurt dit is om die hek oop te maak. Maak nie saak watter skemas uitgewerk is nie, daar was altyd onenigheid oor die liewe hekke en iemand was altyd die verontregte. Besluit ons om om die beurt die hekke oop te maak, stry ons as ons by ‘n hek kom wat oopstaan. Dan kan ons nie ooreenkom of dit die een se hek is wie se beurt dit is om die volgende hek oop te maak nie en of die hek maar net oorgeslaan moet word nie. Besluit ons dat een met die soontoegaan oopmaak en die ander een met die huistoegaan, stry ons as daar met ‘n ander pad gery word met die huis toe gaan, want dan het die een pad dalk meer hekke as die ander pad en dan word die een bo die ander bevoordeel.

Ek staan by die plaalhek naby die huis op Leeuspruit
Tuinmaak
Ek was van kleins af lief vir tuinmaak. Elke pit wat ek my hande op kon lê en elke plantjie en saad wat ek êrens kon bedel, het ek geplant en vertroetel. Om rotstuine en visdammetjies te bou het my oneindig plesier verskaf. Sondae was dit vir my een van die lekkerste dinge onder die son om van al die blomme wat in blom was te pluk en in elke hol ding wat in die huis was te druk. Pronkertjies, renonkels, anemone, leeubekkies, afrikaners jakobregops en papawers het floreer in die tuin op Leeuspruit. Later toe Pa en Ma Stillehoogte toe getrek het, kon ek my uitleef in die uitlê van die nuwe tuin, die bou van stoepe en ‘n braaiplek en ‘n visdam.
Hok toe (Skool toe)
Skoolgaan was ‘n geesverrykende ervaring. Op Vredefort was daar net ‘n gemengde koshuis en Pa en Ma wou nie dat Sannie, toe sy moes skool toe gaan, met die bus moes skool toe ry of na die gemengde koshuis op Vredefort gaan nie. Hoe beskermend kon ouers tog nie in daardie jare teenoor hulle kinders wees nie! Op die plaas was daar ‘n swart plaasskool waar die plaaswerkers se kinders skoolgegaan het. Edmund en Rebekka Rani was die skoolhoof en sy assistent. Pa en Ma het nie kans gesien dat Sannie op sewejarige ouderdom koshuis toe gaan nie en soggens het Sannie haar tassie gepak en na hulle skool toe gegaan waar sy die basiese beginsels van lees en skryf geleer het. Toe sy op agt moes skool toe gaan, is sy na die koshuis op Parys waar van die ouer kleinniggies oor haar ‘n ogie kon hou. Omdat sy so laat eers skool toe is, het sy Sub A en Sub B in een jaar gedoen.
Toe ek skool toe is in 1949 moes ek bus ry. Die busstop was ongeveer 2 ½ myl van die huis af. In 1951 het Pa ons een middag na skool opgelaai huis toe en ons het nie bus gery nie. Die volgende oggend het ons tevergeefs op die bus gewag. Ons merk toe later dat daar stukke hout op die gras langs die pad lê wat dieselfde kleur was as waarvan die bus gemaak was. Ja, die bus was op die onderstel van ‘n lorrie gebou en die busgedeelte was van hout gemaak. Dit blyk toe dat die bus die vorige middag in ‘n ongeluk betrokke was toe hy afgedraai het. Net een van die kinders, Felix van Tonder, het ‘n been gebreek, maar verder was almal ongedeerd.
My eerste juffrou was Vuurhoutjie Fourie – Vuurhoutjie as gevolg van haar lengte wat regtig nie baie meer as die van ‘n vuurhoutjie was nie. Dit is aan haar dat ek die naam Kokkie te danke het. In ons sub A-klas was daar nie minder as vier Janne nie, Jan natuurlik genoem na Oupa Jan wat die sendeling op Heilbron was. Ons was Jan Kok, Jan van Huyssteen, Jan Wiegand en Jan du Plessis. Daar en dan het sy besluit ek is Kokkie en Kokkie het ek gebly tot vandag toe. Net sommige van die familie noem my vandag nog Jan. Ek moet partykeer lag vir die verbasing op die gesigte van dié wat my as Kokkie ken as ‘n familielid my as Jan of Oom Jan aanspreek.
In Sub A het ek die eerste keer aan ‘n skoolkonsert deelgeneem. Ek moes ‘n stukkie prosa voordra en vir die item moes ek in my pajamas op die verhoog staan. Wat ‘n vernedering vir so ‘n klein seuntjie om so in die openbaar te verskyn. Die prosastukkie in Vuurhoudjie se eie handskrif is vandag nog in my besit.
In haar klas het ‘n slagspreuk gehang wat ‘n groot invloed op my lewe gehad het. By ‘n prentjie van ‘n seuntjie wat op sy toontjies staan om ‘n laaste blokkie bo-op ‘n toring te sit, het gestaan : “Ek moet, ek wil, ek kan, ek sal.” Die waarde van hierdie spreuk en die betekenis daarvan het Vuurhoutjie by elke moontlike geleentheid by ons ingeskerp.
Kort voor die aanvang van my eerste eksamen op skool het Uysie skarlakenkoors opgedoen. Ek is belet om skool toe te gaan uit vrees dat ek die kieme aan ander kinders sou oordra en pa moes my elke dag na skool inneem dorp toe sodat ek die dag se eksamen by Vuurhoudjie se huis kon aflê.
In Sub A het ons nog met griffels op leie geskryf en somme gemaak. In jou tas was ‘n botteltjie water en ‘n lappie waarmee die lei skoongemaak is. Op die lei is daar met ‘n skerp voorwerp lyntjies en blokkies getrek waarop ons moes skryf. Die letters en die syfers moes elkeen presies in die vierkantige blokkie inpas. Op die sandsteenklippe van die skool se stoepe moes ons ons griffels skerp maak, want jy durf nie met ‘n stomp griffel geskryf het nie. Toe ons uiteindelik met potlode begin skryf het, het ons in blokkiesboeke geskryf en is dit by ons ingedril : Jou letters moes aan die kante van die blokkie geraak het en as jy met jou HB potlood geskryf het moes die oplyntjies sag gemaak word en die aflyntjies hard. Uitveërs was verbode. Verkeerde woorde en letters en syfers moes mooi netjies doodgetrek word en oorgeskryf word. Spasies tussen woorde moes ons mooi netjies met die dikte van die wysvinger meet. En bewaar jou siel as jy nie na pouse jou hande gewas het nie en jy druk met jou wysvinger op die boek en daar sit ‘n vuil kol!

Sub A Skoolfoto
As ons somme gedoen het of getel het, het ons so in ‘n halfmaan voor die juffrou se tafel gestaan. As jy ‘n fout gemaak het moes jy een plek afskuif in die ry. Dit het beteken dat die slimste in die klas altyd eerste in die halfsirkel gestaan het en die domstes aan die stertkant. Dit was natuurlik opvoedkundig totaal en al verkeerd, maar dit het tog jou ego gestreel as jy eerste gestaan het. As jy vir die een of ander rede afwesig was, moes jy die volgende dag aan die einde van die halfmaan begin en dan weer geleidelik vorder na die ander kant toe.
Ek onthou vandag nog die eerste leesboekie en die eerste leesles daarin :
O S, O S, Os
OO M OO M, Oom
Oom se os
Toe ons ouer was, moes ons fiets ry tot by die busstop. By die busstop het oom en Tannie van der Merwe gebly en daar het ons die fietse gestoor tot die middag as die skool uitgekom het. Op hierdie pad tussen die busstop en die huis het ek die rare waarheid leer ken dat as jy fiets ry, die wind altyd van voor af gewaai het. In die oggend van die busstop se kant af en in die middag van die huis se kant af.


Die monoloog wat ek by ‘n skoolkonsert in my Sub A jaar voorgedra. Dit is in Mev Fourie se handskrif.
Elkeen van my onderwysers in die twaalf jaar van skoolgaan, het sy eie stempel op my lewe afgedruk. In Sub B was Juffrou Hettie Stander ons onderwyseres. Sy is later met ‘n kleinneef, Francois Rademan, getroud.
Terwyl ek in Sub B was het ek vir die eerste keer met die dood kennis gemaak. Oupa Jan is op Heilbron oorlede. Die dag met die begrafnis moes ons amptelik van Oupa afskeid neem. Ons kleinkinders moes almal na sy lyk gaan kyk waar dit by die begrafnisondernemer in die kis gelê het. Ek onthou hoedat Pa my opgetel het sodat ek in die kis kon inkyk. Daardie aand kon ek glad nie aan die slaap raak nie en moes uiteindelik by Pa en Ma in die kamer gaan slaap. Elke keer as ek my oë toegemaak het, het ek Oupa se bleek gesig met die satyn doodskleed tot onder sy ken gesien.
In hierdie jaar het ek ook kennis gemaak met een van die grootste foute wat ‘n onderwyseres kan maak en dit is om openlik ‘n witbroodjie in die klas te hê. Op Vredefort was daar ‘n mediese dokter, Dr Koornhoff. Hy en sy vrou was besig om te skei. Sy oudste seun, Pieter was saam met ons in die klas. Miskien het Juffrou Stander hom maar net jammer gekry as gevolg van sy huislike omstandighede, maar die dag toe hy verjaar het sy hom vorentoe geroep in die klas en vir hom 5 sjielings (50 sent) vir sy verjaarsdag gegee. Dit het hom vir daardie dag baie ongewild gemaak by ons ander kinders, want nie een van ons het ooit van Juffrou ‘n geskenk ontvang nie.
Pouses is ons altyd saam met Pieter na hulle huis toe waar hy vir ons in hulle studeerkamer toegelaat het om sy pa se mediese boeke deur te blaai. Dit was ons eerste ervaring van informele seksonderrig. Daar kon ons alles sien en lees wat ons wou en Pieter het natuurlik geweet watter boeke die interessantste foto’s bevat het.
In st 1 was ons by Juffrou Marie Bouwer. In haar klas het ek my liefde vir lees aangeleer. In die hoek van die klas was ‘n klasbiblioteek en ons moes elke dag ten minste een boekie lees. Asof ek die boek vandag nog voor my sien met sy kleurryke illustrasies, onthou ek “Barbara, the lamb with the golden voice.” Ek kon die boekie van die lammetjie met die helder sopraanstem oor en oor lees, want om te sing was vir my een van my grootste liefdes. Baie keer het ek op die damwal op die plaas gestaan en in my verbeelding die duisende konsertgangers gesien wat teen die damwal gesit het, en dan het ek my hart vir hulle uitgesing.
In st 1 het ons begin om met pen en ink te skryf. Inkpoeier is deur die departement verskaf en is in ‘n erdebottel met water aangemaak. Elke bank het ‘n gaatjie gehad waarin ‘n inkpotjie gepas het waarin die ink gegooi is. Dit was ons grootste pret om die meisie wat voor jou gesit het se vlegsel se punt in die ink te druk. Bewaar jou siel as jy aan jou bank gestamp het. Dan het die ink in alle rigtings gespat en as jou boek oop was op jou bank, was daar ‘n inkkol. ‘n Inkkol op jou boek was omtrent iets soos ‘n doodsonde waarvoor jy baie maklik ‘n hou oor jou hande met ‘n lineaal gekry het. Die penne waarmee ons geskryf het was houtstafies, later plastiek, waarin ‘n penpunt gepas het. Die penpunt het ‘n gleufie aan die voorpunt gehad en as jy te hard op jou pen gedruk het, het die gleufie gesplit en het die pen nie geskryf nie. Vanaf st 4 af kon ons met vulpenne skryf en moes elkeen sy eie potjie ink saamneem skool toe. Eers in die hoërskool het ons die luukse van balpuntpenne leer ken. Die ouer mense het gereken dat balpuntpenne die begin van die verval van die mensdom was en dit was kwansuis die rede hoekom so baie kinders so lelik geskryf het .
Pa het natuurlik die mooiste handskrif gehad en het geen lelike skrif geduld nie. Hy het ook geglo dat balpuntpenne jou handskrif bederf en uit die skole geban moes word. Ek is vandag nog trots op my naam wat hy in sy netjiese handskrif voor in my gesangeboek geskryf het wat ek in 1953 as verjaarsdaggeskenk gekry het.
In hierdie jaar is daar een of ander gesondheidsfees op Vredefort gereël. Ons st 1 klas het ‘n voorstelling gedoen van die gevaar van vlieë. Van groen en swart kreukelpapier is daar vir ons uitrustings gemaak wat ons soos vlieë moes laat lyk. Ons klomp vlieë is in ‘n optog Vredefort se strate in en agter ons het ‘n ander klomp gevolg met vlieëplakke en vlieëspuite. So ver ons geloop het het hulle die spuite gepomp en ons moes al hoestend en proestend voortstrompel.
Ons skoolboeke is altyd met bruinpapier oorgetrek. Bruinpapier is by die slagter gekoop. Hulle het bruinpapier gebruik om die vleis wat hulle verkoop het in toe te draai.

‘n Voorbeeld van Pa se netjiese handskrif
In st 2 was ek by Juffrou De Jager. Dit was die jaar wat ek onthou vir die heerlike vakansie by Winkelspruit aan die Natalse Suidkus. Toe ek na matriek in Pretoria in die staatsdiens gewerk het, het ek eendag met groot vreugde ontdek dat mnr Potgieter, een van ons hoofde, getroud was met Juffrou de Jager.
In st 3 was ons eers by Juffrou Strumpfher (later Redelinghuys). Tydens my bediening op Warmbad het ek uitgevind dat haar pa, Ds Strumpfher een van my voorgangers was. Sy en Juffrou Bouwer is met twee Redelinghuys-broers getroud. Sy is opgevolg deur juffrou Haarhoff. In Warmbad was haar pa, oom Nic Haarhoff, een van die kleurryke inwoners van die ouetehuis. Juff Haarhoff was ‘n fanatiese boksondersteuner en het heel spoedig met ‘n boksklub by die skool begin. Die klub het nie lank bestaan nie, want niemand het gedink dat ‘n vrou boks kan afrig nie.
Tog wonderlik hoe jou paaie later in jou lewe weer kruis met dié van mense wat in jou jong dae ‘n belangrike rol in jou lewe gespeel het.

My skoolfoto in 1952 (St 2). Kyk tog die kuif en Pa se das.
In dié jaar (1953) is die nuwe skoolsaal gebou. Die inwyding was ‘n feestelike geleentheid. Elke klas moes ‘n vlot op ‘n vragmotor bou wat in ‘n optog deur die strate is. Ons klas moes ‘n voorstelling doen van die eerste skooltjie op Vredefort. Al die seuntjies op die vlot moes ferweelbroekies gedra het. Daardie jare is daar nie spesiaal klere gekoop vir so ‘n okkasie nie. As jy nie ‘n ferweelbroek gehad het nie, kon jy net nie deel van die fees wees nie. Ek het nie ‘n ferweelbroek gehad nie en het nie die voorreg gehad om op die vlot te ry nie. Wat ‘n teleurstelling !
In st 4 was mev Kruger ons onderwyseres. Haar man was blind. Hy was die orrelis op Vredefort en ook die musiekonderwyser by die skool. Hulle het op Viljoenskroon gebly. Gedurende die week het hulle in Vredefort tuis gegaan en net naweke Viljoenskroon toe gery. Gerugte het die rondte gedoen dat sy hom op pad huistoe toegelaat het om die motor te bestuur. Hy kon volgens die gerugte beter bestuur as enige siende persoon!
In st 5 het ons ons eerste manlike onderwyser gehad, mnr Stander. Van hom het ek die belangrike les geleer van kanse wat ‘n mens kan verspeel. Hy het altyd die storie vertel van die man met die lang kuif en die kaal agterkop. Jy moet die “kans” aan sy lang kuif gryp terwyl hy nog van voor af aankom, want as jy hom sou gryp as hy eers verby jou is, sou jy niks hê om aan vas te gryp nie. Baie dramaties kon hy dan altyd die storie afsluit met die woorde : “Too late! Te laat!”
My st 5 jaar het baie rampspoedig begin. Sannie het in die koshuis op Parys siek geword met erge maagpyn. Die dokter het maaggriep gediagnoseer en sy is by die koshuis gehaal om by die huis gesond te word. Sy was skaars by die huis of ek word ook siek met dieselfde simptome. Eers word daar vermoed dat ek te veel waatlemoen geëet het, maar toe ek nie beter word nie, word die dokter gebel en oor die foon diagnoseer hy dat ek ook maaggriep het en dat ek maar van dieselfde medisyne moet drink wat sy gebruik. Sy het gesond geword en is terug skool toe, maar ek het siek gebly. Op ‘n oggend word ek wakker en toe ek wou badkamer toe loop om te gaan piepie, ontdek ek dat my been lam is. Weer word die dokter gebel en hy diagnoseer weer so oor die foon dat ek blindedermontsteking het en dat Ma hulle my die middag na spreekure moet inbring hospitaal toe sodat die blindederm verwyder kan word.
Toe die operasie uiteindelik die middag laat gedoen word, het hulle ontdek dat die blindederm reeds gebars het en dat daar reeds erge ontsteking in die ingewande was. My lewe het daardie hele nag aan ‘n draadjie gehang. Dokter Du Plessis wou glad nie dat my ouers teruggaan plaas toe nie. Eers baie laat die volgende dag het my toestand gestabiliseer en het hulle my ‘n kans gegee om te bly lewe. Die dokter het nie die blindederm verwyder nie, want dit sou ‘n te groot risiko wees. ‘n Dreinneerpyp is in die wond gesit en vir die volgende drie weke is my ingewande daagliks uitgespoel met ontsmettingsmiddels. Dit was nogal ?n pynlike proses. As ek die geluid van die trollie in die gang hoor aankom het, het ek solank begin huil vir die pyn wat op pad is. Een van die susters wat op daardie stadium in die hospitaal op Vredefort gewerk het was suster Lindeque. Sy was die dogter van mnr Lindeque wat by die plaaslike Hoërskool onderwyser was.
Gedurende die Aprilvakansie moes ek na Kroonstad se hospitaal toe gaan waar dr Derksen, die sjirurg, die blindederm verwyder het. Ma het vir die tyd wat ek in die hospitaal was by iemand naby die hospitaal loseer sodat sy my elke dag kon besoek. Sy en die dame by wie sy loseer het, het sommer saans deur die agterplaas van die hospitaal gestap om by die saal uit te kom. Toe hulle een aand by die hek van die agterplaas kom, is die hek gesluit. Hulle twee is ook nie links nie en klim oor die hek – te lui om die ompad te loop en by die hoofhek van die hospitaal in te gaan. Ek wou my doodlag toe hulle die storie vir my vertel. Om te lag met ‘n vars snywond in jou maag is nou nie een van die maklikste dinge wat daar is nie. As troosprys het ek my eerste oorlosie gekry toe ek uit die hospitaal gekom het. Ek was die besitter van ‘n baie deftige Lanco oorlosie en nie bietjie trots daarop nie.
Toe ek eers by die huis was, het ek ook my heel eerste hond persent gekry. Dit was ‘n kolliehond met die naam van Karools. Die hondjie het Pa gekoop by ene mnr Vermaas wat by die stasie gewerk het.

Die trotse eienaar van my eerste hond, Karools
Na die skoolvakansie is ek vir die eerste keer weer terug skool toe nadat ek amper drie maande nie in die skool was nie. Ek was agter met al die werk en het baie min simpatie van mnr Stander gekry. Met die hulp van maats het ek gou die agterstallige werk ingehaal. Voorskrif van die dokter was dat ek glad nie mag liggaamsoefeninge doen nie of ook glad nie aan sport mag deelneem nie.
In dieselfde jaar het Vredefort een van sy eerste landbouskoue gehou. Hier het ek vir die eerste keer tekeninge vir die skou ingeskryf en ‘n hele paar pryse verower, onder andere ‘n spesiale prys vir ‘n randpatroon wat ek gemaak het van boesmantekeninge.
Toe ek skool toe is, was mnr WWO Steyn ons skoolhoof, Pappa Steyn. Later het hy skoolhoof op Parys geword en in sy plek het Mnr Heyns Theron gekom. Sy vrou, Trien Theron was ons sangonderwyseres en onder haar leiding het ek in St 5 die hoofrol gesing in ‘n operette met die naam “Jan Lustig”. Daar was nie so ‘n ding dat die skool gesorg het vir rekwisiete nie. Jy moes maar self sorg vir die goedjies wat jy nodig gehad het. Jan Lustig was ‘n Hollander en met ‘n blok hout en ‘n rasper het ek klompe gemaak wat op die werksbank van die skoenmaker gestaan het. Ek het selfs ‘n paar klompe van karton gemaak wat ek oor die lees kon trek om dit kastig te herstel.

Jan Lustig in sy Hollandse Uitrusting
Omdat ons met die bus skool toe gery het, was daar geen geleentheid om aan sport of enige ander buitemuurse aktiwiteite deel te neem nie. In daardie jare het ouers nie kinders rondgery na allerhande aktiwiteite nie. Wat jy nie in skooltyd kon doen nie was nie vir jou beskore nie. Daar is net drie keer ‘n week dorp toe gery. Maandae is Sannie weggebring koshuis toe en Vrydae is sy gehaal en Sondae is daar kerk toe gery. ‘n Rit enige ander dag van die week dorp toe was ‘n uitsondering en voor jy gery het is al die bure gebel om te hoor of hulle nie iets van die dorp af nodig het nie.
Natuurlik was ons nie engeltjies nie. Ons het ook agter die toilette gerook, maar ek moet sê dit was nooit vir my lekker nie. Jy het dit maar net gedoen omdat die maats dit gedoen het. Ek en Fritz Pienaar was ons hele laerskoolloopbaan boesemvriende, maar het uiteindelik tog kontak met mekaar verloor.
In daardie jare het ons met mekaar gekompeteer na aanleiding van die soort motor wat jou pa gery het, Chef of Ford. Of ons nou vergespring het of top of albaster gespeel het, dit was altyd Chef teen Ford.
Die speletjies wat ons by die skool gespeel het, het soos die seisoene gewissel. Top, albaster, giffie, kennetjie, hasie, polisie en dief, bok-bok is om die beurt gespeel. Sommige was meer gevaarlik as ander en namate kinders beseer is, is ons sekere speletjies verbied.
Gedurende ons Laerskooljare was daar ‘n voedingskema by die skool. Met pouse is daar kos uitgedeel aan al die kinders. In die winter was dit gewoonlik ‘n koppie sop met ‘n toebroodjie daarby en gedurende die ander tye van die jaar miskien ‘n stuk gebakte vis of ‘n bakkie grondbone en rosyne.
Iets soos verhoudings tussen seuns en dogters het ons op laerskool nie van geweet nie. Ons was almal maatjies, seuntjies en dogtertjies. Van kys het ons net gehoor maar nie juis geweet wat dit beteken nie. Om gekys te wees het beteken dat jy ‘n spesiale vriend of vriendin gehad het. Almal het “Memoryboeke” gehad. Dit was nogal belangrik as iemand jou gevra het om iets in sy of haar “Memoryboek” te skryf.
Die maak van Bloemlesings was ook baie hoog op die agenda van skooltake. In ‘n boek moes jy gedigte – Engels en Afrikaans, skryf en dit dan memoriseer. Die groot kuns het gelê in die illustrasies van die gedigte. As jy goed kon teken het jy jou eie prentjies geteken, maar anders het jy die gedigte versier met prentjies en foto’s.
Iets soos skooldrag het ons in die laerskool glad nie geken nie. Enige broeke en enige hemde is gedra. In die somer het ons nooit skoene gedra nie. Van al die kaalvoet loop was ons voete se sole so hard soos klip. Eers toe ons hoërskool toe is het ons kennis gemaak met formele skooldrag : ligblou hemde en grys boeke en skoene en kouse met ‘n kleurbaadjie in die winter.
Om te lees maak ‘n mens slim
Ek was van kleins af baie lief vir lees. Van Sub B af kon ons deur die skool inteken op Die Jongspan. Dit was ‘n weekblad vir kinders. Die Jongspan het ‘n pretblad gehad met blokkiesraaisels en ander speletjies. Ek kon nie wag om elke week my koerant te kry om die blokkiesraaisel in te vul nie. Die Jongspan het ook by my ?n belangstelling vir handwerk aangewakker. Elke week was daar artikels oor handwerk en verskillende artikels wat gemaak kon word. Hulle reeks artikels oor houtwerk en die gebruik van gereedskap het my geleer om ‘n saag en ‘n beitel en ‘n skaaf te hanteer. Die voordeel hiervan was dat toe ons uiteindelik met houtwerk begin het, ek reeds in staat was om al die gereedskap reg te gebruik. Ek was elke jaar van die min kinders in die houtwerkklas wat my projekte voltooi het. Die juwelekissie wat in Daleen se besit is het ek in st 6 gemaak en die riempiestoeltjie wat in my woonkamer staan het ek in st 7 gemaak.
Ek het ook deur Die Jongspan geleer hoe ‘n mens eintlik behoort te swem. In die sinkdam by die huis het ek die voorskrite van Die Jongspan-artikels tot op die letter uitgevoer.
Toe Die Jongspan nie meer gepubliseer is nie, kon ons op Patrys inteken. Patrys se aanslag was totaal anders as dié van Die Jongspan. Daarin is ons geleer hoe om bendes te organiseer en bendewapens te ontwerp en te maak. In st 5 was ons vyf seuns wat lede van die berugte Swart Luiperds was. Omdat ek kon teken moes ek die bendewapen ontwerp en elke lid van die bende het so ‘n wapen aan die voorkant van sy lessenaar gehad.
Hoewel ‘n grootmenstydskrif, was ek ook baie lief om Die Brandwag te lees. Die Brandwag het ‘n kinderafdeling gehad met ‘n penmaatkolom. Ek het nogal vir ‘n paar penmaats geskryf, maar die korrespondensie het nooit baie lank gehou nie. ‘n Voortvloeisel uit die penmaatskolom was die talle kettingbriewe wat ek ontvang het. Kinders het jou naam in Die Brandwag gekry en dan aan jou kettingbriewe gestuur. ‘n Baie gewilde kettingbrief was dat jy ‘n afskrif van so ‘n brief aan vyf persone moes stuur en aan die persoon wie se naam bo aan die lys was, moes jy ‘n sakdoek stuur. Op die manier het ek talle sakdoeke ontvang.
Ek het natuurlik nie net die kinderafdeling van Die Brandwag gelees nie, maar ook die artikels en die verhale. Een so ‘n artikel het my een hele nag se slaap gekos. In 1955 het ‘n artikel verskyn wat voorspel het dat die wêreld op 22 Augustus 1955 sou vergaan. Ek het daardie nag geen oog toegemaak nie uit vrees vir hierdie verskriklike ding wat gaan gebeur. Ek onthou vandag nog die voorblad van die betrokke uitgawe – twee jong takbokke waarvan die horings net begin groei het.
Op ‘n stadium het Die Brandwag elke week die foto van die een of ander bekende akteur of aktrise op die voorblad geplaas. Ons het al die foto’s sorgvuldig afgeskeur en dan het ons fliek gespeel. Die kamer is donker gemaak en dan het een van ons die foto’s teen die muur gehou en ‘n ander een het met die flitslig op die prente geskyn en die derde een was die toeskouer. So het ons kennis gemaak met Grace Kelly, Lana Turner en al die ander filmhelde en -heldinne van die tyd. Eenvoudige vermaak vir plaaskinders wat selde die voorreg gehad het om self in ‘n fliek te kom.
In Die Brandwag se kinderafdeling was daar ook weekliks ‘n strokiesprent wat gehandel het oor twee bobbejaantjies met die name van Boppie en Beppie. Ek het elke week die strokie sorgvuldig uitgesny en in ‘n boek geplak. Ongelukkig het die plakboek een dag in speke van die wiel van my fiets beland en dit was die einde van my Boppie en Beppie plakboek.
In daardie jare is daar al gepoog om Christelike tydskrifte te bevorder. Een van die eerstes wat verskyn het was Die Naweekpos. Wat ek van die tydskrif onthou was dat daar op die middelblad gewoonlik ‘n bekende gedeelte uit die Bybel in sierskrif geskryf is, versier met allerhande blommetjies en blaartjies en krulletjies. Ek het die stukke uitgeskeur, mooi ingekleur en gebêre en gewoonlik ook uit die kop uit geleer. Hierdie handgeskrewe stukke het my belangstelling vir kalligrafie laat ontwikkel. Ek het vir baie mense hulle name in hulle Bybels en Psalmboeke geskrywe. Later het Jock en Anna Marais, wat vriende van ouma Santjie was, vir my ‘n boek oor kalligrafie persent gegee en kon ek die stokperdjie regtig ontwikkel.
Koerante was nie baie bekend by ons nie. Pa het somtyds op Sondae Die Landstem gekoop. Dit was een van die eerste Sondagblaaie. Die Dominees het daardie jare nog gereeld teen die sonde van die Sondagkoerante gepreek en ons het die koerant altyd met ‘n skuldige gewete gelees.
Ma het ook maandeliks Die Huisvrou gekry. Ook in Die Huisvrou was daar ‘n afdeling vir kinders wat ons graag gelees het. Die bekende skryfster, Audrey Blignault, was die eerste redaktrise van dié blad.
Oor die eter
Behalwe vir die invloed van die geskrewe woord, was die radio een van die belangrike leermeesters in ons jong dae. Pa het ‘n groot Pilot stel gehad wat met ‘n motorbattery gewerk het. Jy is nie toegelaat om sommer enigiets oor die radio te luister nie. Die battery moes gespaar word sodat die grootmense nuus kon luister en veral Sondae na die erediensuitsendings kon luister. Die Du Plooys van Soetmelksvlei was een van die gewildste radiovervolgverhale wat ooit uitgesaai is. Ek onthou vandag nog vir oom Bartel wat nie kon hoor nie en alles en almal altyd verkeerd verstaan het en altyd die verkeerde ding op die verkeerde tyd gesê het en tant Heibie, sy vrou met haar skril stemmetjie wat so graag oor ander geskinder het.
Oupa het ook graag in die aande na die Mielieblaarklub geluister en ek hoor vandag nog vir Oom Merten en Paal en hulle stories. Dit was so ‘n soort van kommentaar op wêreldgebeure en landsgebeure.
In die middae na skool was daar Kinderhoekie spesiaal vir die laerskoolkinders en dan het ons met ons ore teen die radio gesit om die stories en die musiek te hoor. Daardie jare is net boeremusiek en klassieke en ligte klasieke musiek uitgesaai en na geluister. Toe ons groter was en draagbare radios hulle verskyning gemaak het, het ons graag na die ?LM Hitparade? geluister. Eintlik was ons nie toegelaat om na hierdie sondige musiek te luister nie, maar as die grootmense gaan slaap het, die program is gewoonlik laat op ‘n Sondagaand uitgesaai, het ons die radio onder die kombers gesit om na die nuutste treffers te luister.
Die stryd tussen Nat en Sap
Oupa Giel hulle en Pa hulle was geswore Sappe en vurige Jannie Smuts-ondersteuners. Soos reeds gesê, het my laeskoolloopbaan in 1949 begin net na die Nasionale Party aan bewind gekom het. Dit was nogal vernederend om altyd vir ‘n Sap uitgeskel te word. Dit het jou so ‘n bietjie in ‘n laer klas geplaas as die Nattes wat die groot patriotte en die vaderlanders was. Oom Sypie, Oupa en Ouma se ander skoonseun, was ‘n Nasionalis in murg en been en dit het nogal tot heelwat familiespanning aanleiding gegee.
In die huis van die Here
Vandat ek kan onthou, was Oupa of Pa ‘n lid van die kerkraad. In daardie dae was dit nog teen die kerkwet dat pa en seun of pa en skoonseun saam op die kerkraad kon dien. Twee broers kon ook nie saam op die kerkraad dien nie, want dit kon groepvorming of drukgroepe in die kerk tot gevolg hê. Die kerkgebou op Vredefort was die plek waar ek in die Sondagskool en katkisasie gesit het en eredienste bygewoon het. Daar is net elke tweede Sondag kerk toe gegaan, want jy was ver van die kerk af (let wel, ons was net 7 myl van die dorp af). Daardie jare het ons nog elke Sondag ?n teks of later in die groter klasse ‘n teks en ‘n psalm- of gesangversie moes leer. Elke jaar het ons bybelkenniseksamen geskryf en dit was ‘n groot prestasie as jy met Hoogste Lof geslaag het.
Daar is ook wyksbidure in die wyke gehou deur die wyksouderlinge. By so ‘n geleentheid is die preek wat in die Kerkbode gepubliseer was ewe plegtig voorgelees. Daar is gesing en dan was daar tyd vir gebed. Oom Petrus Blignaut en tant Alie was ook in ons wyk. Tant Alie het die skorste stem gehad wat ek ooit by ‘n vrou gehoor het. Ons het altyd probeer om naby tant Alie in die biduur te sit, want ons kon ons verluister aan haar sang, Dit was so iets van ‘n mengsel van die geluid van ‘n vark wat keelaf gesny word en ‘n jong haantjie wat vir die eerste keer probeer kraai.
In die wyk was ook oom Abeltjie van Biljon. As hy met jou gepraat het, het hy kort kort gesê : “Verstaan?” Net om seker te maak dat jy nog met hom is in sy gesprek. Een oggend het oom Abeltjie baie ernstig gebid en toe uit gewoonte vir die Here gevra: “Vertstaan Here?” Die gebruik was nog in daardie dae om by die stoele te kniel as daar gebid word. Ek het so naby die deur van die sitkamer by my stoel op my knieë gestaan. ‘n Kind wil hom natuurlik doodlag oor so ‘n glips. Enigste was dat ek op my knieë by die deur uitgekruip het en eers buite gaan klaar lag het voor ek weer ewe plegtig my plek kom inneem het.
So lank ek kan onthou was Ma ‘n lid van die Vroue Sendingbond. Hulle het hulle vergaderings maandeliks gehou en dit het gewoonlik saamgeval met die kerkraadsvergadering wat altyd op ‘n Saterdagoggend gehou is.
Sondagoggende in die erediens het jy al die mense geken wat in die kerk was. Pret het ons ook baie gehad. Oupa Giel se broer, oom Piet, ook Piet Politiek genoem as gevolg van lewendige belangstelling in die politiek, het baie graag in die kerk gesit en slaap. Een Sondag het hy aan die slaap geraak en nie gehoor toe die Dominee aankondig “Laat ons bid” nie. In daardie dae het al die mans nog opgestaan vir die gebed. Oom Piet het rustig deur die gebed gesit en slaap en toe die Dominee amen sê en hy die geskuifel hoor soos die mense gaan sit, het hy opgespring en stoksielalleen regop gestaan. Ons wou ons breek van die lag en dit het ‘n paar kwaai kyke van Ma gekos om ons weer tot bedaring te bring.
Die hoogtepunt van die kerklike jaar was die afsluiting van die Sondagskool. Jou jaar se hard leer aan teksies en Psalm- en Gesangversies is beloon met ‘n seël of ‘n diploma en as jy Bybelkenniseksamens geskryf het ook ‘n diploma of ‘n seël. Jou grootste prestasie was as jy die Bybelkennis met Hoogste lof geslaag het. Alex Klopper, die bestuurder van Standardbank was die Hoof van die Sondagskool. Jou volle naam en van is ewe plegtig uitgelees. Daar was in die gemeente families waarvan daar twee neefs of niggies met dieselfde name in die gemeente was. Om te onderskei tussen twee neefs met die selfde name, is die pa’s se voorletters gebruik om die neefs te onderskei. Daar was byvoorbeeld twee neefs Baltus Erasmus in die gemeente. Die een is dan uitgeroep as Baltus Erasmus, T-Seun (Tom se seun) en Baltus Erasmus, D-Seun (Daan se seun). Toe ons in die hoërskool kom was dit nog gebruik met die twee Abels van Coller wat saam met my in die klas was. Maar so met die loop van die tyd het hulle sommer net Swart Abel en Wit Abel geword na die kleur van hulle hare.
Ons kinders is nie toegelaat om met nagmaal kerk toe te gaan nie. Ons moes buite die kerk speel tot die diens verby is. Ek was nog baie klein toe ek ‘n splinternuwe pak klere gekry het. Dit was seker ook die eerste en dalk die enigste pak klere wat ek gehad het totdat ek belydenis afgelê het. Terwyl die diens aan die gang was het ons op die trappies van die kerk gespeel. Ons het opgeklim tot bo-op die skuiste van die muurtjie aan die kant van die trappe en het dan op ons boude afgeskuur tot onder. Toe ons klaar gespeel het en die kerk uitkom sou ek ontdek dat ek my broek sy hele agterste kant weggeskuur het op die sandsteenmuurtjie. Gelukkig het die broek ?n voering gehad en die voering het darem die skuurdery oorleef.
Tussen die nagmaalsdiens en die nabetragtingsdiens (dankseggingsdiens) het ons gaan middagete eet onder die wilgerbome op pad na die stasie. Dit was die eetplek van baie van die plaasmense en daar is heerlik gekuier en gespeel. Voor die volgende diens moes begin is ons na die stasie toe waar almal gaan hande was het en al die kinders hulle draaie moes loop, want nou mag ons weer saam met die grootmense in die kerk gekom het.
Die dominees van die gemeente het almal op my groot indruk gemaak. Ds Lubbe was die dominee toe ons op die plaas gekom het. Ek onthou nie veel van hom nie. Hy was die dominee wat die dag toe Pa en Ma getroud is gevra is om die tafelgebed by die onthaal te doen. Hy het vir die geleentheid ‘n gewone pak klere en ‘n gewone das aangehad. Ouma Magrietha het hom tot die dag van haar dood nooit vergewe omdat hy haar seun se troue ontheilig het deur met ‘n gewone pak klere en das aan te bid. Ds Lubbe is opgevolg deur Dr Koornhoff (‘n neef van die mediese dr wat op die dorp was). Die Koornhoffs en Pa en Ma was baie hegte huisvriende. Hy en Pa het ‘n gesamentlike belangstelling in Jerseybeeste gehad en hy en Pa het gereeld bulletjies en versies uitgeruil om hulle kuddes te verbeter. Pa het ‘n Jerseybul gehad wat hy by Dr Koornhoff gekry het wat die naam “Dokter” gehad het. Onder dr Kkornhoff se leiding is die Kaapse- gewelpastorie op die dorp gebou.
In ‘n brief wat Oupa Jan Kok aan Pa-hulle geskryf het, maak hy die volgende opmerking oor die bou van die pastorie :

‘n Uittreksel uit ‘n brief wat Oupa Jan aan Pa- hulle geskryf het waarin hy sy verbasing uitspreek dat hulle ‘n pastorie van £ 6000.00 (R 12 000.00) wil bou en om te dink dat Oom Jan Wiegand bereid is om £100.00 tot die boufonds by te dra!
Uit die aard van die saak was ons kinders en die Koornhoffies groot maats. Hy het so ernstig geboer dat hulle later op ‘n plaas wat hy gehuur het, gaan woon het. By hulle in die huis het ek die voorreg gehad om vir die eerste keer in my lewe ‘n avokadopeer te eet. My pad het weer met die van André gekruis toe ons saam militêre diensplig op Bloemfontein gedoen het gedurende 1962.
Ds AP Louw het hom opgevolg. Hy was ‘n vreeslike emosionele prediker en kon maklik huil op die preekstoel. Hy het altyd ‘n wit sakdoek voor in sy baadjiemou gehad wat hy gebruik het om sy trane af te droog. Toe hy weg is van Vredefort af om te gaan boer, het hy Vredefort se gemeente daarvan beskuldig dat hulle nie goed na hom en sy gesin omgesien het nie – Die pastorie was koud en ongerieflik en die salaris was te min om van te lewe. Later met ‘n vakature in die gemeente het hy hard propaganda gemaak om weer terug te kom na Vredefort, want hy wou kom regmaak wat hy verbrou het.
Na Ds Louw, het Dr Rosslee gekom. Ek sal hom onthou vir sy streng gereformeerde beginsels. Hy was baie wetties in sy opvattings. Ek kan goed onthou hoe hy my eendag in die Sondagskool uitgetrap het omdat ek met oop oë gestaan het terwyl die Sondagskoolonderwyser gebid het. Hy het egter so ‘n groot indruk op my gemaak, dat ek aan die einde van my vyfde jaar op universiteit in sy gemeente, Reitz-Wes, my prakties gaan doen het.
Na Dr Rosslee het Ds Lukas Haasbroek gekom. Ewe gereformeerd. Hy het selfs by atletiekbyeenkomste waar hy beampte was sy donker pak klere en ‘n das gedra.
Ook die sendelinge wat aan die gemeente verbonde was, was nie vreemdelinge op Leeuspruit nie. Ds Breed, die eerste een wat ek kan onthou, is onder ‘n donker wolk weg van Vredefort af. Omdat groot mense nie oor hierdie goed voor die kinders gepraat het nie, weet ek tot vandag toe nog nie wat hy verkeerd gedoen het nie. Hy is opgevolg deur eerwaarde CT Smit. Ek onthou die buitedienste en die filmvertonings wat hy in die aande op die plaas kom hou het. Ons het dit met groot verwondering bygewoon en onder die indruk gekom van die sang van die swart mense by die geleenthede.
In daardie jare was dit nog gebruik dat katkisante voor hulle aangeneem en voorgestel kon word die veertiendaagse katkisasie moes bywoon. Met die veertiendaagse katkisasie was ek op Parys in die koshuis en met die toestemming van die gemeente op Vredefort kon ek die katkisasie op Parys bywoon en toe later op Vredefort belydenis aflê. Ds Le Roux was die predikant van Parys-Oos. Vir ‘n volle twee weke moes ons elke aand kerk toe gaan waar ons deur die dominee en twee ouderlinge onderrig en ondervra is. Met my voorstelling (belydenisaflegging) het Pa vir my ‘n pak klere by die snyer op Parys laat maak. Dit was die tweede pak klere wat ek in my lewe gehad het. Die pak moes maar die volgende jaar reg wees vir die matriekafskeid en was ook die pak klere waarmee ek na matriek Pretoria toe is om te gaan werk.

Die man van die oomblik. Boerematriek is agter die rug en die snyerspak sit perfek.
Kersfees
Kersfees was vir ons plaasjapies ‘n baie spesiale tyd. Van vroeg in die jaar af het ons geld bymekaar gemaak, want met Kersfees moes daar vir elke gesinslid ‘n geskenk gekoop word. Veel geld het ons nie nodig gehad nie, want in daardie jare kon jy ‘n baie bruikbare geskenk koop vir ‘n sjieling (10 sent) of vir tot so veel as ‘n halfkroon (25 sent). ‘n Tak van die groot sipresboom in die tuin is afgekap en in ‘n emmer staan gemaak en is dan versier met kreukelpapierlinte en sterretjies wat ons uit karton gesny het en met sjokoladepapiertjies oorgetrek het.
‘n Paar weke voor Kersfees is ons Potchefstroom toe vir die groot Kersinkopies. Daar was in daardie jare ‘n OK Basaar in Potch en dit was die gewilde koopplek.
Ander groot inkope soos skoolklere is ook op Potch gedoen. Die inkopies is gewoonlik by die Koelies (Indiërs) gedoen. Hulle “specials” was altyd wonderlik, maar ek dink uiteindelik het jy dalk meer daarvoor betaal as op ander plekke, maar net die advertensie van die “special” het jou gelok. Skoolklere is altyd so ‘n bietjie groot gekoop, want dit moes lank hou en daar kon nie gedurende die jaar weer gekoop word nie. Selfs skoene is so ‘n bietjie te groot gekoop en papier is in die toon van die skoen ingedruk om te keer dat die skoen darem nie te veel geskaaf het nie.
Om by die Koelies te koop was natuurlik vir die patriotiese nasionaliste onaanvaarbaar en jy moes altyd so inkopies doen dat niemand jou daar sien nie.
Ons is van kleins af geleer om te spaar. By die skool was daar ‘n spaarklub. Elke Maandag het jy jou sjieling gekry waarmee spaarseëls van die posspaarbank gekoop is wat op ‘n spaarsertifikaat geplak is. Toe ons uiteindelik in St 5 klaar was met die spaar, was dit wat jy in die 7 jaar gespaar het nogal ‘n aardige bedraggie. Hierdie verpligte spaar het ?n gewoonte deur my hele lewe gebly. Om ‘n spaarrekening te hê, het altyd aan my ‘n gevoel van sekuriteit en stabiliteit gegee.
Speletjies en speelgoed
As kind was ek baie besitlik oor my eie speelgoed. Niks het my groter genot gegee as om my speelgoed mooi skoon te maak en mooi te bêre nie. Die Marx-familie van Reitzburg was maar ‘n bietjie rof met ons speelgoed en as ons gehoor het hulle kom kuier is ons speelgoed baie diep weggebêre. As hulle klaar gekuier het was daar altyd ?n karretjie sonder wiele of ‘n pop sonder arms en bene.
Ek en Uysie het graag saam met Sannie met papierpoppe gespeel. Veral op Sondae, wanneer nie veel ander speletjies toegelaat is nie, het ons graag saam met haar met met die papierpoppe gespeel. Ons het elkeen ons eie poppe gehad. Papierpoppe het jy in ‘n boek gekoop met die poppe op die harde buiteblad van die boek en die klere op die sagte binneblaaie. Die poppe en die klere is sorgvuldig uitgesny en jy kon jou poppe in die mooiste uitrustings uitdos. Swem of perdry op ‘n Sondag was sommer groot sonde. Kaart-speel was ‘n ander sonde wat ons nooit toegelaat is nie. Ek kan onthou van ‘n vreeslike skrobbering wat ek van ouma Santjie gekry het omdat die pak kaarte op my Bybel gelê het toe sy in die kamer ingekom het.
Ons het allerhande bordspeletjies gehad soos dambord, ludo, slangetjies en leertjies en later toe ons groter was ook Monopoly. Ons het ook ‘n tafeltennis stel gehad wat op die eetkamertafel vasgesit is.
Van ons gewildste speelgoed was natuurlik klei-osse. Op Stillehoogte by die spruit was daar die lieflikste swart klei wat die mooiste osse en perde gemaak het. Met die osse en perde het ons onsself ure besig gehou. Met die osse en die visblikwaentjies met die tolletjieswiele, het ons soos die Voortrekkers van ouds oor berge en dale getrek na vreemde lande.
Nog ‘n groot lekkerte vir ons was as die Bosman-niggies uit die stad skoolvakansies op die plaas kom kuier het. Al was Mariet en Ronnie ouer as ons, was ons hulle meerderes in die sin dat ons alles van die plaas geweet het en hulle niks nie. Een wintervakansie was daar ‘n varksog wat op die punt was om te jong en ons is elke oggend douvoordag, voor die ryp nog gesmelt het, uit om te gaan kyk of die klein varkies nie gedurende die nag gekom het nie.
Gedurende so ‘n kuier van hulle moes daar een nag ‘n middernagfees gehou word. Vir die doel is daar voor die tyd gespaar om lekkers te koop. Veel geld het ons nie nodig gehad nie, want jy kon 8 Wilsontoffies vir 1 pennie (1 sent) koop, vier niggerballs vir ‘n pennie, vier appelkose vir ‘n pennie, 2 marshmallowvissies vir ‘n pennie en ‘n pakkie sherbert vir 1 pennie. ‘n Pakkie suiglekkers (suurklontjies) het ‘n tiekie gekos en ‘n reep drop 1 pennie.
Hoërskool en Parys
Toe ek moes hoërskool toe, moes ek na die koshuis op Parys gaan. Vredefort het ook ‘n koshuis gehad, maar om die een of ander rede wou Pa dat ek Parys toe moes gaan. Heyns Theron was baie ontsteld. Elke hoof het seker maar geveg vir sy eie skoolgetalle. ‘n Afgevaardigde van die skoolkomitee het pa kom spreek, maar hy was onverbiddelik. Sannie was op Parys en ek sou ook Parys toe gaan. Later sou Uysie ook dieselfde pad moes loop.

Maandag in die koshuis met wat ons saamgebring het. Pierre du Preez, ek, Diertjie Kruger en Nico Viljoen eet ‘n bottel ingelegde vrugte en drink ‘n bottel bier wat Pierre uit sy pa se voorraad gesteel het
Koshuislewe was ‘n splinternuwe ervaring na die beskermde lewe in die huis. Parys se skool en veral die koshuis was naby genoeg aan die stad, sodat baie kinders uit probleemhuise na die koshuis gestuur is. Hulle invloed was nie altyd van die positiefste nie. Hulle het meesal uit gebroke huise gekom.
Die koshuispersoneel het alles in hulle vermoë gedoen om ons netheid en orde te leer. Soggens is daar vir die kamers punte gegee vir netheid. Die kamer wat in die week die meeste punte gekry het, het as beloning Maandagmiddag poeding by die middagete gekry. My kammies was nou nie juis van die netjiesste nie en ons punte was elke week van die laagste. Ek was darem baie lus vir daardie poeding op ‘n Maandag en het soggens na ontbyt teruggegaan na die seunskoshuis (ons het in die meisieskoshuis geëet) om ons kamer te gaan aan die kant maak, maar die pogings was nie juis suksesvol nie.
Geriewe in die koshuis was baie primitief. Die toilette was buitetoilette met ‘n emmerstelsel. Elke nag het die nagkar sy rondte deur die dorp gemaak en die emmers uit die toilette verwyder en met leës vervang. Selfs ons stortgeriewe was redelik ontoereikend. Die stortkamer was ‘n klein vertrekkie van nie meer as drie by vier meter nie. Daar was vier storte in die kamertjie met geen warm water nie. Ons is verplig om elke middag te stort, winter en somer. ‘n Stortbad in die winter in Parys was nie een van die lekkerste ervarings wat daar was nie. In die stort was geen privaatheid nie, want daar was geen afskortings tussen die storte nie. As jy as ‘n standerd sessie wat in die afgesonderdheid van die plaas grootgeword het, in die koshuis gekom het, is jy met jou eerste ervaring van die stortkamertjie gekategoriseer na aanleiding van wat te groot of te klein of te lank of te kort is. Veral die probleemkinders wat uit die stad uit koshuis toe gestuur is, was baie slimmer as wat ons arme plaasjapies was en dit het jou nie lank gevat om net so wêreldwys en slim te wees nie.
Hier in die koshuis het jy baie gou geleer waar Voël (Oubaas Coetzer) en Wire (Ronnie Heads) aan hulle name gekom het. Vir my was draad trek iets wat gedoen is as daar draad gespan is op die plaas en ‘n draadtrekker was ‘n stuk staalgereedskap waarmee die drade styf getrek is. Hoe naief kan ‘n mens tog wees. Dit wees eers teen die einde van my St 6 jaar wat ek geleer het dat daar ander betekenisse aan die woorde geheg is. Toe het ek eers besef wat Ma altyd bedoel het as sy ons soggens kom wakker maak het. Ma was ‘n vrolike mens en altyd die kamer ingekom met my en Uysie se bekers koffie en dan het sy geroep : “Lift your wires Boys. Lift your wires!”
In ons st 7 jaar in die koshuis het ons begin rammetjie uitnek raak en het besluit ons wil kyk wie kan die meeste slae kry gedurende die week. Een hou het jou ‘n landskorporaal gemaak, twee houe ‘n vol korporaal en drie houe het jou ‘n kaptein gemaak. Ons het die simpelste goed denkbaar gedoen net om deur die koshuisvader na sy kantoor geneem te word om ‘n loesing te kry. In die middae onder die stort het ons gespog met die aantal strepe wat oor ons boude gelê het en is die ou met die hoogste rang gekies.
In my St 8 jaar het ons die operette Zurika opgevoer. Ek was baie teleurgesteld dat ek nie vir die koor gekeur was nie aangesien ek darem in die laerskool die hoofrol in ‘n operette kon sing. Ek was baie bly toe ek uiteindelik gekies word om die rol van Dr Pillens “die lyfarts van die koning” te speel. Die dokter het net ‘n klein praatrolletjie gehad. Die eerste aand toe ons die stuk opvoer was ek so oorweldig deur die baie mense in die saal dat ek skoon vergeet het om my woorde te sê toe die tyd aanbreek.

Die Hoofrolspelers van die operette, Zurika. Ek staan in die middel agter as Dr Pillens, die lyfarts van die Koning. Agter Vlnr : Louis Kellerman (Die Koning), Johan Pelser (Hofamptenaar), Kokkie Kok (Lyfarts van die Koning), Jan Erasmus (Die Prins), Marie Steyn (Sigeunermeisie). Voor Vlnr : Philmar de Beer (Hofnar) en Sannie Kok (Prinses)
My Hoërskool onderwysers het elkeen op sy eie manier ‘n vormende rol in my lewe gespeel. Veral die ouer onderwysers het hulle daarop toegelê om ons nie net akademies te vorm nie, maar ook by ons ‘n nasietrots en ‘n Afrikanertrots te kweek.
Lip du Toit, wat ons ‘n liefde vir Afrikaans en die Afrikaanse boek geleer het, het ‘n blywende indruk op my gemaak. ‘n Voorgeskrewe boek was nooit weer dieselfde nadat hy ons geleer het om intens en met aandag te lees nie. Taalsuiwerheid was sy lewensroeping. Vandag nog pla my gewete my as ek ‘n anglisisme gebruik. Ek wonder wat sou hy gesê het van die gemengde taal wat ons kinders deesdae praat!
Sak le Roux het probeer om ons die geheime van die Wetenskap te leer. As hy dit nie met die akademie kon regkry nie, was die rooipypies van die laboratorium altyd daar om te probeer om die kennis via ons sitvlakke by ons in te dril. Hy was ook die rugbyafrigter wat geglo het as jy rugby speel moet jy jou kroonjuwele deeglik beskerm en daarom het hy ons jong seuns altyd aangemoedig om met ‘n “jockstrap” rugby te speel. As ons so in die skrum gesak het, het hy gevoel of jy jou jokkie aan het en altyd goedkeurend geknik.
Beks Heese het die wêreld van Wiskunde vir my oopgemaak. Sy inspirasie het my aangemoedig om alles vir wiskunde te gee en in matriek met onderskeiding in wiskunde te slaag. Op ‘n dag het hy op ‘n stoel geklim om ‘n spyker uit die swartbord met ‘n tang uit te trek. Met die uittrek van die spyker, het hy die stoel misgetrap en op sy rug in die paadjie langs my bank beland. Uit respek het niemand gewaag om te lag nie, maar toe die periode verby was en ons buite in die vierkant kom, het die wêreld gedawer soos ons lag.
Ou Swartjie het die aardrykskunde by ons ingedril. Onbeskaamd het hy politiek en aardrykskunde gemeng. Onbeskaamd het hy die doelstellings van die nasionale party verdedig en verkondig. Sappe was landsverraaiers en veragtelik is sy oë. Dit was nogal ‘n ontnugtering vir ‘n jong seun wat in ‘n Sap-huis groot geword het.
Mnr Alexander was die man vir die geskiedenis. Op sy stil besadigde manier het hy die geskiedenis laat lewe en betekenis kry. Hy het ook die beroepsvoorligting hanteer en moes ons klomp plaasjapies voorberei om beroepskeuses te maak en te besluit oor universiteitsloopbane. Hoe anders en ongekompliseerd dinge in daardie jare was, word bewys deur die feit dat hy ons gerusgestel het met die versekering dat as jy £300.00 (R600.00) gehad het, het jy genoeg geld gehad om ‘n BA-Graad te voltooi.
Boel van Wyk het ons boekhou geleer met sy afkortings wat hy by ons ingedril het. Ek onthou hulle vandag nog : Deci – Debit expenditure, credit income,
Dutch Reform Church G – Debit the receiver and credit the giver.
Debakel, Debiteer bates en krediteer laste
Hy het hierdie reëls by ons ingedril en hierdie moeite van hom het ook ‘n onderskeiding in matriek tot gevolg gehad.
Hugo Schreuder moes ons die taal van die veroweraar leer. Hy het Homeros en “Out of the Strong” laat lewe. Hy was ook een van die onderwysers wat altyd probeer het om lewenswaardes by ons te vestig. Voor die matriekafskeid het hy ons klomp seuns bymekaar geroep en vertel dat ons nou nie net moet aandag gee aan die nuwe pak klere en die nuwe hemp en das nie. Hy het gesê : koop tog asseblief ook vir julle nuwe onderbroeke, want julle kan nie net van buite waar almal kan sien mooi en netjies lyk nie. Jy moet ook daar waar niemand kan sien nie mooi en netjies lyk. Een maal ?n jaar het hy ‘n uitstappie vir die matrieks na Johannesburg gereël om na ‘n besondere fliek te gaan kyk. Toe ons in Matriek was, was dit ons voorreg om Ben Hur in die “His Majesty’s” teater in Johannesburg te kon sien. Dit was ook hy wat ons bekend gestel het aan die “Snow goose”, ‘n langspeelplaat wat ek later in my lewe self vir my gekoop het en talle kere daarna geluister het.
Rons Toerien was die man vir die liggaamlike opvoeding. Onder sy leiding het ons skool ook deelgeneem aan die massa gimnastiekvertoning met die Uniefees in 1960 in Bloemfontein. Die fees is gehou ter viering van die 50ste bestaansjaar van die Unie van Suid-Afrika. Dit was nogal ‘n voorreg dat ons klomp Parysenaars eerste die stadion inbeweeg het en heel voor in die middel voor al die eregaste gestaan het tydens die vertoning.
Die Uniefees was ‘n ware avontuur vir baie van ons. Ons klomp Parysenaars is met die trein Bloemfontein toe en daar het ons in tente naby die Vrouemonument tuis gegaan. Dit was ysig koud. Die enigste wasgeriewe was buitestorte met koue water, Brrrr!!!!

Ek en Magna op die pawiljoen in Bloemfontein tydens die Uniefees
Selfs onderwysers by wie ek nie klas gehad het nie, het op die een of ander manier indruk gemaak : Essie Toerien (Biologie). Seuns is in daardie jare nie toegelaat om Biologie te neem nie, want seuns en dogters kon nie in dieselfde klas sit en die feite van die lewe leer nie. Retha Ferreira (Afrikaans), Ou Breedjie (Duits) en At Bosman. At Bosman was die man wat in die sangperiodes vir ons ‘n liefde vir die klassieke musiek geleer het. Ek sien hom nou nog hoe hy ‘n langspeelplaat met respek uit sy sakkie uit haal en dit met sy sakdoek afvee voordat hy dit op die draaitafel sit. Ek gril nou nog as iemand ‘n plaat of ‘n CD sonder respek behandel.
Goed soos sokkies by die skool het ons nie geken nie. Die naaste wat ons aan meisies kon kom was deur volkspele te speel. Dit het ons ook by elke moontlike en onmoontlike geleentheid gedoen, by koshuispartytjies, na debatsaande en dan die normale volkspele-aande in die skoolsaal.
Elke jaar is skoolkonsert en skoolbasaar gehou. Toe ons in St 9 was, het Mnr Franken ons in ‘n spreekkoor afgerig. Ons het ‘n gedig van Uys Krige voorgedra en ek het die voorreg gehad om ‘n stukkie solovoordrag in die gedig te doen. In dieselfde konsert het ons ook so ‘n lawwe stukke opgevoer van ‘n verliefde jong man met sy koei. Die beste wat ek kon doen was om die agterdeel van die koei te wees. Twee van ons het agter mekaar gebuk met ‘n kombers oor ons rugge. Die kop van die koei het ek uit draad gevorm en dit oorgetrek met stukke van ‘n ou laken

Ek in die rol van die koei se agetrkant in ‘n skoolkonsert Annekie Botha is die boeremeisie en Johan Pelser is die boer
In matriek het ek vir die eerste keer in my lewe aan ‘n debatskompetissie deelgeneem en ‘n eerste plek behaal.
In Matriek het ons ook met die onverstaanbare denke van die kerk te doen gekry. Johan Pelser was daardie jaar hoofseun, ek was onderhoofseun, Marita Gier was hoofdogter en Petra van Huyssteen was die onderhoofdogter. Kort na die aanvang van ons matriekjaar het die skoolkomitee onder voorsitterskap van Ds Mias de Klerk – later Professor aan die teologiese fakultiet aan die Universiteit van Pretoria, beswaar gemaak teen die verkiesing van Marita as hoofdogter, want sy was ‘n Rooms- atoliek. Die uiteinde van die saak was dat Marita gevra was om vrywillig (?) te bedank. Hierdie gebeure het veral in die Sunday Times wye publisiteit geniet. In Marita se plek is Sandra Bester toe gekies as ‘n tweede onderhoofdogter. Die tragiese einde van die storie was dat met die jaarlikse prysuitdeling van die skool, Marita die dag na die funksie na die hoof se kantoor geroep is en dat in die geheim in die kantoor aan haar ‘n boekprys oorhandig is vir alles wat sy vir die skool beteken het.
My eie ontnugtering was die aand met ons matriekafskeid toe ek namens ons leerlinge ons ouers moes bedank vir hulle bydrae tot ons opvoeding. Ons ouers het in daardie dae saam met ons die matriekafskeid bygewoon. Met ons uitstap uit die saal daardie aand het ek gehoor hoedat een van ons onderwysers, Swartjie, vir ‘n ander een sê: Ek het julle mos aan die begin van die jaar gesê Kokkie moes eerder hoofseun geword het.
Op Hoërskool het ons ook natuurlik meer as in die laerskool begin belangstel in die teenoorgestelde geslag. Ons was egter nie baie vryhede toegelaat wat verhoudinge en kontak met die teenoorgestelde geslag betref nie. As daar na sportgeleenthede per bus iewers heen gery is, het die seuns in die een bus en die dogters is die ander bus gery, of as daar in dieselfde bus gery is het die een groep voor en die ander groep agter gesit.
Die enigste geleenthede waar ons aan mekaar kon raak, was met volkspele aande. Dans was sonde en die enigste manier waarop ons van ons energie ontslae kon raak, was deur volkspele te speel. Na die volkspele is die meisiekoshuis se dogters egter onder die toesig van ‘n juffrou en die seunskoshuis se seuns onder die toesig van ‘n meneer terug gemarsjeer na die onderskeie koshuise.
My eerste ervaring van ‘n meisie uitnooi na ‘n geleentheid het taamlik rampspoedig geëindig. Ek het Alida Wessels gevra om saam met my na die koshuispartytjie te gaan aan die einde van my St 6 jaar. Sy het ingewillig, maar André Ebersohn, met wie sy voorheen gekys was, is ook deur ‘n dogter uit die dogterskoshuis na dieselfde partytjie genooi. Die aand by die volkspele, ja, ons het ook by die koshuispartytjies volkspele gespeel, het sy en André net ogies vir mekaar gehad en net met mekaar volkspele gespeel en ek moes maar droëbek toekyk en ander meisies vra om mee volkspele te doen. Hy is uiteindelik ook die aand saam met haar huis toe.
In st 7 het ek vir Magna gevra om saam met my na die koshuispartytjie te gaan en dit het opgemaak vir die teleurstelling van die vorige jaar. Ons was dwarsdeur ons Hoërskoollopbaan vriende en is uiteindelik in 1968 getroud.
Bure en Familie
Ek het reeds gesê dat ek tussen en saam met Ma se familie groot geword het. Hulle was van die naby bure en dit was onvermydelik dat ons paaie baie sou kruis.
Oom Koos en Tant Miem Uys van die plaas Mara was ons naaste bure, Oom Rooikoos vanweë die rooi kleur van sy gesig. Oom Koos was Oupa Giel se neef. Tant Miem was nie ‘n vrolike mens nie en oom Koos aan die ander kant was nie ‘n spraaksame mens nie. As hulle in die aande by ons kom kuier het, het tant Miem altyd haar kappie op gehad. Die kappie is dan aan die “hallstand” in die gang opgehang. Ons grootste pret was om die kappie om die beurt op te sit en daarmee in die gang te paradeer. Dit is asof ek vandag nog vir tant Miem in haar temerige stemmetjie kon hoor sê: “Ag hete, my ou hande is vandag weer so lam. Ek het nie eers die krag om my ou kop te kam nie.”
Oom Jan en tant Miem Uys van die plaas Vlakfontein was oupa Giel se broer en skoonsuster. Hulle het net een seun, Johan gehad. Tant Miem het uit ‘n vorige huwelik ‘n dogter, Lena Schoeman gehad. Lena het die viool en die saag gespeel en het ook baie mooi gesing. Geen funksie is op Vredefort gehou, sonder dat Lena in die een of ander item opgetree het nie. Ons kinders het haar spottend Lientjie Boud genoem.
Oupa Giel se oudste broer, oom Koos en tant Ellie het op die plaas Granietkoppie gewoon. Hulle enigste seun Michiel (ook genoem Klein Michiel of Rooi Michiel) en sy vrou Ella het by hulle in die huis gewoon. Hulle twee het baie laat in hulle lewe eers ‘n dogter gehad. Wat ek van hulle nooit sal vergeet nie, was die dag met tant Ellie se begrafnis. As gevolg van die swak geriewe by die begrafnisonderneming het haar lyk al begin ontbind voor die begrafnis. Die lyk is dus voor die tyd na die graf geneem en in die graf geplaas en toe is die diens eers gehou.
Van oom Koos word die storie vertel dat hy op sy agterkop ‘n kroontjie gehad het wat hy nooit kon plat gekam kry nie. Toe hy een aand by ‘n meisie wou gaan kuier het sy broers besluit dat hy nie kan gaan met hare wat so regop staan nie. Hulle maak toe die strykyster vuurwarm en druk dit op die kroontjie om dit plat te kry. Nodeloos om te sê dat hy daardie aand nooit by die nooi uitgekom het nie.
Oom Piet was oupa se jonger broer en was getroud met tant Agnes. Hulle het op die plaas Kopjesfontein geboer. Hulle huwelik was baie stormagtig en net so stormagtig was haar verhouding met die res van die familie. Hulle het net een seun, Petrie gehad wat later predikant geword het en op Oudtshoorn afgetree het.
Oom Piet was nie regtig ‘n boer nie. As hy die kans sou gekry het, sou hy ‘n kunstenaar kon word. Hy kon die mooiste meubels uit die hout van deurmekaarbos maak. Hy het ‘n lewendige belangstelling in politiek gehad. Van daar die naam Piet Politiek. Ek kan baie goed onthou hoedat hy op ‘n stadium met aansoekforms op die plaas was en wou hê dat Pa en Oupa by die Torchkommando moes aansluit.
Toe ouma Santjie op sterwe gelê het, het hy tant Agnes gebring om met Ouma te kom vrede maak voordat sy doodgaan. Ouma was reeds in ‘n koma, maar oom Piet was oortuig daarvan dat Ouma geweet het tant Agnes is daar.
Oupa se oudste broer, oom Jim en tant Emmie het op Parys op ‘n plot langs die Vaalrivier gewoon. Hulle het twee dogters, Edith en Marie gehad.
Naby oom Jim en tant Emmie, ook langs die Vaalrivier op die plaas Grooteiland, het oom Org en tant Kit Uys gewoon. ‘n Voorval wat ek baie duidelik onthou was dat oom Org op sy laaste was met bloedkanker. Oom Ben Vermaas wat met Oupa se suster, Sankie getroud was en naby Fochville geboer het, sou gekom het om vir oom Org te kom bid. Die hele familie was in die kamer bymekaar, maar ons kinders is weggestuur om by die rivier te gaan speel, want hierdie was grootmensdinge en nie vir die oë en die ore van kinders nie. Ons het ons nie so maklik laat verjaag nie en toe die seremonie in die kamer mooi aan die gang was, het ons almal op ons mae voor die kamerdeur gelê om te sien te hoor wat gaan gebeur. Ek hoor oom Ben in sy harde stem bid : “Here, Lasarus het al gestink toe U hom opgewek het. Laat ons broer opstaan en gesond word.” Oom Org het nie opgestaan nie en nie gesond geword nie. Oom Org en Tant Kit se kinders was Jukie, Boet, Frits, Marie, Réne, Freda en Koos.
Ouma Santjie se familie was die Rademans. Op Reitzburg het oom Hekkie en tant Kowa Marx gebly. Oom Hekkie was nie net ‘n baas-storieverteller nie, maar kon ook klavier speel soos min. Veral die keurspele van Jim Miller was sy spesialiteit. Daar was min familietroues waar oom Hekkie nie voor die klavier ingeskuif het en ‘n paar van die keurspele gespeel het nie.
Een storie wat hy met smaak kon vertel, was dié van die bokkie wat hy geskiet het. Die bokkie het van hom af weggehardloop toe hy eers kans kry om aan te lê. Toe die skoot klap, val die bokkie, maar by nadere ondersoek kry hy geen wond aan die bokkie waar die skoot hom getref het nie. Toe hy na die bokkie se kop kyk, merk hy so ‘n klein knoppie langs een van die horings. Hy krap met sy nael aan die knoppie en daar kom die punt van die koeëltjie uit. So in die weghardloop van hom af het hy die bokkie mooi in die kol getref en die koeël is dwarsdeur die bokkie en langs die horing uit.
Oom Hekkie was ‘n ware ou spogter.
Hy sê hy is eintlik ‘n jagter.
Hy’t ‘n bokkie geskiet,
maar die wond kry hy niet.
Mooi netjies in die kol van agter!
Terwyl tant Kowa voor haar dood in die hospitaal was, het oom Hekkie by ons gebly. Sondag was daar braaiboud op die tafel en toe Oupa klaar gebid het, skep hy, sonder om te vra, die skenkelbeentjie van die boud in sy bord. In ons huis het almal geweet dat Sannie altyd die beentjie geëet het. Sy was in trane oor haar beentjie en van die dag af word die beentjie oom Hekkie se beentjie genoem.
Op die selfde werf as oom Hekkie en tant Kowa, het Rademan, hulle seun, en Kittie sy vrou en hulle kinders Radie, Yvonne, Dawie en Johan gewoon. Dit was die Marxies wat so onder ons speelgoed kon baljaar. Oom Rademan was die eerste inwoner van Vredefort wat met ‘n Volkswagenkombi gery het. Die eerste kombis was almal blou en die Marx gesin in hulle blou kombi was ‘n bekende gesig in Vredefort..
Die Marxe was almal vissermanne en van geelvis vang in die Vaallrivier kon jy hulle niks leer nie.
Net ‘n entjie verder, nader aan die Vaalrivier het oom Hendrik en tant Nelie Schoeman gewoon. Sy was ouma Santjie se jongste suster. Oom Hendrik was nie juis ‘n boer nie, maar hy was baie lief vir die bottel. Toe ons later van tyd ons eerste telefoon gekry het was hulle op dieselfde plaaslyn as ons. Dit was ons en ouma Santjie se grootste pret om oom Hendrik oor die foon af te luister as hy gedrink was. Naby hulle het oom Thys en tant Mollie de Bruyn gewoon. Oom Thys was oom Hendrik se drinkebroer. Ek het een dag in die dorp gesien hoedat die polisie vir oom Thys gearresteer het vir dronkenskap op straat. Die gevloek en die geskel van die dronk man het ‘n groot invloed op my ontvanklike gemoed gemaak. Min het ek daardie tyd geweet dat ek eendag so intens by alkoholiste en hulle stryd teen drank betrokke sou raak.
By die kombuisdeur van die Schoemans was ‘n paal waar ‘n mak bobbejaan, Jack, vas was. By Jack het ons kinders ure deurgebring. Oom Hendrik en tant Nelie se twee seuns was Piet en Stevie.
Hendrik Schoeman was ‘n vrolike ou man
Hy lawe homself graag uit die wynkan.
Die bobbejaan, Jack
Sit maar stil op sy plack
want dalk gaan die oubaas hom pypkan.
Op die plaas Goudini het tant Joey Rademan gewoon. Haar man Isak, toe al oorlede, was ouma Santjie se broer. Om by haar op Goudini te kuier, was een van die lekkerste ervarings vir ons as kinders. In haar sitkamer het daar imbuya-meubels gestaan wat altyd die heerlikste houtgeur afgegee het. Dit was een van die lekkerste dinge om in die koel, skemer sitkamer te sit en die luukse ruik van die meubels in te asem.
Tant Joey se oudste dogter, Janie het gaan skoolhou, maar die twee jongstes, Baby en Paula het agtereenvolgens by hulle ma gebly en haar geselskap gehou en die motor vir haar bestuur. Ek het altyd die indruk gehad dat tannie Joey ‘n vermoënde vrou was. Nadat die jongste getroud is, het sy telkens jong dames in diens geneem wat as geselskapdames vir haar opgetree het.
Ouma se ander broer, oom Freek en sy vrou Cathriena het op Rosebank, nie ver van tant Joey af nie gewoon. Oom Freek was ‘n regte Rademan, kort en dik. Tant Cathriena was bekend vir haar spyseniering en die troukoeke wat sy versier het. Sy het Ma en Pa se troukoek gebak en versier toe hulle getroud is. Toe Sannie getroud is het sy die troukoek versier en ook die spyseniering vir die onthaal gedoen. Na die onthaal het ons deftige Tannie Doreen uit Johannesburg die opmerking gemaak : “That we had to come all the way from Johannesburg to see how catering must be done.”
Tant Cathriena se suster, Das het vir lang tye by hulle gewoon. Sy was liggaamlik gestrem en het ook swaar gepraat. Ons kinders was baie versigtig vir die tannie wat nie kon loop of praat nie. Oom Freek hulle se kinders was Pieter, Alta, Francois, Frikkie en Japie. Francois is die kleinneef wat met Sub B juffrou, Hettie Stander, getroud is.
Oom Lourence was Ouma se ander broer wat met sy vrou, Tant Cillie, op die plaas Windhoek gewoon het. Daar was eindelose rusies tussen Oom Freek en oom Lourence. Die rusies het baie keer op geweld uitgeloop. Self toe hulle al ouer was, het hulle nie geskroom om mekaar met hulle kieries toe te takel nie. Hulle kinders was Piet, Sannie en Cilla. Cilla was bekend vir die kunshandwerk wat sy gedoen het. Sannie het in haar Hoërskooljare by Cilla kunsnaaldwerkklasse geloop.
Behalwe die familie, was daar ook die bure. Oom Jan en tant Ellie Berg was op die plaas langs Christina. Oom Jan was, as ek reg onthou een van 21 kinders. Tant Ellie was baie vroom en het my, toe ek al op universiteit was, aangespreek omdat ek ?n kortbroek gedra het. Volgens haar kon sy nie ‘n man wat ‘n kort broek dra in die oë kyk nie. Ek het altyd gewonder waar sy dan kyk as sy hom nie in die oë kyk nie.
Daar was ‘n ou tante, tant Ellie.
Haar storie moet ek liewer nie vertellie.
Vir ‘n kortbroekman
was sy alte bang.
Verlei hy haar nie na die hellie?
Werk, werk en nogmaals werk
Werk was nooit ‘n skande en ons is van kleins af geleer om te werk. As daar skape geskeer is, moes ons in die skeerhok help. Soms moes jy wol klas. Ander kere moet jy wolbale trap en ander kere die vloer rondom die skeerders skoonvee.
As die skape gedoseer is, was ons in die kraal en moes van kleins af leer hoe jy ‘n skaap aan sy agterbeen vang. Oupa Giel het gou op jou geskree as hy dink jy verwilder die skape of maak hulle seer. Ook as die lammers se stertjies afgesny is en die ramlammers gekastreer is, was ons daar. Baie skaapstertjies is oor die kole gebraai en ek het selfs by geleentheid lamspeertjiepastei geëet.
As daar bees en vark geslag is, was ons daar. Ons moes die meule draai om vleis te maal of wors te stop. Ons moes vleis sny vir die wors. Jy moes biltonge kon uitsny.
Om ‘n hoender wat moet geslag word se kop af te kap was nie vreemd nie en om ‘n hoender te pluk, oop te sny en skoon te maak was normaal, en bewaar jou siel as die hoender uiteindelik moet in die pot kom en al die bloedpenne is nie uitgetrek nie, of al die donsvere is nie afgeskroei nie.
Om die melk af te room was een van die verveligste werke wat daar was. Draai jy te vinnig is die room te dik en draai jy te stadig is die room te dun. Die roomafskeier het ‘n klokkie soos ‘n fietsklokkie aan sy slinger gehad wat met elke omwenteling gelui het. Jy moes die roomafskeier so draai dat die klokkie nooit gehoor word nie. Dan was die spoed waarmee jy gedraai het net reg.
Van kleins af moes ons kon biltong kerf. Biltong mag nie te dik gekerf word nie. Die kerfwerk is nie met ‘n hedendaagse biltongkerwer gedoen nie. Die stuk biltong is op ‘n blokkie gesit en dan moes jy met die knipmes snytjie vir snytjie afsny.
Nog ‘n vervelige werk was die maal van die gebrande koffiepitte. Terwyl jy daardie koffiemeul se slinger gedraai het, het jy gedink aan al die lekker dinge wat jy sou kon gedoen het in plaas van koffiepitte maal.
As jy brood gesny het, en daar was nie moderne broodsnyers nie, mag jy nie die brood skeef gesny het nie. As die brood op sy sy gelê het moes jy hom amper met ‘n winkelhaak kon meet so reguit moes dit wees.
Botter karring en brood en beskuit knie was nie vir ons vreemd nie.
Pa het geglo dat as jy ‘n hoender of ‘n skaapboud opsny, dit nie moes lyk soos iets wat die honde beet gehad het nie. Die hoender moes mooi netjies opgesny word en die skaapboud se snytjies moes ewe dik wees en bewaar jou siel as jy dit sou waag om die boud teen die draad van die vleis te sny.
Saans moes ons help skottelgoed was, want sê nou net iemand word gedurende die nag siek en die dokter moet uitgeroep word en hy moet vir die een of ander rede warm water in die kombuis gaan kry en hy kry die wasbak vol skottelgoed, wat ‘n skande !
Een van die lekkerste lekkers was natuurlik die groot blikke vol koekies wat elke jaar voor Kersfees gebak is – Soetkoekies, gemmerkoekies, koffiekoekies, vlakoekies speserykoekies en wat ons geken het as witkoekies. Ons moes help. Die deeg is aangemaak en dan het ons werk begin. Die soetkoekies en die gemmerkoekies en die witkoekies moes uitgedruk word. Die bondels deeg is met die koekroller uitgerol tot die verlangde dikte. As jy te kort was en die tafel te hoog om die uitrolwerk te doen, moes jy op ‘n kassie staan om by te kom. Vispasta is daardie jare verpak in ‘n glasbotteltjie wat nes ‘n klein drinkglas gelyk het. Die glasie het net die regte grootte gehad vir die koekies en dit was ons werk om dosyne koekies met die glasies uit te druk. Jy moes die glasie waarmee jy uitdruk so ‘n paar maal in die ronde wikkel sodat die deeg heeltemal deurgesny was. Die koekie en die afvaldeeg moes nie nog iewers aan mekaar vasgesit het nie, want dan was dit nie netjies nie. Ouma Santjie, hoewel sy nie baie mobiel was nie, het altyd bygesit as die koekies gebak word. Geen bediende is toegelaat om met die deeg te werk nie. Ma moes die deegmengsels aanmaak en ons moes uitdruk en in die panne pak en in die oond sit. Natuurlik moes die oond net die regte temperatuur wees. Dit was koolstowe en jy kon nie die temperatuur net stel soos met ‘n elektriese stoof nie. Die roomkleurige Ellis de Lux stoof het ‘n termometer op sy oonddeur gehad en stronke is uitgekrap of bygegooi totdat die hitte van die oond net reg was. En bewaar jou siel as jy die koekies in die oond vergeet en hulle net te donker bak!
Koffiekoekies en vlakoekies is met die vleismeuletjie gemaak. Daar is so ‘n kontrepsie voor aan die meuletjie vasgeskroef, die deeg is in die meule gestop en dan was daar drie paar hande nodig om die koekies te maak. Een persoon het die deeg in die meule gesit en dit ingedruk, die tweede persoon moes die slinger van die meule draai en die derde persoon moes die stringe deeg wat voor by die meule uitgekom het mooi netjies op sy twee hande balanseer en dit op die tafel neersit. En ag, as jy onhandig was en die deeg het afgebreek! Dan is die deeg weer opgerol en weer deur die meule. Op die tafel is die stringe mooi netjies langs mekaar neergelê en in die regte lengtes gesny.
Koffiekoekies en vlakoekies en speserykoekies is twee-twee op mekaar geplak elk met sy eie vulsel en daarna is die koekies in groot blikke gepak. Dit was blikke waarin koffie of tabak in groot maat aangekoop is en ideale bêreplek vir die koekies was. Die Strausse het gewoonlik die hele Desembervakansie op die plaas gekuier en ons is gerantsoeneer sodat die koekies sou hou tot aan die einde van die vakansie.
Pa en Ma se invloed
Wat was Pa en Ma se invloed in my lewe?
Pa was ‘n harde man wat hard kon raas en hard kon baklei, maar wat nooit sy hand opgetel het om pak te gee nie. Dit was Ma se verantwoordelikheid. Pa was die praktiese man wat hom uitgeleef het in die boerdery, alhoewel hy en oupa Giel baie met mekaar gebots het oor hoe daar geboer moes word. Die plaas was Oupa s’n en Pa moes boer soos Oupa voorgesê het.
Pa was nie iemand wat ooit sommer sy gevoelens bekend gemaak het nie. Soentjies en drukkies was nie deel van sy optrede teenoor ons as kinders of teenoor Ma nie. Ek het een aand terwyl ons by Oupa en Ouma in die kamer gesit en erediens luister het oor die radio, gesien dat Pa Ma se hand vasgehou het. Dit was die eerste en die enigste keer dat ek Pa enige vorm van emosie sien wys het. Dit het my ‘n gevoel van geborgenheid en sekerheid gegee : Pa en Ma was lief vir mekaar en verder maak niks saak nie.
Ek het nooit een dag gehoor dat Pa en Ma woorde met mekaar gehad het nie. Net een dag het Pa te lank na Ma se sin by Andrew Martinson gekuier en was laat vir middagete. Andrew was ‘n vrygesel buurman. Toe Pa uiteindelik by die huis kom en Ma groet, was Ma in trane en op Pa se verdwaasde navraag het sy so tussen die trane deur gesê: “Hoe moes ek weet dat jy die dalk dood iewers langs die pad lê nie.”
Ma was die sagte een wat vir ons uit die kinderbybel gelees het en wat saans vir ons geleer het om te bid. Sy was die een wat die seerplekke gedokter het en die hartseer vertroos het. Sy was ook die buffer tussen pa en Oupa as hulle so koppe gestamp het oor die boerdery.
Pa was baie lief vir sy twee blou perde, Moskou en Breker. Ek is eendag saam met hom met die perdekar na oom Koos en tant Miem om ‘n seeppot te gaan leen. Toe ons terugkom het Pa by die hek afgeklim om die hek oop te maak en toe die hek oop is, het die twee perde met die kar op loop gesit met my alleen op die kar. Daardie dag het ek al my lus om perd te ry verloor en het dit ook nooit regtig geleer nie. Vandag is dit een van die dinge waaroor ek baie spyt is.

Ouma Santjie met haar handlanger en die stapel boerseep wat sy gekook het.
Pa was baie streng met die plaaswerkers en kon hard met hulle baklei. Ek onthou hoedat hy een aand met die vuis onder hulle ingeklim het by die melkstal. Toe ons uiteindelik weer terug was by die huis het een van die jong swart mans by die kombuisdeur ingestorm met ‘n groot klip in sy hand waarmee hy vir Pa wou doodgooi.
In die vyftigerjare het Pa vir hom ‘n splinternuwe 4-trek Willys jeep gekoop. Die jeep is sommer partykeer gebruik om die eg te haak en die lande te eg as die werk te druk geraak het op die plaas. Die jeep het ‘n seiltent gehad en een naweek is ons gesin na die Wesselse toe op Edenville om te gaan kuier. Dit het die betrokke naweek vreeslik gereën en die tent van die jeep was nie juis waterdig nie en daar was baie van die bagasie nat toe ons uiteindelik by ons bestemming aangekom het.
Tant Dina (Wessels) was Ma se liefling tante en die twee gesinne het baie oor en weer gekuier. Aan tafel is daar lekker soet wyn gedrink en nóg my Ma nóg tant Dina kon hulle drank vat. Tant Dina het die mooiste gladste vel gehad wat ek ooit aan ‘n vrou gesien het. Hoe meer wyn sy gedrink het, hoe rooier het haar gesig geword. So ‘n ete het gewoonlik geëindig met ?n gegiggel van die eerste water. Ek onthou hoedat tant Dina eendag by so ‘n maaltyd vir haar dogter Marietjie gesê het : “Marietjie, bring gou vir ma die Kerkbode. Ek kry nou so warm. Ek wil my bietjie koud waai.” Dit het ‘n familie spreekwoord geword. As iemand warm gekry het is daar altyd spottend gesê : “Bring die kerkbode. Ek sweet!”

Die Groen Ford wat eers aan Oupa Jan (op die foto) behoort het waarmee Pa later gery het.
Toe ek my verstand gekry het, het ons met ‘n groen Ford gery wat eers aan Oupa Jan van Heilbron behoort het. Hierna het pa so ‘n blou chef gery wat hy en oom Rademan tweedehands in Johannesburg gaan koop het. Ek dink dit moes ongeveer ?n 1950 model gewees het. Die volgende ryding was ‘n tweedehandse bakkie met ‘n kappie op. Met die bakkie is ons Maandae weggebring en Vrydae gaan haal by die koshuis. In 1959 het Pa sy eerste nuwe motor gekoop (behalwe die Jeep), ‘n Thames kombi.

Die wit Thames-kombi wat Pa in 1959 gekoop het
So het die lewe my gevorm en gebrei en ek is oortuig daarvan dat baie wat ek in die lewe bereik het, ek te danke gehad het aan my vorming in my grootwordjare. Baie het ek bereik deur oor en oor die spreekwoord teen my Sub A-klas se muur vir myself te herhaal:
“Ek moet, ek wil, ek kan, ek sal!”
(c) Jan Kok

Die Kompleet Werke van JW Kok (Oom Jan/ Kokkie)
The Collective Works of JW Kok (Oom Jan/ Kokkie)
[…] Oom Jan onthou […]
Absoluut briljant – Absolute brilliant. from New Zealand