
JOHANNES WILLEM (Jan) KOK, gebore 04 April 1880. Gedoop 02 Mei 1880 te Winburg en oorlede op 26 Junie 1950. Trou op 08 Julie 1907 met MARIA MARGARETHA KLINGBIEL, gebore 17 Oktober 1879 en oorlede op 27 Augustus 1942. Sy was die dogter van JAN FREDERICK GUSTAV KLINGBIEL en MARIA MARGARETHA PRELLER.
Die oorlogsdagboek van Jan Kok, vertaal deur sy kleinseun, Ds Jan Kok.
Vanaf 05 Mei 1900
Mei 5
OP 5 Mei het die Engelse Winburg ingeneem. Op ons plaas was dit die dag baie bedrywig as gevolg van die verskillende kommando’s wat die dag verby getrek het. Ons het ons toe ook gereed gemaak om saam te trek. Die aand omtrent 8 uur het ons ons huis verlaat. Oom Koos het ook saam met ons gegaan. Ons het die aand tot by Kafferskop gery, die plaas van mnr. A Nel. Dit het toe al begin koud word. Ons het geen ander plan met die perde gahad as om hulle te spantou nie. Ons het die nag nie baie rustig geslaap nie omdat ons bekommerd was dat ons perde sou wegloop aangesien ons nie ver van ons huis af was nie. Ons was die aand tien mense bymekaar: 6 van Winburg, een van Kroonstad en 2 van Thabanchu en ook nog twee kaffers.
Mei 6
Sondagoggend het ons vroeg opgestaan om te kyk of ons perde nog almal daar was. Gelukkig was hulle almal daar. Ons het vroeg vertrek na Wildebeeskop, die plaas van mnr. N Froneman.Daar het ons vir ‘n rukkie uitgespan. Ons is toe elkeen met sy handdoek na een van die kuile om ons te was. Die bediendes het begin mis optel om vuur te maak om ‘n bietjie kos gaar te maak. Daar het ons twee moontlikhede oorweeg. Dit was moeilik omdat ons nie geweet het na watter kant toe nie. Daar was twee moontlikhede: Die een was na Doornberg en die ander een was na Ficksburg. Uiteindelik het ons besluit om Ficksburg toe te gaan. Die twee manne van Thabanchu en die een van Winburg (B Harmze) en P Prinsloo van Kroonstad is na Doornberg. Nadat ons bymekaar gekom het en mekaar aan die sorg van die Here opgedra het, het ons van mekaar afskeid geneem. Toe ons daarvandaan vertrek het, was die son taamlik warm.
Ons het verby Wildebeeskop gery en by ‘n plaas aangegaan waar ‘n sekere Blignaut gewoon het. Vandaar het ons na die plaas gery van ‘n man met die van Pieterse. Ons het in die veld by ‘n dammetjie uitgespan wat nie baie water in gehad het nie. Dit was toe omtrent 11:30. Ons het oral mense teegekom wat met hulle vee gevlug het. By die dammetjie het ons drie persone ontmoet wat ‘n klompie beeste en perde aangejaag het. Daar het ons oom Christiaan Kriek ontmoet wat met sy familie op pad was na Ficksburg. Die burgers wat ons die dag teegekom het, het ons vertel van die huidige toestand in die land. Nadat ons geëet het, het ons vertrek na Doornhoek waar ons oornag het. Om Christiaan Kriek het het ook nie die aand verder getrek nie. Daar was dit die aand baie koud. Jantjie, my kaffer het swaar gekry want hy het net een kombers gehad.
Mei 7
Ons vetrek van Doornhoek en kom toe by die winkel van Gibson. Daar het ons gekoop wat ons nodig gehad het, ook ‘n wit deken vir Jantjie. Ons het toe gery tot by ‘n klein leegtetjie of ‘n klein spruitjie. Die pad deur die spruitjie was taamlik sleg. Oom Koos was bang dat die perde in die kuile sou val. Ons kon hom almal hoor sê: “Kinders julle moet die perde oppas.” Dit het gelyk asof hy baie swaar gekry het. Dit was baie warm. Vandaar het ons vertrek na Jakhalsfontein, die plaas van oom Nicolaas du Toit. Oom Christiaan Kriek is hiervandaan na sy skoonouers toe. Toe ons op Jakhalsfontein kom, was ek baie moeg perd gery. Ons het uitgespan en die nag daar deurgebring. Hy was toe juis besig om mielies te oes. Ek het ‘n goeie nagrus gehad.
8 Mei
Ons het berig ontvang dat die Ficksburgers na Generaalsnek moes gaan. Ons was onseker wat om te doen en het uiteindelik besluit om ook na Generaalsnek toe te gaan. Ons het gereed gemaak. Die perde het gekom en ons het begin om op te saal en in te span. Daarmee klaar, is ons na die huis toe om te groet. Dit was omtrent 3 uur die middag. Ons was onseker. Oom Koos was onrustig om na Generaalsnek te gaan en het aan my gevra: ”Hoe lyk dit Jan, sal ons gaan?” Ek het gesê ek weet nie, want ek het ook getwyfel. Uiteindelik het ek aan Piet gesê: “Kom laat ons gaan afsaal en uitspan. Nadat ons met die kar en die vier perde ‘n draai gaan ry het, het ons dit gedoen. Gelukkig het ons nie na Generaalsnek toe gegaan nie, want diegene wat wel gegaan het, het teleurgesteld teruggekom omdat hulle besef het dit was die verkeerde besluit. Oom Koos het vir my gesê ons kan nie langer op Jakhalsfontein bly as tot oggend toe nie. Ek het ingestem en ons het die nag weer daar oorgebly.
9 Mei
Ons het 9 uur die oggend van Jakhalsfontein af vertrek, maar nie geweet waarheen nie. Ek het geen ander keuse gehad as om by die Ficksburgers aan te sluit nie, maar oom Koos het geweier omdat Ma hom gevra het om te sorg dat ek, Schalk, Piet en Hans Naude by hom moes bly. Dit kon nie gebeur dat ons by hom moes bly nie, want hy was sieklik en kon nie kommandodiens doen nie. Ek dink oom Koos se eintlike plan was om na Witkop te gaan. Ons het gery tot by die plaas van oom Dawid de Villiers en daar uitgespan.Van daar af het oom Koos my na Groenfontein gestuur waar die skoonouers van oom Christiaan Kriek gewoon het. Ek moes vir oom Christiaan sê dat ons verder gaan trek en as hy steeds saam met ons wou gaan moes hy kom soos die afspraak tussen hom en oom Koos was. Toe ek dit aan oom Christiaan gesê het, het hy geweier aangesien die Ficksburgers reeds aangesê is om na Vechtkop te gaan. Hy was juis besig om klaar te maak vir sy seun, Gert, om hom saam met die Ficksburgers te gaan. Ek het toe besluit om ook so te maak. Oom Christiaan het voorgestel dat oom Koos moet teruggaan Jakhalsfontein toe en dat ek, Schalk, Piet en Hans Naude na die kommando toe moet gaan. Ek het vol vertroue teruggery dat ons dit sou doen, maar toe ek weer by oom Koos kom het hy beswaar gemaak en aangedring dat ons nie van hom moes weggaan nie soos Ma hom gevra het. Dit was natuurlik onmoontlik soos ek reeds gesê het. Hy besluit toe self om na Groenfontein te gaan en so is ons alleen daarvandaan na die genoemde plaas. Daar het ons uitgespan en oom Christiaan het oom Koos aangeraai om terug te draai na Ficksburg. 12 uur het ons daarvandaan vertrek. 100 manskappe is gevra om as vrywilligers na Ficksburg te vertrek. Ek was een van hulle Ek en oom Nic het toestemming van die veldkornet gekry om vooruit te ry. Ons het gery sonder om af te saal tot by Jakhalsfontein. Ons het ‘n rukkie voor sononder daar aangekom. Ek was afgemat en moeg en het op my bed gaan lê, maar nie geslaap nie. 8 uur het ons vandaar vertrek na Ficksburg en het gery tot by Zandspruit. Daar het ons weer omgedraai en by ‘n vervalle plaashuis gekom. Die huis was verniel, maar die mure het nog gestaan en daar was baie wilgerbome. Ons het afgesaal om vir die ander mense te wag wat ons agter gelaat het. Ons het tot die namiddag vir hulle gewag. Ons het toe ons reis voortgesit na Ficksburg. Ons het teen sononder in die dorp aangekom en afgesaal. Ons het vir ons perde mielies gegee en ek en oom Nic en nog ander bekendes is na ‘n huis. Die naam van die juffrou het my ontgaan. Ons het elkeen ‘n koppie koffie gedrink en toe winkel toe gegaan en vir ons perdekombers te koop wat ons agt sjielings elk gekos het. Ek en oom Nic is toe huis toe. Dit was ‘n bietjie moeilik om die huis oop te kry, maar ons het uiteindelik daarin geslaag. Ons het ons perde in die stal gesit en hulle voer gegee. Ons het nie kos gehad nie en het vir ‘n sjieling beskuit gekoop. Daar was vleis, koffie en suiker in die huis. Toe ons klaar geëet het, het oom Nic ‘n stukkie uit die Bybel gelees en ‘n gebed gedoen. Hierna het ons gaan slaap en het al twee ‘n heerlike nagrus gehad. Ons het die vorige nag niks geslaap nie.
18 Mei
Die koomando het die oggend 8 uur uit Ficksburg vertrek. Ek het eers vir my ‘n kombers vir 10 sjielings gekoop en ook ‘n klein roostertjie. Ons het al die koffie en die suiker uit die huis geneem omdat ons niks gehad het nie. Mev van der Merwe het vir ons ‘n brood gegee. Toe ons uiteindelik uit die dorp uit was het ons weer afgesaal en spioene vooruit gestuur. Ons het die hele dag daar oorgetaan. Daar is vir ons skape geslag. Ek en oom Nic het ‘n blad en ‘n boud gekry. Ons het die lewers van die skaap fyn gesny en met vet gemeng. Ons het die blaarpensie van die skaap geneem en die lewer daarin gesit en dit op die rooster gebraai.Dit het heerlik gesmaak. Ons het daar ook ‘n bietjie kakao by oom Fourie gekoop. Behoeftige burgers het daar ook klere en komberse gekry. Teen sononder het ons weer opgesaal en gery tot by die poort naby die meule van Mitchel. En daar weer afgesaal. Ons het ons perde aan mekaar vasgemaak. Ek was gelukkig om nie die nag wag te staan nie, tog het ek nie veel geslaap nie aangesien ek ‘n hoofpyn gehad het. Die spioene het baie laat teruggekom en 2 uur het die opdrag gekom dat ons verder moet gaan. Almal, behalwe die die patrollie wat die aand uitgestuur is, is na Caledon. Ons pakperde het agtergebly en dit was baie koud om te ry daardie nag. Ons jasse het gehelp teen die koue. Ons het gery tot die son amper opgekom het en toe weer afgesaal. Ons het in ‘n hoek van ‘n plaas afgesaal, maar ek weet nie wat die naam van die plaas was nie. Daar was baie vuurmaakgoed en gou-gou het almal se vuurtjies gebrand en was die keteltjies op die vuur en dit was nie lank voor ons koffie gedrink het nie. Spioene is weer uitgestuur en toe die son opkom was dit nogal warm. Dit was toe Sondag 19 Mei.
19 Mei
Ons was net klaar geëet toe die berig kom dat ons weer moet terugkeer na Witkop. Dit is te verstane dat ons nie op ons gemak gevoel het om weer terug te gaan nie. Dit was ‘n lang rit en dit was tevergeefs, maar ons geen ander keuse gehad as om die bevel te gehoorsaam nie.
Nou kon ons dwarsdeur ry, maar ons pakperde het agtergebly. Oom Nic het aan my gesê hy gaan reguit na sy huis toe ry en ek moet die pakperde gaan haal. Ek moes ‘n groot draai ry en toe ek op die plaas kom waar die pakperde agtergebly het was daar niemand. Ek het die perde op Ficksburg gekry. Gelukkig het die kaffer hulle in die stal gesit en voer gegee. Ek het afgesaal en my perd ook in die stal gesit. Dit was toe al 12 uur en ek het ‘n beker water gaan haal en kakao en suiker ingegooi en ‘n stuk brood gesny en begin eet. Die kakao het geen smaak gehad nie omdat die water nie eers gekook het nie. Toe ek klaar was het ek my perdekombers agter die huis in die koelte oopgegooi en ‘n bietjie gerus. Andries, die kaffer, het my kom roep en gesê dat dit toe reeds 2 uur was en tyd om te begin.Ons het vertrek en teen sononder op oom Nic se plaas aangekom. Daar het ek weer oom Koos en die ander raakgeloop en die nag het ek goed geslaap.
21 Mei
Ek en Piet het na oom Jan Kleinbiel gery en die aand laat eers teruggekom na oom Nic toe. Grita het te perd saam met ons gekom en oom Koos het ons hard aangespreek omdat ons so laat uitgebly het en te gerus was vir die vyand.
22 Mei
Ons is vroeg die oggend weg van Zandrivier af. Ons was nie ver van die huis af nie toe 13 Engelse by oom Nic gekom het en sy perdekar gevat het. Gelukkig was ons toe reeds weg. Ons het die aand tot naby Zandrivier gery en daar oornag.
23 Mei
Ons vertrek na Zandrivier en vandaar is ‘n patrollie saam met die kommandant in die rigting van Ficksburg. Die laer het enkele dae by Zandrivier vertoef toe het die bevel kom dat ons weer moet terugkeer. Die Bethlehemlaer en die Ladybrandlaer het saam met die Ficksburglaer terug gery. Die laers het langs die Zandrivier gery tot naby die winkel van Hes-Kok. Die laers het daar oorgestaan. Vuurmaakgoed was baie skaars Twee perdekommando’s is van daar af weg. Die een na Bidolsberg en die ander een na Ficksburg. Ek wou graag saamgaan maar is nie toestemming gegee nie en moes by die laer agterbly. By die laer was dit eensaam en vervelig. By die winkel het ons gekoop wat ons nodig gehad het of liewer wat daar beskikbaar was. Die burgers wat na Ficksburg is, het met die vyand slaags geraak op die plaas van B van Schalkwyk. Die vyand is verdryf en 44 is in hegtenis geneem en na Bethlehem gestuur.
29 Mei
Op die dag vind die geveg te Bidolsberg plaas en die vyand word verslaan. Baie van die weiveld is deur vuur verwoes. Kommandant De Villiers is gewond. ‘n Vals rapport is van Bidolsberg na Ficksburg gestuur wat gevra het vir versterkings. Die Laerkommandant het begin om mense aan te wys. Toe ons vertrek, was ons net 5 en ons was op pad na die slagveld by Bidolsberg. Dit was omtrent 12 uur en ons het vinnig met die grootpad na Winburg gery. Ons het verby Zuringkrans gery na die laer van Senekal wat daar naby gestaan het. Daar het hulle vir ons beduie hoe om na Bidolsberg te ry. Terwyl ons van die Ficksburglaer vertrek het, het die Laerkommandant van plan verander en Petrus Fourie agter ons aangestuur om ons terug te roep. Toe hy by ons kom was ons omtrent nog ‘n halfuur van die slagveld af. Ons was baie ontevrede omdat ons so ‘n lang rit moes aflê en toe weer moes omdraai. Ons het besef dat ons ons perde ooreis het. Schalk se perd het kruppel geraak, maar ons het geen ander keuse gehad as om om te draai en terug te keer na die laer nie. Dit was omtrent 4 uur toe ons weer by die laer kom. Ons het ons perde voer gegee. Die aand toe dit begin donker word, het die kommandant weer ‘n patrollie uitgestuur na Witkop om te gaan verken. Dit was nie lekker nie, want ek was moeg van die rit na Bidolsberg. Gelukkig het ek my een perd by die laer laat agterbly en dus het ek nie nodig gehad om weer met Holie te ry nie. Toe dit donker word is ons uit die laer uit. Ons het gery tot omtrent 10 uur die nag en het onder Witkop afgesaal. Ons het ons perde gespan en ‘n paar wagte uitgesit. Dit was ‘n baie koue nag. Ek het nooit van ek van die huis af weg is so koud gekry as die nag nie. Ek en ene A Willemse het vir ons ‘n bed opgemaak. Ons het elkeen ‘n kombers gehad en het ons saalkleedjies op die grond oopgegooi en toe gaan lê. Hy is 2 uur geroep om te gaan wagstaan. Hy het sy kombers was saamgeneem en van toe af het ek geen oog toegemaak nie, want dit was te koud. My maag was ook onstuimig.
Toe dit dag word, het ons ons perde opgesaal en teen die kop uitgery totdat ons nie meer verder kon nie. Vyf mans het teen die kop opgeklim en ons het by die perde agtergebly. Die 5 mans het gegaan om te spioeneer. ‘n Rukkie na sonop is ons na die plaas van ‘n mnr. Smit wat teen Witkop geleë was. Daar het ons afgesaal om vir die spioene te wag. Oom Smit het vir ons lemoene gegee om te eet. Teen 11 uur het die spioene teruggekom maar, hulle het niks gesien nie. Toe het ons weer opgesaal en na die laer gery. Ons voorman het vir my en ‘n persoon met die van Heyns, beveel om agter te bly as brandwagte op die kop. Ons het weer afgesaal en iets op die plaas gekry om te eet en is toe teen die kop uit. Ons het die hele dag daar gebly om te sien of ons nie die vyand kon sien verbytrek nie. Die vorige aand is gesê dat die Engelse optrek na Ficksburg, maar ons kom niks sien nie. Ek het my naam op een van die klippe daar uitgekerf en myself afgesonder in eensame gebed. Teen 4 uur is ons weer van die kop af en het op die plaas weer iets gekry om te eet. Vandaar is ons terug na die laer en het teen skemer daar aangekom. Die korporaal het my vrygestel van wagdiens en ek het ‘n heerlike nagrus gehad. Dit het my verveel om by die laer te bly. Die Ficksburgers was toe naby Kalkoenkrans. Vandaar het daar op 31 Mei ‘n berig van die kommandant gekom dat ons na die kommando moes gaan. Vir my was dit ‘n vreugde. Ons het begin gereed maak. Ook Koos was ongelukkig omdat ons van hom af weggaan, maar ek wou nie langer by die laer bly en niks doen nie. Ons het 11 uur van die laer af vertrek en oom Koos is toe na die laer van Ladybrand wat op pad was na Zuringkrans. Toe ons ‘n entjie van die laer af weg was het ons teenspoed gekry. Schalk se perd het siek geword en hy kon niks anders doen as om terug te gaan na die laer toe nie. Piet Naude is saam met hom terug. Ons is toe verder en het onder Witkop afgesaal in ‘n vlei. Daar het ons iets geëet. Ek was bekommerd oor Schalk en was van plan om weer terug te ry na die laer. Die ander manne het my moed ingepraat en ek het besluit om verder saam te gaan. Vandaar af het ons Morgezon toe gery waar 100 burgers reeds in posisie was. Veldkortnet Von Maltitz het toe net van die krygsraad by Bidolsberg af gekom waar daar besluit is om ‘n generaal aan te wys in die plek van Gen. De Villiers. Teen 4 uur het ons daar afgesaal . Die Veldkornet het die burgers bymekaar geroep en hulle ingelig oor sy afwesigheid. Ons wat van die laer af gekom het is die aand toe na die burgers by Kalkoenkrans. Die veldkornet is ook saam met ons en ons was 8 uur die aand daar. Nadat ons ons perde gespan het en ons liggame met ‘n stukkie beesvleis verkwik het, het ons gaan slaap vir ‘n heerlike nagrus.
1 Junie
Dit was taamlik koud die oggend en ons was taamlik besig. Ons het askoeke gebak en ‘n os geslag. Elkeen moes sy eie stukkie vleis afsny en insout. Ek het toe nog nie ‘n korporaal gehad nie en ek het toe by korporaal Jan du Preez aangesluit. Die rapport van “Braband Horse” aan ons kommandant het algehele oorgawe voorgestel. Die burgers is die dag telkens bymekaargeroep en moed ingepraat. Schalk en Piet Naude het van die laer af na die kommando toe gekom. Verder die dag het daar nie veel gebeur nie. Ons het ‘n hele paar dae daar oorgebly. Nagpatrollies is gereeld uitgestuur.
4 Junie
‘n Rapport het gekom dat ons ons posisie moet verlaat en na Retiefsnek toe gaan. Toe dit begin donker word het ons vertrek. Ons korporaal het die vorige aand huis toe gegaan en nie weer teruggekom nie. Ons was nou sonder ‘n korporaal. Die aand het ons tot by die Ficksburglaer gery. Op pad daarheen het ons opdrag gekry om by ons posisie by Kalkoenkrans te bly. Ons het toe verlof gekry om weer na die laer te gaan en ons het omtrent 10 uur die nag daar aangekom. Ons was baie moeg en het die nag goed geslaap nie.
5 Junie
Ons het die hele dag by die laer gebly. Ons het die aand koffie en suiker ontvang en toe die son ondergaan is ons weer van die laer af terug na Kalkoenkrans. Ons het teen 9 uur daar aangekom.
6 Junie
Vyftig vrywilligers het die aand gegaan om ‘n Engelse patrollie aan te val, maar het onverrigte sake teruggekeer. Ons het by Kalkoenkrans gebly tot die 11 de Junie. In hierdie tyd het die President ons kom besoek, maar ek was ongelukkig nie daar nie omdat ek in daardie tyd op brandwag was.
11 Junie
Vandaar het ons vertrek na die plaas Leeukop van ‘n mnr G. Kriek. Ons het tot by die winkel van Roodekrans gery en daar afgesaal tot die aand toe. Een van Schalk se perde was weer siek en ek het hom meelwater ingegee. Die meul wat daar gestaan het is reggemaak deur ou “Harring”. Hy het toe ook daar agter gebly as oppasser van die meul. Baie van die manne het voetbal gespeel. Van daar het ons gery tot dit begin donker word sodat die vyand ons nie kon sien nie. Op die plaas van G. Kriek het baie burgers voer gekoop vir hulle perde. Vandaar het ons verder gery en was omtrent 8 uur by Leeukop.
12 Junie
Dit was die vorige nag baie koud en dit was wit geryp. Terwyl ek besig was om vetkoek te bak, is ‘n patrollie aangesê om uit te gaan en te gaan spioeneer. Schalk en Piet Naude was in die patrollie. Wat moes ek toe met die deeg maak? Ek het dit in die meelsakkie gegooi, want ek en Hans Naude en oom Nicolaas du Toit moes na die plaas van oom Nicolaas Kriek gaan om saam met ‘n aantal burgers die plek te bewaak. Ons korporaal daar was Sarel du Plessis. Ons het daar gebly vir ‘n paar dae. Die nagte was bitter koud omdat dit begin reën het. Ons het ‘n hele paar keer uitgery om die vyand te gaan skiet. Een dag is twee van ons gewond en een het gesneuwel. Sy perd is ook doodgeskiet en ek het sy geweer geneem en dit was in my besit tot en met ons oorgawe. Ons het ook ‘n paar keer nagpatrollies gery. Dit was nie lekker nie want dit was bitter koud. Oom Nicolaas en oom P. du Preez het baie nagte na hulle huise gery. Een aand is hulle amper deur die Engelse gevang. Ons het nie daar nodig gehad om vetkoek te bak nie aangesien tant Annie Kriek vir ons brood gebak het. Die mense van Middelpunt het ook goed vir ons gesorg. ‘n Ander korporaalskof het ons daar kom aflos en ons het toe na Herdersfontein vertrek. Daar was dit bitter koud aangesien ons in ‘n kloof naby kuile water moes oorstaan.
Van daar het ons ‘n hele paar keer uitgegaan op brandwag na die plaas van Jan du Preez en het dan die hele dag agter die groot klippe geskuil en op die wagte van die Engelse geskiet. Ons het die voorreg gehad dat Ds. Heyns van Fouriesburg ons een oggend kom besoek het en ons toegespreek het uit 1 Kor 1: 27 en 28. Dieselfde oggend, 26 Junie, het ons vertrek na Spitskop en daar aangesluit by die korporaalskap van Stoffel Schalkwyk. Die assistent-veldkornet het ook die dag by ons aangesluit. Daar was toe drie korporaalskappe bymekaar. Ons het omtrent 15 dae daar gebly. Ons moes koue nagte en reën verduur. Vuurmaakgoed was skaars en daar was nie genoeg voer vir die perde nie. Uitgeholde miershope is gebruik as vuurmaakplekke. Strooi was ons vuurmaakgoed. Ons het nie daar nodig gehad om swart koffie te drink en vetkoek te bak nie anngesien die huis van Jan du Preez en oom Nic du Toit ons voorsien het van brood en melk en droë vrugte. Daar is elke aand ‘n patrollie uitgestuur in die rigting van Mckaskel om ‘n sekere plek die nag te gaan bewaak. ‘n Brandwag is ook elke dag na die plek gestuur. Eendag het hulle in aanraking gekom met die vyand. Aangesien oom Pieter du Preez naby sy huis was, het hy tabak en mielies aan ons burgers verkoop. Die vyand het nooit probeer om daar deur te breek nie. Al het ons swaar gekry, was ons altyd opgeruimd en vol grappies. Ons het baie pret gehad deur twee mauser patroondoppies vol water te maak en dit dan in mekaar in te stamp en stilletjies in die miershoopvuur te gooi waarom ‘n klompie manne gesit het om hulleself warm te maak. As die doppies gebars het kon jy net manne sien uitmekaar spat. Die veldkornet het ons later verbied om dit te doen omdat hy bang was dat daar ‘n ongeluk kan gebeur.
30 Junie
Ek en Schalk is die dag na oom Koos toe. Hy en oom Koos Steyn wat van Bethlehem af teruggekom het, was by Roodekrans. Ons was bly om hom weer te sien en het tot laat middag by hom gekuier. Piet het vir ons droë vrugte gegee wat hy van Bethlehem af saamgebring het. Oom Koos het vir my ‘n pyp gegee en voor ons vertrek het Piet vir elkeen van ons ‘n paar stukkies uitgedroogte beskuit gegee wat ons op pad terug reeds opgeët het.
9 Julie
Ons het vertrek van Spitskop na Groothoek. Daar het ons vier dae gebly en toe vertrek na Kalkoenkrans. Ons het die aand gery tot op die plaas van oom C. Olivier en die nag daar geslaap. Ons perde is vir die nag in die kraal gejaag en ons het rondom die kraal geslaap. Oom Nic en oom P. du Preez het in die huis gaan slaap. Dit was koud die nag en die wind het baie gewaai, maar ons het genoeg komberse gehad. Ons het ook oom Nic en oom Pieter se komberse gehad om te gebruik. Ek is die oggen vyf uur geroep om wag te staan.
Ons het 10 uur vandaar vertrek na Kalkoenkrans. Daar het ‘n geskil ontstaan tussen die korporaalskappe. Die vyand het ‘n hele paar dae probeer om deur te breek, maar kon nie daarin slaag nie. Hulle het by verskeie geleenthede die kop gebombardeer. Niemand behalwe Assisten Veldkornet Crause is beseer nie. Dit het dikwels gebeur dat die vyand ons so besig gehou het, dat daar nie tyd was om kos gaar te maak nie. Ons moes snags ook bittere koue verduur. Ons perde het ook swaar gekry. Schalk en Hans Naude en nog ‘n paar ander het ‘n Kakie krygsgevange geneem by een van die kafferkrale. Ons het sy besittings onder ons verdeel.
25 Julie
Ons het opdrag gekry om ons posisie by Kalkoenkrans te verlaat omdat die Engelse by Slabbert en Witnek deurgebereek het. Ons was baie moedeloos en ek het ook die oggend moed opgegee. Wat kon ons anders doen as om maar te gehoorsaam. Ons het 7 uur daarvandaan vertrek en tot by Moolmanshoek gery en het daar afgesaal om die kommando Engelse te laat deurkom. Nadat ons geët het, het ons weer opgesaal en is oor Virsierskerf. Omdat die rant te steil was, moes ons ons perde lei. Die perd van Cornelius Schalkwyk is beseer en ons het hom agtergelaat. Ons het gery tot op Fouriesburg en dit was die aand baie koud. Ons het in groepies agter die huise geslaap. Ons groepie het agter die huis geslaap waarin Generaal Prinsloo met sy gesin was. Ons het ons ketel in die huis gekook en 2 uur het die generaal ons wakker gemaak om op te saal en ons het vertrek na ‘n rantjie wat in die rigting van die sonsopkoms geleë was. Ons het weer afgesaal by die meule van Le Harp. Ons het ons perde voer gegee en vir onsselfs iets gemaak om te eet. Soos ek verstaan was die Engelse in Fouriesburg toe dit begin lig word. Toe ons weer begin opsaal, het ons waarnemende Kommandant en sy broer ons gekeer om terug te keer na die Engelse. Ons het egter verder gery en op die plaas van mnr M. Heyns ‘n paar dae oorgebly. Die vyand het ons dadelik agtervolg en op 28 Julie moes ons ons posisie opgee. Die Engelse het met kanonne geskiet en ons het omtrent ‘n halfuur verder weer posisie ingeneem. Die oggend het met geweld begin. Ons kannonier kon nie skiet nie, want die vyand het op hom geskiet. ‘n Rukkie daarna het die geveg met gewere begin en dit het voortgeduur tot die aand toe. Aan ons kant is twee gewond en een het gesneuwel. Teen hierdie tyd was ons baie honger. Ons het die oggend laas geët. Ons het toe bevel gekry om ons posisie te verlaat en verder te gaan. Ons was toe nie meer ver van die kraal af nie en ons het tot by Naupoort gery en die nag daar geslaap. Sondagoggend het ons weer verder gery. Die Kommandant en die Veldkornet het ons bymekaargeroep en ons ingelig dat dit nutteloos sou wees om verder te veg. Die Veldkornet was baie ernstig en het gesê dat die manne moeg was en ook dat onderhandeling gevoer sou word om oor te gee. Toe ons uitmekaar gaan het ons Ges 65: 1 gesing. Hy het ons beveel om stelling in te neem. ‘n Rapport is aan die Engelse Generaal gestuur om ons planne aan hom bekend te maak. Die Engelse offisiere en ons offisiere het bymekaar gekom en met mekaar onderhandel. Die Engelse Generaal het vereis dat ons onvoorwaardelik moes oorgee. Baie burgers het gesorg dat hulle die dag by Naupoort kon uitkom. Ons was toe al omsingel. Die offissiere het ooreengekom op algehele oorgawe met die vermoede dat ons sou kon teruggaan na ons huise en persoonlik eiedomme sou kon behou. Ons het egter kaal daar uitgekom.
31 Julie
Op die dag het ons ons wapens neergelê na die oorgawe van Generaal Prinsloo aan Genaeraal Hunter. Die kommando’s van Winburg, Ficksburg, Ladybrand, Smithfield, Wepener, en ‘n gedeelte van die Bethlehem kommando’s was betrokke.
Dit was ‘n tydperk van nuwe ervaringe en teleurstelling. Ons het ons wapens afgee met die belofte dat ons ons perde en privaat besittings sou kon behou. Hulle het egter al ons perde en ‘n gedeelte van ons osse geneem. Hulle het ons elkeen ‘n perd gegee wat so maer was dat ons nie Winburg met hulle sou kon bereik nie.
1 Augustus
Die dag het ons ons reis na Winburg begin en het naby Fouriesburg oornag. Hulle het ons alles behalwe goed behandel.
2 Augustus
Ons het getrek tot op die plaas van C. van der Heever.
3 Augustus
Ons trek tot by Slabbertsnek. Baie perde kon toe al nie meer verder nie.
4 Augustus
Ons oornag op die plaas van Becker.
5 Augustus
Ons oornag by Zuringkrans
6 Augustus
Ons ry tot by Senekal. Baie vrouens het na die pad toe gekom. Ons het daar oornag.
7 Augustus
Ons het getrek tot by Rietspruit.
8 Augustus
Ons ry tot op die plaas van P. Wessels.
9 Augustus
Op die dag kom ons in Winburg aan waar baie vrouens langs die pad gestaan het. Dit was lekker om familie en vriende weer te sien en met hulle te praat.
10 Augustus
Al ons vinnige perde en ‘n gedeelte van ons osse, ook van ons karre en van ons waens word afgeneem terwyl ons onder die indruk was dat ons van hier af sou kon huis toe gaan, word die grootste getal van die buergers al reeds om 6 uur na Kaapstad gestuur. Dit was duidelik dat die Afrikaners hierop gereageer het met smart en afsku.
11 Augustus
Hierdie was ‘n vreeslike dag. Die wind uit die noorde was baie sterk en baie koud en ons het as gevolg van die groot getal mense byna verstik van die stof. Haar Majesteit se Offissiere het goedgekeur dat ouer burgers en kinders kon agterbly om huis toe te gaan. Teen 2 uur het ons ons reis voortgesit. Die reis was alles behalwe lekker. Hulle het nie net ons kos beperk nie, maar ons ook belet dat ons met Afrikaanssprekendes kon praat. Hulle het ‘n afstand vasgestel tussen ons en sulke medereisigers. Op Worcester is ons weer van kos voorsien deur die boeremense. Hieruit het ons die afleiding gemaak dat Worcester ‘n Boeredorp was. Ek is bly om te sê dat die vrouens van die Paarl deur die wagte gebreek het en ons met die hand gegroet het en vir ons iet gegee het en ook adresse aan ons gegee het.
Ons het die Paarl verlaat terwyl ons die Volkslied gesing het met die wete dat hier nog ware Afrikaanse dames was. Dit was asof ‘n elektriese lig in ons aangegaan het. Ons het om 6 uur in die Kaap aangekom en die Maleiers en Basters het weerskante van die straat gestaan en ons gespot op allerhande maniere. Ek het onvergenoegd hieroor nagedink en terwyl ons die kamp by Groenpunt ingestap het, het ons Nasionale lied luid weerklink soos gesing deur die burgers wat al reeds ‘n paar maande daar aangehou was. Dit was lekker om broers, vriende en familiebetrekkkinge weer te sien wat al vir baie lank van ons verwyder was.
Ons was die aand baie moeg en vaak aangesien ons maar min op die trein geslaap het want daar was 32 manne in elke wa en dit was moeilik om te slaap in die oorvol trein. Daar was slegs sitplek. Ons wou ook nie vroeg gaan slaap nie, want ons het baie aan mekaar te vertelle gehad oor ons ervaringe.
15 Augustus
Op die dag het ons aan boord van die Dilwara gegaan. Ek sou eerder in Groenpunt wou agterbly by my liewe vader en broer. Die outoriteite wou my agter nie toelaat nie. Ongeveer twee myl van Kaapstad af het die skip anker gegooi. Hier het ons briewe na ons huise geskryfom hulle in te lig dat ons op pad was na Ceylon.
18 Augustus
Ons het uit Tafelbaai na Simonsbaai vetrek. Daar het die skip anker gegooi en ons het die volgende gekry om te eet: In die oggende kakao, suur brood en botter. In die middae het ons vleis, sop en aartappels gekry. Sommige middae het ons beesvleis en skaapvleis en piekels gekry. Saans het ons toebrode en konfyt en kaas gekry. Ek hoef seker nie te sê of ons die kos kon eet nie. ‘n Aantal burgers het hier afgeklim met die idee om huis toe te gaan soos aan hulle vertel is. ‘n Groot aantal het hier ook weer aan boord gekom. Ek het die indruk gekry dat dit burgers was wat vroeër daar afgeklim het. Ons het dieselfde aand ons reis voortgesit. Dit was voorwaar ‘n nuwe ervaring. Toe ons by Oos Londen verbyvaar het ons twee keer visse gesien wat uit die water uitgespring het. Baie van ons het erg aan seesiekte gely.
21 Augustus
Die dag het ons in Durban aangekom. Van hier af het ons weer briewe huis toe geskryf. Daar is ook weer meer manskappe aan boord gebring. Die meeste van hulle was Transvalers. Dit het aan ons baie ongerief veroorsaak aangesien die vertrek waarin ons was, die gedrang so groot dat iemand wat nie daaraan gewoond was nie, dit nie kon verstaan nie. Ek het vergeet om te noem dat ons in hangmatte moes slaap. Ek en baie ander het liewers op die vloer geslaap omdat daar insekte in die matte was. Ek is huiwerig om te sê watter soort insekte dit was, maar enigeeen wat al op ‘n skip was, sal weet. Hulle het baie seer gebyt en is baie besig. Veral in die nag. Onder dit alles het ons elke oggend Godsdiens gehou en saans ook ‘n Jongelingsbiduur.
22 Augustus
Op hierdie dag het ons Durban en daarmee ook Suid Afrika, die land wat vir ons so dierbaar is, verlaat. ‘n klompie man het die lied “ God zy met u tot tot wy wederzien” gesing.Ons was toe 993 burgers en 150 matrose aan boord.
23 Augustus
Die see was baie onstuimig en baie van ons het weer seesiek geword. Dit is nie ‘n lekker siekte nie. Self die soldate het siek geword.
24 Augustus
Die see was weer onstuimig en ons het vir die eerste keer vliënde visse gesien. Schalk het koorsig geword en is na die hospitaal geneem.
25 Augustus
Die nag het ons verby Madagaskar gevaar.
26 Augustus
Die dag was dit buitegewoon warm en die see redelik kalm en ons het agter gekom dat die see uit stil gebiede en ook uit strome bestaan het. Teen 3 uur het ons ‘n eiland gesien waarvan ons die naam nie geken het nie.
27 Augustus
Ons het weer verby twee eilande gevaar.
28 Augustus
Ons het weer ‘n eiland gesien en die see het weer onstuimig geraak, maar ons het voortgevaar.
29 Augustus
Dit was taamlik koud en dit was verkwikkend na die erge hitte, maar ons het begin swak word as gevolg van die vermoeienis en die lang vaart. Ons Suid Afrikaners het dit moeilik gevind om van die Europese kos te lewe.
30 Augustus
11 uur het ons by die Chycelle anker gegooi. Hier het ons vir die eerste keer vrugte gekry, maar dit was baie duur: 12 Piesangs vir 6 pennies. Die land was pragtig en die hoë berge het baie soos die Drakensberge gelyk. Dit was dig begroei met bosse en bome. Die nasie was vir my onbekend en aangesien ons twee dae hier moes oorbly, was dit ook baie vervelig aangesien ons nie op die boonste dek toegelaat is nie.
2 September
Teen 5 uur die middag het ons vertrek. Steeds in ‘n Noordelike rigting.
3 September
Die see was baie onstuimig en baie het weer seesiek geword.
4 September
Alles was stil en ten spyte van ons Afrikaanse herkoms, was dit hartseer om te sien hoedat daar kaart gespeel is vir geld en ook gedobbel is. Dit het ‘n mens vroeër nooit gesien nie.
5 September
A. van Heerden van Smithfield is die dag oorlede en soos dit die gewoonte by Afrikaners was is die lyk nie ter aarde bestel nie, maar ter see. Daardie aand het ons gebid vir sy vrou en kinders.
6 September
Dit was ondraaglik warm en ons het eilande gesien wat ons aan ons eie land laat dink het. Al was ons ballinge, het ons glad nie getwyfel aan ons eie voorbestaan nie.
7 September
Sommige van ons het skoene en klere ontvang.
8 September
Teen 6 uur het ons anker gegooi by Colombobaai by die eiland Ceylon. Dit was uiteindelik die bestemming vir ons ballingskap. Colombobaai was ‘n redelik bedrywige baai. Baie skuitjies en skepies het daar rondgevaar. Dit was interessant om te sien hoe die indiërs ‘n geldstuk wat ons van die skip af in die water gegooi het, uitgeduik het.
9 September
Al ons kombers en klere is na die wal geneem en per trein na ons kamp geneem.
10 September
Ons het 7 uur van Colombo af per trein na ons kamp vertrek. Ons is met skuite deur die Indiërs na die wal geneem omdat daar nie plek vir ‘n skip teen die wal was nie. Die kamp was omtrent 160 myl van Colombo af en ons is deur 37 tonnels. Dit was bewys die aard van die land. Hoë berge wat tot teen die toppe beplant was met piesangs, klappers en derglike bome. Ons het vir grootste gedeelte van die reis deur die groot teeplantasies van die heer Liptid gery. In die klowe en op party plekke ook hoog teen die skuinstes was die mooiste rysvelde, opgevul soos tuinbeddings, net baie groter. Alles was waterpas en aangesien dit die dag baie gereën het, was dit gevul met water. Ek hoop dat ons sending nie tevergeefs sou wees nie en dat ons moes leer om harder te werk. Die koelies het die dag baie geld gemaak deur vrugte te verkoop. Baie van ons het baie geld verloor omdat ons nie vertroud was met hulle geld nie en hulle ook nie met ons s’n nie. Hulle was baie vriendelik teenoor ons deurdat hulle ons water gegee het by elke stasie. Hulle is nie ‘n baie netjiese nasie nie. Ons het gesien hoedat hulle, as hulle vir ons water uit ‘n emmer skep, hulle hande onder die water ingedruk het. Ook was hulle emmers nie baie skoon nie. Hulle het ook van ons af iets gekry. Ons het vir hulle klinkers gegee. As ‘n klinker op die grond geval het, het baie daarop toegesak soos hoeders agter mieliepitte aan. Die een wat dit eerste gekry het, was die baas daarvan. Hieruit het ons agter gekom dat hulle maar moeilik ‘n bestaan gemaak het. Ons het 5 uur die middag by ons kamp gekom met die naam Diytalawa. Die hutte was van sink en die raamwerke van yster. Dit was ingerig vir 64 manne. Ons was baie bly om uiteindelik rustig te kon wees. Ons het C. Ferreira as ons kaptein gekies om orede te hanhaaf in die hut. Elkeen het ‘n houtkatel gekry wat met sak oorgetrek was. Ons het die Here gedank vir sy begeleidende hand oor ons en gaan slaap. Ons het taamlik koud gekry aangesien ons elkeen net een kombers gehad het. Die ander was nog nie hier nie.
11 September
Op die dag is ons name vir die vierde keer opgeskryf nadat ons oorgegee het. Daar was baie te doen. Ons moes alles netjies maak. Klere en komberse is uitgekook omdat hulle vol was van die insekte van die skip. Oor die kos kon ons nie kla nie. Soggens het ons tee en brood gekry en in die middae buffelvleis met aartappels en rys en pampoen. Om 4 uur is tee en brood bedien en verder niks. Om 8 uur moes almal in die hutte wees om getel te word en half tien moes die ligte af wees.Soggens ses uur is ons weer getel.
12 September
Dié dag was ons steeds besig om klere te was. Dit het taamlik gereën en dit was baie verkwikkend. Om twee uur het ons biduur gehoou waartydens broer Ferreira ons voorgegaan het. Hy het ons aandag gevestig op die twee blindes by Jerigo. Ons het die Here gedank vir ons veilige aankoms. Ons het pannekoeke en melktert gebak. P Naude was regtig siek.
13 September
Ek en Piet Kok was die dag die kokke. Hulle het ons bedank omdat die kos beter gesmaak het as gister s’n. Dit het nog gereën en die koelies het nog hutte opgeslaan. Hulle het ook elektriese drade om die kamp gespan.
14 September
Vandag het nog meer gevangenes aangekom. In hut 46 het iets tragies gebeur. Hendrik Venter is deur ‘n Transvaler met die vuis doodgeslaan. Dis hartseer dat die eerste sterfgeval op so ‘n manier moes plaasvind.
15 September
Vandag het ‘n klomp Ficksburgers aangekom. Piet Naude was steeds siek. Ds Postma het ons die aan aand toegespreek oor die woorde uit Ps 90: “Leer ons om ons dae so te tel.”
16 September
Dit was ‘n heerlike Sondagoggend. C. Ferreira het ‘n kort woord tot ons gerig uit Matt. 8:12 – “Volg My”. Ds Postma het ons 3 uur toegespreek uit Luk 19: 10. Dit was die eerste Sondag wat ons hier was. Dit het nie gelyk of dit Sondag of Maandag was nie aangesien die Koelies gewerk het soos op ‘n weeksdag.
17 September
Vandag was dit baie warm. Die meeste mense het op die banke buite gesit. Ek het hout gaan haal. Ons ook hoede ontvang wat soos helmets gelyk het. Dit was koel as die son so warm was. Ons het ook Quietsringe gekry om mee te gooi.
18 September
Ons het ‘n aangename nagrus gehad maar verder het niks besonders gebeur nie.
19 September
Dit was ‘n heerlike oggend. Twee uur was daar biduur. Broer Johannes Haupt het ‘n kort boodskap gebring uit 1 Samuel 4 en Efesiërs 6. Hy ons aangeraai om nie op ons eie insig staat te maak nie.
20 September
Ons kaptein is sonder verhoor deur die Kolonel afgedank omdat die emmer van een van die tafels nie op sy plek was met die twee uur inspeksie nie. In sy plek is G. Olivier gekies.
21 September
Dit was ‘n koel oggend, maar ‘n warm dag, Ons het in die skaduwee agter die hutte gesit en Bybel lees.
22 September
Vandag het niks van belang gebeur nie. Broer Gert van de Venter het met ‘n koor begin in Hut 48, maar dit het uiteindelik weer in duie gestort.
23 September
Vandag het Ds Roux ons gepreek uit Daniël 3: 16 en Ps 32: 5 en klem gelê op die belydenis van sonde.
24 September
‘n Heerlike dag. Ons het weer Bybellesing gehad uit Gen 33 en 34
25 September
Vanoggend was dit taamlik koud. Gert Veltman het ‘n boodskap gebring uit Lukas 5: 32. Daar het weer gevangenes aangekom.
26 September
Vanoggend weer taamlik koud. Ds. Roux het Katkisasie geehou in Hut 63. Twee uur was daar biduur in hut 48. Ds Roux het gepreek uit Ps 119 oor Dawid se gebed.
27 Septeember
Vyf uur was daar weer katkisasie. Omdat Ds. Roux nie daar was nie, het Mnr. Ferreira dit gehou.
28 September
Namiddag het ons weer Bybellesing gehad. Daar is gepraat oor die gelofte uit Gen 39.
29 September
Ons het huis toe geskryf en dit het ‘n bietjie gereën.
30 September
Dit was taamlik koud en Ds. Roux het gepreek uit Job 10: 7 en vir die res van die dag het niks besonders gebeur nie.
1 Oktober
As ek dink aan dit wat die afgelope jaar met my gebeur het, kan ek nie anders as om te sê: “Tot hiertoe het die Here my gehelp”. Ek kan Hom nie genoeg dank vir alles wat Hy aan my gedoen het nie. Ek het baie lig ontvang. Ek dink terug aan die begin van die oorlog. Ons het toe nog baie voorregte gehad wat ons opreg waardeer het. Ds Roux het ons ernstig aangespreek in die Katkisasie oor die hebsug van Lot. Hy het gesê dit was selfsugtig van ons om oor te gee en dat ons ons perde wou behou om mee huis toe te gaan.
2 Oktober
Vandag was ons president se verjaarsdag en ons het aan hom gedink. Ons het ernstig vir hom gebid. Die mense was opgeruimd en het die hele dag geraas. Verder het niks besonders gebeur nie.
3 Oktober
Dit het ‘n bietjie gereën. Die Goewerneur van die eiland was hier. As gevolg van die reën het hy nie al die hutte besoek nie.
4 Oktober
Dit was koel die oggend en daar het niks besonders gebeur nie.
5 Oktober
C. Ferreira het in ons hut begin om onderrig te gee aan die jong mense wat nie kon lees nie. Piet Kok het begin om Grieks aan te leer. Ds Roux het die aand gepreek oor 1 Kon 19: 9 oor die woorde: “Wat maak jy hier?” Sommiges het briewe van die huis ontvang.
6 Oktober
Ons het ons vandag laat afneem.
7 Oktober
Ds. Roux het die oggend uit Openb. 22: 11, 12 en in die aand uit Gen 6:3 gepreek.
8 Oktober
Vandag het niks van belang gebeur nie.
9 Oktober
Vandag was dar ‘n konsert in die buitelug.
10 Oktober
Vandag is dit Paul Kruger se verjaarsdag. Ons het Ps 83 gelees, want daar is vertel dat hy hierdie Ps. dikwels voor en na die oorlog gelsees het. Die res van die dag is daar sport gespeel.
11 Oktober
Dit was ‘n koel oggend met ‘n bietjie reën.
12 Oktober
Daar was Bybellesing, maar Ds. Roux was afwesig.
13 Oktober
Verlede nag het dit goed gereën , maar verder het niks gebeur nie
14 Oktober
Sondag. Dit was ‘n heerlike oggend. Sewe uur is Godsdiens in die buitelug gehou naby Gen. Roux se hut. Ds. Roux preek uit 2 Kor. 3: 18. Gedurende die namiddag het ‘n harde bui reën geval. Vyf uur het Ds. Roux gepreek uit Luk 15 en beklemtoon dat ons nie moet soek nie, maar dat Jesus na ons soek. Hy het aan ons gevra wat ons sou doen as ons aan ‘n balk oor ‘n afgrond sou hang.
15 Oktober
Ons verlang baie huis toe . Daar was Bybellesing en Katkisasie. Ds Roux was teenwoordig.
16 Oktober
Ons het ons portrette ontvang. Dit was ‘n reënerige dag.
17 Oktober
Dit was ‘n aangename dag. Dit het steeds gereën. Twee uur was daar biduur. Johannes Olivier het masels opgedoen. Ekself het ook nie goed gevoel nie.
18 Oktober
Dit het lekker gereën, ook die aand.
19 Oktober
‘n Reënerige dag. Daar was Bybellesing. Terwyl ons besig was, het dit so gereën dat ons omtrent niks kon hoor nie.
20 Oktober
Dit het steeds gereën
21 Oktober
Dit was ‘n heerlike oggend. Ds. Roux het gepreek uit Luk 15: 17. Vyf uur het hy weer gepreek uit Joh 6: 43, 44. Dit was ‘n baie ernstige preek. Ek het myself weer opnuut aan Jesus oorgegee. ‘n Jong man het onder die preek tot bekering gekom.
22 Oktober
Dit was ‘n koel oggend en ons het weer katkisasie gehad.
23 Oktober
Daar was ‘n Bybelklas in die skoolgebou.
24 Oktober
Ons het elkeen vir ons ‘n lei gekoop om somme op te maak. Ek het ‘n brief van broer Tom ontvang.
25 Oktober
Ons het weer katkisasie gehad. Die wolk wat die Israeliete uit Egipte uitgelei het, is “Sechina” genoem. Dit beteken “Wolk van getuienis”.
26 Oktober
Ek het ‘n houtbankie gemaak. Ek voel vanaand regtig siekerig met pyn in my lyf en my nek.
27 Oktober
Ek het sleg geslaap en ek voel nie beter nie. Ek het die hele dag in hut gebly.
28 Oktober
Vandag is Sondag. Ek voel steeds nie lekker nie. Ek gebruik die medesyne wat die Dr. voorgeskryf het.
29 Oktober
Ek voel ‘n bietjie beter. Ons ontvang klere. Piet gaan namens my omdat ek nog nie gesond gevoel het nie.
30 Oktober
Vanoggend voel ek regtig siek. Teen die aand was ek baie siek en die Dr. Is vir my laat kom vir my, F. Moolman en J. Moolman.
31 Oktober
Verlede nag was ek baie benoud en vanoggend het ek ernstig gebid. Die Dr. het kom sê dat ek die koors het. Hulle moes my na die hospitaal dra. Ek het 15 dae in die hospitaal deurgebring en het gedurende die tydperk niks anders as melk gekry nie. Oor die behandeling kon ek nie kla nie. Baie mense het aan die koors gesterf terwyl ek in die hospitaal was.
(Hy het niks in sy dagboek aangeteken terwyl hy in die hospitaal was nie en eers weer op 15 November begin skryf)
15 November
Ek was so gesond dat ek kon opstaan en na ‘n ander hospitaal toe gaan.
18 November
20 van ons is oorgeplaas na ‘n ander hospitaal by die stasie, ‘n myl van die kamp af. Ons is met buffelkarre vervoer omdat die pad baie nat was weens baie reën wat geval het en omdat die pad baie steil was. Die twee buffel moes hard werk om ons op ons plek te kry. Dit was taamlik koel. Dit is te verstane dat almal van ons na ons kamp verlang het.
29 November
‘n Aantal van ons is terug na ons kamp. Ek was dankbaar om weermy broers en vriende te sien. Baie siekes het nog siek in hulle hutte gelê. Ook in ons eie hut.
30 November
Ek het sleg geslaap en die dag het niks besonders gebeur nie.
1 Desember
Ek word ‘n lid van die CSV. Die kapteins van die verskillende hutte het vandag die Goewerneur besoek en parool gekry om te gaan. Een van die mans uit ons hut is na ‘n sel geneem omdat hy ongehoorsaam was aan die kaptein. Ons het gehoor dat generaal De Wet vandag Dewetsdorp ingeneem het en kanonne afgeneem het.
2 Desember
Ds. Murray preek uit Ps 19: 13, 14.
3 Desember
Ek het die dag baie swak gevoel
4 Desember
Ds Murray preek uit Jona 1: 3. Die Engelse het die byle elke aand na buite geneem uit vrees dat ons daarmee kwaad sou aanrig. Ek ontvang ‘n brief van broer Hendrik met ‘n portret van hom.
5 Desember
Vandag het ons Katkisasie gehad. Een van ons katkisante, P. Schutte, is vandag begrawe. Ds Murray lei die biduur en preek uit 1 Kor 6: 19
6 Desember
Twee van ons medegevangenes is in die namiddag begrawe: Oom Piet Niemand van Winburg en ene Van Niekerk. Die aand preek Ds Murray uit Gen 42: 23. Daar was ‘n taalman tussen hulle. Ek en Piet is na die hospitaal om my klere en my komberse te gaan haal. Die mense was nie meer so siek soos aan die begin nie.
7 Desember
Vandag is weer twee mense oorlede. Ek ontvang ‘n brief van my broer Hendrik. Ons is baie bly as ons briewe van ons geliefdes ontvang.
08 Desember
Ons het vandag CSV gehad.
09 Desember
Sondag. Ds Murray preek uit Rigters 8: 18 en 19. By die Sondagskool het Ds Roux gepraat oor 1 Joh. 4:16 – “God is liefde” en Hebr 12: 29 – “God is ‘n verterende vuur.”
10 Desember
Dit reën en vanmiddag het ons Katkisasie gehad.
11 Desember
Vandag het ons in die skool met Algebra begin. Dit het weer gereën.
12 Desember
Vanaand het daar weer ‘n harde bui reën uitgesak. Ons het biduur gehou en veral gebid vir die onbekende toekoms en ook vir die beëindiging van die oorlog.
13 Desember
Ds. Murray preek uit 1 Sam. 15: 3 – “Gaan verslaan nou vir Amalek.” Sonde en hoogmoed was twee van Saul se sondes. Ds Murray wys daaop waar sonde ‘n mens kan bring. Ons moenie die skuld op iemand andes lê nie.
14 Desember
Ds. Roux het ons die aand vertel van Europa.
15 Desember
Oom Jan van Kolder (Van Coller?) wat skielik oorlede is, word begrawe.
16 Desember
Vandag is dit 62 jaar na die oorwinning oor Dingaan. ‘n Jaar gelede het Ds. Kestel van Harrismith vir ons ‘n diens in Natal onder ‘n doringboom gehou. En vandag is ons bannelinge op Ceylon. God se weë is nie ons weë nie. Ds Murray preek die oggend uit Sefanja 3:19 en Ds Roux het gepreek uit 1 Sam. 3: 10 – “Spreek Here, want u dienskneg luister.” Die aand het Ds. Roux gepreek uit Jer. 6: 16 en verwys na ons voorvaders.
17 Desember
Dit het baie gereën en niks besonder het gebeur nie.
18 Desember
Dit het steeds gereën.
19 Desember
Ons hut is deur die koelies ontsmet en ons het biduur en Katkisasie gehad.
20 Desember
Ds Postma het in die skoolgebou gepreek. Dit het weer baie hard gereën
21 Desember
Ds. Roux het nie Katkisasie gehou nie as gevolg van ‘n keelaandoening. Mnr. Ferreira het in sy plek waargeneem.
22 Desember
Cornelius Ferreira is uit ons hut uit na sy broer in hut 60. Ons het baie alleen gevoel.
23 Desember
Sondag. Br C, Ferreira het gepraat oor 2 Kor. 6: 2. Die aand het Ds. Murray gepreek uit Jes. 40: 1 – 5. Ds Roux is weens siekte verhinder om te preek. Vandag is drie van ons mense begrawe.
24 Desember
Vandag is 5 van ons mense begrawe
25 Desember
Kersdag. Ons ‘n bietjie pap gemaak wat as poeding moes dien. Ds. Postma Het gepreek uit Luk. 2: 14. Ons is weer gedurende die preek deur die Engelse gepla en die diens moes ophou. Ons moes na die hutte gaan vir “Roll Call”. Die aand het Ds. Murray gepreek uit Luk. 2: 14 – 17 en 20. Die Kersdag het stil en rustig verby gegaan.
26 Desember
Katkisasie en verder niks besonders nie.
27 Desember
Ons het vakansie gehad. Die aand het Ds. Murray gepreek uit Heb. 9: 24, 26, 28
28 Desember
Taamlik nat. Ek en Piet het gaan stap.
29 Desember
Taamlik koel. CSV is gehou en dit was baie lekker.
30 Desember
Dit is die laaste Sondag van hierdie jaar. Die jaar is verby met al sy droefheid en moeite. Ds. Murray het die oggend gepreek uit 1 Sam. 30: 6. Die aand het Ds. Postma gepreek uit Deut. 8: 3 – 6. Hy het gewys op die seëninge ten spyte van die beproewinge.
31 Desember
Die jaar is verby. Rouw en droefenis. Ons het die aand ‘n biduur gehou en ons harte het uitgegaan na ons dierbare Vaderland wat so ver van ons af was. Mag die Here vrede gee en ons weer huis toe laat gaan. Hierdie jaar het geëindig en hier is nog baie mense wat die breë weg bewandel. Mag die Here hulle tot bekering laat kom. Dit is nou nag en dis koud. Ons het weer ‘n nuwe sersant.
1901
1 Januarie
Wie het ooit kon dink dat ons hierdie jaar of die nuwe eeu op Ceylon as bannelinge sou moes begin. Ver van ons dierbare Vaderland. Tog is die Here se weë nie ons weë nie en sy gedagtes nie ons gedagtes nie. Dit is ‘n helder oggend. Om 10 uur het Ds. Murray gepreek oor Eks. 13: 1. God het nie die Israeliete op die kort pad gelei nie. En ook Ps 18: 31. God se weë is volmaak. Die prediking was bemoedigend en vertroostend. In die namiddag was daar biduur, maar aangesien ons skooltafels en banke na ‘n ander hut moes dra, kon ek die biduur nie bywoon nie. In die aand het ons Jongelinge biduur gehad en meneer C. Ferreira het gepraat oor Paulus se woorde toe hy vir die Here gevra het: ”Here wat wil U hê moet ek doen?” Hy het daarop gewys dat ons nie ons wil nie, maar God se wil moet navolg en doen.
2 Januarie
Dit was ‘n baie lekker dag. In die aand was daar Jongelingebiduur.
3 Januarie
Ons skool het weer begin. Ons is aangemoedig deur die voorsitter en die skoolkomitee se lede om ons bes te doen.
4 Januarie
Deur die nag het dit gereën en dit reën nog steeds.
5 Januarie
Ons SV (Studentevereniging? ) word gehou en ons hoor dat die gevangenes van Groenpunt op die water lê.
6 Januarie
Ds. Murray het die oggend gepreek. Die kerk was vol. Mnr. Haupt het die middag om 2 uur Sondagskool gehou. Die aand het Ds. Postma gepreek uit Joh 3: 14, 15.
7 Januarie
Vandag kon ons nie skool toe gaan nie, aangesien die hek tussen die twee kampe gesluit was omdat die buitelanders na Ragama moes gaan en hulle deursoek moes word. Hulle het die volksliedere van die Vrystaat en die Transvaal gesing.
8 Januarie
Dit was ‘n lekker dag. Ds. Murray het die aand gepreek uit Num. 21:9. Ons het briewe van Groenpunt en van tannie Hannie Pienaar ontvang.
9 Januarie
Dit het ‘n bietjie gereën. Die aand het ons biduur gehou en die Here gedank vir sy verhoring van ons gbede vir ons siekes.
10 Januarie
Dit het in die nmiddag gereën en 100 krygsgevangenes het aangekom.
11 Januarie
Aangename dag. Bybellesing gehou.
12 Januarie
Vandag het ons ‘n toewydingsbyeenkoms gehou. Nog meer gevangenes het aangekom, onder andere ook Ds. Thom en Ds. Minnaar. Meer as 100 persone het teruggekom uit die hospitaal. Die Here het ons gebede verhoor.
13 Januarie
Ds. Murray het gepreek uit Gal 6: 14. Die aand het Ds Postma gepreek uit 1 Sam. 15: 34 en 35. Hy lê klem daarop dat Samuel bedroef was oor Saul.
14 Januarie
Verlede nag was dit taamlik koud. Nog gevangenes het hier aangekom. Vanmiddag was daar weer Katkisasie en Ds. Roux het die name van diegene wat wou belydenis aflêopgeskryf.
15 Januarie
Dit is ‘n aangename koel oggend. Piet en ek het uit die skool weggebly sodat ons Bybellesse kon leer met die oog op aanneming. Om 5 uur het Ds. Postma ‘n diens gehou oor Mark 12: 34.
Die punte van sy preek was:
- Nie ver van goeie geleentheid nie.
- Nie ver van veiligheid nie.
- Nie ver van verlorenheid nie
- Nie ver van om in God se Naam te gaan nie
16 Januarie
Ons het weer uit die skool uit weggebly. Nog gevangenes het aangekom. Om 5 uur was daar katkisasie. Ds Roux het om die beurt vrae gevra. Ons het die Ou Testament behandel. Om 6: 30 was daar biduur in hut 48 gelei deur Kaptein Steyn. Ons gebedsonderwerp was ons dierbares in Suid Afrika.
17 Januarie
Dit was ‘n koel oggend en ons het ons besig gehou om ons Katkisasielesse te leer. Ons het briewe uit Groenpunt ontvang, verder niks besonders nie.
18 Januarie
Dit was ‘n aangename oggend, maar in die middag baie warm. Ons het weer uit die skool gebly. Om 4 uur het ons katkisasie gehad en het die Nuwe Testament behandel. Schalk het van hut 18 na hut 54 gekom.
19 Januarie
Om 10 uur was daar CSV en die onderwerp was “Die Sending”. Om 4 uur was daar Katkisasie en Ds. Roux het die Vraeboek behandel. Ek het twee vrae nie geken nie.
- Waaroor handel die tweede les van die Vraeboek?
- Waarvandan het Christus sy Godheid ontvang?
20 Januarie
Sondag. Om 9 uur preek Ds. Postma uit Maleagie 3: 14 – 16. Dit was vandag baie warm. Om 2 uur het Ds. Roux in die skoolgebou gepreek vir die Katkisante. Hy lees uit Ef. 5 en verduidelik wat aanneming eintlik beteken. Om 5 uur preek Ds. Roux weer in die grasgebou uit Jes 64:6 oor die woorde: “Ons almal val soos blare af.Die blaar hang maar vir ‘n tyd aan die boom. Blare aan ‘n boom se doel is om die boom mooi te laat lyk en die vrugte te beskerm en skadu te gee”. Hy noem twee voorbeelde om dit te verduidelik. Die een is die winkelier en ‘n man wat hom geld skuld en ook die van Koos, die sterk man. Sy buurvrou het hom gewaarsku, maar hy het nie na haar geluister nie. Hy vra aan ons die vraag: “As jy val,is jy gereed?”
21 Januarie
Dis is taamlik warm. Ek moes gaan hout haal en kon dus nie skool toe gaan nie. Ds. Roux het met ‘n nuwe katkisasieklas begin.
22 Januarie
Dit is taamlik warm. Vanmiddag is ons aangeneem. Ons was 94 in Hut 1. Ek het die volgende vrae gekry:
- Aan wie is Josef verkoop?
- Waar het Adam en Eva gewoon?
- Noem een teks in die Bybel in die Ou Testament wat verwys na die geboorte van die Here Jesus?
- Noem een gelykenis van die Here Jesus?
- Aan wie het Jesus verskyn na sy opstanding?
Uit die Vraeboek het ek die vraag gekry: Waarom word Jesus die Saligmaker genoem?
Ds. Murray van Oudtshoorn en Ds. Manaar van Heilbron, O.V.S. en vier ouderlinge was teenwoordig. Ds Murray en een van die ouderlinge het ‘n toesprake gelewer en Ds. Minnaar het met gebed afgesluit. Ek het ‘n brief na Groenpunt geskryf . Om 5 uur het Ds. Murray ‘n diens gehou met 1 Pet. 3: 17 as teks.
23 Januarie
Dit was ‘n koel dag. Om 4:30 was daar katkisasie en om 6:30 Jongelingebiduur. Die Onderwerp hier het gehandel oor “verlossing”. Ons kry die berig dat die koningin van Engeland oorlede is en die vlag het halfmas gehang. Dit het ‘n bietjie gereën.
24 Januarie
Dit was taamlik koel. ‘n groep siekes is na die Mount Levina. Ds. Postma hou ‘n diens op die bultjie en die skare word afgeneem. 2 Kon 7: 9.
25 Januarie
Die lug was betrokke. Die onderwysers en die offissiere word afgeneem en daarom het ons skool eers 9:30 begin. Die miswolke het vanaand oor die berge gehang – ‘n Pragtige gesig.
26 Januarie
Verlede nag was dit baie koud. Ons het Christelike Strewers vergadering gehou.
27 Januarie
Verlede nag was dit baie koud. Om 10 uur is daar ‘n diens in die grashut gehou. Ds. Minnaar het gepreek uit Neh. 8: 11. – “Die blydskap van die Here is ons sterkte”. Om 2 uur was daar ‘n kinderdiens deur Ds. Roux. Sy teks was 1 Kon 19: 9. Om 5:00 was daar ‘n diens deur Ds. Murray uit Luk. 15 Die punte van sy preek was:
- Hoogmoed
- Ongeloof
- Mensevrees
28 Januarie
‘n Koel oggend. Ek skryf ‘n brief aan tant Pietha. Piet kry ‘n ongeluk en sny sy vingers. Namiddag het dit gereën.
29 Januarie
Mistige weer met fyn reën. Om 5 uur het Ds. Murray op die bultjie gepreek uit Luk. 4: 18 – 19.
30 Januarie
Vanoggend taamlik nat. Misreën het geval. Vandag was ek die kok. My oë brand en is seer van die rook. Ek het ook hoofpyn gehad en was moeg. Ek kon nie skool toe gaan nie. Om 1: 30 was daar Jongelingebiduur in Hut 48. Die tema was “Verlossing”.
31 Januarie
Mistige weer. Ons komberse word ontsmet in die stoomketel. Ons hut word ook ontsmet. Om 5 uur preek Ds. Minnaar op die bultjie uit Rom 17: 12. Een van ons gevangenes word begrawe.
1 Februarie
Niks van belang nie. Daar was Katkisasie en Bybellesing.
2 Februarie
Vandag was alle besighede gesluit. Die begrafnis van die koningin is hier gevier. Om 10 uur was daar Christelike Strewers Vereniging. ‘n Adres word aan Ds. Minnaar voorgelees aangesien hy ons gaan verlaat. ‘n Papiermes word aan hom as geskenk gegee. . Ek ontvang briewe van Pa en Bertha. Ene mnr. Grobler van Senekal word begrawe. Ds Murray hou ‘n diens in Hut 71. Tyding gekry dat ou Frans oorlede is.
3 Februarie
Sondag. ‘n Baie koel dag. Ons het die voorreg gehad om die Woord van die Here drie keer te hoor. Om 9 uur het Ds. Murray in die grasgebou gepreek uit 2 Sam 3: 17 oor Dawid en Abner. Die punte van sy preek was:
- Dawid wil koning word omdat die volk dit wou hê
- Dawid wil koning word omdat hyself wou.
- Dawid wil koning word omdat dit God se wil is God se wil is.
Om 2 uur preek hy weer vir die jongelinge uit 2 Tim. 4: 7. Om 5 uur prrek Ds. Postma in die buitelug uit Matt 15: 15. Hy kon nie klaar preek nie as gevolg van reën. Ds. Roux het op dieselfde tyd in die grashut gepreek. Dit het taamlik hard gereën
4 Februarie
Ons het die oggend vroeg opgestaan, maar nie almal nie, sodat ons presies om 6 uur met ons oggend kon begin. Diegene wat niks van Godsdiens wou hoor nie, en liewer nog langer onder hulle warm kombers wou bly lê. Dit was ‘n lekker oggend. Ek het ‘n brief van Frikiie uit Groenpunt ontvang. Ek het sleg gevoel om te verneem dat ou Frans deur ons eie mense doodgeskiet is. Ek het aan hom geskryf en gevra of hy vir my geen vrae gevra het nie. Om 6:30 het Ds Murray ‘n diens in hut 60. Op dieselfde tyd het Ds Roux in hut 51 gehou. Ek het dit bygewoon. Sy preek het gegaan oor die vraag: “Wat maak jy hier?”. Hy het gesê God sal nog aan ons vra wat ons op die 4de Februarie in hut 51 kom maak het.
5 Februarie
Vandag was ek die kok en kon daarom nie skool toe gaan nie.
6 Februarie
Ek was nog besig om die Katkisasievrae af te skryf. Om 6:30 was daar Jongelinge biduur in hut 60. Dit is deur Ds Roux gelei. Hy preek uit 2 Kor 5:20
7 Februarie
Dit is taamlik warm en ons ontvang nuwe hemde en besems.
Hier hou die inskrywings uit sy dagboek op
Agter in die dagboek is nog die volgende aantekeninge:
Januarie 1902
1 Januarie
Al weer is ‘n jaar verby en die donker wolke van die oorlog hang nog steeds oor Suid Afrika. Ten spyte hiervan kan die kind van God nog steeds bly wees omdat hy weet dat daar vir hom ‘n kroon weggelê is. Ons as krygsgevangenes in Dijatalawa, die verloste siele, verheug ons vanoggend in Jesus vir al die seëninge aan ons geskenk in die afgelope jaar. Ons kon waarlik sing: ”Prys die Heer met blye galme” en ons Ebenhaeser oprig en sê: “Tot hiertoe het die Here ons gehelp.” Meer as een wat in die begin van die afgelope jaar dood was in die sonde, is wakker geskut. Meer as een Christen wat koud was, is wakker geskut. Ons dank die Here omdat Hy ons na Ceylon toe gestuur het. Ons dank die Here vir treurige nuus wat ons uit Suid Afrika ontvang het. Ons dank die Here vir voorspoed en vir teenspoed, want daardeur is ons nader aan Hom gebring. Vanoggend was ons reeds om 4:30 in die buitelug bymekaar om die Here te dank vir sy groot sondaarsliefde wat Hy aan ons bewys het. Dit was wonderlik om so ‘n groot skare te hoor wat lofliedere aan die Here sing. Baie het woorde van bemoediging uitgespreek. Dit was wonderlik om die Oujaarsbyeenkomste van jong mense by te woon waar getuienis afgelê is van wat Jesus vir hulle gedoen het die afgelope jaar. Dit was ook wonderlik om die getuienisse te hoor van hulle wat Jesus gevind het. Hoe lank ons nog hier sal moet bly, weet ons nie, maar ons vind ons troos in woorde dat Hy gesê het: “ Ek sal julle nie begewe en julle nie verlaat nie”. Al vertoef Hy nog, Hy ken sy tyd. Hy kom, Hy kom verseker. Ons dank ook die Here dat die Sendingsaak vir ons duidelik geword het. Ons dank ook die Here dat daar vandag nie soveel pasiënte in die hospitaal is soos in die vorige jaar nie. Wat sal ons die Here vergeld vir al sy weldade wat Hy aan ons bewys het? Waar ander hierdie jaar met blydskap geëindig het, is hier ok diegene wat die jaar geëndig het met ‘n gebroke hart as gevolg van nuus wat hulle uit Suid Afrika ontvang het van dierbares wat oorlede is. Onder hulle is ook Piet Kok wat gister die tyding ontvang het dat sy enigste broer, Hendrik oorlede is. Die Here gee self krag. Die Here gee ook vanoggend op Bermuda vir oom Koos krag as hy die tyding sal hoor. Die Here gee ook van tannie Hannie krag in die kamp op Winburg. Verlede nag het ‘n paar van ons 11:50 opgestaan om die tydjie tussen die Ou en die Nuwe jaar in stil gebed voor die Here te verkeer. Toe ek vir die eerste keer my Bybel oopslaan, lees ek 1 Kor 15: 42 – 58.
“Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus. Daarom liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here omdat julle weet dat julle inspanning in die diens van die Here nie tevergeefs is nie.”
Om 2:30 het die Christelike Redenaarsvereniging in die ?????saal bymekaar gekom. Die onderwerp van die byeenkoms was Ps. 90 en Luk. 12 en 13. Om 4:30 het die verskillende kore bymekaar gekom om lofliedere te sing. 0m 6:30 was daar ‘n Jongelingsbiduur in Hut 48. Dit het deurentyd saggies gereën. As ons dink hoe ons die Ou Jaar uitgegaan het en die Nuwe Jaar begin het, kon ons nie anders as om te weet: “Die ou dinge het verby gegaan, kyk dit het alles nuut geword.”
2 Januarie
Dit het die hele nag deur gereën. Om 10:00 was daar ‘n Unievergadering en om 12:20 was ek besig om die Sendingklas se les te leer, 2:30 Kerlkleer behandel en 4:00 het ons gesing in Hut 17. Om 5:00 was daar bestuursvergadering, om 5:30 Bestuurs biduur en 6:30 Bybellesing. Vanaf 8:30 tot 9:30 het ons gesing in die grashut.
3 Januarie
Dit het die hele nag deur gereën. Om 06:00 het ons Hutgodsdiens gehou. Johannes en ek het staande parool van die kamp-adjudant gevra. 08:00 het ek ‘n kaart gemaak van Paulus se reise. Van 10:00 tot 11:30 was daar sangoefening. Om 2:00 was daar geen Bybelvoorlesing nie, want die grashut is ingerig vir ‘n konsert. Piet Naude ontvan ‘n brief van Bertha Kok waarin sy noem dat moeder nie meer die lewe in die konsentrasiekamp kan uitou nie. Die Here self staan haar by. Na Roll Call was daar weer singklas. Ek skryf twee briewe na Suid Afrika. Die een aan moeder en die ander een aan pa.
4 Januarie
Dit was ‘n heerlike dag. Ek was kok in die kombuis. Om 1:00 was daar Christelike Redenaars Vergadering. Namiddag het dit baie gereën. Om 04:00 was daar sangoefening. Vanaand het dit nog steeds gereën. Om 8:00 was daar kooroefening.
5 Januarie
Dit was ‘n koel oggend. Om 7:30 was daar Sendingbiduur en 9:00 kerk. Ds. Minnaar se teks was Kol. 1: 18. Om 2:00 het Ds. Boshoff gepreek uit Ps. 56. Om 3:30 was daar vir die eerste keer Sondagskool in die skoolgebou. Om 5:00 was daar Sondagskool in ons Hut en om 6:15 Strewersvereniging. Ek het verlede nag by Kotie Snymaan in Hut 26 geslaap.
6 Januarie
Dit was ‘n koel oggend. Ons het weer Sendingbiduur gehou en nuwe broers het by ons aangesluit. Ons Hut word gespuit. Ons vergader met die Boekekommitee. Ek maak die Sondagskoolregister op. Ek skryf aan broer Hendrik. Om 2: 30 was daar biduur in die grashut met die gebedsonderwerp: “Die Kerk van Christus.” Om 6: 15 was daar Sendingbiduur in Hut 48. Maandelikse verslag van persoonlike werk word gegee en verder het niks besonder gebeur nie.
07 Januarie
Daar was weer Sindingbiduur en die Hollandse en die Engelse klasse het weer begin. Om 2:30 was daar ‘n diens in die grashut. Die gebedsonderwerp was “Die Christendom”. Om 6:15 het die katkisante bymekaargekom. Die ouderlinge het aan ons die belofte duidelik gemaak. Om 8:20 was daar sangklas. Verder niks besonders nie.
8 Januarie
‘n Koel oggend. Daar was weer ‘n Sendingbiduur. Voormiddag het ek in die hut gebly. Paul Fick het sy naam by my kom opgee vir die Sendingklas. Om 2:00 was ons almal in ons Hutte. Om 3:00 was daar ‘n diens met die onderwerp: “ Volkere en Regeerders”. Om 6:30 was daar biduur in Hut 63. Die voorganger het vir ons op die wêreldkaart getoon hoeveel plekke daar nog was waar hydene gewoon het. Mense kom van Mount Levinia.
9 Januarie
Daar was geen Sendingbiduur. Na inspeksie was daar ‘n diens in die grashut. Die gebedsonderwerp was “Huise en Skole”. Om 4:00 was daar Sangoefening en om 5:00 Bestuursvergadering. Die Maandelikse verslag is goedgekeur. Om 5:30 was daar Bestuursbiduur van takke van die A, B, +C. Om 6:30 Algemene bestuursbiduur in hut 36. Na roll call was daar ‘n Unievergadering.
10 Januarie
Verlede nag was dit taamlik koud. Na inspeksie was daar ‘n diens in die grashut. Die gebedsonderwerp was “Die Sending”. Om 9:00 het die bestuur van Tak 1 die Unie ontmoet met die oog daarop om te poog om meer saam te werk. Hierna was daar ‘n Unievergadering en om 3:00 weer vergadering met die bestuur van Tak 1 om antwoorde te gee. Ons het nie veel uitgerig nie, maar ons hoop en vertrou dat alles sal regkom. Om 6:30 was daar Sendingbiduur in Hut 17. Na “Role call” het ons in Hut 51 vergader om te besin oor hoe ons ons klas moet hou.
11 Januarie
Verlede nag was dit taamlik koud. Ek het ‘n brief ontvang van suster Sannie, gedateer 9 Nov 1901. Om 4:00 het ons sangoefening gehad. Verder niks besonders nie. ‘n Medebroer in ons Hut het tot bekering gekom en ek het die Here gedank in die buitelug vir sy redding.
12 Januarie
Sondag. Weer taamlik koel. Die Sendingklas biduur was om 7:30 en 9:00 het Ds. Boshoff oor Eff. 4: 16. Om 2:00 het Ds Boshoff gepreek uit 1 Kor. 12: 20. Om 3:30 was daar Sondagskool en om 5:00 Hutsondagskool. Om 6:25 was daar CSV. Ek het verlede nag in hut 26 geslaap.
13 Januarie
Sendingklas. ‘n Baie warm dag. Ek ontvang ‘n brief van Robbertson. Daar was taamlik baie om te doen. Ek het by Jannie du Buisson in Hut 55 geslaap. Treurige tyding uit Suid Afrika ontvang. Ons het met ‘n nuwe klas by M. van Ostrum.
14 Januarie
As gevolg van klasse en vergaderings het ek vandag min tyd gehad. Niks van belang het gebeur nie.
15 Januarie
Van 9:00 – 10:00 het ons klas gehad. Intussen het ek persoonlike werk gedoen. Na middagete het ons korporaal bedank en J. Moolman word in sy plek verkies. Om 3:00 was daar Unievergadering. Die Unie het besluit om te ontbind ter wille van samewerking met Tak 1 op die voorwaarde dat die unie sal bly bestaan as ‘n kommissie. Na roll call het ons ons Sendingklaslesse geleer. ‘n Bevel is deur die Kamp-Kommandant uitgereik dat ons nie meer later as 7:30 vergaderinge mag hou nie.
16 Januarie
Vandag was ons baie besig. Om 7:00 was daar Engelse klas en 08:00 was ons besig met somme. Om 12: 30 Hollandse klas en 2: 30 – 4:00 het ons Kerklesse behandel. Om 4:00 was daar sangoefening, 5:30 Bestuursbiduur en 6:00 Gesang (?????) vergadering in die Grashut. Na roll call was daar Unievergadering. Die voorsitter van Klas 1 het geweier om in te stem op die voorwaarde dat die Unie as ‘n kommissie sal bly voortbestaan. Na vele gesprekke het die Unie homself as ontbind verklaar.
17 Januarie
Dit is taamlik koud. Ek leer Aardrykskunde. Van 9:00 – 10:00 was daar klas. Van 12:30 – 2:00 was daar Hollandse klas en 2:00 Bybellesing. Die gedagte het by my opgekom: “Wat kan ek doen vir die verwaarloosdes in die kamp. Ek ontvang ‘n brief van pa, gedateer 5 Desember. Na inspeksie was daar Engelse klas.
18 Januarie
Van 7:00 – 7:35 was daar Aardrykskundeklas en om 9:00 Christelik Strewersvereniging. Die mense van tafel III was by die kantoor. Hulle het probleme met hulle korporaal gehad. Om 2:00 was almal in die Hut en die Kolonel het besoek gedoen. Katels moet net 18 dm van mekaar af wees. Tafeltjies mag nie hoër as 18 Duim wees nie. Om 4:00 was daar sangoefening. Daar was Bybellesing in ons Hut, maar ek was nie teenwoordig nie. Willie Grabe en ek het ‘n gesprek gehad oor ons Sendingklas se liefdeloosheid. Vandag was die Besigheidsvergadering van die Sendingklas. Reëls word opgestel en twee nuwe komiteelede verkies.
19 Januarie
Sondag. Mistige weer. Fyn reën het gedurende die nag geval. Ds. Minnaar het om 9:00 gepreek. Ek was nie in die kerk nie aangesien dit my beurt was om die Hutwerk te doen. Om 2: 00 het Ds. Boshoff gepreek uit Hand. 5: 39. In die namiddag was daar Sondagskool en Christelike Strewersvereniging. Vanaand was dit mistige weer.
20 Januarie
Jacobus Snyman van Hut 26 het verlede nag by my geslaap. Vandag was ons taamlik besig. Die pos na Suid Afrika was oop Ek het twee briewe geskryf. Die een aan Malie Geldenhuys en die ander aan G Wolfaard. Ek ontvang ‘n brief van Bertha. Om 6:15 was daar Sendingbiduur in Hut 48, veral met doel om van persoonlike ondervindinge te vertel. Na roll call was daar Engelse klas.
21 Januarie
Betrokke lug. Van 7:00 – 8:00 was daar Engelse klas. Die voormiddag was taamlik besig. Ons het vandag beesvleis en klinkers gekry. Daar was Hollandse klas en verder niks besonders nie.
22 Januarie
Verlede nag was taamlik koud. Om 7:00 was daar Aardrykskundeklas en om 9:00 Rekenkunde en Algebra. Van 12:30 – 2:00 was daar Hollandse klas. Om 2:00 was daar algemene inspeksie. Om 2:30 Singklas en 3:00 die afskeidsvergadering van die Unie. Om 6:30 was daar Jongelingebiduur in Hut 63. Verder niks besonders.
23 Januarie
‘n Taamlike warm dag. Voormiddag was ek taamlik besig. Van 12:30 – 2:00 Hollandse klas. Om 2:00 was kerkleer in behandeling. Om 4:00 sangoefening, 05:00 bestuursvergadering, 5:30 bestuursbiduur, 6:30 gesamentlike Biduur van die Christelike Strewersvereniging. Ek ontvang ‘n brief van broer Hendrik en van A. du Preez. Unie vergadering.
24 Januarie
Van 8:00 – 10:00 Algebra en rekenkunde. Hollandse klas. Ek kry weer ‘n poskaart van broer Hendrik van KVN. Daar het 33 van ons mense teruggekeer van Mount Levinia af. Onder andere Gert vd Venter en G. Veltman.
25 Januarie
‘n taamlike warm dag. Niks van belang het gebeur nie.
26 Januarie
Sondag. Sendingbiduur. Ds. Boshoff preek uit Jes. 43:1 en Matt. 14: 18 en Joh. 6: 9. Om 3:30 was daar Sondagskool hersiening. ‘n lekker dag met baie seën op geestelike gebied. Singkoor in Hut 17. Ek het my keps verloor.
27 Januarie
Baie besig. Verkillende privaat klasse. Maandelikse verslag van persoonlike werk in die Sendingbiduur in Hut 118. Nuus ontvang van Winburg.
28 Januarie
’n Baie warm dag. Daar was moeilikheid by die Singkoor. Al die mense wat permitte gehad het om vergaderings te lei en klasse te gee, moes almal hulle permitte na die kantoor neem. Die Kolonel het op elke permit geskryf waar en wanneer elke vergadering moet gehou word. Ek het voor die kantoor gestaan van 10:00 tot 1:00. As gevolg hiervan het my Hollandse klas misgeloop. daar was geen koorsang nie.
29 Januarie
Ons het geen rekeningkundeklas gehad nie. Al die voorsitters van die Christelike Strewersvereniging het bymekaar gekom om te besluit op ‘n nuwe Unie. Die voorsitter van Tak 1 was beswaard en wou nie hê dat Tak IV soos hy tans is by die unie moet ingesluit word nie. Briewe is ontvan van Winburg en St Helena. Die Goewerneur was hier.
30 Januarie
Ons het weer nie Rekeningkundeklas gehad nie. Lede van Tak IV het bymekaargekom en besluit om ter wille van die saak van die Here op te hou om te bestaan. Die bestuur van die drukkery het ooreengekom om die drukkery te koop.
31 Januarie
Dit was ‘n aangename dag , Taamlik warm. Geen briewe. Dit is die laaste dag van die maand en ons verlang baie.
1 Februarie
Niks van belang.
2 Februarie
Sondag. Om 9:00 preek Ds. Minaar oor Ps. 27:14. Om 2:00 preek Ds. Minnaar en Ds. Boshoff oor die vergadering van die CSV na aanleiding van Matt. 13: 31 – 32. Dit is die 21 ste verjaarsdag van die CSV. Dit was ons Toewydingsvergadering.
3 Februarie
Dit het ‘n bietjie gereën. Die aand was daar Sendingbiduur in Hut 48. Ds. Boshoff praat oor Handelinge 13.
4 Februarie
‘n Aangename dag. Niks van belang het gebeur nie.
5 Februarie
‘n Mooi dag. Die aand was daar Jongelingebiduur in Hut 63. Ek ontvang ‘n foto en ‘n brief van broer Hendrik.
6 Februarie
Van die burgers onder 18 jaar het ‘n ent met die trein gaan ry. Om 5:00 preek Ds. Minnaar oor Matt. 13: 31
7 Februarie
Dit was ‘n lekker dag. Niks van belang het gebeur nie.
8 Februarie
‘n lekker dag. Ek het taamlik pyn op my hart. Gesamentlike vergadering met Tak 1 om 6:00. Verder het daar niks van belang gebeur nie.
9 Februarie
Sondag. Dit is die begin van die Lydensweke. Sendingbiduur. Om 9:00 Preek Ds. Boshoff uit Joh. 11: 47 – 12: 19. Om 2:00 preek hy weer oor Joh. 12: 24. Hoogmoed is die begin van mensevrees. Sondagskool. Gesamentlike vergadering met takke A, B en C.
10 Februarie
Ds. Boshoff word baie skielik deur die Kampkommandant aangesê om vanmiddag nog na Suid Afrika toe te gaan, maar hy kry weer uitstel tot later.
11 Februarie
Bestuursvergadering en ook Besigheidsvergadering. ‘n Aantal burgers word aangesê om na Kagamakamp te gaan. Verder niks besoners nie.
12 Februarie
‘n Lekkerdag. In die aand was daar Jongelingevergadering in Hut 48.
13 Februarie
Oom C. Smit en M. Oosthuizen het van Mount Levinia af gekom saam ‘n paar ander. Dit het baie gereën die oggend
14 Februarie
Niks besonders nie
15 Februarie
‘n Aangename dag. Besigheidsvergadering van die Zendingklasse. Ek was besig om die insamelings wat bymekaar gemaak is ten bate van die Sendingklasse hier, in te pak. Ds Boshoff sal dit môre saamneem na Suid Afrika. Om 4:00 was daar sangoefening.
16 Februarie
Sondag. Om 9:00 Preek Ds. Minnaar uit Joh. 18: 11. Daar word deur die Jongelinge ‘n kassie as geskenk aan hom oorhandig aangesien hy ons binnekort gaan verlaat. Daar word ook ‘n adres aan hom voorgelees.
17 Februarie
Sendingklas en Sendingbiduur word in Hut 22 gehou. Tydens die Biduur het Ds. Boshoff ons toegespreek oor die eerste Sendingreis van die apostel Paulus. Hy het daarop gewys dat ons die Here moet vertrou en moet moed hou as ons teenstand ondervind.
18 Februarie
Die kampowerhede beveel ons dat niemand ‘n band om sy hoed mag dra behalwe paroolbande. Die aand het Ds. Boshoff gepreek uit Matt. 26: 59. Ons word deur die reën onderbreek.
19 Februarie
‘n lekker dag. Unielede word verkies Ons het die Here gedank dat die geskille uit die weg geruim is.
20 Februarie
Dit was taamlik koel in die oggend. Verder het niks besonders gebeur nie.
21 Februarie
‘n Aangename oggend. Ek ontvang berig van Winburg dat alles nog goed gaan.
22 Februarie
Een van ons mense het verlede nag ontsnap. Om 7:35 was daar roll call in die hele kamp.
Ek het ‘n brief ontvang van suster Sannie.
23 Februarie
Sondag. Ek was kok vir die dag. Dit was ‘n taamlike ontstuimige dag. Veral in die kombuis was dit baie onaangenaam. Ek het nie die 9:00 diens of die Sendingbiduur bygewoon nie. Om 2:00 preek Ds. Minnaar uit Jes. 53: 7. Om 3:30 het die Sondagskoolkinders van al die verskillende Sondagskole bymekaar gekom in Hut 17. Dit was hersiening en elke sekretaris het ‘n kort verslag gedoen. Ds. Boshoff het ‘n kort woordjie gespreek en om 5:15 lewer Ds. Boshoff sy afskeidspreek.
24 Februarie
Dit was ‘n lekker dag. Die aand was daar Sendingbiduur. Daar was pos van Winburg af.
25 Februarie
Ons 24 Winburgers was uit op parool saam met oom H. Viviers. Ek was baie siek aan verkoue. Ons het baie ver geloop. Dit was ‘n baie winderige dag. Ds. Boshoff het ons verlaat.
26 Februarie
Die pos was oop na Suid Afrika en ek het briewe geskryf aan pa, ma, broer Hendrik, A. du Preez en Kotie Theron. Dit was ‘n onaangename dag en dit was baie onplesierig. Die aand was daar Jongelinge biduur.
27 Februarie
Nog taamlik onstuimig en winderig. Ons H-klasse (???) word afgeneem in die oop skoolgebou. Ek kry ‘n brief van G Kok van St Helena af. Daar is ‘n buitengewone Bestuursvergadeing. ‘n werkende lid van Hut 36, D. van der Merwe het bedank. Ek slaap in hut 76 by Kobie Snyman.
28 Februarie
Dit is taamlik koud. Eerste Unievergadering word in Hut 36 gehou om 3:00. Ons tesourier was nie teenwoordig nie. Dit blyk dat hy bedank het.
1 Maart
Die nuwe skoolgebou word natgegooi. Daar is geen Sendingvergadering en ook nie Jongelinge Vergadering word nie op die gewone tyd gehou nie nie omdat skoolgebou te nat was. Die vergadering word om 2:25 gehou in die registrasiesaal. Ek was die inleier, maar kon nie teenwoordig wees nie omdat ons dieselfde tyd ‘n vergadering van ons drukkery gehad het. Om 4:00 was daar sangoefening.
2 Maart
Sondag. ‘n Taamlike warm dag. Om 9:30 was daar die begrafnis van ene Nieuwoud. Om 10:00 het Ds. Minaar uit Joh. 18: 35 gepreek – “My Koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” Om 2:00 preek hy weer uit Ef. 2: 13. Om 3:30 was daar Sondagskool en van 5:00 – 5:30 was daar Hutsondagskool en om 6:15 Chrstelike Strewersvergadering.
3 Maart
Dit is ‘n lekker koel oggend. Sendingklas om 9:00 en Rekeningkunde en Algebra. Ons seksie ontvang vandag klere en skoene. Om 12:30 was daar Hollandse klas. Dit was ‘n baie warm dag. Ek ontvang ‘n brief van Bertha gedateer 25 Januarie. 0m 6:30 was daar Sendingbiduur. ‘n Brief in Die Kerkbode van sendeling Murray in Nyassaland word aan ons voorgelees. Een van die mans aan ons tafel wat in die selle was, het vandag uitgekom. Verder gebeur niks van belang nie.
4 Maart
‘n Heerlike oggend. Dit was vroeg warm. Ek was baie besig met Rekeningkunde. Sendeling “Auret”, iemand wat rondgaan vir die Christelike Strewersvereniging, het ons om 4:30 toegespreek na aanleiding van 2 Kron 29: 11 – 16 en 36. Ek ontvang ‘n brief van Sannie uit Winburg gedateer 11 Januarie. Piet en ek begin privaat met Engelse Grammatieka. Ek is ontevrede met myself omdat ek so stadig vorder. Hollandse klasse.
5 Maart
Vandag was ek kok in die kombuis en as gevolg daarvan moes ek my klasse mis. Dit is baie winderig Ek ontvang pos uit Bermuda van mense van Ladybrand en Winburg. Vanaand was Jongelingebiduur in Hut 63. Broer Veltman praat na aanleiding van Matt. 5 oor die reiniging van ons harte. Na roll call was daar Bybelkring in die skoolgebou. Daar het rooi vlae gehang. Ons was van plan om ‘n klas te begin vir Skoolhoëreksamen
6 Maart
Dit is ‘n lekker dag. Ek is hard besig om te studeer. Ons het met Engelse klasse begin by Willie Marsch. Ons wat van plan was om Skoolhoër Eksamen af te lê, het bymekaar gekom om dit te bespreek. Ons het besluit om voort te gaan met die plan. Ons doen aansoek by die Skoolkomitee om ons te ondersteun. Dit is ook ‘n saak wat ons met gebed moet aanpak. ‘n paar van ons burgers word na Ragamakamp gestuur. Ek bedank by die koor.
7 Maart
‘n Baie warm dag. Niks van belang het gebeur nie. Engelseklasse na telling.
8 Maart
Aardrykskundeklas. Sendingkring. Sangoefening. Briewe van Winburg ontvang. Om 5:15 ‘n Sendingkonferensie in Hut 79. Die onderwerp was: “Waarom wil ek ‘n sendeling word?”
9 Maart
Sondag. Ds. Minnaar preek om 6:30 uit Matt. 27:17 oor keuses. Om 9:00 preek hy uit 1 Kor. 10: 13. Die verskillende punte van sy preek was:
1. Bringe elke dag tyd in gebed deur.
2. Bring elke dag met God se Woord deur.
3. Bring elke deur om met onsterflike siele te praat.
Die belangrikste in die lewe is dat die arbeider moet leiding moet neem. In die mate sal sy woorde geseën word en in vloeduitoefen op die onbekeerde. Die Christelike Strewersvereniging kry baie teenstand en ook die Sendingklasse. Ons dank die Here daarvoor.
10 Maart
Dis ‘n baie warm dag. Ek is baie besig om te leer en ook met persoonlike goed. Daar word hard gepraat oor die leer van Engels as taal in die kamp. Daar is praatjies dat ‘n predikant op pad is.
11 Maart
Dit is bedompig warm. Niks van belang het gebeur nie. Twee gevangenes het uit die kamp ontsnap. Om 6:15 was daar ‘n besigheidsvergadering.
12 Maart
Dit is so warm dat ‘n mens dit nie in die hutte kon uithou nie. Unievergadering. Biduur in Hut 48.
13 Maart
Dit is drukkend warm. Die skool word ge-eksamineer deur die eksaminator van die Eiland. Dit word net in Engels gedoen. Ek weet nie of dit baie goed is nie. Ons is hard besig met Algebrasomme. Ons was net 1 uur en 15 minute aan een som besig. Daar word vertel dat die vyand groot verliese gely het by Kroonstad. Die Engelse generaal Methuen is gevange geneem.
14 Maart
‘n Baie warm dag. Dit is moontlik dat ons met Skoolhoërklasse kan begin. Ons dank die Here. Alhoewel daar nog struikelblokke is, vertrou ons dat dit gou uit die weg geruim sal kan word. Nuus word van broer Tom ontvang uit St. Helena.
15 Maart
Dit was ‘n aangename dag. Ek was kok in die kombuis. Geen Aardrykskundeklas en ook geen Sendingoefening nie. ‘n Konsert is in die Registrasiesaal gehou na telling. Kobie Snyman slaap vanaand by my oor.
16 Maart
Sondag. Piet Kok, Piet Naude, Henrik Grobbelaar en ek gaan saam met oom Hennie Viviers uit op parool. Om 12:00 was ons weer terug. Met ons uitstappie het ek baie nagedink oor die natuur. Dit was baie stil op sommige plekke, maar op ander plekke was die koelies besig om te ploeg en hulle ryslande te bewerk. Hulle maak geen verskil tussen Sondag en Maandag nie. Ons het ‘n kort diens op een van die hoë klippe gehou en aangesien dit betrokke was het ons dit geniet. Die Kommandant het gelees uit Hand. 23 en het ons moed ingepraat. Vanmiddag was dit baie warm en Ds. Minaar het gepreek uit Hand. 10: 43. In die namiddag was dit ons gewone Sangskool en in die aand Strewersvergadering.
17 Maart
‘n Baie warm dag. Ek was baie besig. Van 6:45 tot 7:45 was daar Sendingklashersiening en van 9:00 – 10:45 Algebra en Rekenkunde. Om 12:30 tot 1:45 was daar Hollandse klas en van 2:30 tot 3:00 vergadering van die Uitkykkommissie in Hut 56. Van 4:00 tot 5:00 was daar Engelse klas en van 5:00 tot 6:00 Privaat klas. Na telling was daar Unievergadering in Hut 36.
18 Maart
‘n Baie warm dag. Ons komberse word ontsmet in die hospitaal se stoomketel. Daar is weer probleme oor die Skoolhoërklasse.
19 Maart
Verlede nag was dit taamlik koud. Aardrykskunde, Rekenkunde, Algebra, Hollandse en Engelse klasse. Dit is drukkend warm en ek het effens hoofpyn. Daar was ‘n brief van pa uit Simonstad. Ons het ‘n begin met ‘n Bybelkring in ons Hut. Mens is terug van Mount Lavinia.
20 Maart
Niks besonders. Dit is taamlik warm. Skoolhoër is goedgekeur.
21 Maart
Ons het van klinkers en beesvleis gehad. Piet ontvang ‘n poskaart van Bertha uit Winburg. Sy noem dat moeder weer aangesê is om na die kamp toe te gaan.
22 Maart
Die studente wat inskryf vir Skoolhoër kom bymekaar in hut 77 met Mnr. Van Ostrum om te praat oor die eksamen. Ek slaap in hut 26.
23 Maart
Sondag. ‘n Baie warm dag. Onmiddellik na telling het Ds. Minnaar gepreek uit Luk. 23:34. Jesus het nie in die eerste plek aan sy eie lyding gedink nie, maar Hy het gedink aan sy moordenaars. Hy bid vir hulle wat besig was om Hom te kruisig. Hy bid vir die lede van die Joodse raad en vir die Joodse volk. Hy bid om vergifnis. Vergifnis van sonde is die eerste seën wat ‘n mens ontvang by jou bekering. God kan nie met iemand verhouding hê tensy hy eers bekeer is nie. Die gebed wat Jesus aan die kruis gebid het, is verhoor op die eerste Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is. Jesus het sy volgelinge geleer om vergewensgesind te wees. Wat Jesus geleer het, dit het Hy werklikheid gemaak. As ons volgelinge van Jesus wil wees, moet ons sy voorbeeld navolg. Jesus is ons een voorbeeld van vergewensgesindheid. As ons die liefde van Jesus deelagtig geword het, kan ons vergewensgesind wees. Om 10:00 het ons in die grashut begin met ‘n biduur vir Christenwerkers. Om 7:45 was daar Sendingbiduur, 12:25 Bybelklas in hut 17 en 2:00 preek Ds. Minnaar uit Luk. 23: 42 en 43. 0m 3:00 was daar Sondagskool en 05:00 Hutsondagskool. Om 6:15 was daar ‘n gesamentlike vergadering van die jongere Christelike Strewersvereniging in die grashut. Die onderwerp was “Binnelandse Sending”
24 Maart
Die son was taamlik warm. Regulasies van die outoriteite aangaande die Engelse klasse is afgekondig en verder het niks van belang gebeur nie.
25 Maart
Dit is drukkend warm. Die siekte onder die burgers het weer begin toeneem. Ons ontvang ‘n brief van suster Sannie uit Winburg, gedateer 15 Feb. 1902. Die aand het dit so hard gereën dat ons ons Bybellesing moes staak.
26 Maart
‘n Heerlike oggend. Daar was geen Aardrykskundeklas nie. ‘n Lid van die CSV het die kamp verlaat. Om 4:00 het ‘n harde bui reën uitgesak sodat ons nie na die Engelse klas kon gaan nie. Vandat die reën verby is is dit baie verkwikkend. ‘n Dankbiduur word in Hut 48 gehou. Na telling was daar Bybelkring.
27 Maart
Ons het eksamen geskryf as toelating tot die Skoolhoërklas.
28 Maart
Goeie Vrydag. Ds. Minnaar preek om 9:00 uit Joh. 19: 30 en die middag 5:00 uit Joh. 3: 36. Dit was ‘n geseënda dag.
29 Maart
Dit was ‘n lekker dag. Die Kampkommandant het die Hutkapteins bymekaar geroep en opdrag gegee dat almal wat hulle lyste van hulle besittings wil teken, eerste huis toe gestuur sal word. Ek kry ‘n brief wat ek aan Tom geskryf het terug omdat dit te lank was.
30 Maart
Sondag. Opstandingsdag. Ds. Minnaar preek die oggend uit Matt. 28: 16 en om 2:00 uit Fil. 3:10. Ons doen hersienning van die Sondagskoollesse in Hut 17. Dit is drukkend warm en ek het erge pyn op my hart.
31 Maart
Dit was ‘n dag van baie probleme vir my. Om 7:00 het al die Sendingklaslede bymekaar gekom om die vrae wat ou Vader Murray van Wellington gestuur het, te beantwoord. Ek vra uitstel om twee vrae te beantwoord. Daar was geen rekenkunde klas nie. Ek het was baie mismoedig. Ek het baie pyn op my hart gehad. Een van ons Uitkkyk-Komiteelede het bedank by die Christelike Strewersvereniging. Albertus du Buisson en ek het die lede van ons vereniging besoek. In die namiddag was dit lekker koel en dit het ‘n bietjie gereën. ‘n Sendingbiduur vir die twee kampe is in Hut 48 gehou. Verslae is aangehoor. Ek het 9:00 gaan slaap aangesien ek nie gesond gevoel het nie.
1 April
Dit was ‘n lekker oggend. Ek was ‘n bietjie verkoue en het nog gedurig pyn op my hart gehad. Om 1:00 moes die Hollandse klas gehou word, maar as gevolg van onweer is dit afgestel. Om 3:00 kom ons bymekaar om die uitslag van die Skoolhoërklasse te kry. Ons is almal toegelaat. Ek ontvang pos uit Winburg. Die Katkisante kom om 6:15 in Hut 45 bymekaar. Die lug was lekker koel.
2 April
‘n Lekker dag. Taamlik warm. Die Hollandse klas word gehou. Daar is ‘n Unievergadering. Ek besoek die lede va die CSV. Teenkanting teen die CSV is baie groot.
3 April
Dit is ‘n lekker dag. Ons het sangoefening en vergadering van die Bestuurs- en Uitvoerende komitee. Een van ons lede het uit die Uitvoerende Komitee bedank en sy bedanking is aanvaar.
4 April
Vandag is ek weer kok in die kombuis. Dit reën baie , maar tog voel ek baie dankbaar omdat die Here my nog ‘n verjaarsdag gegun het.
5 April
‘n Aangename dag. Daar het niks van belang gebeur nie.
6 April
Sondag. Die oggend het Ds. Minnaar gepreek uit Joh. 20: 20 en die middag uit Luk 24: 31 terwyl ‘n harde bui reën uitgesak het. Dit was heerlik koel en lekker in die natuur. Daar was Sondagskool en Hutsondagskool en CSV-vergadering. Die onderwerp was ”Toewyding”.
7 April
Om 7:00 het die Sendingklas bymekaar gekom en die onderwerp was “Liggaamsoefening”.
Die rekeningkunde klas het weer begin. Dit het taamlik gereën. Die aand was daar Sendingbiduur in Hut 48. Die CSV kry baie teenstand en baie lede het bedank.
8 April
Dit reën taamlik baie. Die aand was daar ‘n gesamentlike vergadering in die Grashut waar die Strewerswerk bespreek is. Die vergadering het taamlik onenigheid tot gevolg gehad.
9 April
Vandag was ek baie besig. Daar is baie gepraat oor die vergadering van gisteraand. Nog lede het bedank. Ek het ‘n brief van Hendrik ontvang waarin hy aankondig dat hy verloof is.
10 April
Dit het baie gereën in die namiddag. Ek het briewe ontvang uit Winburg. Daar was ‘n Bestuursbiduur in Hut 17. Om 6:15 was daar ‘n Besigheidsvergadering in die registrasielokaal. Uit-Kyk, Boek- en ander komiteelede is verkies. Die Strewersvereniging kry baie teenstand en lede badank nog steeds.
11 April
Die voormiddag was taamlik warm. Daar was Algebra om 9:00 in Hut 77. Drie persone van my takvergadering het bedank. Ons het die bedankings om 2:30 in Hut 17 oorweeg. Intussen het daar ‘n harde bui reë uitgesak. Twee van die bedankings word nie aanvaar nie. Die storm het voortgewoed en teen die aand het dit steeds gereën. Fanie Ciliers, voorsitter van die ordekomitee is vanaand hospitaal toe. Verders het niks van belang gebeur nie.
12 April
Vandag is ek weer kok in die plek van iemand anders. Daar was Engelse klas en daar het weer ‘n harde bui reën geval.
13 April
Sondag. Dit is ‘n lekker oggend. Dis taamlik warm. Ds. Minnaar het gepreek uit Joh. 20:17. Sommige mense was erg ontevrede. Om 2:00 het hy weer gepreek uit Joh. 15:20. Daar was Sondagskool en Hutsondagskool en Strewersvergadering.
14 April
‘n Baie warm dag. Die Skoolhoërklas het begin. Piet Kok was baie siek. Om 6:15 was daar ‘n Sendingkonferensie in Hut 9. Die besprekingspunte was die volgende:
1. Christus se Kerk.
2. Die roeping van die Kerk.
3. Binnelandse Sending.
4. Buitelandse Sending.
Pit was vanaand baie siek. Ons het die hele nag wakker gebly. Dit wil voorkom asof hy die koors het.
19 Mei
Ons het met 14 jong mans die aand na roll call in hut 79 bymekaargekom om te oorweeg om ‘n Vereniging te stig ten behoewe van die Sendingsaak. ‘n Komitee word gekies om die reëls en ‘n Beloftekaart op te stel.
21 Mei
Die aand na roll call het die verkose komitee in Hut 79 bymekaar gekom om die nodige reëls op te stel. Een komiteelid was afwesig as gevolg van siekte. Ons vier het dit op ons geneem om die werk af te handel na ons ‘n rukkie in stilgebed deurgebring het.
Om 9:30 was ons klaar daarmee.
22 Mei
Ons 14 kom om 3:30 bymekaar in die nuwe skoolgebou om die reëls wat ons opgestel het, goed te keur. Almal was tevrede met die reël soos ons dit opgestel het. Daar is net een reël bygevoeg. Die gevoelens was dat ons eers, voordat ons die vereniging stig, ons eers Ds. Minnaar in die saak moes ken. Die aan na roll call het ons as komitte na Ds Minnaar en die sendeling gegaan. Hy kon ons nie dadelik toestemming gee nie, want hy wou eers daaroor dink. In tussen het dit steeds vir ons ‘n saak van gebed gebly.
Reëls van die Suid –Afrikaanse Pennievereniging
Artikel 1 Naam
Die naam van die vereniging sal wees: “Die Suid-Afrikaanse Jongeliede Pennie Vereniging
Arikel 2 Doel
Die doel van hierdie vereniging is om die Sendingsaak so veel as moontlik te ondersteun en en sodoende God se Koninkryk van tyd tot tyd te help uitbrei.
Artikel 3 Bestuurslede
a. Uitvoerende komitee van drie lede bestaan uit:
- Voorsitter
2. Sekretaris
3. Penningmeester
b. Pligte van die uitvoerende komitee
- Die Voorsitter vervul die normale pligte van ‘n voorsitter. Hy sal waak oor die belange van die Vereniging en toesien dat die lede hulle pligte getrou nakom. Hy sal die reg hê om, as hy dit nodig ag, die sekretaris en die pennigmeester op te roep vir ‘n vergadering.
2. Die Sekretaris hou ‘n naamlys van die lede van die verskillende verenigings en sal alle briefwisseling hanteer met ander Sendingkomitees van die Ned. Geref. Ker wat deur hierdie vereniging ondersteun word.
3. Die Penningmeester is verantwoordelik om die geld van al die verenigings te bewaar en slegs in opdrag van die Uitvoerende komitee uit te betaal. Die Uitvoerende Komitee sal jaarliks moet rapporteer oor die volgende vrae:
1. Hoeveel lede is op die Ledelys?
2. Wat was die inkomste en Uitgawes?
c. Die Onderkomitee van drie lede bestaan uit die Voorsitter, die Sekretaris en die Penningmeester en indien moontlik, saam met die Predikant of die Sendeling aan die hoof daarvan. Hierdie kommissie sal ‘n Toesigkommissie onder hulle hê.
d. Die pligte van die Onderkomitee
- Die Voorsitter sal die gewone pligte van hierdie pos vervul. Hy sal oor verskillende afdelings in sy gemeente toesig hou en toesien dat die lede hulle plgte nakom.
2. Die Sekretaris hou ‘n naamlys van die lede in sy gemeente en sal so ver moontlik kontak hou met die Sekretaris van die Uitvoerende komitee.Hy sal so ver moontlik verslag doen van alle Sendingwerk.
3. Die Penningmeester is verplig om alle gelde van die verskillende afdelings te bewaar en slegs op las van die Onderkomitte die geld te stuur na die Uitvoerende komitee. Hierdie kommissie sal egter verplig wees om al die geld met die lede van al die afdelings onder sy toesig, elke half jaar te stuur aan die Uitvoerende Komitee.
e. Toesigkommissie:
Sodra daar 10 lede in ‘n gemeente is sal hulle saamkom en ‘n toesigkommissielid kies. Elke Kommissie lid sal met te minste 10 lede ‘n afdeling vorm. Hy hou die ledelys en sal na grondige bewyse van iemand se ontrouheid sy of haar naam uit die naamlys verwyder. Elke komteelid sal verplig wees om die geld van hulle afdeling elke half jaar na die onderkomitee te stuur.
Artikel 4 Die werk van die Vereniging
a. Die Vereniging bepaal hulle net by die Sendingwerk van die Ned. Geref. Kerk.
b. Elke lid sal daarna strewe om die Sendingwerk van die Ned. Geref. Kerk uit te brei tot in China, Indië en Ceylon indien moontlik.
c. Elke Lid sal ten minste elke halfjaar hulle finasiële verpligtinge nakom. Geen vooruitbetaling van meer as ses maande kan gemaak word nie.
d. Elke lid, waar hy hom ook mag bevind, sal poog om nuwe lede te werf.
Artikel 5 Lidmaatskap
Belofte:
Met vertroue op die here Jesus vir krag, beloof ek Hom dat ek deur my hele lewe, die saak sal ondersteun deur getrou voorbidding te doen en ten minste elke maand 1 pennie te gee.
Naam: Johannes W Kok (J seun)
Datum: 1 Junie 1902
Gert A van Deventer S. C. Ferreira
Vrede
Distrik Winburg T. H van der Merwe
Pk. Fouriesburg
OVS Dauw P. J. Steyn
H. S. Kok D. J. T. Van Niekerk
Kransdrift
Winburg Johan L. Vandeveter
OVS Vrede
Distrik Ficksburg
S. J. Fourie OVS
Smalplaats PK Fouriesburg
Distrik Ficksburg Datum: 7 Junie 1902
OVS
Jacob L. Vandeventer
Vrede
Distrik Ficksburg
PK Foruriesburg
OVS
Vertaling van die hele brief
Dijatalawa-Kamp Hut 54 24 Maart 1902
Liewe Moeder
Aangesien die pos na Suid-Afrika weer oop is, wil ek enkele gedagtes met u deel. Met ons gaan dit deur die genade van God nog almal goed. Net die pyn op my hart pla my nog van tyd tot tyd. Dit is lanklaas dat ek van ma en die kinders enige briewee ontvang het. Die laaste was in Januarie geskryf, maar uit ander briewe uit Winburg hoor ek gedurig hoe dit met julle gaan. Uit die poskaart wat Bertha aan Piet geskryf het, het ons gehoor dat ma weer aangesê is om na die kamp toe te gaan. Ek is baie spyt daaroor, maar dit is die Here se pad waarlangs Hy ons lei en ons moet onthou dat niks sal gebeur buite sy wil om nie. Wat nuus aan betref is dit maar baie skaars. Dit is taamlik droog hier by ons en dit is so warm dat ‘n mens amper nie kan hou in die hutte nie. En dan is dit weer baie koud in die nagte sodat twee komberse eintlik nie genoeg is nie. Ons moet nou hard leer. Hier is ‘n Skoolhoër klas begin wat op die 1ste April gaan begin. Piet Kok, Schalk en ek het ons name opgegee hiervoor. Die Eksamen sal in November plaasvind. Ons is wel taamlik ver agter, maar met die hulp van die Here, hoop ons vir die beste. Van Tom het ek verneem dat hy ook vir die eksamen ingeskryf het. Ons het baie voorbidding nodig. Dit is betreurenswaardig dat hier nog baie jong mense is wat hulle dae met ledigheid deurbring en dit lyk of dit hulle nie pla nie. Die Sendingklas groei steeds en ek dink daar is al 70 lede. Het ma my al aan die Here opgedra en my op die altaar gelê om ‘n sendeling te word. Ons dank die Here dat die ou vadeer Murray reeds besig is om voorsiening te maak vir diegene wat nie in staat is of die middele het om opgelei te word nie. Die Here is baie goed vir ons in hierdie dae van beproewing. Die Here het my geleer om stil op hom te wag. Sommige dae voel ek baie terneergedruk, maar dit is net as ek die Here nie ten volle vertrou nie. God’s kinders ondervind baie teenstand hier in die kamp, maar ons dank die Here, want Hy kan nie anders sy doel bereik waarna ons strewe nie anders deur teenstand.
Met die familie en die bekendes gaan dit almal goed. Dit is nie vir my moontlik om aan almal te skryf nie aangesien die geld maar baie skaars is. Die kinders moet my die kwalik neem as ek nie aan hulle skryf nie. Ek kan nie dood van oorlede Kosie vergeet nie. Vir liewe Moeder, hoe lank ons nog in ballingskap gaan bly, weet ons nie. Al wat ons weet is dat God ‘n plan met sy volk het en hierdie doel moet eers bereik worrd. Ons moet baie bid vir ons volk dat Hy ons van ons sonde sal verlos. My wens vir julle almal daar, is dat die Here in hierdie lydensweke ryklik sal seën. Ds. Minnaar is maar vir my die enigste leeraar wat hier in die kamp werk . Sy werk is baie. Bid ook baie vir hom. Die vrug op sy arbeid is groot. Liewe moeder ek sluit nou met hartlike groete aan julle almal van ons almal en word hartlik gegroet met ‘n soen van liefde van julle verlangende seun.
J. W. Kok
Ek het ‘n rukkie gelede aan suster Sannuie geskryf om my Engelse Grammatieka en Hollandse Grammatieka te stuur. Ek sal bly wees as sy dit doen.
Pietertjie, ek wil jou graag sien met jou broek en jou baadjie.
Vertaal deur Jan Kok

Die Kompleet Werke van JW Kok (Oom Jan/ Kokkie)
The Collective Works of JW Kok (Oom Jan/ Kokkie)