Oom Jan onthou vir Sannie

Ek het Oom Jan ‘n mail gestuur en hum uitgevra oor Ma se sang loobpaan.  Hy reageer op 26 November 2018.  Ek gee sy hele brief hier weer. 

Hier is die link na fotos van Ma:  https://photos.app.goo.gl/fzawbUKNiZaWhVd99

Ma Santjie.jpg

Eben,

Jou ma het, vandat sy in Pretoria gaan werk het (1959), sang geneem. Ek kan ongelukkig nie die naam van die ou sangdosent onthou nie. Sy het al die jare wat sy in Pretoria gewoon het, in die kerkkoor van die Gemeente Bosmanstraat in Pretoria gesing. Later is sy gekeur vir die Pretoria se Operakoor, en het in talle Operas in die koor gesing. Ek het elkeen van die operas waarin sy gesing het, bygewoon. Daardie jare was die Aula by Tukkies die enigste saal in Pretoria wat geskik was vir ‘n opera-aanbieding.

In daardie jare het ons nie die luukse gehad van motors nie, en ek en my vriende wat saam gaan opera kyk het, het met die bus gery van kerkplein af na die Aula. As die operas verby was, was daar nie meer busdienste nie en dan het ons teruggestap na Kerkplein waar ons in die Jeugsentrum gebly het.

Ek onthou operas soos Carmen, Lucia di Lammermoor, Don Pasquale en Die Huwelik van Figaro. In Lucia di Lammermoor, was Gé Korsten die solis.

In die jare wat sy in die operakoor gesing het, het ek buitemuurs gestudeer terwyl ek in die staatsdiens gewerk het. Saterdae as hulle opera ge-oefen het in die saal van die Oosteindskool, het ek saam met haar met die bus daarheen gery en dan het ek in een van die leë vertrekke gaan sit en agterstallige studiewerk ingehaal. As hulle saans klaar geoefen waas het ons weer teruggeloop plein toe omdat daar nie meer busse geloop het nie.

Daar het ook nie ‘n vriendin van haar getrou op wie se troue sy nie gesing het nie. Een van die mooiste huweliksliedere wat sy altyd gesing het, was “Die huwelikslied van Rut”. Ek onthou nog die woorde: “ Waar u gaan sal ek gaan, u volk is my volk en u God is my God.” Sy het so ‘n leermusiektassie ghad waarin al haar bladmusiek was.

Goeie ou dae waarna ek terugverlang.

Groete

Oom Jan


Die Kompleet Werke van JW Kok (Oom Jan/ Kokkie)


The Collective Works of JW Kok (Oom Jan/ Kokkie)