Chapter 22: Appendix C – Short Autobiography: Johannes Willem Kok

Introduction to Bacon & the Art of Living

In this book, I tell the story of bacon, but also that of my family. The story itself is set in the late 1800s and early 1900s when most of the important developments in bacon took place. The plotline takes place in the 2000s with each character referring to a real person and actual events. The theme is a kind of “steampunk” where modern mannerisms, speech, clothes and practices are superimposed on a historical setting.  Modern people interact with old historical figures with all the historical and cultural bias that goes with this. In this Annexure, I post a short biography of JW Kok, the father of JW Kok who’s war diary is contained in Chapter 21: Appendix B – Johannes Willem Kok War Diary. His dad’s war diary is Annexure B, Chapter 21: Appendix B – Johannes Willem Kok War Diary All three works were translated from Dutch into Afrikaans by JW Kok, their grandson and great-grandson respectively. I undertake to translate it into English at some future time.


Chapter 22: Appendix C – Short Autobiography: Johannes Willem Kok

Inleidende Opmerking

     Wat hier volg is die vertaling van ‘n kort lewensskets van Johannes Willem Kok. Hy is gebore op 29 Julie 1848 te Swellendam en oorlede op 14 Junie 1918 op die plaas Kransdrift in die distrik van Winburg in die Vrystaat. Hy was getroud met Jacoba Johanna Elizabeth Theron. Sy is gebore op 04 Februarie 1855 en oorlede op 05 Januarie 1938 op die plaas Wynandsfontein in die distrik van Theunissen. Sy was die dogter van Thomas Francois Theron en Susanna Catharina Josephina La Cock van Leeuwfontein.

     Hy was gedurende die Anglo Boereoorlog die kommandant van die Winburg kommando. Hy is later krygsgevange geneem. Hy skryf hierdie lewensverhaal in 1910, agt jaar na die einde van die oorlog op die ouderdom van 62 jaar. Twee van sy seuns was ook betrokke by die oorlog en is later as krygsgevangenes na Ceylon gestuur.

     Hierdie vertaling is nie ‘n woordelikse weergawe van die verhaal soos hy dit geskryf het nie. Soos hy self ter inleiding gesê het, was sy opvoeding nie in die skool nie, maar in die veld agter sy vader se skape. Sy hanskrif en taalkennis getuig daarvan dat hy sekerlik nie ver op skool gevorder het nie. Ek het probeer om dit weer te gee in moderne Afrikaans, sodat dit makliker leesbaar kan wees.

     Waar hy tekse uit die Bybel aangehaal het, het ek die inhoud vandie teks in hakies en in kursief ingevoeg soos dit in die 2020 vertaling van die Bybel in Afrikaans voorkom.

     Dit is vir my voorreg om ‘n naamgenoot van my oupa sowel as die skrywer van hier geskrif, my opagrootjie, te wees. 

     Hy begin hierdie lewensbeskrywing met die volgende woorde op die binneblad van die boek waarin hy geskryf het: “‘n Kort geskiedenis van die lewe en lotgevalle van Johannes Willem Kok wat gewoon het op die plaas Kransdrift in die distrik van Winburg, O.V.S.Kansdrift 15 Oktober 1910.”

Wat hier volg is sy eie lewensbeskrywing.

Ooo000ooO

Daar is by herhaling deur vriende en kinders vir my gevra  om ‘n kort beskrywing van my lewe te boek te stel. Ek skryf dit terwyl ek terdeë bewus is van my eie swakhede. Ek skryf dit soos ek dit nog kan onthou van my vroegste kinderjare af.

     My beproewinge en lotgevalle van meer as vytig jaar, mag dalk vir die wat dit leers, nuttig wees. Ek sal bly wees as  die lesers hiervan in gedagte hou dat ek nie my opvoeding op skool gehad het nie, maar meesal in die veld agter my vader se skape en met my geweer in my hand om die land te verdedig teen die vyand in ons hartseer verlede toe ons land verwoes is.

     Ek sal in my skrywe hier en daar melding maak van die hoofgebeure van die die oorlog wat ek meegemaak het. As die lesers hieruit iets kan leer, sal ek baie bly wees.

My kinderjare

Ek is gebore op 29 Julie 1848 op die plaas Klaasvoogdrivier in die distrik van Swellendam. My pa het ‘n huis gehad so mooi as wat ‘n mens kon begeer en ek het ‘n moeder gehad soos ‘n mens net kon begeer. Sy het haar kinders lief gehad, maar sy was baie streng in haar opvoeding.

     Ek onthou baie goed dat ek as ‘n jong knapie ongehoorsaam was en dat sy my aan my hand geneem het om my te tug. Trane het uit haar oë geloop. Ek voel vandag nog sleg dat my moeder trane oor my moes stort.

     My vader en my moeder het gelukkig gelewe met hulle vyf kinders, waarvan ek die oudste was. My vader was in daardie tyd nie ‘n arm man nie en ons as kinders het niks anders geken nie as vrolikheid en blydskap.

     Dit het nie vir altyd so aangehou nie. In die jaar 1860 was daar die groot koors wat byna ons hele gesin ernstig laat siek word het. Ek het die siekste van almal geword en ek was nie altyd bewus van wat om my aangegaan het nie. My moeder is aan die koors oorlede en my vader het met vyf kinders agtergebly. Ek het, as gevolg van my siekte, niks geweet van haar dood en haar begrafnis nie. Ek was bewusteloos as gevolg van die die koors, maar na enkele dae het ek weer by myself gekom en my moeder gemis. Ek het aan die die tante wat voor my bed gesit het gevra waar my liewe moeder is. Sy het geantwoord: “My kind, jou moeder is al enkele dae gelede begrawe.”

     Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Ek het my gesig na die muur toe gedraai en bitterlik gehuil soos Hiskea in die Bybel. Hierna het ek net een begeerte gehad en dit was om gesond te word. In my kinderlike onskuld het ek tot die Here gebid dat Hy my moet gesond maak. Na ernstige gebed het ek die sekerheid gekry dat ek sou gesond word en dit was my eerste ervaring van gebedsverhoring. Maar nou was ek ‘n weeskind sonder ‘n moeder. Ek het nou eers besef wat dit beteken om ‘n liewe moeder te hê.

     Ek het ‘n gedig van ouds onthou: Arme weeskind, ek het meegevoel met jou. Ek is in my siel bewoë, want jy  is alleen op die aarde. My kind, ek is hartseer oor jou, want jy het nie meer ‘n moeder nie. Bitter smart het jou teer gemoed geraak. Jy vind geen begrypende hart sodat jy die smart kan vergeet van jou  treurige kinderdae nie. Jy kan nie meer by jou moeder gaan kla nie.

     Toe het ek in die skool gekom en dit was die eerste en belangrikste deel van my geskidenis om my voor te berei vir my toekoms om ‘n man te word. Ek het baie trane gestort, maar die trane het later vir my geluk gebring. Ses maande na my moeder se dood het my vader weer getrou en dit het ‘n nuwe bladsy in my geskiedenis oopgemaak.

My skooldae

     Toe ek nog baie jonk was, het die tyd gekom dat ek voorberei moes word vir die toekoms. My eerste onderwyser was iemand uit die Kaap. Die onderwys in daardie dae, was baie anders as die van vandag. Die die enigste skoolboeke van daardie tyd was die “ABC”, die “Trap der Jeugd”, en die Bybel. Soggens, nadat die skool begin het na die gebed, moes ons tafels opsê. Dit is gedoen deur ‘n groter kind en ons kleintjies moes dit agterna sê.

     As dit klaar was, het ons ons lesse gehad en elken het probeer om sy les te ken as meneer ons geroep het. Dit het dikwels gebeur dat ons nie ons lesse geken het nie en dan moes ons maar in die meeste gevalle met die rottang of die kweperlat kennis maak. Geen kind het die reg gehad om by sy vader of sy moeder te gaan kla dat hy ‘n pak slae by  meester gekry het nie. Dit was die algemene opvatting dat ‘n kind nie kon leer sonder om slae te kry nie. Hoe het alles nie  verander nie. In verlede was dit nie soos vandag dat kinders vir maande of jare op die skoolbanke kon sit nie.

     Na ses mande is die onderwyser weer weg om by ‘n ander skool te gaan skoolhou waar die kinders voorberei moes word om aangeneem te word. Dit was in daardie dae baie belangrik. Toe die onderwyser moes vertrek was ek al so ver gevorder dat ek gebrekkig kon lees. My vader het hierdie keer weer iemand uit die Kaap gekry om ons te onderrig. Almal het groot respek gehad vir hierdie onderwyser. My vader het ‘n kaart van Suid Afrika gekoop en ons moes nou iets meer leer as  net om te spel en te lees. Maar niemand hoef baie slim te gewees het om gou te besef dat die onderwyser net so min van die kaart geweet het as die kinders. Dit was dus ‘n mislukking. Hoe dit ook al sy,  die onderwyser kon  streng dissipline in die skool handhaaf.

     Van toe af het ons ‘n klein boekie gekry waarin geskryf is oor die arend en die kind en die jagter. Dit het by ons ‘n leeslus aangewakker en aangesien ek toe al redelik goed kon lees, het ek darvan gebruik gemaak . Dit was my grootste vordering.

     Maar hierdie onderwyser moes ook weer weggaan en ‘n ou oom het weer ‘n ander een gehuur. Hy was ook  uit die Kaap. Toe hy pas begin skool hou het, het ons agtergekom dat hy nie veel meer geweet het as ons kinders nie en aangesien hy deur die oom gehuur is, moes hy ook soms die oom gaan help. In sulke gevalle moes ek die plek inneem as die onder-onderwyser soos dit in daardie tyd genoem is. By sulke geleenthede was ek baie strenger met die kinders as wat die meester was, en die lesers sal my nie kwalik neem dat ek ‘n hoë dunk van my eie geleerdheid begin kry het nie.

     Ek hoef ook nie te sê dat ek, soos dit maar altyd die geval is met iemand wat nog niks weet nie, was dit ook met my  toe ons weer ‘n skoolmeester gekry het. Hy was ‘n Hollander, en ek moet van hom sê dat die bietjie wat ek op skool geleer het, ek by hom geleer het. Hy het ons geleer van syfers, van briewe skryf, van bewyse skryf en van kwitansies skryf.

     Dit is jammer dat ek nie ‘n paar jaar by hom op skool kon wees nie, maar daarvoor was daar ook nie geleentheid nie en my skooldae het tot ‘n einde gekom.

     Ek het probeer om net ‘n kort beskrywing te gee oor die kwaliteit van onderrig in daardie dae. Ek wil die huidige geslag net graag laat verstaan hoe bevoorreg hulle is met die huidige situasie.

     Ek gaan nou verder oor my latere lewe en lotgevalle skryf.

Ons Trek

     In 1862 het my vader ons plaas spotgoedkoop verkoop om na die Vrystaat te trek. Ons trek het ses maande geduur voor ons uiteindelik op die plaas Welgevonden in die distrik van Bethlehem aan gekom het.

      My vader het vee gekoop om sy boerdery mee te begin en ek is aangestel as die skaapwagter. Omdat ek die oudste kind was, moes ek die swaarste werk doen. Ek was maar vyftien jaar oud en ons het geen bediendes gehad nie. As iemand iewers moes heengaan, was dit ek. As vader iemand nodig het om hom te help, het hy my gevra. Op ‘n dag het hy weer iemand nodig gehad en dit het  so gekom dat ek ‘n hele maand van die huis af weg was. In die meeste gevalle was dit sonder vergoeding.

     My volwasse lewe het dan ook hier begin.

My jare as vreemdeling

     In die jaar 1864 het die onluste met die Basoethos begin en ons het teruggetrek na die distrik van Winburg in die wyk van die Vetrivier. Daar het ons vir ses jaar gebly. Sy hoogedele, President Brand is toe verkies en die regring van die land het ‘n heel ander wending geneem. Hieroor sal ek later skryf.

     Ek gee eers ‘n kort beskrywing van my  lewe as vreemdeling. Soos ek reeds gesê het was ek steeds my vader se skaapwagter en ek moes baie rondtrek met my vader se skape. Daar in die veld het ek met baie ander mense kennis gemaak. Deur sommige is ek verkleineer want hulle het my maar net as ‘n skaapwagter beskou en ek, as ‘n arme vreemdeling, moes maar hulle belediging en veragting soos soetkoek opeet.

     Ja my lesers, dit is waar ek geleer het om simpatie te hê met alle vreemdelinge. Ek dank my liewe Here vir hierdie leerskool.

     Tog het ek ook my goeie vriende gehad wat my nooit verag het en my as ‘n vreemdeling gesien het nie. Dit is niks meer as reg dat ek hulle name hier sal noem nie: Thomas van die plaas Lewensfontein in Fouriesburg, wyle Willem Pretorius van die plaas Doornfontein  en wyle Andries le Roux  van Kareeboomvallei. Dit was my vriende vir wie ek my hart oopgemaak het en hulle het my vriende gebly tot en met hulle dood. Dit is hoekom ek, as ek hulle kinders raakgeloop het, aan my verlede gedink het. Maar genoeg daarvan.

     In 1864 word die onluste in Basoetoland so erg dat wyle president Brand verplig was om ‘n kommando op die been te bring om die grens te bewaak tussen Moshoesh en die O.V.S. Ek is ook saam met dié kommando. Binne ‘n maand was alles weer normaal en ons sou maar moes sien wat die toekoms sou oplewer.

Die begin van die oorlog

     Dit was nie lank nie of die Basoeto’s het weer ‘n jong man naby Doornkop vermoor en  hulle het beeste van die grensbewoners geneem so veel as wat hulle wou. Die gevolg was dat die land in 1865 in rep en roer was en die  kommando was gereed om die magtige Moshoesh aan te pak. Een deel van die kommando was onder hoof-kommandant Weppener en die ander deel onder hoof-kommandant Jan Fick. Dit was nie ‘n maklike taak nie en die meeste burgers wat die president op die been kon bring was drie-duisend manne tussen die ouderdomme van sestien en sestig jaar oud. Dit was hierdie manne wat die O.V.S gebring het waar hy vandag is – Bewoonbaar, in vrede en voorspoedig. Ek is trots dat ek ook onder hierdie manne getel kon word.

     My vader is ook saam met die eerste kommando, maar met die groot slag wat bekend was as die slag van Paulus Moperie, het my vader homself beseer toe hy van sy perd afgeval het. Die veldkornet het hom huis toe gestuur en hy was vir die res van die oorlog op die krukkelys.

     Die Basoeto’s het invalle in die Vrystaat gedoen en het vee by die duisendtalle gebuit, maar as gevolg van die vasberadenheid en die dapperheid van die manne en die vasberadenheid van ‘n staatsman soos wyle president Brand, het die burgers ‘n groot deel van die grond van Moshoesh herower.

     Teen die einde van 1865 is daar vrede gesluit en die gronde is vir verspotte pryse verkoop. My vader het ook ‘n plaas gekoop en sou lekker daar gaan woon. Maar, wag ‘n bietjie. Die burgers wat die plase gekoop het, het dadelik begin om die plase te beset. Gelukkig het hulle nie hulle families saamgeneem nie. Almal wou die plase eers bewoonbaar maak. Ek en my vader het ook gegaan om die plaas te bewerk en ons het oral  waens gesien. Ons was net ‘n paar dae daar toe my vader onraad vermoed het.  Hy het vir my gesê: “Hoe lyk dit vir my of ons alleen hier is? Waar is die waens wat gister nog hier en daar was?” Hy het na ‘n buurman gery en hom vertel wat hy sien. Ons het dieselfde aand ook die hasepad gekies terug na Winburg.  

     Toe ons in die nabyheid van Winburg kom, het ons die balju raakgeloop wat juis op pad was om die mense uit die verowerde gebied terug te roep. Moshoesh het glad nie bedoel dat ons sy grond mag bewoon nie al het hy dit voor getuies geteken. ‘n Mens sou kon vra: “Wat sou dan die rede gewees het?”  

     Die Basoeto’s het ‘n sekere Krynauw, en ‘n handelaar  met die naam Jan Bois vermoor en Moshoesh het geweier om die moordenaars uit te lewer. Die gevolg was dat, aan die begin van 1866, al die Vrystaatse kommando’s weer in die veld was. Die grense moes oral bewaak word. Ek het in Winburg gebly onder veldkornet Groenewald om die dorp te beskerm. Van hier af moes ek later op kommando gaan en daar sou ek bly vir die res van die oorlog. Die burgers is elke drie maande afgelos. Ek het nooit aan die beurt gekom nie, want as my tyd verstreke was, is my beseerde vader opgeroep en dan moes ek  in sy plek aanbly. Die velkornet het van alles geweet, maar daar is nie omgesien na my as ‘n jong man en ‘n vreemdeling nie. Ek moes dit maar alles deurmaak.

     Ek was in die meeste groot gevegte betrokke, selfs by die groot slag bekend as die slag van Timi. Ek was een van die bestormers. In dié geveg het ek ‘n nouste ontkoming gehad van die hele Basoetho oorlog.   

     Genoeg daarvan. In 1869 was al die storms verby en ons kon die land waarvoor ons soveel opgeoffer het, gaan bewoon. Maar daar was ook baie arm mense en baie van diegene wat hulle lewens opgeoffer het vir die land kon nie plaas koop nie. Alhoewel sommige plase vir so veel as £ 15 verkoop is, het die manne net nie die geld gehad nie. Hulle kon by niemand geld leen nie. Geld was daar nie en dit was seldsaam om goud of silwer te sien. Gewone geld was maar goed al het dit gelyk soos ‘n pak kaarte. Dan het dit maar weer so erg gword dat ‘n mens net te bly was om die grond weer aan iemand anders te verkoop. Dinge het beter geword met die ontdekking van diamante. Geld het die land ingestroom, maar die grond het toe so duur geword dat ‘n arm man dit nie kon koop nie.

     Maar ek dwaal af van my eie geskiedenis.

My verdere lewensverhaal

     Ek het nog ses jaar by my vader gebly om hom op die plaas te help en vir hom tog te ry, maar die tyd het aangebreek dat ek nou vir myself moes sorg.

     Ek is met my liewe vrou getroud in Januarie 1875. Sy was Jacoba Elizabeth Theron en nou het my lewe ‘n nuwe blaadjie omgeslaan. Ons was so gelukkig en het mekaar goed verstaan en ek het as ‘n bywoner op die plaas van my stief-skoonvader gaan woon met doel om later weer verder te trek en vir myself ‘n eie plaas te soek. My skoonouers het egter geweier om my te laat trek en het ‘n deel van die plaas teen ‘n redelike prys aan my verkoop. Na 35 jaar woon ek nog steeds op die grond.

     Nadat ek sowat ses jaar op die plaas gewoon het, het ek tot die oortuiging gekom van sonde wat my in trane laat uitbreek het, maar die Here is getrou om my sondes te vergewe en ek was nou deur God se genade en liefde ‘n volgeling van Koning Jesus. Alhoewel ek die Here gevrees het van my twaalfde jaar af, moes ek hierdie ervaring ook deurmaak en ek dank God . . . . . . . .

(Hier ontbreek twee bladsye van hierdie geskrif en ek poog tans om dit by die oorlogsmuseum op te spoor)

. . . . .  my  liewe vrou. Ons het tien kinders gehad waarvan agt nog gelewe het. Twee van my seuns is Sendelinge in diens van die Here en my een dogter doen sendingwerk onder die armes.

     En nou my lesers, gaan ek my lewensbeskrywing afsluit met ‘n derde deel van my ondervindinge. As ek alles hiervan op papier moes sit sou dit ‘n hele ekstra boek moes wees en ek het maar probeer om dit so kort as moontlik weer te gee sodat ek een en ander kan vertel van die belangrikste van my ervarings gedurende my 62ste jaar en ek gaan afsluit met hierdie raad: “Vrees God en onderhou sy gebooie.” Dit moet alle mense doen al word jy verag of bedreig. As ons God as vriend het, loop alles uiteindelik vir ons reg. Daarvan kan ek uit ondervinding getuig. 

               J. W. Kok

     Ek het ‘n fout gemaak op bladsy 12. Die oorlog het nie in 1865 geëidig nie, maar wel in 1866. Dit beteken dat die eerste vyf maande van die oorlog vier jaar geduur het.

Nog ‘n kort naskrif oor my tyd op kommando

Dit het gebeur dat ek maande lank op kommando was sonder ‘n jas om my teen die reën en die koue te beskerm en as ons op kommando uitgegaan het, is ek altyd beskerm. Ek het ‘n goeie kommandant gehad. Ek onthou hoe ‘n harde bui reën ons op ‘n dag oorval het. Hy het my voor my perd sien sit en hy het baie haastig na my toe gekom en sy jas oor my gehou het om my te beskerm. Hy was Marthinus Prinsloo. Hy het geen onderskeid gemaak tussen ryk en arm nie. Dit het soms gebeur dat ons ‘n korporaal gehad het wat ook sy eie vriende gehad het. Hy het sy vriende van nagdiens afgehaal terwyl hy ons nagdiens verleng het. Hy het dit so gedoen dat ons dit nie maklik kon agterkom nie.

     Ja, sulke mense was daar ook van lankal af. In sulke gevalle moes die arme vreemdeling daarvoor opdok. Ons het soms goeie veldkornette gehad, maar by ander tye het ons veldkornette gehad wat te groot was vir hulle skoene.

     So was dit ook in die laaste oorlog dat daar manne was wat hulleself oral ingewikkel het om hulle offisiere te beīndruk en om vir hulleself naam te maak. ‘n Mens het hulle selde in die geveg gesien. My ondervinding het my ook geleer dat die egte offisiere diegene was wat eintlik nie offisiere wou wees nie. Hulle was die manne wat bruikbaar was en wat ook diegene onder hulle raakgesien en gerespekteer het.

     Enkele opmerkings oor die Basoetho-oorlog in 1865. In 1866 is daar vrede gesluit maar in 1866 was daar weer onluste en die oorlog was weer aan die gang. Dié oorlog het drie maande geduur en toe is daar weer vir ‘n kort rukkie vrede gesluit. Hierna is die plase  weer verkoop en diegene wat plase gekoop het, het weer gegaan om dit te bewerk. Dit is toe wat Krynauw en Bois vermoor is en die oorlog is weer voortgesit en het toe aangehou tot in 1869. Op die stadium het die Britse regering toegetree as mediator en dit het ‘n einde gemaak aan die oorlog.

Die verskil tussen toe en nou

     Ek dink dit is nie onvanpas om iets te skryf oor die gesindheid van ons ouer mense teenoor die onderrig van hulle kinders nie. Toe ek ‘n kind was, was dit nie soos nou nie. Die ou mense was oor die algemeen hulpvaardig teenoor ander mense soos byvoorbeeld die optrede van een buurman teenoor ‘n ander buurman. Hulle het mekaar se belange op die hart gedra. Selfs waar die een geld nodig gehad het, het die ander een hom gehelp. In so ‘n geval is dit as belediging beskou om op ‘n bewys van die lening aan te dring. Eerlikheid en opregtheid was van so belangrik dat daar nooit eers gedink is aan bedrog nie. Daar was seker klein uitsonderings gewees maar dit was baie seldsaam.

     Wat die opvoeding van kinders betref is daar elke aand huisgodsdiens gehou waar al die kinders teenwoordig moes wees. Sodra dit verby was moes al die kinders voor vader en moeder gaan staan om hulle gebede op te sê. Dit het geen verskil gemaak of  daar vreemde mense teenwoordig was nie. Dan het die kinders nag gesê en bed toe gegaan. Soggens vroeg was daar weer huisgodsdiens gehou saam met die kinders. Dit het gebeur lank voor ligdag.

     Die kinders het nie die reg gehad om teenwoordig te wees in die geselskap van ouer mense nie. Dit was destyds ook die gebruik dat, wanneer mense mekaar ontmoet het  wat hulle nie geken het nie, is daar beleeft gevra: “Wie is u?” Die ander persoon het dan dieselfde gedoen. As hulle kom kuier het is die kinders ingeroep om te kom groet met die opdrag: “Kom sê dag vir die oom of die tannie of die nefie of die niggie.”

     Kinders het geen reg gehad om hulle ouers agter hulle rug anders te noem as pappa of mamma nie. Hulle mag ook nie van ‘n oom of ‘n tante agter hulle rug gepraat het nie.

     Ek kan nog baie meer hieroor sê, maar dit is genoeg. Dit was die gewoonte van ons vaders en ons moeders. In die verband was die Bybel hulle gids om Godvrugtig te lewe.

Nou in ons tyd

     Die gewoontes is deesdae baie anders. Eerbied en respek vir bejaardes bestaan nie meer nie. Dit word bewys deur gesprekke van jong mense agter die rug van bejaarde mense. ‘n Mens hoor selde dat hulle praat oor oom so of so. In die baie gevalle word daar met veragting en minagting van hulle gepraat. Nie alleen dit nie, maar hoe spreek kinders deesdae hulle ouers aan? ‘n Mens hoor selde die naam “vader”. Hulle praat van die ou kêrel of die ou vrou of die ou miesies. Gelukkig is dit nie algemeen nie.

     Ek kry die indruk dat, as vreemdeling mekaar deesdae raakloop, groet hulle  mekaar gladnie asof hulle nie in mekaar belangstel nie. Dit lyk so ongemanierd en onbeskaaf. Maar as sulke vreemdeling op jou plaas kom, veral as hulle jou hulp nodig het, dan weet hulle baie goed om hulleself voor te stel. Waar is die algemene hulpvaardigheid. Waar is die opregtheid en waar is die eerlikheid van vroeër dae?

    En dan word daar nog deur sommige met minagting van ons voorouers gepraat asof hulle bekrompe was. Dit moet end kry. Moet tog nie dink dat ek teen opvoeding of teen geleerdheid is nie. Ek beywer myself  vir opvoeding, maar ons moet nie die vreemde gewoontes van vreemde mense navolg wat in stryd is met die edel karakter van ons voorouers, wat die afstammelinge van vrome Hugenote was nie. Dit is ons eer om van sulke families af te stam. Ons moet hulle eer en dan sal ons geseën word as ons die God van ons vaders eer en die voorbeeld van ons vaders in ere hou.

     Aangesien die mense van ons voorgeslagte besig is om uit te sterf, wil ek  tog graag iets vir die nageslag nalaat. Ek wil graag in my swakheid en onkunde iets vir die nageslag  skryf oor die dinge wat ek nog onthou. Ek sal myself daarvan weerhou om enige datum neer te skryf aangesien ek toe nog jonk was. Ek het al die goed deurgemaak, maar het nie notisie geneem van die datums waarop dit gebeur het nie. Dit waarvan ek skryf het alles tussen 1864 en 1869 gebeur. Ek gaan dit ook nie ‘n getuies noem nie. Ek sal maar probeer om te skryf waarvan ek weet.

    Ons het in hierdie dae in die Suid-Ooste van die O.V.S die magtige Basoetovolk gehad met Moshoesh as koning. In die gebied was die Vrystaat baie yl bevolk  en om so ‘n sterk vors te hê, wat gedoen het wat hy wou of wat nie geskroom het om oorlog te maak nie, was nie kinderspeletjies nie. Die grensbewoners het las  gehad daarvan dat die Basoeto’s hulle vee geroof het so veel as wat hulle wou.

     Wyle president Brand het toe aan bewind gekom in die O.V.S. en aangesien hy ‘n vasbeslote man was, het die regering ‘n ander rigting ingeslaan. Die eerste wat hy gedoen het was om die grens tussen Moshoesh en die Vrystaat vas te stel. Na dit gedoen is, het die president ‘n kommando op die been gebring om die grens deur ‘n perdekommando te laat patrolleer. Dit het in 1864 gebeur.

     ‘n Mens so nou kon dink dat ons nou vreedsaam met die Basoeto’s so kon lewe. Maar daarvoor het die Basoethos te veel  van hulleself gedink. Hulle het goed geweet dat die O.V.S. swak was en hulle het aangehou met hulle roofsugtigheid. Die grensbewoners was nooit seker van die veiligheid van hulle besittings nie. Om sake te vererger het hulle ‘n jong man naby  Doornkop in die distrik van Senekal vermoor. Ons wakker president het die uitlewering van die moordenaar geëis, maar daarvoor was Moshoesh nie te vinde nie. Die gevolg was dat president Brand verplig was om in 1865 die Vrystaters bymekaar te roep en  op te trek teen die hierdie magtige vors. Dit was nie maklik nie, want in die tyd kon die president slegs 3000 man in die veld bring. Hulle was tussen die ouderdomme van 16 en 60 jaar. Die staat was destyd so verswak dat die grense nie na behore deur wagte beskerm kon word nie.

    Die Vrystaatse kommando het Basoetholand binnegeval met twee afdelings. Die een deel was  onder hoof-kommandat Jan Fick. Hulle is die Bloemfontein kommande genoem. Die ander deel van die komando was onder hoof-kommandant Louw Weppener. Hulle is die Smithfield-kommando genoem. Van hierdie kommando het ek nie veel geweet nie, want Wiburg was ‘n grensdorp en ons moes by Boesmanskop wag.

     Dit was die begin van die oorlog en die uitgerekte patrollering op so n lang grens het begin. Die enigste uitweg was dat die burgers besluit het om op te ruk en dit het die eerste veldslag tot gevolg gehad. Dit was die slag van Paulus Moperi. Hulle is aangeval deur plus minus 3000 Basoethos terwyl die burgers slegs 1 500 man was. Die burgers was gelukkig om hierdie eerste slag te wen. Hulle het slegs een man verloor by name Piet Wessels. Hy was ‘n dapper man. Ons sou maar moes sien wat hierna sou gebeur. Vir die getal van 3000 Basoethos wat by die geveg betrokke was wil ek nie verantwoordelikheid aanvaar nie, want ek was nie self daar nie. Dit is aan my vertel deur iemand wat self daar was.

     Soos reeds gesê, was die wagte ver uit mekaar en die Basoeto-kaptein, het die Vrystaat ingeval tussen Keerom en Winburg en het ‘n ou man Jan Botes, iemand met die van Hamman en ene Swim vermoor op ‘n verradelike wyse. Hulle het met ‘n wit vlag na ‘n klein laer toe te gekom. Hulle het hulle van daar verder gegaan na die plaaas van ‘n ou man, Jacobus van Zyl. Hy was ‘n dapper man en het hulle gewapen op die dak van sy huis ingewag met van sy seuns wat verskuil was, en ook enkele bediendes wat so op hulle geskiet het dat hulle hierna na ‘n klomp basters gegaan het wat op die Doringspruit gewoon het. Van Zyl was so gelukkig dat hy, voor hulle omsingel was, een  van sy seuns te perd kon  uitstuur na die naaste wagpos waar kommandant Lewies Wessels met sy manne was, om die aanval te rapporteer.

     Hulle het daar ook al die basters op ‘n verradelike manier vermoor en is toe met hulle groot buit terug na Basoetoland. Die heer Wessels, en ‘n paar dapper veldkornette het hulle op die plaas Wildebeesfontein ingeawg met 100 man, waaronder ook die onverskrokke Izak Viviers was. Hy het in die laaste oorlog gesneuwel. Dit was werklik nie kinderspeletjies  vir hierdie bende om die duisende Basoethos  aan te val nie. Dit het hulle geluk om al die vee terug te vat en 200 Basoeto’s op Wildebeesfontein dood te skiet.

     Gedurende hierdie gebeurtenis was ek by ‘n vrouelaer op die plaas Doringfontein waar die ou man, Adriaan Niemand, die laer-kommandat was. Ons het berig gekry van al die gebeurtenisse en ons het die nag deurgebring deur wag te hou oor ‘n ander vrouelaer wat op die plaas Leeufontein was met Piet Theron aan die hoof. Niemand het ‘n rapport aan Theron gestuur met ‘n Boesman wat by hom grootgeword het. Die leser sal nou miskien hieroor lag. Die rapportryer het ons laer verlaat toe dit reeds donker was. Die wêreld was in die tyd oortrek met duisende stuks wild. Toe hy die gedruis van die wild hoor was hy so bang dat hy teen sonop teruggekom het met die berig dat die hele wêrel oortrek was van Basoeto’s. Stel jou die vrees van die vroue voor toe hulle hierdie boodskap hoor. Niemand  het toe weer ‘n ander Boesman gestuur om die boodskap oor te dra aan die vrouelaar onder Theron.

     Met al die gebeure het die Bloemfontein-kommando weer teruggetrek om die staat beter te beveilig, want die Basoeto’s het weer oral invalle gedoen, moorde gepleeg  en het duisende stuks vee geroof. So het hulle byvoorbeeld in die distrikte van Kroonstad, Bethlehem en later ook Winburg gemaak. Gelukkig was die kommando van boere so na aan die dorp dat hulle al die vee kon terugvat wat geroof is met groot verliese vir die Basoeto’s.  Wagte is toe nader aan mekaar geplaas en ook versterk. Selfs die Winburgkommando is versterk en ek was ook deel daarvan. Ek was toe maar 18 jaar oud.

     Die boeremagte het toe Basoetoland ingeval en die wagte moes sake op die grens hanteer. Ons het elke dag patrollie gry totdat ons met ander wagte in aanraking gekom het. Die kommando in die veld het die een oorwinning na die ander behaal. Ons hier op die grens het ook ons kanse gekry, want die Basoeto’s het die land ingeval en hulle het gekom tot by die Theron-laer.

     Ons het uitgegaan met 25 manskappe  en kom die Basoeto’s sleg op hulle agterhoede aanval. Ons het net 12 osse terugkry terwyl die Basoeto’s met honderde beeste Basoetoland ingetrek het. Kort hierna het hulle Winburg binnegeval ons het daarin geslaag om hulle terug te dryf en al die dorpsvee terug gekry. In Maart of April was die Basoeto’s byna verslaan en Moshoesh het vir vrede gevra en die boere het die beste dele van Moshoesh se grond gevat. Nou was daar vrede en ons het weer hoop gehad op ‘n rustiger lewe. Dit het net vir vyf maande geduur. Die plase is toe opgemeet en ons het gedink dat ons nou rustig daar kon gaan woon, maar heellaas. Ons was net ‘n paar maande by die huis, toe word die kommando weer opgeroep as gevolg van onrus in Basoetoland. Ek het ook aan hierdie kommando deelgeneem. Die onrus het drie maande geduur en toe is daar weer ‘n kort vrede gesluit. Hierdie vrede was van korte duur, want die Basoeto’s het weer twee boere vermoor, Kreynauw en Jan Bois. Die gevolg was dat ons toe weer opgeroep is om die onrus te stabiliseer. Ons het die een streek na die ander in besit geneem totdat ons ook die groot Thoemiesberg in besit geneem het. Hier het ons daarin geslaag om duisende stuks vee in terug te neem.

     Hierdie berg is deur albei kommandos aangeval. Die Smithfield-kommande aan die suidekant en ons kommando (Bloemfontein) aan die oostekant. In hierdie geveg het ek die nouste ontkomimg gehad in die hele Basoeto-oorlog. Ons het gedink ons sal aanhou totdat ons die Basoeto’s oor die Malutiberge verdryf het.

     Wat toe gebeur het is dat ons berig ontvang het dat Moshoesh die Britse regering gekry het om as bemiddelaar op te tree om vrede te maak. Ons ammunissie is deur die Britse regering opgeskort. Dit was een van die artikels van die Aliwalkonfensie wat onderteken is dat hulle vryhandel amnestie sal gee vir ammunissie en dat hulle moes onderneem om hulle glad nie te bemoei met die naturellestamme in die Suid-ooste van die Vrystaat nie.

     (Ek was nie seker of die artikels van die konfessie hier deur die Britse amptenare onderteken is of eers by die teruggawe van die land aan die boere nie.)

(Opmerking: Die voorafgande paragraaf was baie moeilik om te vertaal. As gevolg van Oupagrootjie se skolastiese agterstand is dit moeilik om altyd presies te weet wat hy bedoel. Amnestie en Ammuniese is baie moeilik om te onderskei. Verskoon as dit onsamehangend klink.)

     Dit klink maar na woord hou, liewe lesers. Nie waar nie? Op hierdie manier word toe vrede gesluit. Ons moes drie honderd plase wat deur ons verower is aan die Basoeto’s teruggee en daarvoor waarborg die Britse regering aan die Vrystaat dat hulle geen las meer van die Basoeto’s sal hê nie. Op hierdie manier het die vier jaar lange oorlog met Moshoesh tot ‘n einde gekom. Almal kon nou verstaan dat ons baie verarm was. Die grootste gedeelte van die Vrystaat se geld was byna op en ons het nie ‘n mark gehad vir ons produkte nie. Die diamantvelde is toe ontdek en geld het die land ingestroom maar toe het iets weer gebeur. Waterboer (Hy was die leier van die Griekwas in die Vrystaat) het nie geweet deur wie hy aangeraai is nie, maar hy het aanspraak gemaak op die diamantvelde. Ook hier was die Britse regering weer betrokke.

     ‘n Kommando onder kommandant Prinsloo word daarheen gestuur om die vrede te bewaar. Die volksraad het president Brand gestuur met volmag om ‘n einde te maak aan hierdie onluste. Engeland en die Britse regering het hom negentigduisend pond aangebied. Hy het die aanbod aanvaar en daarmee het die onluste van die O.V. S. geëindig totdat ons uiteindelik aan die Britte onderdanig was. Hierdie gebeurtenisse het ongeveer in 1870 gebeur.

J.W. Kok.

Ek gaan vir die lesers hiervan nog die een en ander vertel van die kommandolewe en ook die name van die latere offisiere wat die Basoeto-oorlog tot ‘n einde grbring het. Soos in die eerste deel van my skrywe, maak ek melding van Jan Fick as generaal. Hy was ook die generaal van die Ficksburgers, maar hy het bedank en as sy opvolger het ons Winburgers vir Marthinus Prinsloo verkies. Hy was toe nog baie jonk maar ‘n man met heldemoed. In gevegte het hy omgesien na sy manskappe. Hy was vriendelik, maar tog baie streng. Sy bevele moes presies uitgevoer word en as kommandant-generaal van die Kommando van Boshoff is hy deur die krygsraad verkies as hoof van die Bloemfontein kommando.

     ‘n Beter man as Gideon Joubert kon ‘n mens nie kry nie. Hy was vriendelik maar streng in sy bevele. Ons as burgers het hom liefgehad, maar was ook vir hom bang.

     Later het die kommandant van die Bloemfontein-kommando bedank en as sy opvolger is Jan Cobbec gekies. Die kommandant van die Kroonstad-kommando was Theunis Botha, die van Jacobsdal was Danie van Niekerk en die van Harrismith was Cornelus de Villiers. Dit was dan die Bloemfontein-kommando.

     Later van tyd was die kommando van kommandant De Villiers weer in die distrik van Bethlehem en Harrysmith betrokke.

     Nou nog inligting oor die Smithfield-kommando. Ek het reeds gesê dat ek maar min van hierdie kommando geweet het. Ek weet net dat, toe dapper generaal Weppener by Thaba Bosigo gesneuwel het, is Jacobus Pansegrouw, kommandant van Rouville, in sy plek gekies en  Fanie Fourie, destyds ook nog  baie jonk, maar ook ‘n held, weer in sy plek.

     Nou gaan ek ‘n kort beskrywing gee van hoe ‘n kommando-laer getrek het. Die Laer-kommandant wat hiervoor verantwoordelik was was gewoonlik ook ‘n man met takt.    

     Die waens is in ‘n driehoek formasie opgestel met elke disselboom agter ‘n ander wa. Die spasie tussenin was so groot dat dit al die trekvee en perde kon bevat. Die laerkommandant het bevel gevoer oor die hele laer. Op sy bevel is die vee elke oggend uit die laer uitgejaag nadat elke brandwag in posisie was. Geen trekvee of perde mag die perke wat die brandwagte gestel het oorskrei nie. As dit gebeur het, het die brandwag die vee en perde na die skut gebring. Die skut was gewoonlik by die  generaal se tent. Die generaal het dan die eienaars van die vee of perde beboet en die burger wat hulle gebring het, het 1 sjieling ontvang.

     Ek wil hierdie grap vir die lesers hiervan vertel. Op ‘n sekere dag was een van ons manskappe op bradwag. Hy was ‘n Engelsman met die naam John Smith. Toe hy as brandwag afgelos word, kom hy met  twee ryperde van die generaal na die laer. Die generaal het in sy tent gesit. Hy het tot by die tent gekom en in gebroke Hollands geroep: Generaal, generaal, hier het ek twee perde vir die skut. Die generaal het uitgekom en tot sy verbasing gesien dat dit sy eie perde was. Die generaal het ‘n groot bohaai opgeskop oor sy perde, maar dit het alles niks gehelp nie. Die Engelsman moes sy sjieling kry en die generaal moes homself beboet al het hy nie geglo dat sy perde buite die bradwaggebied was nie. Die Engelsman het lekker gelag en niemand kon dit glo nie.

     Oor die slag van beeste is ook baie streng toesig gehou. Geen korporaal het die reg gehad om ‘n bees dood te skiet binne 100 jaart (Treë) van die laer af nie. Op bevel van die korporaal is burgers aangesê om die bees te slag en die vleis is dan verdeel volgens die aantal mense wat daar in die veldkornetskap was. Dan het die korporaal met sy rug na die vleis toe gestaan terwyl iemand anders die vleis opgetel het en die korporaal dan gesê het aan wie dit behoort het totdat alles uitgedeel was. Dan is elkeen met sy rantsoen terug na die laer. Dit het soms gebeur dat ‘n laer meer as ‘n week op een plek gebly het, veral in die gebied waar daar baie kafferlande was en die vee ver van die laer af gewei het.

     Dit was egter die manier van oorlog voer. Die jong mense het hulle besig ghou met allerhande vermaaklikhede, veral met ‘n beesvel. In die nat beesvel van ‘n bees wat pas geslag is, is daar rondom die vel plek-plek gate ingesny en dan het so veel as wat vatplek kon kry, die beesvel gevat. Dan is ‘n vrywilliger gevra om op die beesvel te klim en hy word dan in die lug ingegooi – soms tot 20 voet hoog. Die rede waarom ons vrywilligers gevra het om dit te doen was omdat dit streng verbode was om iemand teen sy wil op die vel te gooi.

     Naderhand het dit moeilik geword om vrywilligers te vind en dan het ons ‘n ander plan gemaak. Elkeen wat aan die beesvel vasgehou het, moes hom dan bereid verklaar om een na die ander op die vel te klim. Dit het soms gebeur dat iemand daarin geslaag het om sy beurt te ontduik. Dan is al die velspelers agter hom aan. Dit het soms gebeur dat hulle so ‘n persoon tot na donker buite die laer gehou het.

     As die tyd weer aangebreek het om op ‘n perdekommando uit te gaan, word die burgers in die oggend aangesê om teen sononder te vertrek. Dan moes ons onsself voorsien van genoeg voorrad vir twee dae. Soms was ons drie dae weg. Dan het ons ‘n stuk beesvleis gekook. Stormjaers is gebak (‘n tipe van brood) en sommige het roosterkoeke gemaak soos ons voorgeslagte dit genoem het. Dit moes alle deur ons perde gedra word: Ons kos in ‘n groot bladsak oor jou skouers, die swaar bandolier met 40 of 50 patrone en die kruitbus vol kruit. In die dae was daar nog min agterlaaiers. Die gewere van destyds was baie swaar. Ons jasse of komberse is voor op die saal vasgebind. Ons koffieketel en bekertjies het ook nie agter gebly nie. Dit was ‘n swaar las en ons het dan met sononder vertrek en deur die nag gery tot met sonop en dan het ons op die plek gekom waar ons spioene  die vee van die kaffers gesien het. Ons het soms agthonderd of negehonderd beeste geneem en as dit dan verby was, het ons afgesaal. Dan het ons koffieketels te voorskyn gekom saam met die beesvleis en stormjaers. Daarna is die pype gestop en die bitterheid van die nag is vergete. Hoeveel in die nag op hulle perde aan die slaap geraak het en afgeval het, sal ek liewer nie vertel nie. Dit was geen seldsaamheid nie.

     As ons dan terug is na die laer toe, moes ons die gebuite vee saamjaag en is dan soms nog deur die kaffers agtervolg wat probeer het om dit weer terug te kry, maar hulle kon dit nooit regkry nie. Met elke aanval moes hulle uiteindelik die hasepad kies.

    En dan het daar met die terugtog kort-kort iets gebeur om oor te lag. Julle moet weet dat ons die vorige nag niks geslaap het nie en dit was nie snaaks dat iemand op sy perd aan die slaap geraak het en nie wakker geword het voor hy  met die grond kennis gemaak het nie. Dit het ook met my gebeur. Die lesers sal verstaan dat ons op ‘n perdekommando uit was en baie moeg was. En dan moes ons ook nog in die nag wag staan.

    Ek sou nog baie dinge kon vertel, maar hierdie is genoeg vir die nageslag om ‘n idee te kry van wat ons Vrystater in die verlede moes deurmaak. Klere was onbetaalbaar duur en baie van ons moes maar tevrede wees om ‘n velbroek te dra. Party van ons het nie eers ‘n jas besit om hulle teen die koue te beskerm nie.

     By sulke geleenthede, as ons op ‘n perdekommando gegaan het, moes ons maar ons komberse gebruik om ons warm te maak. Ekself het meer as een keer,  as ons op kommando moes gaan en in die nag moes uitbly, my saal as kopkussing gebruik. Ek moes my kombers oor my gooi en moes gevolglik op die harde grond slaap.

     Dalk sal iemand sê: “Wat ‘n pynlike ervaring.” Nee, my liewe lesers. Onder sulke omstandighede het ons nog lekker geslaap, want ‘n mens het aan die soort van lewe gwoond geraak.

     Ek het probeer om hiermee ‘n kort beskrywing te gee van ons kommandolewe en van vroeër dae en mag dit vir almal wat dit lees, iets beteken. Dan is my wens vervul

J. W. Kok
Kransdrift
Winburg

     Ns. Hierdie is alles geskryf sestig jaar nadat dit gebeur het. Ek kan nie presies sê of ons by die vredessluiting 300 plase aan die kaffers teruggegee het nie. As dit foutief is wil ek verskoning vra.

      Ek wil nog net een grap aan die lesers vertel wat die moeite werd is. Dit het gebeur op die plaas Kluitjieskraal waar die ou man, Petrus van Rooyen, nou woon.

     In 1867 moes ‘n klein versterking na die kommando gaan. Hulle het hulle klein laertjie naby ‘n diep sloot getrek terwyl hulle meeste van die tyd onder die waens geslaap het.

     Die Basoetos het dit alles vanaf die Korannaberg gesien en die laer die nag bekruip. Toe alarm gemaak is, het die boere onder die waens uitgespring. Een man het sy kop gestamp teen een van die was se wiele en natuurlik weer onder die wa ingeval. Hy het nog die krag gehad om te sê; “Kêrels, ek is swaar gewond! Toe dit verby was het die boere natuurlik weer iets gehad om lekker te lag vir die gewonde man.

.


green-previous
green-next
green-home-icon

(c) eben van tonder