Oom Jan onthou

This post is part of The Art of Living series from Bacon and the Art of Living.  Chapter 99, where this is posted, is an addendum to the book.  In the “Art of Living section, I write about family and the many great experiences we had as part of “the art of living.”  Most of these experiences make it into the main body of the work.

—————————————-

‘n Mens is ‘n mens deur mense . . . . .

“It’s never too late to have a happy childhood”

‘n Mens is ‘n mens deur mense. So lui ‘n spreekwoord van die Noord-Sothos.

Geen mens word groot  sonder dat daar mense rondom hom is wat  deel het aan sy vorming nie. Almal wat die een of ander tyd ‘n  mens se lewenspad kruis, het ‘n invloed op jou denke en jou karakter. Sommige mense se invloed is  groter as dié van ander. Party mense se invloed is positief en ander s’n is negatief. Party maak jou slimmer en ander maak jou dommer, maar of dit nou groot of klein, positief of negatief is, almal vorm aan jou persoon en aan jou karakter en uiteindelik is jy die produk van jou omgewing en van jou ervaringslewe.

Ook die plek waar jy  grootword, dra by tot hierdie. Selfs die tyd in die geskiedenis waarin jy opgroei speel ‘n rol. In my eie grootword was dit nie anders nie.

My Geboorte

Ek is gebore op 03 Mei 1942 op die plaas Leeuwspruit in die distrik Vredefort. Ek was die tweede kind van Eben en Susan Kok ek ook die enigste baba wat in die huis op Leeuspruit gebore is.

Pa en Ma het mekaar ontmoet terwyl hy  ‘n klerk in Standardbank op Vredefort was en Ma het by haar ouers, Michiel en Santjie Uys,  op  die plaas Leeuwspruit buite die dorp gebly het. Soos dit daardie dae  die gebruik was, het sy, nadat sy skool verlaat het, by haar ouers gaan bly om ouma te help om oupa Piet Rademan, ouma se pa, te versorg. Oupa Piet Rademan is op  28 Desember 1937 in die ouderdom van 99 jaar oorlede. Ma se verantwoordelikheid om haar oupa te help versorg was dan ook die rede daarvoor dat sy en Pa eers in 1939 getroud is. Albei van hulle was toe reeds 28 jaar oud gewees.

Pa en Ma, voor hulle huwelik in

                                         1939 voor die huis op Leeuwspruit

 

Van Oupa Piet word die storie vertel dat hy al diep in die 90 was toe hy eendag besluit het dat sy leraar, Ds van Vuuren, hom verwaarloos. Hy span  sy perdekar in en ry al die pad Vredefort toe en stop in die straat voor die pastorie. Op die uitnodiging van  Ds Van Vuuren, weier hy om van die kar af te klim en te kom tee drink. Daar op die perdekar het hy gesit en Ds Van Vuuren aangespreek omdat hy hom as bejaarde verwaarloos het. Hy het aan Ds van Vuuren gesê : “Kyk Dominee,  ek is ‘n ou man en ek weet ek het nie meer lank om te lewe nie. Verlede nag kon ek nie slaap nie en ek het gelê en dink oor die dood. Toe dink ek by myself : Sê nou ek gaan vannag dood en ek kom in die hemel en die Here vra vir my : “Piet Rademan, hoe gaan dit met my dienskneg, Ds Van Vuuren, daar op Vredefort ?” Dan sal ek met skaamte vir die Here moet sê dat ek nie weet nie, want hy kom my nooit besoek nie.” Die boodskap aan Ds Van Vuuren was hard en duidelik.

Ma het op Reitzburg skoolgegaan waar sy by tant Kowa Marx – Ouma Santjie se suster – loseer het. Nadat sy haar laerskoolloopbaan op Reitzburg voltooi het, is sy Potchefstroom toe waar sy in die koshuis was. As ek reg onthou het sy hier skoolgegaan tot en met st 7.

In hierdie tyd skryf Ouma Santjie die volgende brief aan Ma in Potchefstroom :

 

Die eerste bladsy van die brief wat Ouma aan Ma geskryf het in die koshuis op Potchefstroom.

 

Liefste Susan,

Ons het gister jou brief gekry baja dankie, ek was spyt om te sien dat jy so virkoude is, ek hoop darem dit gaan beter, met ons gaan dit goed ons is nou weer baja gesond. Pappie se oor is ook heel te maal gesond. Jy het seker nog nie gehoor dat Aunt Chathrina  weer ‘n seuntjie het nie, hy is die 23 ste gebore, hy is vndag 8 dae oud, laaste Dinsdag was sy net baja siek toe was ou Green daarheen hy sê dit is ook die griep wat sy het, maar nou gaan dit weer beter. Oom Freek was gister hier, Pieter was ook hier, ons vra vir hom wat is daar  hy se daar is ‘n bobbejaan ek vra wat is sy naam hy se Fransie

Hendrik van aunt Kotie was mos ook so baja siek, laats Sondag was ou Green daar en Maandag was Dr Heyns weer daar hy het glo Inflamatie, gister het oom Freek gese was hy bietjie beter maar vandag het ek nog nie weer gehoor nie, ek dink die dag  met die Vandiesie het hy seker koue gekry want dit was mos so’n nare dag gewees.

Die ou Klein Kaffertjie van ou Viljoen het laaste Vrydag vir Brand, dit was mos so vreeslik koud daardie dag, en die meid het glo buite kant vuur gemaak en toe gaan sy mis optel toe sy sien toe was die ou kaffertjie in die volle vlam, Pappie het toe nog dieselfde middag die dokter daarheen laat gaan maar nog die selfde nag is hy dood.

Dina is vanaand hier, ons was vanmiddag daar en Maria het so aangehou laat sy moet saam kom.

Pappie het daarom die jaard vir die huis Klaar dit lyk net ewe gaaf.

Die hoenders by die windpomp  le nog nie eers nie hier by die huis begin hulle nou net tamenlik te le

Oom Attie hulle het Saterdag nag hier geslaap en Miss Boshoff ook sy was saam met oom Attie hulle.

Hoe gaan dit met aunt Miem ? Word sy nou al beter en wat se sy sal die dokter haar kan help ?

Mariaatjie was tog te hoog oor die brief wat sy van jou gekry het. Ek het nog nie eers aunt Cathrina  se seun gesien nie.

Pappie had mos so’n skade met sy skape die Honde was daar onder, en hulle het 9 doodgebyt en nog ‘n hele paar stukkend gebyt. Die arme ou Bok het hulle net so verniel hy sal ook seker nog dood gaan, nou weet hulle nog nie eers wie se honde dit was nie, dis daarom ‘n vreeslike skade.

Nou liewe Susan die nieuws is nou op en ek is al vaak baja groete van Dina, Pappie, Mariaatjie en van mammie.

                                                            Jou liefhebbende moeder,

                                                                        Sannie Uys

Pa en Ma is op 07 Augustus 1939 in die mooi ou sandsteenkerk op Vredefort getroud. Ek en Magna is op 21 Desember 1968 en en Joretha en Stephen op 03 Julie 1993 in dieselfde kerk getroud. Pa en Ma is in die huwelik bevestig deur oupa Jan Kok wat ‘n sendeling op Heilbron was. Die onthaal na die troue is op die plaas gegee. Kol Nussey, ‘n vriend van Oupa Giel en Ouma Santjie het ‘n heildronk op hulle ingestel as die ouers van die bruid. Ds Naude van Heilbron het die heildronk op Oupa Jan en Ouma Magrietha ingestel en Ds Lubbe, die leraar van Vredefort het die tafelgebed by die onthaal gedoen. Die storie word vertel dat hulle so lekker gedans het dat die een balk van die sitkamervloer geknak het. Tant Cathriena Rademan het die bruidskoek gebak en versier. Mariet Bosman was die blommemeisie.

My Oupagrootjie, Piet Rademan, op sy 95 ste verjaarsdag in 1933

Daar word vertel dat ouma Magrietha baie gesteld was daarop dat dinge korrek gedoen moes word. Sy het oupa Jan nooit toegelaat om sonder sy wit strikdassie rond te loop nie. Ds Lubbe het die dag van die huwelik ‘n gekleurde das aangehad en sy het hom verkwalik omdat hy op haar seun se troue ‘n gebed gedoen het sonder sy wit das aan.

Pa en Ma op hulle troudag op

                                                       7 Augustus 1939

Ek het die eerste lewenslig aanskou as die tweede oudste in die gesin. Sannie, my suster, was  twee jaar oud toe ek gebore is. Ek is op die plaas Leeuwspruit in Vredefort in die Vrystaat gebore. Dis natuurlik waarom ek vandag nog ‘n fanatiese ondersteuner van die Vrystaat se sportspanne is en ek beskou die Vrystaat  steeds as my Heimat. Leeuspruit was geleë 7 myl buite die dorp op die pad tussen Viljoenskroon en Vredefort. Dit was nog in die dae voor daar kilometers en kilogramme en rand en sent was. Afstand is gemeet in myle, die grootte van plase  in morge,  gewig is gemeet  in ponde en onse, vloeistowwe is afgemeet in gellings en pinte en ons het betaal met ponde sjieling en pennies.

“Nurse” Vorster was die vroedvrou wat my op die plaas in die lewe gehelp het. Dit was  bitter koud die oggend toe ek op 3 Mei 1942 gebore is. Die waterpype was  toegevries  en  hulle moes eers die pype ontdooi voordat hulle water kon warm maak om die nuwe aankomeling mee te bad. Sou dit  dalk die rede wees waarom ek vandag nog  liewer is  vir die winter as vir die somer?

My Oupa aan my pa se kant was Johannes Willem, genoem Jan. Hy is op   04 April 1880 op die plaas Kransdrift in die distrik van Winburg. Hy word op  02 Mei 1880 in  Winburg gedoop en hy is oorlede op 26 Junie 1950 te Heilbron waar hy sedert sy aftrede gewoon het. Hy is op 08 Julie 1907 getroud met  Maria  Margaretha Klingbiel. Sy was die dogter van Jan Frederick Gustav Klingbiel en sy vrou Maria Margaretha, gebore Preller. Sy is gebore op 17 Oktober 1879 en oorlede op 27 Augustus 1942 te Heilbron. Sy is gebore net 3 maande na my geboorte en ek het nooit die voorreg gehad om haar te ken nie. Wat ek wel gehoor het was dat sy maar taamlik kwaai was en dat haar woord wet was. Na haar dood is oupa weer getroud met Johanna M Olivier, die weduwee van een van die boere in die distrik. Sy was voorheeen met ‘n Roos getroud en is gebore as Du Toit. Sy is gebore op 23 Maart 1886.

Gedurende die Anglo Boereoorlog het oupa as ‘n  Boerekryger teen die Engelse geveg. Sy betrokkenheid by die oorlog begin op 05 Mei 1900 toe die Engelse Winburg binnegeval het. hy was toe ‘n jong man van 20 jaar oud. Hy is gevange geneem deur die Engelse  op 31 Julie 1900.  Hy skryf in sy dagboek : Maandag 31 ste Juli 1900 hebben wij onze wapens nedergelegd, op die oorgawe van Generaal Prinsloo aan Generaal Hunter. Op 11 Augustus is  hulle per trein na die Groenpuntkamp in gestuur. Hy skryf in sy dagboek dat . . . de Malaaihers (Maleiers ?) en bastaards (Kleurlinge ?) stonden weerzyden van de straat en bespotten  ons op alle wyze. Dit lyk uit hierdie opmerking van hom dat rassehaat en rassekonflik van die vroegste jare van ons geskiedenis reeds daar was . Hulle gaan  op 15 Augustus 1900 aan boord van die skip, Dilwara, en verlaat Kaapstadhawe op 18 Augustus 1900. Hulle kom op 21  Augustus in Durban aan en vertrek weer op 22 Augustus.  Op 08 September land hulle in  Colombo en word 160 myl per trein vervoer na hulle kamp. Hy skryf : Het kamp ligt ongeveer 160 myl van Colombo. Wij gingen 37 tonnels door, dit is een duidelik bewijs hoe de trein  hier in dit land door Spelonken gaan. Op 10 September 1900 kom hulle in die Diyatalawakamp op Ceylon aan. Na die vredesluiting op 31 Mei 1902 word hulle vrygelaat en op  05 Desember 1902 was op  27 Desember 1902 weer terug in Suid Afrika.

Terwyl hy in die krygsgevangekamp op Ceylon was, het hy die roeping ervaar om ‘n sendeling te word en studeer uiteindelik aan die Sendinginstituut te Wellington. Daar was so baie van die krygsgevangenes wat tot die oortuiging gekom het dat hulle sendelinge wil word, dat die Ned Geref kerk spesiaal die Sendinginstituut gestig het om aan hierdie mans opleiding te verskaf. Na sy opleiding is hy in 1906 in  Heilbron bevestig en het 39 jaar lank in die gemeente gewerk tot en met sy aftrede in 1945. Gedurende die tyd was hy ook baie betrokke by die gemeenskapslewe van die dorp en dien onder andere in die Skoolraad, Skoolkommissie, Koshuiskommissie, Hospitaalraad, en die stadsraad. In laasgenoemde hoedanigheid het hy ook enkele termyne as Burgemeester van Heilbron gedien.

Die sukses van sy bediening in die Sendinggemeente is onder andere daaraan toegeskryf dat hy “in getrouheid as seun van die volk, die historiese standpunt van die Boerevolk teenoor die naturelle vertolk en gehandhaaf het” Ek weet nie presies wat met hierdie sinnetjie bedoel word nie, maar dit klink vir my na so ‘n bietjie politiekery !

     Die Eerste bladsy van die dagboek wat oupa tydens die oorlog gehou het.

Ek was oupa se  eerste manlike naamgenoot. Daar was 6 kleindogters voor ek gebore is. Ek  is  in die Sendingkerk op Heilbron gedoop. Vir daardie jare was dit sekerlik ‘n vreemde situasie. Afrikanernasionalisme was aan die ontwaak, apartheid as ‘n politieke beleid het al meer beslag gekry  in die denke van die blanke Afrikaanssprekendes. Dit was  ses jaar voordat die Nasionale Party met sy apartheidsbeleid aan bewind gekom het. Synde ‘n blanke, mog my doop nie in die Sendingkerk geregistreer word nie en my naam is plegtig in die boeke van die Ned Geref Gemeente, Heilbron-Suid ingeskryf asof die doop in die Sendingkerk nooit plaasgevind het nie. Dit het  ‘n groot soektog na my doopseël afgegee toe ek dit nodig gehad het toe ek belydenis van geloof moes aflê. Vir die geleentheid van my doop het Oupa ‘n dooprokkie gekoop waarin ek, en later baie ander familiebabas gedoop is. In 2005 het ek die voorreg gehad om Frané, my vierde kleinkind in dieselfde rokkie te doop. Paula Rademan (later du Plooy) het my in die kerk ingebring vir die doop.

Dit is so ver  as wat my verbintenis met die sending, as ‘n aksie van die Ned Geref Kerk teruggaan. Deur my hele lewe het ek ‘n spesiale belangstelling gehad in  sendingwerk en het baie drome gedroom om eendag self, soos Oupa, ‘n sendeling te word.  Ek het nooit self sendeling in die ware sin van die woord geword nie, maar dwarsdeur my bediening as predikant van die Ned Geref Kerk, was daar altyd ‘n baie mooi verhouding met die gemeentes en die leraars van die NG Kerk in Afrika – later  die Verenigende Gereformeerde Kerk – met  wie ek  saam gewerk het. In Pretoria was dit Ds Phatudi  van die gemeente  Saulsville en in Warmbad Ds Philimon Masenya.

Koppies

My eerste herinneringe aan menswees strek so ver terug as Koppies in die Vrystaat – 1945. Pa was op daardie stadium ‘n klerk in Standardbank op die dorp ma was ‘n huisvrou. Pa was ‘n tipiese Suid-Afrikaanse man met ‘n hunkering na die grond  en om te  boer. Daarom bring ek my eerste drie lewensjare op die Weltevredeplotte net buite Koppies deur waar pa ‘n paar melkkoeie en skape  en ma ‘n paar hoenders aangehou het. My eerste onthou is die buitekamer waar die meel gebêre is wat die koeie gekry het as hulle gemelk word en waar die mielies gebêre is wat ma se hoenders gevreet het. Vandag nog, as ek die reuk van mielies kry, is die buitekamer buite Koppies die beeld wat in my kop kom.

Uysie is hier op die plot gebore en ek onthou hoedat ek en Sannie op ons tone na die kamer toe geloop het om na ons nuwe boetie in sy wiegie in die kamer te gaan kyk.

Op die turfgrond van die plot buite Koppies bring ek my eerste drie jaar deur. Van die min duidelike herinnering uit hierdie eerste drie jaar van my lewe is die bure, Oom en Tannie Pienaar. Ek en Sannie het meer as een keer saam met die huishulp – daardie jare nog ‘n kombuismeid genoem – na die Pienaars toe geloop  om hulle  meelsif te gaan leen. Dit was in die jare na die Eerste Wêreldoorlog en die gebruik van gesifte meel om wit brood te bak, is deur die wet verbied. Watter Boer steur hom egter aan ‘n wet wat hom die lekker van  vars tuisgebakte witbrood verbied ? Agter toe deure en met toegetrekte gordyne is die bruin meel – al wat beskikbaar was – gesif  en wit brood gebak. Natuurlik moes niemand weet jy loop met ‘n meelsif in jou hand nie en daarom is dit plegtig in ‘n  meelsakkie gesit en toegebind. Die meelsif het ‘n houtraanwerk gehad met ‘n fyn sifmateriaal oorgetrek, amper soos ‘n sykous. Dit het ‘n slinger gehad wat gedraai is en so is die semels van die fyn meel geskei. Mense wat as gevolg van gesondheidsredes nie bruin brood kon eet nie, kon spesiale permitte kry om meel te sif en wit  brood te bak. ‘n Buurvrou van oupa Giel  hulle, tant Miem Rooikoos (Uys),  het so ‘n permit gehad omdat oom  Koos ‘n swak maag gehad het. As ons daar gaan kuier het, het ons skaars gesit of ons het gesê ons is honger. Net om ‘n sny witbrood en plaasbotter te kon eet.

Omdat dit oorlogsjare was (Die Tweede Wêreldoorlog), was films onverkrygbaar en daar bestaan  geen foto’s van my as baba nie. Die enigste foto wat ek besit is geneem op die dag van my doop. Eie aan die hantering van babatjies in daardie  jare is ek so toegedraai in ‘n kombersie dat daar van my gesig niks te sien was nie.

                  Die enigste foto van my as baba geneem op die dag van my doop.

                  Agter  : Oom Dolfie Bosman  met Jantjie, Tannie Meraai Strauss,

                  Ouma Santjie, Ouma Magrietha Kok, Pa Eben met Sannie.

                  Middel: Oupa Giel Uys. Ma Susan met my op haar skoot, Oupa Jan Kok

                  Voor  : Ronnie en Mariet Bosman

Ek was maar drie jaar oud toe ons van die plot af weg is en  herinnering is baie vaag. Vaagweg herinner ek my daaraan dat in een van die vertrekke in die huis daar ‘n kelder in die vloer was wat met ‘n valdeur toegemaak is. Ons was  baie bang vir daardie donker gat en ons is seker maar gedreig dat ons daar toegesluit sou word as ons stout is.

Vredefort

In 1945 verander ons lewens totaal toe die bank Pa verplaas na Natal. Oupa Giel en Ouma Santjie het nie kans gesien dat hulle oudste dogter na die Engelse Natal moes verhuis nie en Pa neem die drastiese besluit om sy werk in die bank te bedank en saam met oupa te gaan boer. Dit sou beteken dat ons vir die volgende 16 jaar ‘n Oupa en ‘n Ouma in die huis sou hê. Dit sou uit die aard van die saak ‘n baie groot invloed op ons hele gesin hê.

                              Die huis op Leeuspruit waarin ek  op 03 Mei 1942

                              gebore is

Vredefort was ‘n tipiese plattelandse dorpie met al die nodige besighede. Joe Muller, Orkin en Teddie  Tanchel was Joodse winkeleienaars terwyl daar ook ‘n Afrikaanse Handelshuis was. Die boere het hulle ko-operasie gehad ( ‘n tak van Sentraal Wes Ko-operasie)  en verder was daar Bolnick Broers wat handelaars in plaasprodukte was. Daar was ‘n tak van elk van die bekende banke, Standard en Barclays, ‘n apteek en ‘n kafee of twee met ‘n paar motorhawens en ‘n slaghuis of twee Leo en Josh Boer was twee Hollanders wat ‘n kafee – Die Windmeul Kafee – op die dorp gehad het. Leo het die lekkerste vleispasteitjies gebak wat ons vir ‘n sikspens (5 sent) kon koop. Hulle Kafee en bakkery was die bymekaarkomplek en kuierplek van die boere van die distrik.

Vrydagmiddae het ons na skool daar gaan wag terwyl Pa of Ma vir Sannie op Parys by die koshuis gaan haal het. Terwyl ons daar gewag het kon ons ‘n vleispasteitjie eet en ‘n koeldrank drink.

Verder was daar ook  die Springbok Kafee wat in die hoofstraat geleë was. Die Ottens het ‘n boekwinkel gehad en oom Thys de Wit ‘n Ingenieursbesigheid. Dan was daar natuurlik die spoorwegstasie wat die verbintenis met die buitewêreld was vir diegene wat oor geen ander vervoer beskik het nie. Die pragtige sandsteen kerkgebou van die Ned Geref Kerk was ‘n landmerk  in my kleinkinderdae. Dit was    die  enigste kerkgebou op die dorp. Hervormers, Doppers en Apostolies moes Parys toe ry vir kerk. Die skool was die Chris van Niekerk skool en was ‘n gekombineerde laer- en hoërskool met ‘n gemengde koshuis wat deur die kerk opgerig en bestuur is.

‘n Oupa en ‘n Ouma in die huis

Om ‘n Oupa en ‘n Ouma elke dag in die huis te hê maak ‘n nuwe wêreld vir ‘n mens oop. Stories wat vertel word en dinge wat vir jou geleer word, maak ‘n onuitwisbare indruk. Ouma Santjie was ongemaklik groot en nie baie mobiel nie. Dit was my taak om elke aand as Ouma kamer toe gaan, haar skoene en kouse te help uittrek omdat sy dit nie meer self kon doen nie. Sy het ‘n stoel in die eetkamer gehad waar sy heel dag gesit het. Soggens as sy uit die kamer  gekom het, het sy daar gaan sit. Smiddae na ete is sy kamer toe vir haar middagslapie  daarna het sy weer haar plek kom inneem  totdat sy na die aandete kamer toe is om te gaan slaap. Sy het nie meer baie  uit die huis gegaan nie. As gevolg van haar groot gewig was dit baie moeilik vir haar om in ‘n motor te klim. Sy het ‘n spesiale kassie gehad waarmee sy in die kar in- en uitgeklim het. Op ‘n dag het sy ‘n operasie aan haar been gehad wat die dokter in die huis op die plaas kom doen het en daarna het sy nooit weer uit die huis  gegaan nie. Die operasiewond aan die been het nooit genees nie en het bly dreineer tot en met haar dood. Waar sy gesit het, het daar altyd ‘n leë politoerblikkie onder haar  been gestaan waarin die vog wat uit die wond gedrup het opgevang is.  Die gevolg hiervan was dat een van ons kleinkinders altyd by die huis moes bly as Pa en Ma iewers heen gegaan het. Die verbittering was darem baie groot as dit jou beurt was om Ouma en Oupa op te pas en jy sien hoe die motor met Pa en Ma en die ander twee kinders van die huis af wegry en jy bly droëbek alleen agter om na Ouma se behoeftes om te sien.

Hulle taalgebruik en stories het groot indruk gemaak. Die deel van die Vrystaat waar ons gewoon het, is die Riemland genoem. Heel moontlik was dit as gevolg van die baie wild wat daar in die vroeë jare in die gebied voorgekom het. Jagters het van oral gekom om te kom skiet. Van die vleis is biltong gemaak en die rieme is gebrei van die velle wat weer op die plaas gebruik kon word. Vandaar die naam Riemland. As dit lekker gereën het, het oupa altyd met sy hande agter sy rug op die stoep gestaan en met groot behae gesê : “Die Riemland kry reën. Die Riemland kry reën”.

In daardie jare het die boere, as dit so ‘n paar dae  aanmekaar gereën het, gepraat van die drie-agt-dae reën of die geelperskereën. Dit was gewoonlik die tyd wat die geelperskes ryp geword het. Naby die huis was ‘n groot vrugteboord met perskes, appelkose, okkerneute, amandels  en turksvye. In die somer, as die vrugte ryp geword het is daar perskes gedroog, konfyt gekook, smeerperskes gemaak  en ook vrugte ingelê. Die geskilde perskes is op groot stellasies in die son gesit om droog te word. As die drie-ag-dae-reën geval het was dit ‘n groot kuns om die vrugte op die stellasies droog te hou en te keer dat dit nie muf nie.

Oupa het ook, as dinge soms vir hom  verkeerd geloop het,  met groot oortuiging gesê : “Voor in die wapad brand ‘n lig”.

Oupa was  die een wat ons  geleer het van Ou Sus Tolie se huis. Tant Kato Uys was ‘n tante van Oupa wat naby ons gewoon het en sy is deur familie en vriede Sus Tolie genoem. Hulle huis kon van ons voorstoep af gesien word. In die aande as jy by die huis se vensters uitgekyk het en die weerkaatsing van die vertrekke  in die vensters sigbaar geword het. Oupa  spottend gesê : “Kom kyk hoe lyk ou Sus Tolie se huis”. In ons onskuld was ons nogal bang vir die mense wat net soos ons gelyk het wat aan die ander kant van die venster gewoon het.

Ek en Uysie en Sannie by die

                                                 Vyebome op Leeuwspruit.

 

Uysie, die jongste van ons drie kinders, was oupa se eerste naamgenoot en dit het aan het hom ‘n baie gunstige posisie in die huishouding gegee. As ons stout was, was hy altyd die onskuldige een en ek en Sannie die skuldiges. Die ouer geslag was baie naamsiek. Na oupa Giel se dood het Uysie ‘n plaas geërf terwyl nie een van die ses ander kleinkinders iets uit sy boedel gekry het nie.

Een dag het ek en Uysie rusie gehad met mekaar. Die enigste verdedigingsmiddel wat ek op daardie stadium in die hande kon kry, was die draadtang waarmee ons besig was om ons speel-plase te omhein. In my woede het ek hom met die draadtang in sy binneboud geknyp waar hy op sy knieë gestaan het om paaie op sy plaas te maak. Hy het al huilende sy toevlug tot Ouma geneem –  Pa en Ma was nie by die huis nie. Ouma het my plegtig ingeroep en voor haar staan gemaak en amptelik die voorspelling gemaak dat ek nog eendag ‘n moordenaar sal word en dat ek in die tronk sal eindig !

Die feit dat ons by Ouma en Oupa in die huis gebly het, het ook beteken dat hulle familie, waarvan baie in die distrik gewoon het aan ons goed bekend bekend was. Oupa Giel en Ouma Santjie  het albei uit gesinne van tien kinders gekom.

                     Ek en Sannie en Uysie saam met Oupa Giel en Ouma Santjie

                     op die dag van Sybrand se doop.

Ouma Santjie was ‘n nooi Rademan met die name Susanna Maria. Sy is gebore op 03 November 1886 as een van 14 kinders. Haar ouers was Pieter Jacobus Rademan, gebore op 13 September 1838 en oorlede op 28 Desember 1937 en Susanna Maria Geldenhuys, gebore op 29 Julie 1955 en oorlede op 20 Junie 1908. Hulle is getroud op 1 Januarie 1872.

Van die 14 kinders is 2 dogtertjies en 2 seuntjies jonk oorlede. Die ander 10 het almal groot geword en hulle was almal aan my bekend. Hulle was van die oudste tot die jongste :

Anna Margeritha (Annie), gebore 1 Februarie 1876 en getroud met JA Crous. Hulle het 10 kinders gehad.

Christiaan Frans Cornelius (Chridjan), gebore op 20 Oktober 1897 en getroud met Maria Magdalena Uys – oupa Giel se suster. Hulle het 5 kinders gehad.

Johannes Albertys Geldenhuys, gebore op 10 Oktober 1881. Hy was getroud met Wilhelmina Petronella de Villiers en hulle het 4 kinders gehad.

Susanna Maria (ouma Santjie), gebore op 03 November 1886. Sy is getroud met Michiel Casparus Eksteen Uys (oupa Giel). Hulle het 2 kinders gehad.

Lourens Pieter Arnoldus, gebobore 26 Maart 1889. hy is getroud met Cecelia du Plesssis en 4 kinders is uit die huwelik gebore.

Jacoba Johanna (Kowa), gebore op 09 Februarie 1891 en getroud met Hendrik Jacobus Marx (oom Hekkie). Hulle het 5 kinders gehad.

Frederik Jacobus (Freek), gebore 03 April 1893. Hy is getroud met Catharina Naude en hulle het 5 Kinders gehad.

Adriaan Izak (Attie), gebore op 08 Januarie 1897. Hy is getroud met Joey le Roux en hulle het 3 kinders gehad.

Sara Johanna, gebore op 7 Januarie 1895. Sy is getroud met Barend Frederik Smit en hulle het 3 kinders gehad.

Cornelia Gertruida Margeritha (Nelie), gebore op 15 April 1899. Sy is getroud met Hendrik Jacobus Schoeman en hulle het 2 kinders gehad.

Van ouma Santjie se familie het oom Freek (Rosebank), oom Lourens (Windhoek), Oom Attie (Goudini), tant Kowa (Jacobasrus) en  tant Nelie (Landau) in die omgewing gewoon. Tant Sarah is met oom Ben Smit getroud en hulle het in die distrik van Piketberg in die Boland geboer. Oom Chrisjan was met oupa Giel se suster,  Miem, getroud en hulle het op die plaas Blouwildebeesput in die Sannieshofdistrik geboer.Oom Boy was ‘n amptenaar van die poskantoor en het in Grahamstad gewoon en was eintlik vir ons ‘n onbekende. Die ooms en tantes met hulle gesinne wat so na aan ons gewoon het, was ons geselskap en speelmaats. Pa het geen familie in die distrik gehad nie en sy mense was eintlik vir my vreemdelinge. Eintlik was Pa geen familiemens nie en hy het nie baie behoefte gehad het om met sy mense kontak te behou nie.

In my matriekjaar (1960) het Oupa Giel en Ouma Santjie hulle gouebruilof gevier. Dit was ‘n familiefees en ‘n jolige affêre. Hettie Rademan het die troukoek gemaak. Bo-op die koek was ‘n bruid en bruidegom uit versiersuiker gemodelleer. Sy het meesterlik daarin geslaag om Ouma en Oupa getrou na te boots. Dit was die eerste en die enigste keer wat ek gesien het dat Pa so ‘n bietjie te lekker saam met die skoonfamilie se neefs by die kroeg gekuier het.

Dit is ‘n voorreg om te kan sê dat ek al 41 van ma Susan se neefs en niggies aan die Rademankant van die familie in ‘n mindere of meerdere mate geken het. Dit was ‘n voorreg om tussen hulle groot te word en deel te wees van dit wat hulle tot die gemeenskap bygedra het.

Ouma Santjie met haar 9 broers en susters op haar pa se 95 ste

                           verjaarsdag.

                           Voor (vlnr) : Annie, Oupa Piet, Chrisjan

                           Agter (vlnr) : Attie, Sarah, Lourens, Kowa, Bert, Nelie, Freek en

                                              Santjie

 

Oupa Giel was ook een van 10 kinders. Hulle was die broers Koos, Jan, Org, Jim, Piet en Michiel en die susters Sankie, Nelie, Dina en Miem.

Van oupa se broers het oom Jan, oom Piet en oom Koos in die distrik op buurplase gebly terwyl oom Jim en oom Org al twee naby  Parys gewoon het. Oupa se jongste suster, Tant Dina, was getroud met Andries (Paaltjies) Wessels en het naby Edenville gewoon. Tant Nelie  was getroud met oom Isak Cronjé van Reismierbult naby Ventersdorp en tant Sankie was getroud met oom Ben Vermaas van Fochville.

Aan oupa Giel se kant van die familie het ma Susan 19 neefs en niggies gehad en ook hulle het ek almal persoonlik geken. Familiebande was in daardie jare baie belangrik en familie het by mekaar gekuier en alles van mekaar geweet

Oom Ben Vermaas was een van die karakters van die familie. In die dae toe almal nog tradisioneel aan  een van  die drie susterskerke behoort het, was dit ongehoord om aan ‘n Pinksterkerk te behoort. En as jy dan van  die een kerk na die ander geswerf het en uiteindelik jou eie huiskerk gestig het, kon jy maar weet hy en tant Sankie was die onderwerp van menige gesprekke aan etenstafels en waar die familie by mekaar gekuier het. Die storie word vertel dat hy pynlik netjies was. Elke keer as hy sy motor in die motorhuis ingetrek het, het hy  die vloer deeglik gevee  om van al die sand en stof wat ingetrap is deur die wiele, ontslae te raak.

Daar word ook vertel dat hy eendag ‘n “openbaring” van die Here ontvang het dat hy soos Elia van die Bybel lewendig sou opvaar na die hemel. Oom Ben het met Amerikaanse saalperde  geboer. Hy span toe die perde voor die kar, neem plegtig afskeid van sy familie en toe steek hy die perde onder die sambok Toe hulle vol op spoed was, het hy gespring met die idee om dan op te vaar na die hemel. Nodeloos om te sê dat oom Ben se hemelvaart in die hospitaal geëindig het. Pa het ewe droogweg daarop kommentaar gelewer en gesê dat oom Ben liewer op die windpomp moes geklim  en gespring het, dan  sou hy dalk in die hemel gekom het.

‘n Ander storie is dat hy eendag op die stoep gestaan het. Dit was bitter droog en in die verte was daar ‘n wolk wat baie belowend gelyk het vir reën. Oom Ben het met groot gebaar en swaai van sy arms uitgeroep “Kom hiernatoe! Kom hiernatoe !” Die wolk het inderdaad in die rigting van sy plaas begin trek, maar toe sien hy  dat daar hael in die wolk kan wees en sy koringoes was gereed om gestroop te word. Met ewe veel entoesiasme en dringendheid het hy toe begin skree : “Trek verby ! Trek verby !”

Aan oupa se kant het ma 19 neefs en niggies gehad en ook hulle het ek almal persoonlik geken

Oupa Giel en sy broers op die dag van hulle pa, Michiel Uys, se brgrafnis.

Vlnr : Piet, Org, Koos (Oudste), Michiel, Jim en Jan

Hoewel niemand dit ooit gesê het nie, dink ek Oupa was ‘n redelike vermoënde man. So elke paar jaar het hy ‘n splinternuwe Ford gekoop. In daardie jare het jy of met ‘n Ford of met ‘n Chef gery.  Oupa het net Fordkarre gery Gibbons was die Fordhandelaar op Vredefort. Toe ons op die plaas gekom het was dit so ‘n swart Ford waarvan ek die model nie kan onthou nie. Ek vermoed dat dit  so om en by ‘n 1944 model moes wees. In 1951 het hy so ‘n ligte groene aangeskaf  en in 1957 so ‘n pragtige silwergryse.

Ouma kon  die mooiste en die fynste hekelwerk en breiwerk doen. Min babatjies is in die familie gebore wat nie uit ouma se hand ‘n gebreide bababaadjie en kousies ontvang het nie. Sy het die fynste doilies gebrei en gehekel en ook ‘n paar tafeldoeke en teelappe. Ek self is in besit van so ‘n gehekelde teelap. As dit soms gebeur het dat haar wol of haar hekelgare gekoek het, kon sy met eindelose geduld die knope sit en loswoel. Ek dink nie ek het haar een keer  wol of hekelgare sien afsny omdat sy ‘n koek nie kon loskry nie.

Hierdie gesukkel om gekoekte hekelgare en breigare los te maak het maar saamgehang met ouma se suinigheid. Volgens haar sou dit geldmors gewees het om die gare af te sny. Sy het ons  altyd vermaan om nie te mors nie. Haar lewensleuse was dat as jy ‘n vuurhoutjie spaar, jy eendag jou eie plaas kon koop. Lekkergoed wat sy persent gekry het, het sy nie maklik gedeel nie. Sjokolade en “Turkish Delight” het sy gebêre totdat dit so hard was dat jy dit amper nie meer kon eet nie. Biltong wat gemaak is as daar in die winter bees geslag is, het sy met groot sorgsaamheid opgepas dat dit nie te gou opgeëet moes word nie. Die gevolg was dat die biltong naderhand so droog was, dat dit nie meer met ‘n mes gesny kon word nie. Al hierdie lekkernye het sy onder in haar hangkas of in die laaitjie van haar bedkassie toegesluit waar ons dit nie kon in die hande kry nie.

Vir Ouma Santjie was uitdeel so swaar.

                                             Op alles het sy altyd bespaar.

                                             Sy’t een ding vergeet

                                             dat haar kleinkinders weet

                                             waar sy haar hangkas se sleutel bewaar.

Ons  grootste plesier was om die sleutel van haar kas te steel en weg te lê aan die lekkers en biltong wat so sorgsaam gebêre is.

In die hangkas was so baie eetgoed,

                                             weggesteek tot in die bol van die kerkhoed

                                             Wie daar sou gaan soek

                                             was ‘n uiterste kroek,

                                             maar uiteindelik proe ons die heerlike soetgoed.

Ouma was ook bekend daarvoor dat sy alles en almal met ‘n ysterhand wou regeer. Sy was veral baie hard op die bediendes wat in die huis gewerk het. Daar waar sy in haar stoel in die eetkamer gesit het kon sy hoor as hulle te hardhandig in die kombuis met die skottelgoed gewerk het as dit gewas word. Die manier waarop sy haar stem verhef het om hulle te vermaan, was genoeg om enigeen tot orde te roep. Die storie word vertel dat sy eendag ‘n stoofyster op die kombuiswerker se kop krom geslaan het. ‘n Stoofyster was ‘n metaalstaaf waarmee die kole in die stoof geroer is.

Ouma Santjie moet jy nie liggies takseer nie.

                                             Van geen duiwel het sy haar laat keer nie.

                                             Slaan ‘n stoofyster krom

                                             dat die meidjie net brom :

                                             Oumiesies, sowaar, ek sal nie weer nie !

Ma en Ouma het elkeen hulle eie hoederboerdery gehad. Ouma het swart Austerlops gehad en Ma bruin New Hampshires. Vrydae is die eiers dorp toe geneem en by Bolnick’s verkoop. Met die geld is  die week se kruideniersware by Joe Muller se winkel gekoop. By die huis gekom moes die koste van die inkopies tussen die twee huishoudings gedeel word. Tot op ‘n kwart pennie moes die geld verdeel word en dan het ouma natuurlik geweier om vir goed soos marmite te betaal, want sy en Oupa het nie marmite  geëet nie. Uysie was versot op marmite. Dit was al wat hy ooit op brood geëet het. Joe Miller, die Joodse kruidenier,  het gewoonlik die lysie van alles wat gekoop is agter op  ‘n gebruikte koevert neergeskryf. Hy het een van die mees onleesbare handskrifte gehad en baie keer kon hulle nie uitmaak wat gekoop is nie. In so ‘n geval het Ouma geweier om haar deel te betaal, want sy betaal nie as sy nie weet waarvoor sy betaal nie. As   die eiers  op Vrydae  verkoop moes word, is jy hoederhok toe gestuur om die laaste eiers te gaan uithaal sodat die eierkaste so vol as moontlik kon wees. Op ‘n dag het Ma  vier eiers gekort om ‘n kas  (12 Dosyn) vol te maak. Ek is gestuur om die vier ontbrekende eiers te gaan soek. Ek was ‘n dromer. Ek het die verlangde aantal eiers in die neste gekry, maar op pad huis toe het ek geloop en sing en het die mandjie op die maat van my lied rondgeswaai. Nodeloos om te sê dat die vier eiers almal gebreek was toe ek by die huis aankom. Dit was die eerste keer wat ek my ma in trane gesien het oor vier gebreekte hoendereiers. Die feit dat die kas nie vol gemaak kon word nie, het beteken dat al die nodige kruideniersware nie die dag  gekoop sou kon word nie.

Die verhouding tussen skoonouers en skoonseun was nie altyd van die  wonderlikste nie. Pa was ‘n ywerige  leser van Die Landbouweekblad The Farmers Weekly en hy wou graag die kennis wat hy sodoende opgedoen het op die plaas gebruik. Hy het probeer om ‘n bietjie meer moderne landboumetodes toe te pas. Waar Oupa  die mis uit die krale laat ry het om die lande te bemes, wou Pa kunsmis gebruik. Waar Oupa nog met osse gewerk het, wou Pa ‘n trekker koop. Dit het soms aanleiding gegee tot heftige rusies. Die rusies was baie ontstellend vir ‘n jong kindergemoed. Daar is baie hard met mekaar gepraat en Ma het gewoonlik midde in die rusie  gestaan. Aan die een kant was dit haar ouers, maar aan die ander kant was dit haar man wat betrokke was.

So van osse gepraat. Ek onthou hoedat die afrikanerosse ingespan is. Hulle was so geleer dat elkeen by sy eie juk gaan staan en wag het dat die riem oor sy horings vasgemaak moet word en die juk op sy skof gesit moet word. Om jongosse te leer was geen maklike taak nie. ‘n Jong os is aan ‘n ou geleerde os gekoppel en hulle het vir dae so aan mekaar gekoppel in die veld rondgeloop. Sodra hulle ingebreek was is die jongosse vir die eerste keer ingespan. Vir so ‘n eerste rit met ‘n span jongosse is die slee gewoonlik ingespan sodat daar nie skade kon wees as die span ossies op loop sou sit nie.

Een dag was Pa behulpsaam met die inspan van die osse. Terwyl Pa besig was om die strop om die keel van die os vas te maak,  het die os sy kop geskud en Pa met die punt van sy horing op die slaap getref. Toe Pa laatmiddag by die huis kom was hy heel deurmekaar en het die grootste twak gepraat. Toe hy vir ‘n stuk papier en potlood gevra het sodat hy kon skryf wat hy wou hê, het hy gevra vir pier en papotlood.

Rieme wat gebruik is, is op die plaas self gesny en gebrei. Hiervoor is die velle van die beeste wat elke winter geslag is gewoonlik gebêre. Vooraf is die vel eers vir ‘n paar dae in die sinkdam gegooi totdat die hare begin losgaan het. Dan is die hare sorgvuldig afgemaak en die vel al in die rondte in rieme gesny. Dan het die brei van die rieme begin. Oor ‘n stomp tussen twee bome is die rieme gedraai sodat daar lusse gevorm is tussen die stomp en die breiklip. Die breiklip was ‘n groot vierkantige klip waaraan daar ‘n gebuigde houtstomp (gewoonlik ‘n wag-‘n-bietjie stomp) met draad vasgebind is sodat dit ‘n soort van ‘n lus gevorm het. Die breipaal is dan deur die oog van die breiklip gesteek en die breier het die rieme opgewen deur al in die rondte te loop. Wanneer die rieme styf opgedraai was, is die breipaal uitgetrek en die rieme het teen ‘n hoë spoed afgewen. Die breipaal is dan weer ingesteek en die rieme in die teenoorgestelde rigting opgewen. So het dit vir dae aangehou totdat die rieme sag en buigbaar was. Intussen is die rieme met tussenposes met vet gesmeer om hulle sag en elasties te maak.

Kind wees op die plaas.

Dat  Leeuwspruit en Vredefort my grootwordplekke geword het, was vir my net goed. Eintlik sou ek dit vir niks anders in die lewe wou verruil nie. Ek het grootgeword in die tyd toe dit nog gebruiklik was dat daar vir jou van tyd tot tyd ‘n kalf of ‘n lam ge-oormerk is. Die aanteel van so ‘n dier was joune  en as so ‘n dier geslag of verkoop is was die geld daarvan joune. Sou die dier vrek en die vel word later verkoop, is die geld ook vir jou gegee. Die merk om my vee van ander uit te ken  was ‘n regteroor swaelstert en linkeroor halfmaantjie van agter. Hoe trots was jy nie as jy tussen die beeste of skape geloop het en jy  die diere met jou merk aan hulle ore gesien het nie.

                          

                                 Linkeroor swaelstert en regteroor halfmaantjie van agter.

                                Die merk wat my beeste en skape my eie gemaak het

Kinderlewe op die plaas was ongekompliseerd. Ek dink nie geld was baie volop nie, maar ons het nooit enige gebrek gely nie. Vleis, melk, eiers, botter, room, groente en vrugte was ons daaglikse brood. Is dit dalk hoekom dit deesdae so moeilik is om die cholesterol in toom te hou ? Ek kan  onthou dat ons party oggende  voor skool room in plaas van melk oor ons pap geëet het.

Die plaas was ons speelplek. Die bloekombos naby die huis het gevoel soos ‘n ontsaglike woud waar drake en baie ander gevare geskuil het. Die hoop mielieblaar waar die mielies gedors is, het gesorg vir baie vermaak. Wanneer die hoop blare nadat die mielies gedors is, so ‘n bietjie vasgesak het, het ons tonnels in die hoop gegrawe waarin ons kon wegkruip. Niemand het ooit gedink aan die gevaar van ‘n tonnel wat op jou kon inval en dat jy onder die blare kon versmoor nie. Na so ‘n paar uur se speel  in die mielieblare was dit ‘n pyniging om saans in ‘n bad water te klim. Dit het gebrand soos vuur. Daarvoor was daar ook raad. Gesmelte kersvet en paraffien is op die brandplekke gesmeer  om die brand uit te trek. Die hele nag het jy die gerusstellende reuk van kersvet en paraffien geruik en geweet môre is nog ‘n dag van pret in die mieliehoop.

Mielies dors was ‘n heel ander proses  as die hedendaagse stroop van lande. Elke mieliekop is met die hand in sakke met die hand gepluk. Die vol sakke is in rye in die land gelaat en dan met die trekker of die osse en sleepwa aangery na die dorsvloer naby die bloekombos. Om so ‘n wa met gevulde sakke mieliekoppe te pak, was nogal ‘n ingewikkelde saak. Die sakke moes in verband gepak word om te verhoed dat die vrag afval as die wa om ‘n draai gaan. Op die dorsvloer is die mieliekoppe in ‘n hoop uit die sakke geskud. As al die mielies uitgery was, het Salmon Rautenbach met sy dorsmasjien gekom en is die mielies in die dorsmasjien gegooi. By die bek van die dorsmasjien is die streepsakke met die mieliepitte volgemaak en geweeg en in rye gepak vanwaar dit weggery is na die  ko-operasie om verkoop te word.

Om met so ‘n dorsgeleentheid te help was enige plaaskind se droom. Daar was verskillende takies wat jy kon verrig. Jy kon  by die skaal help om die sakkie mielies op die regte gewig te kry. Elke sak moes 203 lb geweeg het. Die inhoud van die sak was 200 lb en die sak het 3 lb geweeg.

                              Oupa Giel en Ouma Santjie saam met hulle 7 Kleinkinders.

                                Sannie, Sybrand, Uysie, ek, Santjie, Giel en Marietjie

                                           ten  tyde van hulle Goue Bruilof

‘n Ander lekker werkie was om te help om die sakke wat klaar geweeg is weg te sleep na die plek waar hulle toegewerk is. Daarvoor is ‘n stok gebruik waaraan daar twee hake was. Die stok is dan in die streepsak gehak. Twee persone het dan weerskante van die stok getrek tot op die bepaalde plek. En bewaar jou siel as daar van die mielies uit die sak gemors is wat klaar geweeg was. ‘n ander lekker werk was om sakke toe te werk. Met ‘n seilnaald en seilgare is die sak netjies toegewerk. Dit was nogal ‘n groot kuns, want aan die punte moes die sak twee oortjies soos ‘n vark hê en die steke moes nie te groot gewees het nie, anders het die mielies uitgeloop as die sakke opgestapel is.

Daar was twee damme op die plaas. Die een naaste aan die huis was die gewilde speelplek. Naby die dam was daar taamlike diep erosieslote. Daar het ons met ons visblikwaentjies soos die Voortrekkers van ouds oor die Drakensberge getrek na ‘n nuwe onbekende land. Daar het ons krappe in die wal uitgegrawe en die wyfiekrappe se beursies onder hulle pense oopgemaak om te sien hoe die klein krappies wemel en krioel. Daar het ons ook met ‘n riet en ‘n stukkie lyn en ‘n gebuigde kopspeld probeer visvang.

In die dam verste van die huis af – die nuwe dam – het Pa ons geleer swem. Met ‘n 5-gallon paraffienblik onder die ken vasgeknyp, moes ons swem dat dit bars om aan die ander kant van die dam uit te kom. Swemklere was daar nie – dalk was daar nie geld voor nie. Ons seuns en Sannie kon dus nooit  saam swem  nie, want dit sou alle grense van welvoeglikheid oorskry het.

Baie naby aan die huis was ‘n rietbos wat vir baie vermaak gesorg het. Die swart seuns het ons geleer om rietpype te maak en omdat pa altyd  perde gehad het, was dit ons bron van rookgoed – rietpyp en perdemis. Geen wonder dat ek nooit geleer rook het nie, want dit was darem nie lekker nie ! Die rietbos en die bloekombos was ook van die plekke waar oupa Giel saans sy laaste draai gaan loop het voor hy gaan slaap het. Ek was al in st 4 toe ons eers ‘n spoeltoilet in die huis gekry het, maar Oupa het tot sy dood toe verkies om sy dinge liewers buite die huis as in die huis te doen.

Oupa Giel piepie graag in die rietbos.

                                             Dié gewoonte sou hom amper ‘n broek kos,

                                             want die hen op haar nes

                                             skrik haar uit haar gewes

                                             toe hy naby haar ‘n klipharde poep los.

Die plaashuis het net drie slaapkamers gehad. Oupa en Ouma het die een kamer beset, Pa en Ma die tweede kamer en ek en Sannie moes aanvanklik ‘n kamer deel. Uysie het tot op ‘n redelike groot ouderdom by Pa en Ma in die kamer geslaap. Toe ek die jaar skool toe is, is ek na die stoepkamer uitgeskuif, want ‘n boetie en ‘n sussie van daardie ouderdom mog nie meer ‘n kamer gedeel het nie. Oor die kwessie van seuns en meisies en verskillend geslagte het ons ouers baie streng beginsels gehad hoewel hulle nooit met ons daaroor gepraat het nie. Ons is onder andere geleer dat seuns nooit by dogters in hulle kamers kom nie, en ook andersom. Selfs toe ek as jong man later in Pretoria in die Jeugsentrum gebly het, het die  meisies op die eerste drie vloere gebly en die mans op die boonste drie vloere. Ons was  nie toegelaat om in die meisies se kamers te kuier tensy die deure oopgestaan het nie. Het hulle jou gevang dat jy by ‘n meisie in ‘n kamer kuier agter ‘n toe deur, het hulle nie geskroom om jou onmiddellik kennis te gee om die Jeugsentrum te verlaat nie.

Die skuif na die stoepkamer was vir my jong gemoed ‘n geweldige probleem. Ek was doodbang vir die alleen slaap in die stoepkamer en as die wind snags  deur die bloekombos gewaai het, het ek allerhande spoke gesien en gehoor en het dan sommer ‘n tandpyn ontwikkel net om by Ma en Pa in die kamer te gaan slaap.

Die Boskamp, soos die stuk weiding aan die ander kant van die Viljoenskroonpad bekend gestaan het, het aan ons verbeeldings vrye teuels gegee. Daar was die graf van die Engelsman. As ek reg onthou was dit ‘n ou rondloper wat daar oorlede is en daar in ‘n vlak graf begrawe is. Vir baie jare was die vlak graf nog sigbaar aan die kant van ‘n spoelsloot. Toe sy graf  deur die reën oop gespoel is, is daar silwer eetgerei by hom in die graf gekry.

Die boskamp was ook die plek waar ons met jakkalsjag kennis gemaak het. Jakkalse was ‘n groot pes vir die skaapboere en van tyd tot tyd is daar ‘n jakkalsjag gehou. Op so ‘n dag het al die boere met hulle gewere en hulle swart werkers en die honde bymekaar gekom. Die boere het teen die rant stelling ingeneem en die swart mense en hulle honde is so ‘n paar kilometer van daar af afgelaai waar hulle in ‘n linie uitgesprei het en dan die honde losgelaat het. So ver as wat die werkers geloop het, het hulle geskreeu en lawaai om die jakkalse uit hulle skuilplekke te verdryf en soos wat die jakkalse dan voor die lawaai gevlug het, het die boere hulle afgemaai. Ek onthou nou nog die aardige reuk van ‘n jakkals wat vir sy vel afgeslag is. Dit is ‘n stank wat ek nog nooit weer in my lewe  geruik het nie. ‘n Knipmes wat gebruik is om ‘n jakkals mee af te slag kon jy nooit weer vir iets anders gebruik nie, want jy kon nooit van die reuk van die jakkals aan die mes ontslae raak nie.

Speel was ‘n baie belangrike deel van ons grootword. In die agterplaas het ons  plase uitgelê waar ons met ons karretjies gespeel het en waar ons geboer het. Ons karretjies was ons kosbaarste besittings. Op die plase is huisies gebou en drade gespan. Ou stukke draad is gebruik om hekke  te maak. Jy was nooit toegelaat om nuwe draad uit die skuur te gebruik nie, want dit was geldmors.

Ons was nog baie jonk toe Pa eendag ‘n klein springbokkie op Stillehoogte gevang het. Die bokkie het die naam van Pietman gekry en is met ‘n bottel hans grootgemaak. Pietman was soos ‘n kind in die huis, maar nie baie lief vir die grootmense op die werf nie. Om sy eie domein af te baken het hy astrant begin word en as ‘n volwassene dit buite gewaag het, het hy met sy horings probeer om sy gesag af te dwing. Terwyl ons eendag dorp toe is, het hy vir Ma in die hoenderhok vasgekeer toe sy gaan eiers uithaal. Sy moes  op ‘n nes in  die hoenderhok bly sit totdat ons van die dorp af teruggekom het en een van ons kinders Pietman kon oorreed om Ma met rus te laat. Eers is Pietman se horings afgesaag om te kyk of dit nie sy aggressie sou in toom hou nie. Pietman se uiteinde was die slagmes. Groot was ons kinders se ontsteltenis toe ons eendag van die skool af kom en Pietman se karkas hang by die slagplek onder die boom. Seker nie nodig om te sê dat ons nie van daardie biltong geëet het nie.

Omdat die boerdery ‘n gemengde boerdery was, het ons met diere en dieremaats grootgeword. Beeste, skape, perde, varke hoenders, kalkoene, eende en makoue was nie vreemd nie. Op ‘n stadium het ‘n varksog kleintjies gehad, maar vir die een of ander rede wou sy nie haar kleintjies laat drink nie. Die drie varkies is met die bottel op die werf grootgemaak. So ‘n hans varkie word baie mak, maar ook baie stout. Hulle neem hulle mense-ma aan wat verantwoordelik is vir hulle kos en as ons op die plaas rondgeloop het, het die drie varkies oral agter ons aangeloop. Die hartseer was groot as so ‘n mak vark te groot geword het om in die agterplaas te bly, dan moes hy terug na die varkhokke om dalk eendag geslag te word of aan die slagter verkoop te word.

In daardie dae was dit nie ongewoon dat beeste in die winter so maer geword het dat hulle later nie meer kon loop nie. So ‘n maer bees is dan na die werf toe gebring waar die dier elke dag opgetel moes word om te staan om te kan vreet. Dit was nogal ‘n kuns om so ‘n maer,  verswakte bees op te tel. Sakke is onder die dier ingeskuif en ses mans het aan die sakke opgetel totdat die dier op sy eie bene gestaan het. As so ‘n bees nie meer op sy eie bene kon staan nie, is vier pale ingeplant en die sakke aan die pale vasgemaak om dan soos in ‘n hangmat  te hang en te staan.

‘n Wees- eendjie wat ook by die kombuis grootgemaak is, het soos ‘n kind in die huis ingeloop en hom baie maklik in die potterak tuis gemaak. Ek het  ‘n visblikwaentjie gehad met ‘n stuk tou aan en aan die punt van die tou was ‘n houttolletjie vasgebind. Die eendjie het gedink die tolletjie is ‘n lekker pit om te eet en die tolletjie met die tou ingesluk. Dit was nogal ‘n vreemde gesig om die eendjie te sien loop met die tou wat by sy bek uithang en sodoende het hy die waentjie al agter hom aangesleep. Die enigste uitweg was om die toutjie by sy bek af te knip sodat hy dit kon insluk.

Wintertyd was die lamtyd van die skape. In droogtejare het dit baie gebeur dat die ooie nie melk gehad het vir hulle lammers nie. Sulke lammers is dan as hanslammers by die kombuisdeur grootgemaak. As ‘n ooi nie melk gehad het nie,  wou hulle nie hulle lammers toelaat om aan hulle te drink nie. So ‘n ooi is dan vasgemaak aan ‘n paal en ek het baie gesien hoedat oupa Giel die ooi met ‘n stok geslaan het totdat sy stilgestaan het sodat haar lammetjie kon drink.

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.